Nuuskommentaar: “Rassistiese ANC” – uit die mond van die suigeling sal jy die waarheid hoor

Adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, Jessie Duarte (Foto: Bhekikhaya Mabaso/Africa News Agency/ANA)

Dit is moeilik om te voorspel in hoe ’n mate Jessie Duarte se vingerwysing oor rassisme die ANC gaan raak, indien enigsins. Boonop val dit saam met Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, se dagdroom-galbrakery teen AfriForum wat eintlik op ’n aanval teen veral Afrikaanssprekendes neerkom. Geen politiek-korrekte pleistertjies kan hierdie raskwessie meer verdoesel nie – nou moet die waarheid klinies onder die vergrootglas geplaas word, en as deel van die werklikheid korrek hanteer word.

Min mense buite die ANC en radikale politieke dampkring het waarskynlik gedink Jessie Duarte, een van die ANC se topses, sal ooit iets kwytraak waarmee hulle sou saamstem, veral deur haar mond oor die ANC uit te spoel, en nogal van rassisme te beskuldig. Die uwe voel in elk geval al jare dat Jessie ’n soort nuttige gereedskap in verkiesingstye is om bruin stemme vir die ANC te werf. Anders as die ander bruin mense wat opportunisties en periodiek hiervoor ingespan word, is Jessie bereid om voetwerk onder soms taamlik haglike omstandighede te doen. Dan is sy ’n bekende figuur op TV wanneer sy met plat loopskoene deur bourommel van haglike tot armoedige woning aanstap, en waaragtig Afrikaans praat.

Om bruin mense vir die ANC te kan werf, moet ’n mens ’n weergawe voorhou wat nie te lekker met die werklikheid strook nie, en allermins met die ANC se weergawe daarvan.

Nou het Jessie die werklikheid by die naam genoem – die ANC is rassisties en stamgebonde. Volgens kommentare is haar heldersiendheid egter beperk tot rassediskriminasie teenoor bruin mense en Indiërs gemik. Jessie is geen suigeling meer nie, maar haar beskouing van wie kwalifiseer om as vatbaar vir rassediskriminasie erken te word, herinner tog aan die onvolwassenheid van ’n suigeling.

Haar argwaan sluit na berig word nie rassediskriminasie teen wit mense in nie. Die vermoede is sy steun steeds die rassistiese galbrakery van Zindzi Mandela, ambassadeur in Denemarke, vroeër vanjaar. Sy is ook op rekord dat sy by ander geleenthede ’n onderskeid tussen bruin en wit met betrekking tot rassisme getref het. Dit wil lyk asof sy deeglik daarvan bewus is dat sy misbruik word.

Maar … sy bly lojaal teenoor die ANC, en spoel haar mond uit om die ANC te laat herbesin. Dit laat ’n mens nogal aan wyle Jakes Gerwel dink, wat na homself as “fool” maar lewenslange ANC-ondersteuner verwys het.

En dan praat ’n mens nie eens van die paar handevol “ere-swartes”, soos ’n paar voormalige bruin rektore wat na hulself as “swart” verwys het nie.

Inderdaad, Jesse, ’n mens kan nie rassisme inspan en dit dan nierassig noem nie. Dit is ontstellend as die EFF en BLF so aankarring om die en dat, soos AfriForum en die VF Plus rassisties te noem, maar eintlik self die rassistiese toon aangee. Die Gautengse LUR vir “onderwys”, Milner Lesufi, is ’n skitter-voorbeeld hiervan met sy jongste galbrakery teenoor AfriForum. In sy verbeeldingsvlug sou AfriForum hom probeer vermoor het, en hom en sy gesin agtervolg het. G’n wonder Kallie Kriel, hoof van AfriForum, het bedenkings oor die welstand van Lesufi se boonste verdieping nie.

