Nuuskommentaar: Ras, ras, ras… rasbeheptheid skep rassepolarisasie

Grafika; mnn.com

Grafika; mnn.com

Twee Kovsie-studente is onskuldig bevind aan ʼn voorval wat ’n amptelike woordvoerder van die Menseregtekommissie vroeër as ’n “rasse-insident” beskryf en só in die media aangehaal is. ’n Dringende beraad is op dieselfde dag gehou om die grondwetlike hof se uitspraak in die Renate Barnard-saak te bespreek… En alles het gebeur kort nadat Rapport die inhoud van Saru se nuwe kwotabeleid aan die publiek gelek het. Dit val weer saam met ’n grondberaad wat deur die regering aangebied is, en waar ras die grondslag gevorm het.

Die Sondag ná die Renate Barnard-uitspraak is hierdie saak soos die graf verswyg in RSG se gewilde program, Kommentaar. Hierdie program is al deur Max du Preez as ’n “eiland van objektiwiteit binne die SAUK” beskryf. Gisteraand verswyg e.tv se nuus om 19:00 die uitspraak van die Kovsie-studente en berig emosioneel oor die voorval by die Vaal-kampus van die NWU waar ’n wit persoon, of wit persone, swart mense “voor die voet” aangerand het. Op die SAUK se Afrikaanse nuus om 19:30 (as ʼn mens nou met die tydsveranderings kan bybly) is weer net oor die Kovsie-geval berig.

Gaan hierdie gevalle van rasbeheptheid (en ander) nie eerder ongewenste spore laat as dit wat die regering en die grondwetlike hof in die oog het nie?

Sestig jaar nadat daar in die VSA met die amptelike segregasie begin wegdoen is, en 50 jaar na dit op alle vlakke gestaak is, toon ʼn Rasmussen-peiling aan dat die meeste Amerikaners swart mense as die grootste rassiste beskou. Die grootste groep swart Amerikaners (31%) meen ook swart Amerikaners is die mees rassistiese groep, terwyl net 24% swart mense meen wit Amerikaners is die mees rassistiese groep. Onder wit deelnemers meen net 10% dat witmense die grootste rassiste is, terwyl 38% meen die swart mense is die mees rassistiese groep (Julie 2013).

In 2014 het rasse-onluste in die stad Ferguson in die VSA uitgebreek, en daar word steeds ontledings gedoen om te bepaal hoe diepgewortel rasgesentreerde sentimente is, en wat dit voed.

In Nederland gaan die hoogste hof, die Hoge Raad, spesiale versnelde aktiwiteite inspan om ’n appèl oor Zwarte Piet se toekoms te bereg. Dit volg na laer howe se uitsprake wat burgemeesters (en in besonder die stad wat in die toekoms gekies word om Sinterklaas en sy geselskap amptelik in die land te ontvang) ook minderheidsgemeenskappe in die goedkeuringsproses moet ken. Voorts mag Zwarte Piet volgens een uitspraak nie meer etnies swart wees nie, maar net “roetswart” weens die harde werk om deur skoorstene te klouter. Sinvol, mag Zwarte Piet nie meer volgens die geykte stereotiep die “gollywog”-voorkoms hê nie – dus met dik lippe ens. uitgebeeld nie. Oorkant die grens, in België, lag die Vlaminge in die mou oor die manewales, maar ook hulle is onder druk om te verseker dat Zwarte Piet nie as karikatuur of mindere wese uitgebeeld word nie.

Nederland, en verskeie ander Europese lande, het spesiale programme om immigrante te vernederlands, of dan in hul nuwe tuislande se kultuur te integreer. Die massamoordenaar Anders Breivik het juis op so ’n kamp in Noorweë toegeslaan.

