Nuuskommentaar: Rassisme, kulturele terrorisme en (kulturele) volksmoord

Oudpresident Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria (Foto verskaf aan Marianne Styan)

Oudpresident Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria (Foto verskaf aan Marianne Styan)

Die aanslag op standbeelde en ander simbole het so “skielik” gekom dat behoorlike politiek-sosiologiese ontledings hieroor kwalik die media begin haal het. Intussen is die reaksie en teenreaksie kru, met sterk ondertone van dreigende vergelding – ten spyte van leiers wat op ʼn verantwoordelike wyse ʼn beroep om dialoog en opvoeding (selfs op basiese onderwysvlak) gedoen.

Uiteenlopende persepsies is  ʼn lelike ding, omdat mense neig om volgens hul persepsies van die werklikheid eerder as die werklikheid self te reageer. Emosies speel dikwels ʼn groter rol as in ʼn feitelike omgewing.

Wanneer die ontledings eers behoorlik gedoen is, sal geoordeel kan word of dr. Piet Croucamp se rubriek vandag op Netwerk 24, “Moeilik om deesdae wit in SA te wees,” enigsins oplossingsgerig of eerder aanstigtingsgerig is. Die opskrif mislei in die sin dat dit nie Croucamp se eie mening verteenwoordig nie, maar dat hy na die “braaivleismenings” verwys waaroor hy al tevore skerp krities was.

Op sy beurt lewer hy kommentaar oor twee ander meningsvormer-rubriekskrywers, Max du Preez en Steven Friedman. Maar wat Croucamp oor die algemeen skets, is ʼn onverdraagsame gemeenskap waar wit en swart rassisme belangrike elemente is wat die pot roer. Hy kom Steve Hofmeyr met ʼn vinnige dwarsklap by via ʼn stuk wat Pat Symcox geskryf het.

Op die gevaar om in komplekse akademiese retoriek te verval – dit wat nou gebeur is ʼn teksboekgeval van die verloop van ʼn opbouende revolusie soos deur ʼn groep politieke wetenskaplikes van die 70’s geformuleer. Al die elemente is teenwoordig – ʼn regering wat raspolarisasie aanblaas deur op die raselement van die grafiek van relatiewe deprevasie te hamer, blaampolitiek waar almal behalwe die regering self die blaam vir mislukkings kry, “kortpaaie” soos pleknaamsveranderinge waar dienste dreig om in duie te stort…

Dit word by die “ander” persepsiegewys vererger deurdat die regering so na mislukte stelsels vry, met waarskynlik die beheptheid met Kommunistiese Kuba as die hoofsimbool. Hierdie “ander” “sien” nou reeds hoe van hulle verwag gaan word om die rekening van die een mislukte ideologiese eksperiment na die ander te betaal.

Die proses kan redelik vinnig gestuit word, maar dit vereis dat die land dringend ʼn nuwe leier en leierskorps kry. Iemand wat weet hoe om in algemene belang te regeer en toe te laat dat die sterk punte van die ekonomie toegelaat word om onder die mees optimale omstandighede moontlik te floreer en ander ekonomiese sektore ook gestimuleer word.  Nie ʼn situasie waar ʼn hele korps van ministers planne en wetgewing deurdruk wat lynreg teen die Nasionale Ontwikkelingsplan indruis nie.

Dit wat in Suid-Afrika gebeur, is ook nie sonder presedent nie. Griekeland, as lid van die Europese Unie, het geldelik in die moeilikheid geraak toe die land bo sy vermoë begin leef het. Uit die produktiewe noorde van Europa is na Griekeland as die luilekkerland verwys, waar maatskaplike voordele niksdoen baie aantreklik gemaak het.

Die bitter medisyne wat die EU voorgeskryf het, het ook nie goed afgegaan nie, met die gevolg dat die regruk-aksie nie behoorlik van stapel gestuur kon word nie. Onlangs is ʼn party aan bewind gestel wat in wese die Grieke beloof het die land sal reggeruk word sonder dat die medisyne geneem word.  Nou blyk dit dat die siekte nie sonder die medisyne genees kan word nie en vreemde bokspronge word gemaak.

Die Grieke het pas aangedui dat hulle ʼn enorme eis teen Duitsland wil instel weens fisiese en emosionele skade gedurende die Tweede Wêreldoorlog tydens die Nazi-besetting. Die eis beloop 279 miljard euro’s (R3 758,14 miljard). ʼn Deel van die skade is weens ʼn “lening” van 10,3 miljard euro’s wat Duitsland tydens die besetting by Griekeland geneem het en waarmee Rommel se offensief in Noord-Afrika gefinansier is.

