Nuuskommentaar: Raskwessie raak ál taaier – is ‘bobbejaan klim die berg’ nou rassistiese haatspraak?

Argieffoto: Pixabay.com

’n Nuwe uitspraak van die konstitusionele hof oor rassisme sal reg en ewehandig toegepas moet word, of loop die gevaar om die rassesituasie in Suid-Afrika ver verby die vlakke van ’n rasseontploffing te voer. Veral noudat daar te midde van die diskoers oor grondonteiening sonder vergoeding duidelike uiteenlopende sienings oor grondbesit is.

In ’n grondwetlike demokrasie (met gebreke en al) is dit voor die hand liggend dat regsbeginsels ’n baie sterk invloed op die alledaagse lewe sal uitoefen. Hierdie regsbeginsels is dikwels nie so bekend nie, of baie kompleks. Of hoogs regstegnies van aard. Baie burgers verstaan nie ’n snars hiervan nie.

Veral in homogene, gevorderde demokrasieë is daar dikwels bewegings wat voel hierdie regstaat-kwessie word te ver gedryf, en stroop verantwoordelike burgers van te veel van hul demokratiese magte.

In Suid-Afrika moet die land, uitvoerende en wetgewende gesag inkluis, gereeld ankers uitgooi en eers kyk wat die konstitusionele hof oor iets besluit. Dis nie so eenvoudig soos om net te kyk wat die grondwet bepaal nie, want die hof se interpretasieregte is so wyd dit raak-raak aan wetgewende gesag, en die uitvoerende gesag moet eenvoudig die knie buig.

In Suid-Afrika, waar die uitvoerende en wetgewende gesag gereeld droogmaak, kan die gewone burger dikwels in reaksie op ’n uitspraak van die konstitusionele hof sê: “Dank die Vader.”  Die regters is egter ook net mense, en maak menslike foute. Verskeie uitsprake het langs rasselyne verloop.

Min dinge het al in Suid-Afrika uitgelig hoe swart en wit oor sommige sake uiteenlopende sienings het, of met heel verskillende stelle wette werk, as die huidige diskoers oor onteiening sonder vergoeding. Selfs oudpres. Jacob Zuma is deur verskeie instansies by die Menseregtekommissie aangekla omdat hy by herhaling gesê het wit mense het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. Nou wat nou as die meerderheid van die kommissarisse ook dié mening huldig? Dit, terwyl hierdie “kennis” in wese uit dieselfde dampkring kom (soos ook deur Zuma uitgewys) dat swart mense oor die algemeen die droër en onvrugbaarder dele van die land gekry het, en dat al die ander kontinente saam in Afrika, dus die “grootste” kontinent, sou pas.

’n Tweede probleem is dié van onewehandige optrede teenoor verskillende rasse. ’n Derde sluit hiermee af – daar is ’n té wye konsep dat swart mense “per definisie” nie rassisties kan wees nie.

Nog onlangs het die konstitusionele hof in wese bevind dat dit nie eens nodig is vir ’n wit persoon om die “k-woord” te gebruik nie. ’n Blanke is sy werk kwyt nadat hy ’n swart man ’n swart man genoem het, maar volgens die regter die “k-woord” bedoel het.

In die jongste uitspraak is egter bevind ’n lied met die woorde “slaan die boere” is nie rassisties nie. Werknemers het by hul werkgewer aan ’n onwettige staking deelgeneem. Dit herinner aan Peter Mokaba, met die lied “Kill the Boer, Kill the Farmer”, wat slegs ná appèl tot haatspraak verklaar is. Mokaba is hierna vereer deurdat die nuwe wêreldbekersokkerstadion in Polokwane na die oorlede heethoof vernoem is, en steeds is.

Beteken die konstitusionele hof se uitspraak dat ’n groep wit mense nou straffeloos vir swart betogers “Bobbejaan klim die berg” of “Die Stem” kan sing? Indien nie, wat moet die lid van die publiek wat nie ’n regsgraad het nie, as kompas gebruik om te weet wat is toelaatbaar of nie? Ras?

Terwyl dit nog lyk of die kwessie van wie nou eintlik aanspraak op die grond het nog nie besleg is nie (om nie van ekonomiese en ander implikasies te praat nie) woed ’n stryd oor die manier waarop die kwessie oor die rassegrense heen aangepak moet word. Ernst Roets, onderleier van AfriForum, se styl in die parlement loop steeds gereeld onder die skerp tonge deur, ook van mense wat ’n mens sou verwag sy standpunte sou deel.