Dit is moeilik om dit wat in Suid-Afrika gebeur met die VSA te vergelyk, aangesien Suid-Afrika reeds in die vorige bedeling rasseklassifikasie afgeskaf en uit die wetboek verwyder het. Die ANC, en nou bevestig deur die grondwetlike hof, het dit egter effektief teruggebring, deur onder meer die rasindelings van voor 1990 as “nuttig” te bevind. In die VSA is rasseklassifikasie groot (al word diskriminasie as gevolg daarvan verbied) en gaan waarskynlik vir ’n volgende sensus uitgebrei word, omdat die bestaande reeds groot aantal kategorieë nie wyd genoeg is om almal te ondervang nie. Te veel mense moet hulle weens immigrasie uit sommige lande, en weens rasvermenging, in die kategorie “ander” uitdruk.

Die Kovsie-voorval
Die Kovsie-voorval het nou vir die rektor en ander wat betrokke was by hul skorsing ’n reusetameletjie geword wat tot enorme siviele eise kan lei. Die rektor, prof. Johanthan Jansen, is boetvaardig en ontken dat hy of die universiteit die voorval ooit as ’n rassevoorval beskou het. Die wyse waarop dit aan die groot klok gehang is, het egter daartoe gelei dat die menseregtekommissie dit ondersoek en ʼn woordvoerder van dié kommissie dit aan die media as ’n rasse-insident (nie beweerde rasse-insident nie) beskryf het nog voor die kommissie bevind het dat geen bewyse vir rassisme gevind kon word nie.

Jansen het die studente om verskoning gevra en teruggenooi. Hy het verduidelik dat die skorsing gedoen was op sterkte van destydse getuienis en ’n “eie ondersoek.” Die ondersoek het skynbaar nie die studente se weergawe ingesluit nie, want beide, en hul ouers, beweer hul kant van die saak is nooit gevra nie. Boonop verduidelik Jansen dat die skorsing ter wille van die twee studente se veiligheid geneem is – maar sê terselfdertyd daar is geen rassisme op die kampus nie (en krediteer sommer sy omstrede verpligte sensitiseringsprogram hiervoor). Die probleem is dat daar egter ook verskeie ander voorvalle op die kampus was waar die skoen aan die ander voet was, en die rektor heeltemal anders opgetree het.

Saru-kwotas
Die minister van sport maak dit duidelik dat rugby nie al is wat geraak word nie.

Rugby is egter veral onder die vergrootglas en die besware oor die kwotaplan slaan soos masels uit. Eerstens is daar die kwessie van regeringsinmenging, iets wat die grondwet van die Internasionale Rugbyraad, soos die meeste sportliggame soos Fifa en die IOK, verbied. Tweedens word rassisme verbied.

Benewens die beginselprobleme is daar ʼn magdom ander. Rugby as beroepsport het eintlik ’n elite sport geword. Slegs die meer welgestelde deel van die bevolking kan dit op TV kyk omdat dit net op betaalkanale uitgesaai word. Dit bereik dus effektief nie die teikensgemeenskap wat op groter skaal opgeneem moet word nie. Kaartjies op deftige pawiljoene is peperduur.

Die bestaande kwotas, formeel of informeel, word eenvoudig aangesuiwer deur kleiner bonde waar swart en bruin deelname wel op groter skaal plaasvind van hul beste spelers te stroop. Na berig word het dit die sekondêre impak dat jong spelers wat wel oor die potensiaal beskik, uit hul families en omgewing se ondersteunende strukture weggeneem word, en dikwels ophou om rugby te speel of nie volgens hul potensiaal speel nie.

Die beginsel is egter dieselfde as wat Australië en Nieu-Seeland doen, om die Suid-See-eilande jaar vir jaar van hul beste spelers te stroop. Hierdie soort benadering, so wys internasionale syfers, bevorder juis dat een groep buite proporsioneel in spanne per sportsoort verteenwoordig word. Klik hier om meer te lees.

