Nuuskommentaar: Rassisme en die braaivleisvuur. Dood hét ’n oorsaak

Argieffoto: Via Facebook

Al word staatsrassisme onder allerlei name soos transformasie, regstellende optrede en affirmative action (nie dieselfde ding nie) en ander eufemistiese woorde verdoesel, is dit dikwels meer verwoestend en blywend as die rassistiese uitlatings van rassiste (wat in elk geval nou kwalifiseer om vir onnoselheid en moedswilligheid eerder as rassisme per se) aangekla te word. Die blootlegging van rassisme is ’n holistiese taak waarby elkeen sy of haar klein deeltjie kan bydra.

Leserskommentare onderaan rubrieke, artikels en berigte is uiters waardevol. Dit verklap dikwels hoe minstens sommige mense oor sake voel wat dikwels aan die sensitiewe kant is. Politieke korrektheid verhinder dikwels ook dat sensitiewe onderstrominge spontaan bekend word en die skuldiges, soos die politici, se ore laat tuit.

En dis noodsaaklik dat die besluitnemers weet hoe mense regtig dink en glo.

Oor die stand van rassisme word gereeld na die “praatjies om die braaivleisvure” verwys waar mense, in die geslote omgewing van vriende, en met die hulp van ’n lange of ’n paar kortes, onbeskimmeld hul ware menings en oortuigings lug. Omtrent soos in die ou dae toe sensitiewe sake oor die slingerfoonnetwerk “vertroulik” bespreek is, maar net so goed via 7de Laan aan die nasie uitgelap kon wees. Kommentators se uitlatings hieroor is dikwels dat leserskommentare ’n onbetwisbare konsensus is dat dit duidelik sal blyk hoe mense regtig voel.

Die vinger word dikwels na wit mense, en in die besonder die Afrikaner gewys. Die gevaar van veralgemenings is bekend en dikwels al bespreek, maar is ’n onderwerp op sy eie.

Nog ’n relevante onderwerp op sy eie wat al dikwels onder die loep geneem is, is die kwessie van ongelykhandigheid. Dit is iets wat nie net Maroela Media gereeld onder skoot neem nie, maar verskeie organisasies, soos Solidariteit, AfriForum en die Afrikanerbond laat hul stemme gereeld hoor. Wit mense wat hulle aan byvoorbeeld haatspraak skuldig maak, word tot by oom Daantjie in die kalwerhok, via ’n vuil dip en die varkhok en die slagpale verby vervolg en laat die regsbeginsel van “double jeopardy” soos ’n katkisasieles klink. Swart mense se identiese optrede is dikwels sommer niks – dit voldoen kamma nie aan die vereistes van die definisies van rassisme en haatspraak nie, en word “geregverdig” deur te verklaar dat dit binne die raamwerk van toelaatbare vryheid van uitdrukking val.

Dat dit oneindig baie tot ontoelaatbare reaksie lei, is nie die oorsaak se skuld nie, maar die een wat met rassistiese haatspraak reageer se skuld.

Omtrent soos dit volgens gereelde uitsprake van radikales is dat dit die boere se eie skuld is dat plaasaanvalle en plaasmoorde so skrikwekkend buite proporsioneel is, selfs in vergeleke met Suid-Afrika se skrikwekkende hoë algemene moordkoers.

En terwyl die kwessie van politieke korrektheid so van die kantlyn af van agter die wingerdgordyn die openbare diskoers probeer insluip het – ja, dit wat hierbo geskryf is, word volledig deur die omvang van die Afrikaanse begrip van politiek inkorrek ondervang.

Die kwessie word vanoggend egter nie deur die onlangse betrekhoue vanuit die akademie, en veral konstant-gedrewe feminisme aangevuur nie, maar leserskommentare waarna ter inleiding verwys is. Die “gewraakte” berig handel oor nege vermeende renosterstropers wat in die Krugerwildtuin vasgetrek is, en ’n vergiftigde buffel wat, nadat die stropers die vleis verwyder het, die gif gestrooi het, en in ’n ekologiese ramp talle skaars roofvoëls vergiftig het.