Hoe gemaak as jou teenstander onwrikbaar bly by wat jy as ’n groot leuen beskou en jou boonop van jong rassisme uit die ooste van Pretoria beskuldig? Een van die goeie vrugte van die Heilige Gees is om by die waarheid te hou. Een van die praktyke van ‘n sondige natuur is om leuens te vertel.

Hoe nou om vordering te maak deur politiek korrek bietjie wyd van die waarheid te hou? Teoloë sal lekker kopkrap as hulle die goeie vrugte van die Heilige Gees en die praktyke van ‘n sondige natuur saam beoordeel en werkbare vordering uitpluis.

Die goeie vrug van die Heilige Gees en die praktyke van die sondige natuur word vir u gerief hieronder geplaas:

Goeie vrug van die Heilige Gees:

  1. Verstaan genade van God
  2. Regverdigheid
  3. Waarheid
  4. Leer wat gee God vreugde
  5. Liefde
  6. Vreugde
  7. Vrede
  8. Geduld
  9. Vriendelikheid
  10. Getrouheid
  11. Sagmoedigheid
  12. Selfbeheersing
  13. Inskiklikheid
  14. Vol genade
  15. Onpartydig
  16. Nie veroordelend nie

Die praktyke van die sondige natuur: 

  1. Deelname aan ongehoorsaamheid
  2. Dade wat in die geheim gepleeg word – te erg om te noem
  3. Verwaandheid
  4. Uitlokkend/skoorsoekerig
  5. Selfsugtig
  6. Jaloers
  7. Vertel leuens
  8. Skynheilig
  9. Veroordeel kwaadwillig

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

KanekVra? ·

Sjoe maar die ANC se boom dra darem maar al die slegte vrugte lekker.

RERRIG ·

Het hulle NIKS beter om hulle self mee besig te eerder as om hulle self jammer te kry en victum te speel…

Ellisras ·

Ons begin by die Konstitusionele Hof en rassisme. En gooi ‘n dollop Heilige Gees as nagedagte by. Dit maak my deurmekaar.

ZAR ·

Ek glo dis sodat ons moet onthou dat ons geveg nie teen mense is nie Ellisras

GW Raad ·

In die apartheid era is linkses deur die regbank beskerm en die regering was telkemale aan bande gele. Met die huidige regbank is daar geen beskerming vir die minderhede nie. ‘N klakkelose ondersteuning van die politieke party waarvoor die regters en landdrosse stem blyk uit hulle uitsprake. Dus is die onafhanklikheid van die regbank lankal al onder verdenking. Mens kan verder gaan om te se hulle is glad nie objektief nie. Dis ‘n veralgemening en uitsonderings sal dus geld. Maar dis ver vewyderd van mekaar.

Piet Snot ·

Kom die slegte vrugte nou van die Heilige Gees? Dis mos twak.
Ek glo nie dit wat die skrywer bedoel het nie, maar dis wat daar staan.
Maroela, ek dink julle moet dit dringend regstel.

Nico Strydom ·

Dagsê Piet Snot
Dankie vir jou terugvoer, die spesifieke teks is gewysig.
Vriendelike groete

Al ·

Dit gaan oor die grys gebied – dis waarom die Heilige Gees en Bybel aangehaal word en as riglyne.
Ñ Advokaat het jare terug vir my gesê as mens jonk is, sien jy alles in swart of wit, maar hoe ouer jy word, raak die grense tussen reg en verkeerd al hoe gryser.
Politiek is morsig en ek bid daagliks dat die regering se morele kompas reggestel word.
Nog n euwel en kultuur wat gekweek word, is dat niemand van ons huidige regering verantwoordbaarheid wil neem van blaam nie.
Hulle skep eerder verdeeldheid om die aandag van hul onbevoegdheid af te lei.

Celtis Africana ·

My nek staan al permanent skeef van die ander wang draai.
Die tweede, vrywillige myl, het my skoensool in sy maai.
die onderkleed wat ek met die bokleed weggee, het my Jockey’s alger laat waai.
Gee my liefs n eie se plek,
waar ek na hartelus kan dans, kerk en werk!
Hierie klomp hier soek my niks,
woeker liefs op my eie se plekkie, fluks!

