Nuuskommentaar: Rassisme kan ons verskeur

Die pamflet wat glo op die NWU se Potchefstroomkampus versprei word.

Die pamflet wat glo op die NWU se Potchefstroomkampus versprei word.

“Kill the Boer, Kill the Racist, Kill Afrikaans.”

Net ‘n paar woorde, maar daar is soveel opgesluit in die keuse daarvan dat die woorde op pamflette wat in ablusiegeriewe op die Puk-kampus van die Noordwes-Universiteit gevind is, soos ‘n mes deur brose verhoudinge sny.

Vroeër is berig van nog ‘n bejaarde wat tydens ‘n plaasmoord vermoor is. Dit val saam met inligtingvrystelling oor die eerste van nasionale verhore oor rasverdeeldheid op kampusse, wat deur die Menseregtekommissie (MRK) aangebied is. Ongelukkig het ‘n woordvoerder van die kommissie die petalje bederf deur na ‘n voorval by die Universiteit van die Vrystaat te verwys asof die studente skuldig sou wees, waar die verhoor van die studente nog skaars begin het: “Onlangs het twee wit studente by die Universiteit van die Vrystaat ’n swart student omgery en hom aangerand.” (Volksblad en AfriForum)

Dit klink al te veel na die geval van die Reitz-vier waar ‘n uitstellanddros vrugteloos ‘n beroep op die media en politici gedoen het om die verhoor nie vooruit te loop en mense as skuldig te beskryf voor hulle skuldig bevind is nie. Onder appèl het dit boonop geblyk dat die verhoorlanddros die vier vir iets gevonnis het waaraan hulle nie eens skuldig bevind is nie.

Hiermee word geensins te kenne gegee dat witmense nie ook rassisties kan wees nie. Maroela moet ongelukkig nog gereeld rassistiese kommentare verwyder. Maar daardie rassisme kan nie as “erger” beskryf word as mense wat hulle aan naakte rassisme skuldig maak deur te verklaar dat “swart mense per definisie nie rassisties kan wees nie.” Dit herinner net te veel aan Nazi-rasmeerderwaardigheid.

Dat verskillende groepe verskillende persepsies het oor wie nou eintlik rassiste is, is nie uniek aan Suid-Afrika nie. In ‘n onlangse Rasmussen-peiling het 37% van die volwasse Amerikaners gemeen swart mense is rassiste. Net 15% het gemeen wit mense is rassiste.

Die peiling het ook getoon dat 31% van swart respondente meen die meeste swart mense is rassisties, en 24% meen die meeste wit mense is rassisties.

Net 10% van wit respondente het gemeen die meeste wit mense is rassisties, terwyl 38% gemeen het die meeste swart mense is rassisties.

In Suid-Afrika word wetlike en ander maatreëls verskerp om te verseker dat almal se lewe van die wieg tot die graf deur sy ras bepaal word. Verskeie analiste het reeds, ook op nasionale radio, hul ernstige kommer uitgespreek oor die polarisasie wat ontstaan.

Die Stem wat uit die bosse opgeklink het, en wat as wekroep moes dien dat versigtig met oordele omgegaan moes word, is ouder gewoon deur liberale kommentators en denkgenote veroordeel – maar dié keer was daar iets anders in die reaksie. Die wind het gedraai.

Hierdie liberale kommentators en analiste is egter nie (net) deur hul eie gehoor uitverkoop nie, uitsprake uit veral die EFF, maar onfatsoenlike uitsprake oor die dood van prof. Russel Botman, oor die beweerde bymotiewe om grondwetlike regte op te eis – dit alles dra daartoe by dat “politieke korrektheid” al hoe meer in die stof byt en polarisasie sigbaar word.

Die opkoms van die inligtingsvloei via die kuberruim en die opkoms van gemeenskapsmedia maak dat die groot media nie meer soos vroeër ‘n doeltreffende monopolie op idee-imperialisme het nie – in teendeel – gekonfronteer met ander perspektiewe loop iemand die gevaar om geloofwaardigheid in te boet. Ter demonstrasie kan net gemeld word dat Maroela Media pas, aldus Effective Measure-syfers in Julie, nou ‘n groter nuuswebwerf is as Die Burger en Volksblad. Beeld is nog heelwat groter, maar dat Maroela in drie jaar tot die derde grootste kon vorder, is geen geringe prestasie nie.

Die meeste verantwoordelike kommentators sal bitter bly wees as die raskwessie die dag nie meer ‘n agendapunt sal wees nie – wanneer die norme van die volkereg neerslag sal vind en nie as dekmantel van rassisme verdink word nie.

Maar om nou die blinde oog te werp op die bronne van rassisme, van watter kant af dit ook al kom – maak van so ‘n analis net so ‘n groot mamparra soos die een wat die kwaad net van een kant (wil) sien kom.

Dit is goed en wel dat die FW de Klerkstigting ‘n verhoudingsbeampte aanstel. Elke bietjie help in ‘n land waar elke burger eintlik veronderstel is om ʼn verhoudingsbeampte te wees.

Dit is tyd dat die leiers, al die leiers, ‘n voorbeeld begin stel.

Die opvatting dat die grondwet ‘n towerdoepa bevat wat alles vanself sal laat regkom wat tussengroepverhoudinge betref, is duidelik verkeerd.

Geen moontlike staatkundige uiteinde gaan vreedsaam kan realiseer as die wantroue en naakte rassisme dit aanhou beduiwel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.