Gedagtig van hoe van ’n “Sparrow” ’n albatros gemaak is, en hoe ’n ander vrou haar eie grootste vyand geword het en al ’n stukkie van haar tronkstraf uitgedien het en nou weer probeer appelleer, weet wit mense oor die algemeen dat hulle hul woorde moet tel, of die Wet van Transvaal van hoes of betaal geld. Of woordefoefies word ingespan om te impliseer wat jy wil sê sonder om dit te sê. Of van die lesers met die betrokke stropergeval sou wegkom met hul woordefoefies sou iemand hulle verkla, is te betwyfel.

Presies waar die politiek korrekte en die juridiese grense lê, is nie altyd so duidelik nie. ’n Radiostasie van Vrystaat Landbou het byvoorbeeld ter wille van wat beskou is as vereistes van die Onafhanklike Uitsaai-owerheid gesoekte beweerde misdadigers se ras weggelaat wanneer die polisie die stasie om hulp genader het. Die polisie het soos klokslag gekla omdat die ras weggelaat is, want dit het dikwels die opsporing van die verdagtes onmoontlik gemaak. Twee uiteenlopende vereistes van twee staatsinstellings. Die stasie het nogtans sy uitsaailisensie verloor.

Veral vandat migrasie ’n problematiese omvang wêreldwyd begin aanneem het, het rassisme, of minstens ’n beduidende rasbewustheid ’n wêreldwye verskynsel geword.

Die Amerikaanse peilingsagentskap Rasmussen het bevind dat 47% van die Amerikaanse kiesers meen dat pres. Donald Trump ’n rassis is. Dit is drie persent minder as in ’n vorige peiling. Die interessantste bevinding in die jongste peiling was egter dat ’n derde van die ondersteuners van die Demokratiese Party meen die blote kritiek van ’n wit politikus op wat ’n swart politikus sê, is rassisme. (Dit sou, as dié konsep ook na Suid-Afrika oorwaai, beteken dat dr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaatse wetgewer, se getuienis voor die Zondo-kommissie waarin hy onder andere vir mnr. Ace Magashule en oud-minister Mosebenzi Zwane in die Vrede-melkplaasskandaal impliseer, outomaties op rassisme sou neerkom).

Rasmussen word dikwels nie deur die media en belangegroepe hoog aangeslaan nie, al oortref sy akkuraatheid ander meer geroemde agentskappe. Rasmussen neig om meer simpatiek teenoor die Republikeine te wees, anders as baie ander agentskappe wat met peilings droogmaak wat weens subjektiwiteit die Demokrate ondersteun. (Hierdie kommentator neig om gereeld Rasmussen in te span weens sy akkuraatheid en die tydsdruk wat dit moeilik maak om ’n verskeidenheid agentskappe se standpunte en bevindings te raadpleeg.)

Maroela Media het reeds verskeie kere daarop gewys hoe gedagtes vanuit die Amerikaanse swartbewustheidsgeledere ook in Suid-Afrika nes geskop het. Hieronder tel byvoorbeeld die konsep dat ’n wit mens, selfs al is hy met ’n swart persoon getroud, steeds ’n rassis is tot tyd en wyl hy/sy restitusie betaal het.

Hierdie gedagte het in Suid-Afrika nou omtrent net so ’n groot struikelblok geword soos die konsep, uitgebroei deur die Franssprekende Karibiese geweldsfilosoof, Frantz Fanon, se stelling dat swart mense per definisie nie rassiste kan wees nie. (Dis moeilik om die ingeboude rassisme in hierdie stelling te oortref.)

Toe die “ou internasionale terreur” van die PLO, die Baader-Meinhoffs, Carlos die Jakkals en andere op hul hoogtepunt was, het die rewolusionêre propagandiste die nadelige impak van mediadekking oor terroriste se terreurdade probeer teenwerk deur “staatsterreur” op te blaas en as die eintlike boosheid voor te hou. Internasionale terrorisme sou min meer ’n propaganda van die daad wees – ’n desperate poging van “menseregte-liefhebbers” wat in hul beperkte vermoë om die rug styf te maak teen staatsterreur, hulle noodwendig self tot die “onbenullige” terreur moet wend.