Casper Labuschagne ·

Ek wil nie te vinnig die aap uit die mou laat nie, en inderdaad ook nie die bobbejaan agter die berg gaan haal nie, maar as ek hier in Reënboognasielaan afry sien ek daar word nou aktief jag gemaak op die gebruik van die naam van enige soort primaat anders as die Homo sapiens self. Dit is nou mits jy in die eerste plek nooit vir die Homo sapiens ‘n primaat noem nie, want om dit te doen beteken dat jy ‘n rassistiese wetenskap aanhang wat nog nie genoegsaam gedekoloniseer is nie.

As jy wette maak teen haatspraak, dan sal enige vorm van spraak wat nie die guns van die meerderheid geniet nie, bloot haatspraak word. En die guns van die meerderheid is gans vlugtig en wissel na gelang van die huidige guns en geur van die populistiese horde – in 1996 het Nelson Mandela ‘n grondwet ingelyf wat beskerming van minderhede vervat, maar as jy in 2018 daardie minderheidsbeskerming in die grondwet sou verdedig, sal jy vandag ook van haatspraak beskuldig word.

Pvt ·

Hoe word daar verwag dat mense wat nog nooit met ekonomie te doene gehad het sommer oornag met pot vol goud sit en weet wat om te doen.
Nou is pot leeg en niemand meer LUS om te lewe nie.
Alles deel van die lewe.
Sterkte. Kom ons doen God se wil.

Feite ·

Die ras – ding is dit nou uit heeltmal verband geruk? Dit is die ware S A – maak nie saak wie en wat jy is nie.
Ek sal nog steeds Bobbejaan klim die berg sing – uit volle bors. Net soos wat Kill The Boer nou maar gesing kan word.
Die verkillende kullture gaan nooit ‘gel’ nie – en dit is ‘n feit.

Cornelia ·

Dankie mnr. Toerien. Dit is baie Waar dat partydigheid en leuens in ‘n rondtastende wêreld, onreg se soutlose dwaalweg is. Maar die wat deur die Heilige Gees, in die Woord en Waarheid ingeënt is op ‘n Hoër Lewensdoel as om net van dag tot dag te bestaan in ‘n geldige maar verganklike stryd en opbrengs: ons hou vas met Blydskap aan die dinge wat ewig onbesoedel van geslag tot geslag geplant en geoes word. Watter groter vreugde om te mag weet dat jou kinders nie in God se Genade vervlak en verflou nie, jou gesin, familie, bure, kenisse. Om met kuiertyd meer oor Godsake as landsake te kan getuig. Om met kuiertyd saam te bid voor jy terugkeer huiswaarts. Is dit nie waar die “werkplek” deel is van God se wingerd nie? Wat van ‘n “Juig al wat leef” psalm of gesang in antwoord op die “struggle to struggle” bog. Antwoord hulle. Met Waarheid en Reg.

Stef ·

Die ouens moet hulle dun velletjies baie vinnig versterk. Ek was ‘n Rockspider en die Sout trille en ons het mekaar deeglik gevryf. Dit terwyl ons saam gespeel het. Die Human rights, dis die probleem.

Marie Visser ·

Ons leef in die tyd van die ‘voete van yster en klei’.

Jerry ·

Die skaal van geregtigheid in SA het geswaai in die guns van die verontregtes, wie volgens anti kolonialistiese ideologiese denkwyse en persepsie, nie rassisties kan wees nie!

Paul ·

Mens kry die boodskap. Ek sal wel vir hulle Die Stem sing, maar ek sal nie vir hulle ‘bobbejaan klim die berg’ sing nie, ongeag.

Piet Le Roux ·

Drie regters het onlangs bepaal dat daar niks rasisties is om ‘n “Boer” te beledig of te dreig want dit verwys nie na ‘n spesifieke rassegroep. Dus kan “bobbejaan” ook nie rassisties wees! Die beslissing kan ook op die “k” woord van toepassing wees want dit verwys ook nie na spesifieke rassegroep.

humor ·

Verstaan nie mooi nie. Slegte vrugte van die Heilige Gees. ?????????????????????????????????

Nina ·

Ek verstaan nie, Maroela. Om te praat van “slegte vrugte van die Heilige Gees” is totaal onbybels. Die Bybel praat duidelik van die vrug van die VLEES teenoor die vrug van die Heilige Gees. Hoe praat julle dan nou op meer as een plek?!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.