Nuuskommentaar: Rassistiese betogings by Parys-boere verhoor ou probleem

Foto: Mariné Jacobs

Foto: Mariné Jacobs

Opruiende betogings waar mense verklaarde haatspraakliedjies by howe sing, soos nou weer in Parys gebeur het, is uiters gevaarlik in ʼn land waar dit pas weer gedemonstreer is hoe diep rassepolarisasie in die land steeds lê.

Die betogings en emosionele uitsprake buite die landdroshof in Parys, waar vier boere om borgtog aansoek gedoen het, is die jongste manifestasie van ʼn ou probleem met rassistiese ondertone. Die boere word daarvan aangekla dat hulle twee vermeende plaasaanvallers vermoor het.

Laat ek dit dadelik sê – ek gaan nie in hierdie rubriek ʼn mening uitgespreek oor die skuld van die vier nie, aangesien die saak sub judice is en die landdros wat die borgtog toegestaan het, toegegee het daar is geen getuienis voor die hof wat die vier met die twee aanvallers / plaaswerkers (afhangende van wie geglo word) se dood verbind nie. Die polisie het ook onder die landdros se tong deurgeloop weens swak ondersoekwerk. AfriForum sou ook nie aangebied het om die vier met hul regskoste te help, as daar nie ʼn ander kant aan die verhaal is nie.

Ek gaan dus geen poging aanwend om die optrede wat tot die twee se dood gelei het, te regverdig of goed te praat nie.

Dit handel hier oor hoe misdaad, waar die slagoffer(s) en oortreders van verskillende rasse is, rassespanning kan laat toeneem. Dit word goed in Volksblad se hoofartikel van 6 September 2000, Sasolburg-uitbarsting, verwoord: “Die gewelddadige betoging buite die hof in Sasolburg, waar mnr. Pieter Odendaal, ʼn sakeman, daarvan aangekla word dat hy ʼn werknemer 6 km op ʼn teerpad agter ʼn bakkie gesleep het, moet net so sterk as sy beweerde barbaarse daad veroordeel word. Politieke leiers behoort dié openbare uitbarsting te veroordeel, omdat dit witmense stereotipeer asof almal soos die vermeende moordenaar optree. Vandaar krete soos `kill the boer’… Die gevoel in die wit gemeenskap is net so sterk oor plaasaanvalle soos die gevoel in die swart gemeenskappe oor ʼn beweerde rassistiese moord. Dit is in landsbelang dat alle groepe verantwoordelik genoeg is om te besef dat openbare uitbarstings en wilde dreigemente teen bepaalde bevolkingsgroepe tot rassekonflik kan lei.”

Hierteenoor was daar betreklik min mediadekking en nog minder luidrugtige betogings, na die dood van twee boere wat ook agter hul bakkies aangesleep is. In 2010 is ʼn jong boer van Potchefstroom dood nadat hy by sy plaashek oorval en agter sy bakkie aangesleep is. ʼn Jaar later is André (Brood) van der Merwe van Ottosdal dood nadat hy ook met sy bakkie gesleep is. Beide is in die proses erg vermink.

In 2008 berig Volksblad dat die sogenaamde “leeukampmoordenaar”, Mark Scott-Crossley, na sowat drie jaar uit die tronk vrygelaat gaan word nadat sy appèl teen sy skuldigbevinding aan moord geslaag het. Hy is lewenslank tronk toe gestuur in die hooggeregshof. Die appèlhof het op sterkte van die patoloog se bevindings bevind die oorledene was reeds dood toe Scott-Crossley op die plaas aangekom het en het die plaaswerkers gehelp om die liggaam vir die leeus te voer. Die hooggeregshof het geweier om verlof tot appèl aan hom toe te staan. Die verhoor in die hooggeregshof was deurgaans gekenmerk deur betogings van swart mense wat Scott-Crossley aan die pen wou laat ry.

In die aanloop tot die verhoor van die Reitz-vier, het ʼn uitstel-landdros ʼn beroep op politici en die media gedoen om nie die uitspraak vooruit te loop nie. Die daaropvolgende Sondag het ʼn Afrikaanse koerant ʼn brief gepubliseer waarin die vier misdadigers se name genoem is. Uiteindelik het die verhoor-landdros, die hooflandddros, die vier ook vir iets gevonnis waarvan hulle nie aangekla was nie. Die landdros was toevallig swart. Dié vonnis is in die hooggeregshof onder appèl tersyde gestel en die ander vonnisse is versag. Hulle is in wese gevonnis asof hulle aan dolus directus skuldig bevind is, eerder as dolus eventualis wat wel die geval was.

By die Parys-verhoor het die swart betogers, na berig word, “Kill the boer, kill the farmer,” gesing, ʼn “lied” wat reeds in 2003 deur die Menseregtekommissie (en eers op appèl) tot haatspraak verklaar is. Dit is voor die polisie gesing, wat nie opgetree het nie.

