Nuuskommentaar: Ras-reaktiewe verkiesing op pad

Argieffoto

Argieffoto

Ons moet ons lywe vetsmeer vir ’n baie gevaarlike rasse-oorlog in die aanloop tot die landwye munisipale verkiesings. Die ANC is wat regeerprestasies betref bankrot, en gryp dié keer selfs nog meer as tevore na die ras-kwessie, en wel op só ’n manier dat rassespanning duidelik verhit.

In baie opsigte is seker alle verkiesings wat die Amerikaners “rejection elections” noem. Die regerende party of koalisie het ’n tydperk lank die kans gehad om te regeer, kon nie (heeltemal) daarin slaag om aan die verwagtinge te voldoen nie, en word by die stembus in ’n mindere of meerdere mate verwerp.

Dit geld veral in Wes-Europa waar regerings mekaar met reëlmaat vervang. In die VSA is daar ’n sterk tradisie van twee hoofstroompartye waaraan baie kiesers lojaal is, ongeag hoe goed of power ’n regering van daardie party vaar. Hierdie lojaliteite is dikwels “oorerflik”. Soms, soos nou, verdiep die spanning tussen die partye soveel dat dit na ander terreine soos ou vriendskappe en buurmanskap oorspoel, en die wedersydse gesindhede deur politieke alliansies bepaal word, amper soos in die dae van die Nat-Sap-bollerollery by politieke vergaderings hier, sodat Winburg selfs ’n Nat-NG-gemeente en ’n Sap-NG-gemeente gehad het.

Interessant, volgens ’n artikel van Pat Buchanan speel ras saam met ander wisselende faktore telkemale ’n rol wanneer ’n “rejection election” plaasvind. Nadat die Demokrate vir ’n ruk die Amerikaanse politiek oorheers het, het die Demokrate in 1968 die bewind aan die Republikeine afgestaan. Die faktore wat hiertoe bygedra het, was die raskwessie en die maatskaplike en politieke revolusie van die 60’s.

Ras het weer ’n sentrale rol gespeel in die Republikeine se neerlaag in 1988. Waar wit Amerikaners nog in 1968 sowat 90% van die kiesers uitgemaak het, is dit nou 70% van die kiesers, en 60% van die bevolking. En minderhede stem 80% vir die Demokrate.

Die jongste verwikkelinge in die VSA speel af teen die agtergrond van skynbaar verswakkende rasseverhoudinge. Volgens ’n Rasmussen-peiling van Januarie 2016 meen 50% van die Amerikaanse kiesers dat rasseverhoudinge versleg het. ’n Jaar gelede was net 44% dié mening toegedaan, en die jaar daarvoor 38%. Net 18% persent meen rasseverhoudinge is nou goed of uitstekend.

Sedert die 1994-verkiesing in Suid-Afrika het ras al ’n oorwegende rol gespeel in hoe kiesers stem, en die posisie het selfs oor die algemeen meer verskans geword. Selfs die destydse NNP se aansluiting by die ANC het op die oog af omtrent net soveel wit LP’s as wit kiesers aan die ANC besorg, En gou het hierdie wit en baie bruin kiesers veral ná die berugte Manyi-uitsprake oor bruin “oorverteenwoordiging” in die Wes-Kaap verdamp. In só ’n mate dat een peiling voor die vorige algemene verkiesing absoluut geen wit steun vir die ANC geregistreer het nie.

Politieke partye in Suid-Afrika kan hoe hard probeer om nie-rassig te wees, dit neig om eventueel oorwegend wit of swart te wees. Die ACDP, dalk lank die suksesvolste nie-rassige party, het egter pro rata sowat tien keer meer wit as swart kiesers getrek. Weens die feit dat swart kiesers veel meer as wit kiesers is, het die werklike getalle ongeveer gelykgebreek. Pogings om die ACDP meer swart verteenwoordigend te maak het daartoe bygedra dat die party van ’n hoogtepunt van sewe parlementêre setels teruggesak het tot drie, en die derde met ’n groot geluk weens die grootste breuk van reste kon inpalm.

Die geheim vir die DA om meer swart kiesers te trek lê daarin om dit ’n minder geforseerde en gemanipuleerde proses te maak as wat eerw. Kenneth Meshoe ingespan het. Die rooi ligte het gou geflits toe die DA “teikens” stel wat baie politieke ontleders in weerwil van ontkennings bloot as kwotas beskou.