Feit is, die ANC kan geen aanspraak maak op die “vernietiging van apartheid” nie. Die laaste apartheidswet is al in 1991 van die wetboek verwyder, ’n hele paar jaar voor die ANC aan bewind gekom het. Trouens, die ANC gebruik steeds daai afgeskafte wet, die wet op bevolkingsregistrasie, om sy eie rasdiskriminerende wette te rugsteun, en wat ook bruin mense hard klap. Gaan kyk maar hoeveel wette het die ANC op die wetboek geplaas wat transformasie in die opskrif of doelstelling het.

Wat Jesse se Damaskus-oomblik soveel merkwaardiger maak, is dat sy nog altyd as aan die radikale kant van die ANC beskou is. Sy het byvoorbeeld die Zuma-kamp gesteun toe Ramaphosa tot ANC-president verkies is. Hoe lank nou nog voor ook ander tot die besef kom dat die hartsbeklemmende woorde van Adam Small, “Die Here het geskommel, maar die dice het verkeerd geval word ons”, onder die ANC weer waar geword het.

En as ’n mens dink bruin mense is tevrede oor hul posisie onder ANC-bewind, sal dit loon om na die Facebook-blaaie van Peter Marais te gaan kyk. Die trots waarmee hy aankondig dat hy tot die dagbestuur van die VF Plus verkies is, en soortgelyk.

Marais mag dalk nie meerderheid steun onder bruin mense hê nie, en uit daardie geledere kort-kort onder skoot geneem word, maar die feit is dat hy beduidend steun het, en dat dié mense, netjies uitgevat hul deelname aan die groot klok hang.

Die selektiewe uitskuif van blankes as potensiële rassisme-slagoffer het ongelukkig taamlik wyd neerslag gevind, en selfs die Menseregtekommissie gekontamineer, soos nou blyk uit die Etzebeth-brouwerk.

Saterdag sal dit presies ’n jaar gelede wees na ’n huishulp, die 66-jarige Mitah Mathinya, haar teen huisrowers verset het wat haar kankerverswakte werkgewer en sy outistiese seun bedreig het, en met haar lewe geboet het. Dit het wêreldwyd publisiteit geniet, en huldeblyke in veral Afrikaans het in groot getalle ingestroom. Dit het getoon hoeveel goeie gesindhede daar nog op grondvlak in Suid-Afrika teenwoordig is – iets wat losbekkige en wetskrywende politici gans te dikwels verongeluk.

Maroela Media eer Mitah se nagedagtenis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

André-Chris ·

Herman Toerien, wil jy nie dalk ook ‘n artikel doen oor die toespraak wat hoofregter Mogoeng Mogoeng die afgelope naweek by die universiteit van Johannesburg se Soweto kampus gelewer het nie? Juis waar hy hom oor sekere aspekte sterk uitgelaat het oor ongelykheid wat nou erger as gedurende apartheid is en dit toegeskryf het aan kolonialisme en apartheid, ook waar hy hom soos daar dan nou en dan op die politieke terrein begewe, hoe dit invloed op sy onbevooroordeelde en ewehandig uitsprake in die grondwethof neerslag kan vind.

Dit wil my maar voorkom of die sweep, soos nou ook met Cyril Ramaphosa se laaste nuusbrief waarin hy weer na transformasie en apartheid verwys, met nuwe eywer deur sekere mense teen die ‘sondebokke’ geklap word. Dalk is dit toevallig dat Ramaphosa ook transformasie en apartheid nou na die hoofregter se toespraak in sy nuusbrief opgehaal het.

André-Chris ·

En dan wonder mens, indien die ANC regering die ekonomie die afgelope jare nie in die grond in bestuur het nie, sodat ons nou al by rommelstatus is met geen groei nie, in hoe verre sou hulle, indien die ekonomie sou geblom het, nog steeds met alle mag die skuld op kolonialisme en apartheid gepak het sodat hulle BEE, transformasie en grondonteiening sonder vergoeding kan dryf om werkloosheid te probeer verminder as teenvoeter vir hul mislukking betreffende die ekonomie.

JohanR ·

Ou Jessie Duarte het ‘n Damascus oomblik gehad? Was dit nie miskien ‘n Dubai oomblik nie? En ons gee om wat jy te se het hoekom?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.