Eers as SARU ʼn ander tipe “kwota”, ʼn persentasie plaaslike spelers, aan bonde opdwing sal sportontwikkeling in agtergeblewe gemeenskappe die nodige vlakke begin bereik. Rugby moet eers (weer) die spel van die mense word en pawiljoene (anders as net Nuweland) volgepak word voor dit beduidend uit die versuiling van elitisme sal kan breek. Ja, daar is lomp pogings om rugby na swart gemeenskappe uit te brei, soos die opdrag aan unies dat swart plaaslike media ook akkreditasie moet kry. Die gevolg was dat gesoute en bekroonde joernaliste nie akkreditasie kon kry nie omdat die media-losies nie genoeg plek bied nie. Baie gevalle het dan voorgekom dat hierdie swart publikasies twee mense stuur – ’n verslaggewer en fotograaf (sonder kamera) wat die hele toetie, onthaal inkluis, bywoon en nie ʼn woord oor die wedstryd publiseer nie. Terselfdertyd verdwyn die rugby onder meer uit gemeenskapsradiostasies se nuusbulletins omdat die verslaggewers daarvoor nie akkreditasie kon kry nie.

ʼn Mens kan dit na ander sake deurtrek. Wanneer laas het iemand ʼn nuusinsetsel oor die radio gehoor van vordering met ’n provinsiale krieketwedstryd, of selfs van die bedryfsregspanne. Daar word omtrent net aan internasionale wedstryde aandag geskenk.

Die regeringsinmenging en kwotas is een van die sake wat AfriForum internasionaal wil laat bereg.

Grondberaad
Een van die min positiewe uitvloeisels van die beraad is dat die minister se “50%-plan” blykbaar van die tafel geveeg is. Dat dit steeds op die agenda was na al wat kundiges is dit al verwerp het, is egter kommerwekkend. Die bo-perk op die hoeveelheid grond wat boere mag besit wat voorgestel word, word nou uit byna net soveel oorde veroordeel.

Renate Barnard-saak
Minderhede moet daarteen waak dat die saak nie ’n verlammende uitwerking het nie, want dit is nie die einde nie – dit is die begin van ’n nuwe fase waar onder meer internasionale beregtiging in die visier is. Dit behels nie net die inspan van buitelandse hofuitsprake en ander vorme van die internasionale reg nie, maar empiriese gegewens oor die onbedoelde gevolge van soortgelyke praktyke as wat die regering hier implementeer, en nou op ʼn enkele aspek die stempel van goedkeuring van die grondwetlike hof gekry het. Uiteindelik moet appels met appels vergelyk word.

Elkeen het ʼn rol
Terwyl die regs- en ander tegniese aspekte die verantwoordelikheid van regsgeleerdes en ander vakkundiges is, is die verantwoordelikhede op die breë bevolking nie minder groot nie. Byvoorbeeld: ongeag die beweerde provokasie oor ’n stryery oor parkering met die insident by die Vaaldriehoekse kampus, moet elke witmens nou reeds besef dat haas enige voorval waar die witmens die beste van die konfrontasie afkom, deur ʼn groot deel van die media sonder meer ’n “rasse-insident” gedoop gaan word en die kanse is goed dat die Menseregtekommissie dit as sodanig sal ondersoek. Regverdig of nie, dit het implikasies op die pogings om hierdie saak te internasionaliseer, want ’n minderheid wat met (skynbare) vuil hande by die tafel van internasionale geregtigheid aansit, spring met ’n baie groot agterstand weg.

Hou dus, indien moontlik, wyd.

Kortom, moenie dat die kombers van rassisme oor die minderhede in Suid-Afrika neersak nie. En wat dit betref het elkeen ʼn rol, anders het almal reeds verloor.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Henkst ·

Rassisme en xenofobie is hoogswaarskynlik ingebore genetiese gedrag.

Johan ·

Al wat ek kan se Herman is dat Suid-Afrika nie alleen in die bootjie is nie. Dit is ‘n wereldwye ding wat deur daardie eertydse baken van regverdigheid (indien dit ooit so was) en hedendaagse bedrogspul die UN gedryf word.