Ons kan ons maar vetsmeer, ’n beeld-bankrot ANC gaan die rassetamboer tot minstens die verkiesing hard moker. Die DA gaan op elke denkbare en ondenkbare manier ras-verdag gemaak word.

Maar die rassekwessie is nie al waar dit nuttig is om die oog te hou op wat in die VSA gebeur nie.

Twee ander artikels wat pas verskyn het verskaf meer lig. Die eerste, deur Michael Barone, se titel is “American tired of elites considering them stupid and vicious” en het ook tot ’n groot mate betrekking op Suid-Afrika. Ook hier word probeer om kiesers ’n rat voor die oë te draai, soos dat ’n #ZumaMustFall-banier op rassisme neerkom, of dat daar ’n logiese rede vir die Nene-voorval was. Voeg hierby belaglikhede soos die “vuurpoel”-verduideliking vir Nkandla. Die regering moet inderdaad bitter baie kiesers se intelligensie laer skat as wat dit is.

Die tweede artikel, deur Thomas Sowell, sou in Suid-Afrika as erg rassisties afgemaak gewees het as Sowell wit sou wees. Sowell is egter ’n swart man wat in Harlem, New York, grootgeword en homself effektief tot bo gewerk het. In die artikel, “Demand for Villains”, gebruik hy ’n veelseggende aanhaling van sy eie: “Having spent decades researching racial and ethnic groups around the world, I have never yet found a country in which all groups – or even most groups – are even roughly equally represented in most endeavors.”

Hy haal die Franse historikus Fernand Braudel aan: “In no society have all regions and all parts of the population developed equally.”

Dit is onmoontlik om in ’n kort opsomming soos hierdie reg en konteks aan Sowell se artikel te laat geskied. ’n Groot deel van sy beskouing word egter opgesluit in die woorde: “With all the heated and bitter debates between those who believe in heredity and those who believe in environment as explanations of group differences in outcomes, both seem to ignore the possibility that some groups just do not want to do the same things as other groups.”

Breedweg kan gestel word dat ’n groot deel van die Afrikaner se strewe na “outcomes” verskil van die “gewenste” “outcomes” van ’n groot deel van die “res”. Die taalkwessie is maar een hiervan.

Politieke partye kan dus nie maar in hul verkiesingsveldtogte alles vir almal wil wees deur te fokus op dit wat slegs een kant van die spektrum wil hê nie. Vir baie Afrikaanssprekendes maak dit werklik saak of ’n party wat hul stem wil hê, daardie stem waardig is deur byvoorbeeld ook mediaverklarings in Afrikaans uit te reik, of selfs net die betrokke party se naam ook in Afrikaans by die OVK geregistreer het (en die registrasie so behou het).

In die verlede het die media, bedoelende konvensionele media, ’n groot rol gespeel om die “rejection election” te laat inskop. Maar, hoewel koerante en die uitsaaiwese se rol steeds bitter belangrik is, is dit tog geërodeer deur die vergrote en steeds groter wordende impak van die sosiale media.

Maak vas die veiligheidsgordel teen die enorme rasse-aanslag wat teen wil en dank met die komende verkiesing aan die kom is. Wees bedag oor hoe om nie deel daarvan te word, en verguis te word nie. Trouens, die ANC is nou so skerp op die kwessie, dat ofskoon die party self lekker agter die deur staan, die aandag afgelei word deur reuse-boetes vir oortreders op te eis.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

m ·

Hierdie rassisme storie raak nou regtig boaring. Dis soos plaat wat vashak op een noot. Die wat so vinger wys is die grootste rassiste wat nog ooit bestaan het. Ag nee man kry bietjie ander tune!!!!!!!!

Chris ·

It’s amazing how blind south Africans have become and the perception that south Africa still has opportunities for whites and that race has no role in our society.. It’s time we pressure the western world to accept us as refugees and let the ANC do what it does best…kill the country it’s economy and it’s infrastructure

Reinhardt ·

Ek weet nie van jou nie, maar ek sal eerder veg om hier te bly voordat ek immigreer. Dis maklik vir n engelssprekende om by n ander land in te val wat ook engels praat, maar ek kan nerens anders Afrikaans praat nie. Hier het ons ontstaan en hier sal ek vergaan.

chrisp ·

Reinhardt.
Kyk langs jou dis ek man.
Ek gaan ook nerens nie(dalk net op vakansie as die rand weer een tot een is!)