Na aanleiding van hierdie voorbeeld: Wat is die ergste? Die gewoonlik beperkte “rassistiese uitlatings” om die braaivleisvuur waar die braaivleisvuur ’n simbool van geslote, private en beperkte geselskap geword het, of oneindige staatsrassisme soos die onewehandige optrede teen rassisme en haatspraak, en statutêre ras-diskriminerende maatreëls, al veroorsaak daardie beleidsrigtings dat bestaande kundigheid uit die ekonomie onttrek word en die staat dan van die kapasiteit beroof word om sosio-ekonomiese ongelykheid teen te werk?

En waar staatskapers, soos met die getuienis voor die Zondo-kommisie oor die Vrede-melkplaasprojek, die skuldiges skynbaar nog meer moeite moes doen om aan die pen te kan ry?

Oor wat nodig is om gesonder rasseverhoudinge, of meer polities korrek gemeenskapsverhoudinge, te verbeter het Maroela Media reeds verskeie kere omvattend geskryf. (Die skrywer van hierdie rubriek was in die ou Suid-Afrika die laaste hoofverhoudingebeampte in die Vrystaat tot die NP-regering van FW de Klerk die ondersoek na gemeenskapsverhoudinge deur die Maatskaplike Komitee van die Presidentsraad opgeskort het toe die ondersoek reeds in ’n gevorderde stadium was.)

Een van die gevolge was dat die neiging om die oplos van die probleem weer sektoraal te probeer takel. Sommiges het geglo die oplossing lê in die blootlegging van sosio-ekonomiese ongelykhede, ander in die vind van ’n meer regverdige staatkundige model, ander in meer horisontale, nie-paternalistiese kommunikasie, ensovoorts. In werklikheid moes dit op minstens 15 terreine aandag kry, soos die taalterrein (dink maar aan die impak van die Lesufi-uitlatings), die historiese (dink maar aan die idee dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel – ’n konsep wat volgens peilings deur sowat 85% van die swart mense geglo word soos blyk uit die meesterverhandeling van die Matie Charl Swart), godsdienstige, juridiese (die aandrang dat artikel 25 van die Grondwet gewysig word om die regering in staat te stel om grond sonder vergoeding te kan gryp), ruimtelik en vele meer.

Om een of meer aspek te verabsoluteer dra net by tot die skeeftrek van enige moontlike oplossings. Dit is net so futiel soos om die blaam op die skouers van net een bevolkingsgroep te plaas.

Rasse- en geslagsgelykheid word immers nie behaal deur aan te dring dat die een ras of geslag meer gelyk as die ander moet wees nie. Nét daar word die rak met maroelamampoer omgekeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jan ·

Ek lees vanoggend jou artikel en besef dat jou woorde so waar is soos wat jy kan kry. My gevoel oor jou siening is dus anders. Rede waarom ons Afrikaners om ‘n vuur klets oor die toestand van Suid Afrika is omdat dit die enigste plek is om daai uitlatingsklep bietjie oop te maak omdat ons Afrikaners so onderdruk word en op terme geplaas word met die regering wat hulle rug vir die afgelope 25 jaar al teen ons Afrikaners (wat volle reg het om hier te wees) gedraai het. Ons kry nie werk nie omdat ons velkleur nie reg is nie. Studente wie se velkleur nie reg is nie, kry nie beurse om te studeer nie. As jou velkleur nie reg is nie mag jy nie aansoek doen vir ‘n RDP huis nie, want jy word op grond van ras “bevoorreg” verklaar ongeag die hoeveelheid aande wat jy sonder kos moes gaan slaap het. Die groot verskil tussen rasse in Suid Afrika is dat die meederheid nie bereid is om te betaal vir die huis waarin hulle woon nie, hulle is nie bereid om te betaal vir dienste in Suid-Afrika nie, alles kom neer op die minderheid mense wat getrou hulle belasting betaal en maar volgens die reels en regulasies lewe omdat dit die regte ding is om te doen. Ek was nie deel van die apartheidsera nie, maar agv my velkleur word ek outomaties geklasifiseer as ‘n rassis en iemand wat apartheid ondersteun het?

