Nuuskommentaar: Ras (en vermeende rassisme) in die kookpot

President Jacob Zuma (Februarie 2015) Foto: Siyasanga Mbambani, departement van kommunikasie

President Jacob Zuma (Februarie 2015) Foto: Siyasanga Mbambani, departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma het dit goed geag om die media op ’n Sondag toe te spreek. Die doel van hierdie gesprek was baie duidelik deel van die strategie om Zuma se geplunderde beeld te poets en om hom voor die staatsrede later die week die skyn van presidensieel te laat aanneem. Alles by die verrigtinge moet dus met ’n knippie (of is dit nou sewe sakke?) sout geneem word.

Hy het nietemin in die proses ’n paar belangrike sake uitgewys, en die raskwessie staan waarskynlik bo-aan. Niemand kan immers twyfel dat die raskwessie die afgelope ruk die openbare diskoers erg oorheers het nie, en dit is gerusstellend dat minstens een intelligensiediens nie hieroor geslaap het nie, en boonop dapper genoeg was om die president van die septiese sweer in te lig.

Soos gebruiklik verbrou die president ook hieroor. Hy meld: “Ons glo ons diversiteit is ons grootste bate as ’n reënboognasie” (soos aangehaal uit Beeld).

Maar net daarna trap hy daarin. Hy verwys na die onluste waar Malamulele ’n eie munisipaliteit los van die Thulamela-munisipaliteit eis. Volgens Zuma glo die inwoners van Malamulele dat daar teen hulle op grond van etnisiteit gediskrimineer word. Maar in plaas daarvan om die reënboog-rasionaal van diversiteit deur te trek, sê Zuma Suid-Afrika sal op die Bantustan-era terugval as Malamulele hul sin kry.

Dis nogal ligjare verwyder van die tyd toe Zuma, pas tot president verkies, trots na homself as “100% Zulu boy” verwys het.

Zuma sal redelik ver moet soek na ’n verklarende woordeboek wat taal- en kultuurverskille, maar waar die twee volke aan dieselfde ras (etniese) groep behoort, as etnisiteit uitdruk. Maar Zuma staan nie alleen nie. Kyk nou maar hoe het dr. Blade Nzimande knaend die debat oor moedertaalonderrig op universiteitskampusse met rassisme gelyk gestel en dat hy hierdie “uitsluiting” nie sal duld nie. Ook die privaat Akademia is met sluiting gedreig omdat dit Afrikaans as voertaal gebruik en so sekere rasse sou “uitsluit”.

Formeel het die ANC ʼn afkeer aan “tribalism” omdat dit dwars staan in wat as modern beskou word. Dis natuurlik meer as net effe pikant omdat die ANC bykans geen geleentheid laat verbygaan – ook op staatskoste – om sangomas in te span, en beeste as deel van voorvaderlike rituele te laat “val” nie.

Malamulele is lank nie die enigste munisipaliteit waar “tribalism” en die reënboogaspek oorboord gegooi is om munisipale grense te skep nie. In die Vrystaat loop so ’n “foutlyn” van min of meer Qwaqwa deur tot in die omgewing van Sasolburg. Hierdie munisipaliteite bestaan aan die een kant van die foutlyn uit dorpe met hoofsaaklik Zoeloe-inwoners, en aan die ander kant hoofsaaklik Suid-Sotho-inwoners. ’n Goeie voorbeeld is Qwaqwa self, ’n voormalige Suid-Sotho “-bantustan”, wat ’n munisipaliteit met Harrismith deel, wat hoofsaaklik Zoeloe is. En daar was meermale al opstootjies wanneer geglo word omdat die burgemeester ’n Zoeloe is, word die hulpbronne in Harrismith aangewend, en omgekeerd.

En as dié soort moeilikheid in die een dorp ontbrand, het dit al meermale al langs die foutlyn “gehardloop” en sommer die omringende dorpe ook aangesteek. So is besluit om Heilbron, redelik stewig in die Suid-Sotho-omgewing gesetel, saam met Parys te voeg waar Tswanas oorspronklik uit naburige Noordwes, ’n tipe regerende elite vorm, met premier Ace Magashule as stewige eksponent. En toe hierdie munisipaliteit nog by Sasolburg gevoeg sou word, was die vonk in die kruitvat met grootskaalse plundery van winkels.