Die Griekse regering word van opportunisme verdink. Die Griekse regering se skuld beloop 175 persent van die land se BNP. Griekeland se skuld beloop naamlik 324 miljard euro’s (R4 155,26 miljard). Duitsland, wat ʼn groot deel van die heropbou van die Europese (insluitende die Griekse) ekonomie gedra het ná die onlangse wêreldekonomiese krisis, is baie taai in die bek om selfs net na die Grieke te luister. Die Grieke het immers nog geen besliste aanduiding gegee dat hulle beplan om enigiets anders as ʼn swart gat te wees waarin hulp verslind word nie.

Dit is reeds afgesaag om te sê die ANC-regering meen ook dat dinge reggeruk kan word deur die gans wat die goue eiers lê, te slag.

Die beeldenstorm kan nie heeltemal op die skouers van die ANC gepak word nie. Daarvoor moet die EFF en sy leier, Julius Malema, die blaam dra. Malema het sy eie probleme binne die EFF, met die jongste dat die geskorste tesourier hom en ander leiers van die misbruik van partyfondse beskuldig en skynbaar oor afdoende bewyse vir strafregtelike vervolging beskik. Boonop het Malema se ander moeilikheid met die Ontvanger en die gereg ook nog nie in die doofpot beland nie. Die “maklikste uitweg” is dus om die partylede op te sweep tot populistiese aksies wat op versteurde persepsies gebou is.

Trouens, die blote feit dat daar nie besonder baie liefde tussen die ANC en die EFF is nie, laat die ANC betreklik verantwoordelik in hierdie opsig optree, selfs nadat die ANC se jeugliga aanvanklik met die EFF meegeding het om die grootste geraas oor die beelde te maak.

Maar kulturele terrorisme strek verder as net die beskadiging of verwydering van beelde. Om van die kompromis af te wyk dat munisipaliteite een naam sal kry en die dorpe met enkele uitsonderings hul name sou behou, is minstens kulturele imperialisme gepleeg.

Toe die IS onlangs in videomateriaal gewys is waar hulle antieke Assiriese beelde en voorwerpe in ʼn museum naby Mossul vernietig, het Unesco dit kulturele volksmoord genoem en ʼn dringende sitting van die VN se Veiligheidsraad aangevra.

Suid-Afrika is genadiglik nie by daardie punt nie, maar nie danksy die EFF nie, eerder ongeag die EFF.

Dit haal die ANC nie van die hoek af nie. ʼn Regering kan nie volhou met sulke raspolariserende wette en maatreëls sonder om allerlei reaksies te verwag nie. Daar tree nie net vervreemding en frustrasie of selfs woede onder blankes in nie, maar minstens ʼn deel van die swart gemeenskap sal dit vertolk as “open season” op blankes, of dat blankes en hul simbole (en grond) vrybuit geword het.

In die proses word ook die (liberale) konstitusionaliste in ʼn moeilike posisie gestel. “Die beste grondwet ter wêreld” kan nie op sy eie die snel-kruipende chaos keer nie. Dit kos mense om behoorlik standpunt in te neem en die grondwet te benut waarvoor dit bedoel is – nie om sektoraal tevrede te stel nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Grassie

Dankie vir ‘n baie goeie bydrae, maar vergun my asb om kommentaar te lewer op enkele punte. Die aanslag op standbeelde en simbole het skielik gekom vir ons, maar dit is lankal beplan. Blade Mzimande sê daaroor dat dit net die tippie van die ysberg is van die “stuggle for transformation.” Daar wag dus nog steeds ‘n hele klomp skielikhede op ons wanneer die res van die ysberg te voorskyn kom. Jy sê die reaksie en teenreaksie is kru, ten spyte van verantwoordelike leiers wat om kalmte vra. Dit laat my dink aan die onderhandelings in 1994 toe die NP-leiers… Lees meer »

Albanus

Maar die koue wind van Rome het gewaai
te wyd gewaai – oor al sy vreemde volke.
Ons het ‘n bredie, ‘n kou, vaal, gladde brei
van volkere saamgeklits; lê dit voor ons
plat vetterig soos in ‘n pan.

En steeds is daar mense wat die sekulêre liberale demokrasie wil laat werk!