Arno Scheepers ·

Nonnie jy moet onthou swartes kan blykbaar nie rassisties wees nie, net Blankes. Hulle mag mos sê net wat hulle wil. Alles wat hulle doen is mos net tradisie. Die anc veroorsaak en bevorder rasse spanning en haat.

annelie ·

Ek sal om my braaivleisvuur se wat ek wil – dis die enigste plek wat nog oor is waar jy kan se hoe jy werklik voel!

Dan ·

..dat hulle nog nou ‘n ou se braaivleisvuurtjie ook wil kom infiltreer met propaganda van die sg. “wit teen swart” rassisme..?! Wraggies. Wat is volgende…

Johan ·

Hierdie land se rassistiese wette en die negatiewe ingesteldheid teenoor Blankes is absoluut drakonies

John ·

… ja, en ten spyte van haar straf, wat ander groter rassiste vryspring het, sou baie glo gepynigdes… haar eintlik ook nog so graag gehang wou gesien het. Selfs Albino’s is ook nie hul lewens seker nie… En nie by elke braavleisvuur word rasvetes bespreek nie… Dit is ook ‘n verkeerde aanname. Afrika en sy nukke is nie die enigste interessante onderwerp op aarde nie.

Hanna Hoekom ·

Rassisme is n natuurlike konsep: mense van verskillende rasse vertrou nie altyd mekaar nie en verstaan nie altyd mekaar nie. Dit kan ook jou lewe red. As blanke gaan jy moontlik nie veilig in n swart woongebied wees nie. Feite. In die VSA se groot stede vermy mens die woonbuurte waarvan die hoofstraat na Martin Luther King vernoem is asook daardie woongebiede met Spaanse straat- en naamborde. Feite. Ek mag die reg van vrye assosiasie uitoefen, dan nie? Rassisme vanuit nie-blanke monde, is maar meerendeels net n manier om n minderwaardigheids kompleks mee te probeer bedek.

Zaks ·

Se is peanuts… Dink…is goud. Daar kan jy nie beroof of gebreinspoel word nie. Solank elk weet, ieder en elk DINK vry sal jy altyd blaam soekers kry wat patete voor hul spieel is…en bly!

James ·

Ek is bly ek kan nog die privaatheid van my braaivleisvuur geselsies geniet.
Daar word niks in jou keel afgedruk wat politiek betref nie- daar is ons opreg
met ons eie mense, kultuur en taal.
So sal dit ook bly.

Jerry ·

Goed saamgevat Herman en ons moet dit dalk in n neutedop opsom as synde dat ons in n tyd leef waar dit uiters verstandig is om n wag voor jou mond te plaas vir soverre sekere woorde/menings rassisties of as haatspraak gereken mag word. Die situasie vereis van ons om aan te pas en die Afrikaner kon nog altyd aanpas, behalwe die paar domastrantes soos Steve, maar vir hulle sal jy maar altyd kry. Ek weet dat dit vir sommiges bitter moeilik is, maar dit raak al hoe makliker veral wanneer daar rondom die braaivleisvuur geoefen word om nie onderwerpe aan te raak wat kan neig tot rassistiese of haat uitsprake nie. Dit raak ook makliker, veral as almal net so n bietjie minder politiek en godsdiens praat wanneer daar gedrink word! Die geheim is egter om jou uitkyk op die lewe versoenend in te rig en jou gesindheid na verdraagsaamheid te verander. Dit verander jou lewenswyse en bring hoop, daar waar daar voorheen geen hoop was nie! Dit help nie om ook rassisties te wil raak en te diskrimineer omdat daar teen jou gediskrimineer en rassisties opgetree word nie, nie in SA nie! Mense moet dus om die braaivleisvuur harder oefen teen die versoeking en verskoning dat dit eintlik dien as synde n goeie uitlaatklep! Dit raak lateraan bloot n bose uitlaatklep wat emosies opsweep in plaas daarvan dat emosies versag moet word soos die situasie tans in SA dit van ons vereis!

gatiep ·

So wat nou, ons weet al vir jare dat as jy wit is is jy n rassis so aanvaar maar daai label en beweeg aan.
Dit is anti wit rassiste wat daai label gegee het vir ons in die eerste plek.Luister maar net na BBC en CNN hoe gereeld ons herhinder dat wit mense is evil rassiste.
Ek begin n groot dislike kry in wit mense maak dit nou van my n groter rassis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.