Omdat nie-etniese “tribalism” so ’n onding is (volgens ANC-persepsies) word op ras teruggeval. Alles word in terme van ras uitgedruk, maar hierdie onderwerp is al voos geskryf.

Terwyl ’n rasbewustheid heel doeltreffend aangewend word om “tribalism” te smoor, het dit die ongelukkige newe-effek dat hierdie rasbeheptheid slagoffers eis. Deur ’n wye verskeidenheid wette en maatreëls wat onder die vaandel van transformasie (met uitsluitlike rassenorme), “affirmative action” (wat nie met regstellende aksie of te wel “corrective action” verwar moet word nie), SEB en ander, word weerstandigheid gevoed. Voeg hierby ʼn versuim om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad te verklaar (soos wat dit in die tyd van die vader van die reënboognasie-konsep, Nelson Mandela, was.

Die sosiale media is nou behoorlik ’n oorlogsone. Die “vir” en “teen” is nie suiwer volgens rasselyne getrek nie. Pas het ’n bekende Afrikaanse “liberaal” op haar Facebook-blad ’n taamlike lang en omvattende emosionele aanval teen die regses geloods. Sy het dit selfs teen die media gehad wat so ’n groot ophef van plaasaanvalle maak dat dit spanning tussen wit en swart aanblaas. Die boere word met die teerkwas bygedam, en dis baie moeilik om nie tot die gevolgtrekking te kom dat sy nie meen dat boere weens hul “verskriklike behandeling” van swart mense, eintlik die aanvalle (in al hul wrede manifestasies) op hulself trek nie.

Haar tirade herinner nogal sterk aan ʼn eertydse, soortgelyke uitspraak van Koos Kombuis uit ’n era waar hy as Afrikaner bedank het. Die dame is ook ontsteld omdat gevalle waar gemeenskappe lesbiese vroue aanval nie dieselfde media-aandag kry nie. Terwyl sy self dalk verskoon kan word omdat sy moontlik nog nie haar pilletjies die oggend gedrink het nie, is dit opvallend hoeveel “likes” haar stuk gekry het – ook van mense van wie dit nie verwag is nie.

Laat daar geen onduidelikheid wees nie. Daar vind verskriklike rassistiese dade plaas, en daar word verskriklike rassistiese dinge in die openbare domein kwytgeraak. Die naweek is juis weer berig hoe ’n swart kunsteklub in Soweto wit kunstenaars uitgegooi het. Die geval by die Noord-Kaapse landbouskool walg enige regdenkende mens, hoewel die feit dat die voorval deur swart, wit en bruin kinders toegejuig is, ’n mens laat wonder in hoe ’n mate dit veel met rassisme te make het, en dalk eerder ’n geval van siek ontgroeningspraktyke is wat oor tyd alle ouerlike opvoedkundige perke te buite gegaan het.

Dis ook interessant dat die “liberale” kritici van rassisme van blanke herkoms, so maklik bloot om wiele aan hul argumente te gee, die name van Steve Hofmeyr en Sunette Bridges inklits, en daarmee is die argumente se kwesbaarheid afgeseël.

Maar terug tot Zuma se Sondagpraatjies oor rassisme. Woorde wek, maar voorbeelde trek. En die beeld wat Zuma (steeds) skep is van Hompie Kedompie wat van die muur afgetuimel het. Maar al die president se manne, en al die president se vroue, en diegene wat die beeldbou-aksie moet stuur, en die strategie om die president meer presidensieel aan te bied verbrou het, en die SAUK, kan nie daarin slaag om die stukke weer aanmekaar geplak te kry nie.

Nie terwyl die regering so hard werk om ’n klimaat van rasbewustheid te skep (onder meer om “tribalism” te besweer) en ’n gewaarborgde stemblok te skep, nie.

