Nuuskommentaar: Ras, ras, alles ras … tot ras-tellende aksie

Die land het reeds sy mondigwording van die afskaffing van die laaste apartheidswet – deur die vorige regering – gevier.

Vandag is daar ‘n wavrag wette en maatreëls wat ‘n Suid-Afrikaner se lewe van die wieg tot die graf bepaal – van werksaansoeke, keuring vir studies, beurse en lenings, bevordering, en jou werklik, waar iemand mag woon (as hy ten spyte van sy ras werk wil hê) en waar nie.

Hierdie neo-apartheid het verskillende name, afhangende van ‘n mens se politieke oortuigings, en staan onder meer bekend as nie-rassigheid, transformasie, nasionale “demokratiese” rewolusie, regstellende aksie (of liewer affirmative action waar ras die norm is en min of niks werklik reggestel word nie), SEB, en ras-tellende aksie.

Ook mense wat met erns ‘n regverdigbare transformasiebeleid probeer implementeer se pogings word deur die rasbenepe transformasiebedrywers gediskrediteer en onder verdenking geplaas. Hulle maak van transformasie ‘n vloekwoord in dieselfde orde as wat die woord “apartheid” deurgeloop het.

Geleenthede word by sommiges ontneem. In Nieu-Seeland alleen is daar in die orde van twee dosyn Afrikaanse kerkdienste elke Sondag, maar Afrikaanse gemeenskappe word in bykans elke hoekie van die wêreld aangetref – ook in talle Afrikalande – waar hul talente benut word, en hulle belangrike bydraes tot daardie lande se ekonomie maak. Bydraes wat sigbaar in Suid-Afrika se ekonomie afwesig is. Werkloosheid het pas weer toegeneem. Die ontplooiing van kaders is in weerwil van die grondwet en internasionale demokratiese konvensie amptelike beleid.

Almal ken die verhaaltjie van die hennetjie slag wat die goue eiers lê … daar is nie ‘n ras-kortpad tot breë ekonomiese ontwikkeling wat tot almal se voordeel is nie.

“Ek het geen vaderland nie, net ‘n moedertaal,” lui die titel van ‘n webjoernaal.

‘n Onlangse peiling onder jong mense het ook aan die lig gebring dat die meerderheid wit, bruin en Indiër respondente ‘n vorm van heroprigting van apartheid ervaar.

Die DKD-hofsaak waar Solidariteit verskeie bruin en een wit beampte in die arbeidshof in Kaapstad verteenwoordig, verskaf tot ergernis van die ANC ‘n sekere mate van perspektief op wat aan die gebeur is. Daar is binne ANC-geledere nou ook beskuldigings dat interne wanvertolking van beleid tot die hofsaak gelei het, maar die feit dat die regering nie doodgewoon aan DKD opdrag gee om die saak te laat vaar nie moet weer eens vierkantig in die politieke kamp gesoek word. En dit verhinder nie die vitrioel wat op Solidariteit se kop omgekeer word nie.

Baie oorvereenvoudig kom dit daarop neer dat die ANC ‘n goeie vertoning in volgende jaar se algemene verkiesing wil lewer, sy twintigste jaar aan bewind, en dit nie op meriete kan doen nie. Daar is arbeidsonrus en diensleweringsproteste, en nuwe partye aan die ontwikkel wat aan die steun kan erodeer.

Die “oplossing” is dus om die sake van die dag so te plooi dat die verkiesing opnuut ‘n rassesensus word. Word die DKD-saak verloor, kan bloot maklik teruggeval word en die persepsie laat ontkiem dat die regering opnuut in sy “edel” motiewe deur die “ongetransformeerde howe” in die wiele gery is. Interessant genoeg was die ANC heel in hul skik met ‘n hofuitspraak in Kaapstad waarin die DA-regering bloedneus oor sy plan om verskeie skole te sluit gekry het, terwyl die ANC erg beledigende taal teenoor die regter gebruik het wat die ANC oor die Potch-drama ‘n hou op die neus geslaan het.

Presies hoe die wind waai het reeds in Desember met die ANC se kongres in Bloemfontein duidelik geword. Die NUK is byna volledig van wit, en veral bruin lede “gesuiwer”.  Wit en bruin lojaliste van die ANC kry elders ‘n beloning soos lidmaatskap en selfs die voorsitterskap van ‘n museum se beheerraad, “politieke adviseur” en hier en daar iets met bietjie meer om die lyf.

Dr. Dirk Hermann van Solidariteit se nuwe boek, Regstellende trane: Waarom verteenwoordigendheid nie gelykheid is nie (uitgegee deur Kraal Uitgewers) maak kleingeld van Cosatu se “verweer” deur Solidariteit te beledig. Die boek maak deel uit van Solidariteit se veldtog om ‘n rasgedrewe benadering met ‘n nie-rassige benadering tot almal se voordeel te vervang – een waar opleiding en ontwikkeling sleutelaspekte uitmaak.

Solidariteit se petisie teen ras-tellende aksie kan hier onderteken word.

Die hele kwessie oor wat regstellende aksie, beide werklike en skyn-regstellende aksie onderlê, en wat die toets van die grondwet kan deurstaan, kan veel meer genuanseerd en akademies as in hierdie kommentaar bespreek word. Trouens, Maroela Media hét dit al telkemale gedoen, en selfs die Maleisiese voorbeeld gebruik waar ‘n meerderheid ook bevoordeel is maar nie tot nadeel van die minderheid nie (die begrip behels eintlik die beskerming van minderhede teen meerderhede), maar die regering se respons op al die argumente en hofsake tot dusver was ‘n suiwer rasgebaseerde jag maak op die hennetjie en haar goue eiers.

Hoe gouer hierdie, en verwante kwessies soos BEE, deur ‘n uitspraak van die grondwetlike hof besleg word, hoe beter, en hiermee is Solidariteit ook op koers.

Het iemand dalk al probeer telkaart hou oor waar Suid-Afrika op die onregpad sonder Solidariteit sou gewees het?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae