Nuuskommentaar: Rassebohaai tot na verkiesing?

Argieffoto

Argieffoto

Dit is nou duidelik dat die ANC rassisme agter elke bos gaan probeer uitskop in die aanloop tot vanjaar se landwye munisipale verkiesing om sy bankrotskap aan werklike prestasies te probeer verdoesel. Daar moet gewaak word om nie ʼn slagoffer hiervan te word en skietgoed vir die ANC te bied nie.

Meningspeilings toon dat rasbewustheid diep in die Suid-Afrikaanse samelewing verskans bly en daarom sal voorvalle van rassisme voortduur. Tot die komende landswye munisipale verkiesing is dit egter duidelik dat ʼn bankrot ANC die rassekwessie gaan dryf om die kreeftegang in stemme te stuit.

Maak dus maar gereed daarvoor dat bykans enige normale politieke aktiwiteit, wat per se niks met ras te make het nie, deur die ANC as rassisme gebrandmerk sal word.

Twee baie prominente voorbeelde het reeds voorgekom. Die ANC het spesifiek een van die DA se advertensieborde in Johannesburg, waar die ANC as oorsaak van armoede beskryf word, as “rassisties” beskryf. ʼn Groot banier in Kaapstad met die woorde, ‘Zuma must fall’, is as rassisties afgemaak en op vigilante-wyse verwyder (en ʼn klompie gevegte op straatvlak tot gevolg gehad).

Dit is ʼn ou laai van die ANC om, as hy prestasiegewys in die knyp is, die rassekaart te speel.

Daar is egter ʼn ernstige ingeboude bedreiging hierin. In die aanloop tot die Polokwane-kongres waar Jacob Zuma die leierskap van Thabo Mbeki suksesvol uitgedaag het, het verskeie swart koerantredakteurs die smorende impak van politieke korrektheid wat destyds gegeld het, afgewerp. ʼn Senior redakteur in die Media 24-stal het hul optrede geloof met die vermelding van ʼn langerige lys name en daarop gewys  ʼn aantal wit redakteurs het ook deurgeswem toe die sluise gelig is. Die implikasie was dat politieke korrektheid nie meer die inligtingsvloei in Suid-Afrika so sou beheer nie.

Nie lank nadat Zuma president geword het nie, het verskeie mense, waaronder die omstrede teoloog, dr. Nico Smith en verskeie van die swart redakteurs wat genoem was, egter onheilspellend begin waarsku die kritiek op die ANC kan tot ʼn bloedbad lei (omdat dit as kritiek op swart mense vertolk word).

Die boodskap, so het dit gelyk, was dat Thabo Mbeki vrybuit was, maar kom dit by die ANC na Zuma se opkoms, moet politieke korrektheid hervat word. “Ken jou plek of betaal die prys.”

Maar … dit het geblyk dat Zuma ʼn uitsonderlike swak president is en ʼn kritieklose swye sou belaglik raak. Zuma is egter self ʼn heel ander mening toegedaan. Hy skryf die kritiek op hom toe aan die feit dat hy nie formele skoolopleiding gehad het nie.

Hy is beswaard daaroor dat die fokus nie eerder val op “die wonderwerk van iemand sonder formele skoolopleiding wat hom tot president kon opwerk” nie. Hy het ook gedreig om diegene wat hulle hieraan skuldig maak “aan die kaak te stel.” Zuma probeer dus die kritiek op die swak uitvoering van sy presidensiële verpligtinge afmaak as ʼn aanval op sy gebrek aan kwalifikasies.

Ja, sy gebrek aan byna geen formele skoolopleiding dra stellig by tot Zuma se onkunde oor talle onderwerpe, soos grondbesit, die geskiedenis, hoe die demokrasie en veral grondwetlike demokrasie werk, presies hoe verkeerd korrupsie is en ʼn eindelose aantal voorbeelde soos sy mistasting oor die vertaling van die Bybel in Zoeloe. Maar dit hoef geen probleem te wees nie, as die bekleër van die presidentspos weet hy het tekortkominge en daarom luister na goeie raadgewers en ʼn wag voor sy mond plaas.

Maar Zuma leer nie dat hy telkemale sy voet daarin sit as hy eie opinies lug (en nog lekker daaroor lag ook nie).

Die ANC het pas oorlog verklaar teen rassisme en ʼn beroep op politieke partye gedoen om hulle te weerhou van optredes en uitsprake wat ʼn “demokratiese uitkoms” van die verkiesing gaan belemmer. Die probleem is dat rassisme vir die ANC iets heeltemal anders as vir ander mense beteken. In wese kom dit daarop neer dat die ANC en sy lede hulle aan allerlei rassepraktyke skuldig kan maak, maar dat ander die rassiste is as hulle beswaar sou maak.

Die FW de Klerkstigting is pas deur die ANC weens “rassisme” veroordeel nadat die stigting altesaam 45 swart mense weens gewelddadige rassistiese opmerkings op sosiale media by die Menseregtekommissie verkla het en na berig word, ook gesê het swart mense is meer rassisties as blankes. Die Stigting het egter die voorbeelde gehad om sy stelling oor die aanblaas van ekstreme geweld teen wittes te staaf.