Biltong, Braaivleis.Afrikaans, lekker man lekker.

Herman Toerien ·

Jy is heeltemal reg M. Om ‘n tema vir ‘n nuuskommentaar / hoofartikel te bepaal is nogal ‘n omvattende onderwerp omdat ‘n groot aantal plaaslike en buitelandse nuusbronne nagegaan moet word. Dan begin die navorsing ens.
Juis weens die greep wat die rassisme-storie op die huidige openbare diskoers het, het Maroela dit met ander temas, soos die droogte en die opkoms van vroueleiers afgewissel.
Die ras-kwessie, of iets verwants, speel ook nou ‘n groot rol in die buitelandse politiek wat ek ook so terloops as moontlik probeer inwerk.
Die tema wat stellig vandag die onderp moes wees, is Solidaiteit se oorwinning teen die SAP oor kwota-aanstellings. Dit handel ook oor ras, maar die werklike rede is dat ‘n mens eers meer inligting nodig het soos wanneer Solidariteit self die uitspraak klaar bestudeer het.
Dit is inderdaad so dat sekere temas oorversadig word, bv om Zuma te kritiseer – en dan is dit nog boonop ‘n geval van nie voor kan bly by sy droogmakery nie.
Wanneer sekere onderwerpe die openbare diskoers erg oorheers neig ander kwessies, soos Sirië, om in mens se kop te vervaag. Wanneer iets weer geskryf moet word daaroor, is dit baie navorsing (al hou ‘n mens ‘n oog daarop) en kan ‘n mens maklik iewers mistas.

nic ·

Dag Herman, dankie vir nog n lekker artikel. ‘m’ moet my maar reghelp as ek verkeerd is- maar ek dink nie sy/haar kritiek is teen jou of Maroelamedia se keuse om daaroor te skryf nie, maar eerder omdat die staat en oposisie en wie weet wie nog almal die dooie perd van ‘rassisme’ so aanhou slaan. Dit laat my dink aan als wat vroeer verkeerd geloop het vir die ANC was apartheid se skuld. Daai perd is ook so holrug gery dat meeste mense hardop uitbars van die lag as een of ander politikus of amptenaar daai verskoning weer gebruik. Ek dink die rassisme ‘toorwoord’ gaan ook sy slaankrag verloor

chrisp ·

Ons sal maar moet sien met die uitslag of die kiesers “slim”is.

Jan maak n Plan ·

Hierdie rasisme storie is maar net ‘n baie slim manier van die ANC om die aandag weg van die eintlike probleme in die land te lei. As almal weg kyk na rasisme as daar gestem word dan kry die ANC meer stemme. Hulle sal enige iets doen om die aandag weg te lei van die eintlikke werklikheid.

Fran ·

Dankie Herman, jou artikels is altyd insiggewend en gebalanseerd.

Fanie ·

Wil net graag weet hoe gaan hulle geweld by die stembusse afweer, aangesien al ons wittes rassiste is, maar hulle die geweld aanblaas. Daar is by verre baie meer swartes by stembusse, as wittes. Gaan hulle ons aanval, of intimideer deur te beskuldig van rassisme ens ens. Sodat ‘n nie stem dan outomaties in die ANC se skoot val. Soos wat hulle te kere gaan, kan mens enige iets verwag!! Hoe veilig gaan ons wit stemmers wees by by stembusse?!
Dit is ‘n baie aanhitserige nasie , wie gaan ons veligheid waarborg?

Sorika ·

Nee man julle het dit almal verkeerd. Dit gaan nie oor stemme nie. Dit is oor hulle persoonlike bank rekeninge wat soos die rand waarde gaan verloor. Eish!!!

Johannes Meintjes ·

Intussen moet die blankes en kulturele minderhede wie selfbestuur en meer verlang vinger trek en doelgerig op die nodige meganismes en implementering fokus. Die res moet maar voortploeter in onvolhoubaarheid, self-verheffende ou-wyn denke en werkwyses, en self-vernietiging.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.