Nuuskommentaar: Rassisme agter miskenning van Afrika se argitektoniese erfenis?

Afrika is ten dele self daarvoor te blameer dat die antieke beskawings waaroor die kontinent eens beskik het, op enkele uitsonderings na, nog onbekend is. Tog word dit as ’n vorm van rassisme beskou as Afrika en sy mense misken word deur nie te glo dat hulle sélf die manjifieke beskawings van weleer opgerig het nie en dit eerder aan ruimtewesens toe te skryf.

Met nog ’n Erfenisdag agter die blad is dit stellig so dat baie Afrikaanssprekendes voel hul erfenis is nie net afgeskeep nie, maar as Afrika-vreemd beskou en selfs met vyandigheid bejeën.

Dikwels is die teenreaksie dat daarop “gewys” word dat as dit nie vir die Europese beskawing was nie, die mense in Suid-Afrika nog stertrieme sou dra en in hutte van gras sou woon.

Hierdie houding kom op rassisme neer, skryf die Mail & Guardian pas in ’n omvattende stuk kommentaar. Vir sy feite het die koerant geput uit ’n artikel in The Conservation. Eerder as om van Afrika se antieke argitektoniese wonders as die werke van antieke inwoners van die kontinent te erken, word dit te dikwels as die handewerk van ruimtewesens wat in vervloë tye die aarde sou besoek het, en ander vreemde uitlegte, toegeskryf.

Benewens die antieke Egiptiese beskawings, het Afrika nog talle ander – sommiges lys tien, ander vyf – buitengewone beskawings opgelewer. Suid-Afrika, met die bekende Mapungubwe, is nie uitgesluit nie.

Maar Afrika word dikwels ook deur sy eie argeoloë daarvan beskuldig dat dit sy eie grootste vyand is, as dit kom by ’n wêreldwye persepsie oor die dikwels vergane glorie van dit wat was. Ja, lande soos Soedan laat argeoloë van oor die hele wêreld toe wat deurgaans die een ongelooflike vonds na die ander maak, en via vaktydskrifte bekend maak. Die kennis kom gefragmenteerd en in akademiese taal na die breë publiek, en ’n geheelbeeld word selde gevorm.

Toe daar onlangs goue ornamente uit veilige bewaring in die Krugerwildtuin gesteel is, hoeveel Suid-Afrikaners het al tevore kennis geneem van die eens hoogs beskaafde Thulamela-beskawing?

Sommige beskawings, soos dié van Kartago en Timboektoe, was aan besetting van buite die kontinent te wyte. In plaas daarvan om die nalatenskap van Timboektoe as kolonialisties en boos te beskou, het Suid-Afrika onder die leiding van die destydse pres. Thabo Mbeki miljoene rande belastingbetalersgeld spandeer om gevorderde bewaringsgeriewe in die ou stad te skep sodat die waardevolle antieke dokumente behoue kon bly.

In die Amerikas is die hoofstroom-argeoloë heel onwillig om te aanvaar dat daar eens kontak tussen beskawings op dié vastelande en byvoorbeeld Afrika en Europa was. Voorstanders van dié kontak wys op ooreenkomste soos dat piramides weerskante van die Atlantiese oseaan gebou is. Hulle verswyg dat dit in heel verskillende tydvlakke geskied het.

Die teenstanders meen die miskenning van die inboorlinge se vermoë om self dié kundigheid te bekom, kom op ’n rassistiese belediging van die inwoners se eie vermoë neer.

Kulturele erfenis word egter aan veel meer as antieke argitektuur gemeet, en die geestesgoedere weeg swaar.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, het hom in ’n verklaring soos volg hieroor uitgelaat:

“Erfenisdag is daar om ook die erfenis van die Afrikaner te herdenk. Die Afrikaner het ʼn ryke erfenis en het Suid-Afrika uitgebou as een van die welvarendste lande in Afrika.”

Dr. Groenewald sê die bedenklike poging van die ANC-regering en ander politieke leiers om die geskiedenis en erfenis van die Afrikaner te demoniseer, moet die Afrikaner nie intimideer nie, maar hy moet sy kop optel, aangesien hy ook met trots kan praat oor sy verlede.

“Erkenning moet gegee word aan alle kulture in Suid-Afrika, want slegs deur die erkenning van ons verskille en ons kulture, en wedersydse respek vir daardie verskille, kan ons ʼn vooruitstrewende land bou. Die Afrikaner was nog altyd bereid om te bou aan ʼn beter toekoms vir almal.

“Indien die ANC-regering ernstig is dat hy nasionale kohesie wil bevorder, moet hy ophou om die verlede en die geskiedenis van die Afrikaner net sleg te maak.

“Erkenning moet gegee word aan die groot bydrae wat die Afrikaner gelewer het en steeds lewer in die belang van al Suid-Afrika se inwoners. Slegs dan sal daar ware samewerking en vooruitgang in die land kan wees.”

Lees gerus Flip Buys se artikel “Bewaar ons Westerse erfenis”.

Ons kan gerus trots wees op ons erfenis, of soos die digter uitroep: “My erfenis is vir my mooi.”

Moet die ander erfenis egter nie onderskat en minderwaardig ag nie…

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Rupert Ashford ·

Herman, staan daardie Mbeki museum in Timboektoe nog? Laaste het ek gehoor die ISIS manne het gedreig om dit ook te vernietig toe hulle hulle oorlog daarnatoe uitgebrei het.

Therese van Schalkwyk ·

“Afrika se argitektoniese erfenis” is een ding , maar of daar óóit erkenning gegee sal word vir die Afrikaner se aandeel aan ‘n (eens) suksesvolle Suid-Afrika is sterk te betwyfel.

Enigeen wat Max du Preez se artikel vandag gelees het in News24 getiteld:
“Boer bullies will cost white people dearly”, sal besef dat Afrikaners nie vyande nodig het met mede-Afrikaanssprekendes wat só voel nie.
Du Preez beskryf o.a. die meerderheid lede van AfriForum en Solidariteit as “crude racists”.

Of daar ooit “ware samewerking en vooruitgang” in SA sal kan wees, is dus ‘n ope vraag.

Therese van Schalkwyk ·

Enige hoop wat gekoester word dat die ANC-regering “nasionale kohesie” sal bevorder, lyk heel onwaarskynlik wanneer die grootste kritici en konstante slegmaak van die Afrikaner geskiedenis hoofsaaklik uit Afrikaanssprekende geledere kom.

Johan Pienaar se stuk in die Huffington Post getiteld:
“Outburst over Tumi Morake shows all is not well in White South Africa”, is verstommend.

Voeg dan nog die negatiewe aksies van die “European-African Indaba” vanuit Nederland by en Dr. Pieter Groenewald, asook AfriForum en Solidariteit, het sowaar ‘n onbenydenswaardige taak en steil berg om te klim.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.