Op ʼn pikante noot het die ANC-LP, Bongani Mkongi, op sy Facebook-blad geskryf die gebou in Kaapstad waarop die anti-Zuma-banier aangebring is, moes afgebrand en die inwoners in die proses verkool word.

Hy het wel om verskoning gevra, maar ook aangedui dat hy hom nie sal laat sensor nie.

Terwyl die ANC byna elke negatiewe stelling oor die ANC as rassisme gaan beklad en in die proses eintlik ʼn erg rasbenepe ingesteldheid openbaar, is dit ook so dat enige voorval van werklike rassisme van die kant van wittes as bewyse aangegryp en as kleinood vertroetel sal word aangesien dit eintlik ʼn wit teenoor swart probleem is.

ʼn Dure plig rus op elke witmens om hom van rassistiese op- en aanmerkings, ook op die sosiale media, te weerhou.

Terselfdertyd, ter wille van die beskerming van demokratiese praktyke, is dit nodig om elke aksie van rassisme deur die ANC en sy ondersteuners te verkla. Die media het ʼn dure plig om die uitwissing van rassisme van alle kante te beveg.

Ons kan nie toelaat dat die situasie ontstaan waar die demokrasie volledig geïnhibeer word omdat enige kritiek op Zuma of die ANC met kritiek op swart mense en dus rassisme, gelyk gestel word nie. Wat die probleem vererger is dat die taktiek al in die verlede met wisselende mate van sukses ingespan is, en ook sukses behaal het omdat wit politici dikwels nie die kulturele onderbou hiervan verstaan het nie en so juis in die hande van die ANC gespeel het.

Uiteraard kan elke nuuskommentaar tot die verkiesing nie aan die probleem van rassisme gewy word nie en ander onderwerpe sal aan die bod kom. Dit beteken egter nie dat die probleem nie bestaan nie en ʼn blywende waaksaamheid bly belangrik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Rynhardt ·

Anc speel rassekaart vir 22jaar al met regstellende aksie! Hy sal bly volhard om raase-kitaar te slaan, want dit is al deuntjie wat hy ken.Moletsi Mbeki het juis gister in Rapport gewaarsku:”Bly weg vansosiale media.” Daar word nou juis gesoek na wittes wat oortree! Jy as persoon moet sorg dat jy binne die raamwerk van vryheid van spraak bly! Twitter en Face book is uitlok-webwerwe! Jy is gewaarsku! Amerikaners trap ook in daardie slagyster wat Facebook stel vir hulle!

Johann ·

Ek moet saamstem dat rassisme onder alle bevolkingsgroepe aan die orde van die dag is. Dit is werklik net betreurenswaardig dat een wit persoon die duiwel losgelaat het die begin van hierdie jaar. Die negatiewe kettingreaksie wat dit veroorsaak het, maak die lewe nou deur die bank vir almal van ons in hierdie land skrikwekkend onaangenaam. Daarmee saam het ons die knellende droogte wat werkloosheid gaan verhoog, lewenskoste ten hemele laat skiet en die situasie nog verder gaan bemoeilik. Dit is dus logies vir my dat die regerende party op die rug van rassisme gaan ry om stemme te werf vir die komende verkiesing. Behoede ons as nommer een vir ‘n derde termyn aan bewind kom. Dan sal hy deur sy eie voorbeeld van min skoling mense “aanmoedig” om ongeletterd te bly. Wat ‘n voorbeeld om te gebruik om iewers in die lewe te kom!

Eddie ·

Aai Zuma word wakker!!!!!!!! Dit is nie net die wittes wat jou in daai pos wil he nie baie van jou eie mense dink jy het n paar skroewe los. Gaan leer eerder verder en weet waaroor die land en sy geskiedenis gaan voor jy jou mond oop maak. Wat n embarrassment vir Suid Afrika en die ANC. Siestog ek kry jou regtig jammer.

Wessel Pretorius ·

Met alle respek. Dis ooordat ons altyd stil bly dat daar oor ons geloop word. Dit skep ‘n kultuur van hulle is reg en ons verkeerd. Spreek eerder die oorsaak aan en ons leiers moet dit nie daar laat nie !!!! Klaar gepraat! !!

Dries Lubbe ·

Moet nie dat jy uitgelok word nie lewer eerder opbouende kommentaar

Gereg ·

By die buurtwag waarby ek betrokke is beleef ons daagliks swart teen wit rasisme. (en ons lede is Wit, Swart en Bruin) Natuurlik alles op video. Ons lede bly ten alle tye beleef terwyl ons met rasistme gestook word. Ek wonder as ek die videos vir die ANC stuur of hulle teen hierdie lede sal optree.

Die oortreders is veral lief om ons daarvan te beskuldig dat ons hulle net toesluit omdat hulle swart is. Nee meneer, ons sluit julle toe oor die selfde redes waarvoor ons die wit oortreders ook toe sluit. Omdat julle die wet breek.

Theo ·

Jy is 100% korrek Herman. Waar en hoe kan n mens rassistiese opmerkings deur politieke of privaat partye rapporteer?