PC Badenhorst ·

Die Renate Barnard-saak het nou finaal bewys dat die SA regstelsel ‘n klug is:
Maak nie saak wat die Appelhofuitspraak is nie; as dit ongunstig vir die regime is, sal dit van die tafel gevee word deur die konstitusionele hof se meerderheid swart “regters”

Herman Toerien ·

PC, ek wil nie graag nou te tegnies in die beredenerings van die saak betrokke raak nie. Die regtrs, het soos ek verstaan verskillende uitsprake gelwer om by ‘n aanparige bevinding uit te kom. Twee aspekte is eggter van belang: slegs ‘n klein deeltjie van die hele kwessie van “affirmatif action” is beregtig, en ‘n klomp ander aspekte kan, en gaan die paadjie deur die howe loop. Maar intussen is dit ook nodig dat ‘n regsposisie van die internasionale reg duidelik gestel word, omdat ons grondwet egters verplig om in uitleg, die internasionale reg te volg tensy die grondwet dit duidelik uitsluit.
Die tweede aspek is dat die uitspraakregter basies die populistiese standpunt gevolg het dat diue grondwet in wese ‘n transformasiedokument is. Ons hoor dit bv gereeld by universiteite se transformasieplanne, en die duidelike bepalings in die grondwet wat minderheidsregte voorskryf, word dan verdag gemaak, soos deur prof Adam Habib wat sê dit word “misbruik.” Dis natuurlik nie ‘n regargument nie.
(Die woorde transformasie of “affirmative action” kom natuurlik glad nie in ie grondwet voor nie, en die proses wat regstellende aksie beskryf, kan nie werklik met affirmative action vertaal word nie. Dit word ook so deur van die land se voorste regsgeleerdes in “Fundamental Rights in the New Constitution” genoem. Hulle verkies “corective action” en ek dink nie iemand kan kla oor iets wat verkeerd is, wat reggemaak word. Affirmative action beteken dieselfde persoon wat reeds reggestel is, kan weens sy velkleur weer en weer en weer “reggestel” word. Dit beteken natuurlik dat die persoon wat hieroor benadeel is, weer en weer deur sy velkleur benadeel kan word, terwyl die grondwet die “corrective action” bewoord as enigeen teen wie in die verlede onbillik gediskrimineer is. Behalwe blankes wat nou al self “in die verlede) dus sedert 1994, op grond van ras benadeel is – wat nog v daardie benaddeldes se gestremde kinders wat weens die diskriminasie teen hul ouers, nie die nodige terapie kon kry nie? So kan ens ab infinitum voorbeelde noem. Maar die miljoenêr Tokyo Sezwale wie se dogter nog jie ‘n dag diskriminasie beleef het nie, word weens affirmative action bevoordeel. Dit is nou ingevolge internasionale regspraak onwettig gemaak. Daarom die vreemdheid v hierdie uitspraak.
Oo die objektiwiteit vd regters. Hulle is onder skerp verdenking na die onteiening van minerale regte. Die FW de Klerkstigting het al openlik ‘n hele paar sake gelys waar die howe gefouteer het – ek kan nie uit die vuis onthou of dit net na die grondwethof verwys nie.
‘n Ander implikasie is dat die uitspraak volgens Dave Stewart uit pas met die Nasionale Vredesakkoord is. Dit hou verband met die grondwetlike beginsels wat in die oorgangsgrondwet opgeneem was, maar in die finale grondwet eintlik net as konvensies voortleef. Maar die akkoord waarop die grondwet gebou is, is juis dit wat SA se grondwet taamlik uniek maak.
My eie gevoel is dat wanneer ‘n mens die ander aspekte van regstellende optrede hof toe neem, ‘n mens nou noodwendig deeglik voorberei moet wees met die uitsprake van die internasionale reg. Dit is belangrik. Die Openbare Vervolger het bv ‘n Hong Kongse presedent gebruik om die aanklagte teen pres. Zuma terug te rek. Intuussen is daardie saak onder appèl omgekeer, en ek glo dit sal deeglik eel vd DA se argumente uitmaak vir die herinstelling van vervolging.

Nico ·

Ek ken nie die detail van die Renate Barnard saak nie. Vir my is dit egter duidelik dat regstellende aksie wel wettig is. Daar word spesifiek daarvoor voorsiening gemaak in die grondwet. En nou hoor ek al die geluide van mense, wat deel was van die opstelling van die grondwet, wat nou beweer dat dit nooit die doel van die grondwet was nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.