Dis nie van slimmigheid of beterweterigheid wat hierdie gevolgtrekkings gemaak word nie. Die modelle is reeds in die politieke sosiologie geskep wat die patrone in die fynste detail uitspel. Ja, daar is politieke sosioloë waar ideologie (en dus gevolgtrekkings) harder praat as die empiriese resultate van hul ondersoeke. Maar vreemd, meningspeilings (soos in die VSA) neig om die nie-ideologiese bevindings te rugsteun.

Kortom, die provokasie tot rassistiese uitsprake en selfs optredes gaan sterk bly solank as wat Zuma die president is. Sy verwysingsraamwerk is eenvoudig te diep ingebed. En, so blyk dit, namate die beeldpoetsers oordeel Zuma is genoeg blinkgevryf om nog meer eie opinies en stellings te maak (met ander woorde kan afwyk van toesprake wat vir hom geskryf is), hoe meer verdelende uitsprake gaan hy (onbedoeld) maak.

Die regte manier om hierop te reageer is egter nie om self rassistiese uitsprake te maak nie (dit kan ’n mens immers ligjare se moeilikheid besorg), maar om elke moontlike greintjie druk uit te oefen dat Zuma en sy napraters in se raspolariserende uitsprake en optredes met die maksimale weerstand ontmoet word.

En wat om te doen met mense soos die dame hierbo wat haar mond so oor regses en boere uitgespoel het? Ontmasker hierdie mense vir die pseudo-liberaliste wat hulle is – sonder om die argumente by voorbaat te gaan verloor deur banaal te raak. Want ’n regte liberalis sal nie van “omgekeerde diskriminasie” of “omgekeerde rassisme” praat nie. Vir die liberalis is mense gelyk, en daarom is rassisme, rassisme, ongeag van watter kant dit kom en ewe onverskoonbaar, en is diskriminasie, diskriminasie, ongeag van watter kant dit kom. Diskriminasie en rassisme is nie ’n ou Vollakewer wat te vinnig om ʼn draai ry en omgekeer word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Hennie ·

Is daar nie n wet wat se Zuma is nou te oud om te werk en nugter te dink nie? Tyd dat hy op pensioen gaan.

Theresa ·

Hule is so vol van hulself, maar alles is net omgekeer. Hulle is uit en uit die rassiste en breinspoel mekaar, hulle glo hulself. As daar nie iemand is wat bietjie breins het wat ons land en sy mense kan hanteer nie – is daar geen hoop nie. Vat maar net vir Eskom. Daar is altyd herstel werk gedoen. Daar het altyd goed gebreek maar dit is herstel SONDER dat enige gebruiker ooit daarvan geweet het. En so kan jy ‘n hele boek skryf oor ons arme land en mense wat ten gronde gaan.

chris ·

Baie goeie stuk dankie.
Die probleem le in die onuithoudbaarheid van miltikulti.Dit werk bloot nie en om dit te ontken grens aan onbeperkte onoselheid.Daarom sal ras eerstens ‘n probleem wees en daarna verskullende volke .Die witman in die algemeen en die Afrikaner in besonder is so uitgeskuif en stil dat die probleme nou in volksverband begin kop uitsteek.Daarom word die drom so hard geslaan as daar net een ag asb net een rasvoorval kan plaasvind sodat die klem weer geskuif kan word na ras.Dit is ook selfverduidelik dat hierdie “rasprobleem” slegs vanaf die wit kand skuldig is.Dit blyk dat die “rasvoorval” by bg skool dan net siek ontgroening was .Ons gaan lank wag vir die erkenning van naarspers.
Hierdie mense(libs) weet dit baie goed en vandaar hulle versteekte haat vir alles wat eintlik logies is want dit bewys net dat hul reenboog nie bestaan nie.

Die groot lig is egter besig om deur te kom vir baie mense en op die einde sal hierdie haatdraende libs net met mekaar praat deur naarpers . Die regdenkende mense sal net meer word aangesien hulle uitsprake so duidelik leuns is dat net hulle dit glo.
Hierdie vrou en ander(julle ken hulle al by die tyd) is uiters waardevol vir ons.Hoe meer belaglik hulle redeneer hoe beter.

Nico ·

Asof dit nie erg genoeg is wat die man als aanvang nie, en al aangevang het nie, ook met sy aanstellings, en kan hy en sy mede kaders dit nie in hul verstand inkry nie, is dat die Zuma – man en sy regering, met al sy kader-aanstellings, maar veral hy, die land enorme skade ook ekonomies gewys aanrig. Die rentekoers is in sy kanon en groei die ekonomie na nêrens met niemand wat hul geld binnelands wil waag nie.

Hy het die land reeds aan China en Rusland gegee. Alle klere word van China ingevoer. Ons ivoor , staal en perlemoen gaan buiteland toe, verniet.

Hoe vinniger hierdie man pad gee, hoe beter sal dit vir al die mense in die land wees. Ons gaan sy nalatensap nog vir dekades voel. Dit gaan verseker nie sommer tjoef tjaf regkom die dag as hy nie meer daar is nie, dan begin eers die lang pad na herstel wat der jare kan vat.

Zuma het gesorg dat hy vir baie langer in die geskiedenis sy merk sal maak as Mandela en Mbeki.

david ras ·

Daar sal rasse diskriminasie wees solank as artikel 9.2 in die grondwet staan. Wat in hierdie klousule staan word onder allehande sekondere benamings uitgevoer, bv Transformasie Regtellende aksie BEE ens.
Art 9.1 (my vertaling) almal is GELYK voor die wet, en het die REG tot GELYKE BSEKERMING en voordele van die wet,
Dan , in 9.2 word sekere mense meer gelyk geag as andere:
(my vertaling)
Gelykheid sluit in die volle genot (enjoyment) van alle regte en vryhede. Om volle gelykheid te behaal, mag WETGEWENDE en ander MAATREELS gemik op die BESKERMING en vooruitgang van persone, kategoriee van persone BENADEEL deur onregverdige diskriminasie geneem word.
Daar is geen twyfel dat die grondwet hier na die swart volke verwys nie.
Op hierdie klousule steun al die ANC rassediskriminasie.
Daar is ook geen tydskedule aan verbonde nie, dus is die “benadeeldes” vir ewig en altyd in ‘n bevoordeelde posisie.
Dit is duidelik dat die skrywers van die grondwet nie die moontlikheid van weerstand teen hierdie diskriminerende klousule voorsien het nie.
Miskien het hulle gemeen dat die witmense vir altyd aan die “witskuld” sindroom en hulle lot stilswyend sal aanvaar.
Die omvang en waarskynlike implikasies is so verreikend, dat dit eintlik skrikwekkend is.

Herman Toerien ·

‘n Mens moet in gedagte ou dat die beperking wat op alle menseregte in die grondwet geplaas word, nooit so uitgelê kan of mag word dat dit die oorspronklike reg self vernietig nie. By uitleg is die howe ook veronderstel om te kyk na uitlegte wat in pas met die internasionale reg sal wees. Die woorde “affirmative action” kom glad nie in die grondwet voor nie, en die beperkende maatreël op die gelykheidsreg wat hiervoor gebruik word, word deur Cachalia en ander in hul boek, Fundamental Rights in the New Constitution, by voorkeur “corrective action” genoem. Dis tog vreemd dat ons gedurig moet hoor die grondwet is primêr op individuele regte geskoei, en dat waar “groepregte” (miskien liewers die woord “minderheidsregte” gebruik wat die internasionale reg en ons grondwet in bv artikel 235 erken) moet dit deur die kollektief van individuele regte beding word. Maar kom dit by “affirmative action” word die groepnorm eenvoudig toegepas, met die absurde gevolge – ‘n swart persoon wat reeds ge-affirm is, of wie se ouers reeds ge-affirm is, word weer en weer ge-affirm, terwyl ‘n wit persoon wat agtergeblewe is of geraak het, keer op keer agtergeblewe gehou word. Bloot oor sy velkleur. So het die magnaat Tokyo Sexwale by geleentheid gesê hy wil nog sy kinders (bruin kinders want hy was met ‘n wit vrou getroud) moet nog die voordeel van affirmative action trek. Maar is dit nie die wit kinderhuiskind wat daardie bevoordeling verdien nie? So het Barack Obama wegbeweeg van die raskriterium, en openlik gesê sy dogter verdien nie affrimative action kanse nie want hulle is nog nooit ‘n dag lank oor hul velkleur benadeel nie.

david ras ·

Interessant kommentaar Herman. Maar hoe nou met die bepalende definisie–” voorheen benadeel deur onregverdige diskriminasie.
Soos ek hierdie klousule verstaan, is geen swart immigrant wettig of onwettig- of sy nasate dan ooit geregtig op die voordele uitgespel in hierdie klousule, omdat so ‘n persoon nie kan aanspraak maak op “onregverdige dikriminasie ” nie?
Wat gebeur in die praktyk ?