Herman Toerien ·

Hallo Theo, gewoonlik by die Menseregtekommissie, maar ek dink dis meer prakties om ‘n politieke party wat jy vertrou te vra om jou met die klag te help. In sekere gevalle kan klagtes van crimen injuria by die SAPD gelê word,

David ·

Hierdie artikel is so belangrik dat die ook wereldwyd gelees hoort te word.
Versprei sulke artikels ook in Engels vir daardie doel

David ·

Genl Louis Botha, die eerste premier van die Unie van SA, het ook net ‘n standaard 3 gehad. Hy was tog ‘n vooruitstrewende boer, generaal en politikus. Hy was ook nie ongeskool nie!
Zuma se verskonings moet in die lig van genl Botha gesien word – Zuma het geen been om op te staan nie.

Jaco Steyn ·

Die belangrikste deel van hierdie artikel is die stelling, “Ons kan nie toelaat dat die situasie ontstaan waar die demokrasie volledig geïnhibeer word … nie”. Hiermee erken Herman Toerien dat hy die huidige “een-mens-een-stem” eenheidstaat aanvaar en bekommerd is oor iets wat dit sou “inhibeer”. Miskien behoort die leiers van Afriforum en Solidariteit óók te erken dat hulle “Afrikaner-selfstandigheid” beslis nié noodwendig die uiteindelike totstandkoming van enige onafhanklike blanke volkstaat impliseer nie…

Gnostic warrior ·

Die belangrikste deel van hierdie artikel is die stelling, “Ons kan nie toelaat dat die situasie ontstaan waar die demokrasie volledig geïnhibeer word … nie”. Hiermee erken Herman Toerien dat hy die huidige “een-mens-een-stem” eenheidstaat aanvaar en bekommerd is oor iets wat dit sou “inhibeer”. Miskien behoort die leiers van Afriforum en Solidariteit óók te erken dat hulle “Afrikaner-selfstandigheid” beslis nié noodwendig die uiteindelike totstandkoming van enige onafhanklike blanke volkstaat impliseer nie…

Herman Toerien ·

Jy maak darem wilde afleidings uit een van ver meer as ‘n duisend nuuskommentare. Gaan les gerus die Presidentraad se laaste verslag, en die verslae van die destydse Volkstaatraad om te sien hoeveel opsies en variasies daar is.

Jaco Steyn ·

Herman. Maar wat op dees aarde het die Presidentraad (sic) en oorle Volkstaatraad se voorstelle te doen met my vraag i.v.m. die leiers van Afriforum en Solidariteit se standpunt daaroor? Ek is bewus daarvan dat mense in die verlede verskeie opsies en variasies oor ‘n moontlike blanke volkstaat bespreek het, maar dis asof hierdie ideaal deesdae op die agtergrond geskuif is deur baie Afrikaanse leiers.

Sarie ·

Volgens Dr. Titus op Robinson se program is die meeste klagtes oor rassisme teen blankes en is dit nodig dat blankes se koppe geswaai moet word. My vraag is hoeveel rassisties opmerkings word nie teen blankes gemaak of word hulle benadeel op grond van hulle velkleur en haat wat teen hulle deur ANC propaganda opgebou is oor die jare wat maar stilbly en net aangaan met ons lewe. Menigmaal het ek in my besoeke aan skole in die Wes-Kaap graffiti soos die Boer se m… op borde en mure gesien. Een van ons senior personeel het kapsie gemaak dat daar by verjaardagpartytjies net witmens kos bestel word. ‘n Ander een het ‘n rassistiese teksboodskap hardop in ‘n vergadering gelees en toe aan ons wittes gevra ons gee seker nie om as sy dit lees nie. As daar aanstellings gemaak word is wittes oor die hoof gesien. Dis maar gelate aanvaar terwyl hulle op laer posvlakke die hardste gewerk het. So ek dink sy uitspraak is nie deurdag nie en gee nie die ware toedrag van sake weer nie. Selfs in die uitspraak van die Malema Sage met Kil the Boer was Titus en sy kommissie, maar flouerig in hulle uitspraak.

Johannes Meintjes ·

Die ANC se verskuilde rassisme in die vorm van SEB (BEE), blankes wie uit die werkplek gedwing word, Gauteng e-tol diskriminasie, armoede hulp dikwels slegs aan swartes, en nou “die ouers wie skool en universiteitsgelde kan bekostig” gee tog op die lang duur geleentheid vir vindingryke en meer konstruktiewe reaksie van die kant van die helderdenkendes en die blankes. Te midde van die oorlewingsangst tussen volke, tale, nasies en stamme jeens mekaar – veral waar uitermate swak (plaaslike en wereld) regering soveel soio-ekonomiese uitdaagings versoorsaak, – verg baie fyn, gefokusde en strategiese openbare optrede om die werklike probleme en uitdaagings te defineer en aan te spreek of uit te wys. Die kuns, – meen ek, – is om die oog op die bal te hou en die bal in spel te hou op pad na die ooreengekome doelpale, al verander ander die speelveld en mors met die spelreels.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.