Herman Toerien ·

‘n Mens moet onthou dat gister ook “voorheen” was – daar is nie ‘n aanduiding dat spesifiek na 1994 verwys word nie. Trouens, ek is nie vir ‘n bevorderingspos in die destydse administrasie: Raad van Verteenwoordigers, oorweeg nie omdat ek “wit” is, en dit was lank voor 1994. Net so het baie swart polisieamptes en ander amptenare wat in die ou tuislande gewerk het, erg versnelde bevordering by hul wit kollegas verbygekry, en na 1994 weer die voordeel gekry, bv genl Mdluli. Daar moet eenvoudige ‘n individuele toets ook in wees anders raak dit meer belaglik as wat dit reeds is.

Realis ·

Ja nee kyk… Het nie meer woorde vir die spul nie. Arrogant met geen gevoel vir etiese waardes nie. Tyd dat hulle wakker word en besef hulle mors ‘n goeie land op. Amper te laat al. Zuma – ek vir een glo nie meer een word wat jy spreek nie.

JZ ·

Ek skuld die ANC of eenige iemand iets nie.Indien iemand so dink ,ons regstelsel werk nog,klae my aan en vind my skuldig sodat ek my straf kan uitdien maar,moet nie as jy onbekaam is om die land of dienste kan bestuur nie,die skuld op my vel kleur of apartheid plaas nie.ANC erken nou eenkeer dat daar gevaal is om die land te bestuur en vat jou verantwoordlikheid soos n man en nie soos n lafhart nie.

Willem ·

Dit wat ons in die land onmiddelik gaan raak: Dis nou Dinsdag. Donderdag-aand is oor twee dae en die Rand/Dollar bewe al klaar. Wat gaan die JSE maak?

Willem ·

Kyk ‘n mens watter bekende kommentators deesdae rubrieke vir Netwerk24 skryf, kan ‘n mens sien daar het ‘n radikale klemverskuiwing na links plaasgevind. Daardie mense is juis die mense wie die pot teen die Afrikaner bly roer.

Hulle kan maar net nie die Afrikaner uitlos nie, hulle sal daagliks iets soek om die Afrikaner se verlede verdag te maak en hom te bombareer, wel nie net die Afrikaner nie, maal almal te bombardeer. Hulle sal dit gaan uit gaffel.

Ek wonder waaroor daardie mense sou geskryf het en of hulle bekend sou wees, net soos Mandela en Zuma, as die land se geskiedenis anders verloop het.

Willem ·

Een ding wat nie sal weggaan nie, is dat ons altyd ‘n reënboog nasie sal wees. Die diversiteit van die kulture en gelowe sal ook altyd met ons wees. Die hele wêreld is so aanmekaar gesit.

As ons elkeen, van HEEL BO af, erkenning hieraan gee, en respek vir mekaar het, sal dit beter gaan. (Beginnende by Zuma en Naspers se Rubriekskrywers wat dink hulle kan die mense soos die fluitspeler van Hamlin beheer.) Dit was nog altyd in die wêreld dat tot ‘n mindere of meerdere mate etniese groepe mekaar in die hare klim, soos in die res van Afrika, of ook in SA en op hope plekke in die wêreld. Daar is hordes verskillende rasse op aarde, dit is ‘n wensdenkery dat almal moet dink hulle is een ras.

Heel tereg begin rasse wrywing ontstaan as een groep bo ‘n ander bevoordeel word, of dat hy so dink. As jy hom met getalle versmoor en nie ruimte gee nie, gebeur dieselfde, ook soos hier bo.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.