In die 2015-verslag van die Amerikaanse sensusburo is bevind kulturele verdeeldheid en politieke polarisasie neem toe in die VSA. Die bekende kommentator, Michael Barone, stel dit soos volg: “But the tendency is continuing for Americans and immigrants to seek out others of their own kind and for people of differing cultural values and political views to choose to live in different states and communities. All of which suggests that today’s political polarization is not going away any time soon.”

Dit toon aan dat die huidige rassespanning nie net aan apartheid gekoppel kan word nie, maar ook ander dinamika’s wat in gemeenskappe ontwikkel.

Dit is moeilik om die bewoording van die Volksblad-hoofartikel van 2000 te verbeter.

Die konsep dat misdaad oor rassegrense heen die potensiaal het om rassespanning te laat toeneem, is nie nuut nie. In die ou Suid-Afrika het misdaad van dié aard as verswarende omstandighede gegeld. Die probleem eindig egter nie by die misdadiger en slagoffer van verskillende rasse nie, maar as daar ondersteunende en opswepende betogings plaasvind wat baie sterk deur rassesolidariteit gemotiveer word en eintlik boendoe-geregtigheid opeis, kring dit uit.

Om op ʼn beskaafde manier wat by die regspraak pas solidariteit tydens ʼn hofsaak te toon, is een ding. Om die uitrol van lemmetjiesdraad en polisiekordonne waar allerlei voorwerpe geslinger word te noodsaak, skep die indruk van ʼn poging om die hof tot boendoe-geregtigheid te dwing.

Gedurende die afgelope net meer as ʼn week het ons gesien hoe rou rassegevoelens nog in die land lê. Koerante plaas steeds die een rubriek na die ander wat die Penny Sparrow-geval in besonder en die probleem van rassisme in die algemeen onder die loep neem.

Kort voor die konstitusionele hof die appèlsaak van die DKD versus Solidariteit namens ʼn aantal, veral bruin DKD-lede sou aanhoor, het die Solidariteit-groep saam gaan bid. So anders as groot getalle ondersteuners van die bruin lede wat hul solidariteit kon kom toon het deur beledigende woorde teenoor swart mense te uiter.

Elke individu het ʼn groot verantwoordelikheid oor hoe hy teenoor ʼn ander ras optree of wat hy sê, want ʼn kwetsende woord of daad oor die kleurgrens heen kan ander se lewens in gevaar stel.

Die huidige regering kan nie, hetsy deur versuim, of deur onverantwoordelike uitsprake, hom van die toename in rassespanning losmaak en dit (nog steeds) alles voor die deur van apartheid lê nie. En ongelukkig stel die president nou ʼn swak voorbeeld soos met sy “grond steel” stelling.

Saam met stereotipes is daar ongelukkig altyd vrot appels wat juis die stereotipering sal voed.

Baie derms kan uitgeryg word oor wie nou “eerste begin” het om beledigend, uittartend of vernederend teenoor ʼn ander rassegroep op te tree. Om egter vas te haak by die nalatenskap van apartheid en ander dan minder aanspreeklik te wil maak, soos uit talle rubrieke en selfs hoofartikels blyk, verskans bloot die probleem. Sedert die huidige herrie begin het, en lank daarvoor ook, het Maroela konsekwent vir ewehandigheid en regverdigheid gevra. Dis immers wat die skaal op die logo van ons regspraak simboliseer en dit is kenmerkend van ʼn volwasse land.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Henk

Die regering en polisie moet die skuld kry vir die rassisme wat kop uitsteek dit is in meeste gevalle mense wat net moedeloos is met die onbeholpenheid van die staat….niks werk glad en effektief nie en dan help die korrupsie ook nie veel om gemoedere te kalmeer nie.

Piet Pompies

Die regering bevorder nie en ek beklemtoon glad nie rasseverhoudings, toekomsbesluite vir die land word op ras en sogenaamde tekorte van meer as 20 jaar terug gegrond.
Geen land, mens of instansie kan vorentoe beweeg as hy hierdie metode gebruik om sy land te bestuur. Dit is lank al tyd vir dinamiese leiers wat die goeie eienskappe in sy burgers raaksien en die eienskappe gebruik om Suid Afrika uit hierdie groef van verwyte te lig. Ek hoop nan harte dit gebeur nog in my leeftyd.

Ben

Die verskil in SA is dat daar al n blanke volksmoord aangaan vir 21 jaar en veral mbt. Die Boere! GROOT verskil tussen ” kill the Boer” sing en Die Stem sing. Nog n groter verskil tussen die sing van n ding en die daad by die woord voeg! Nog n bydraende faktor, blankes weet die kommunistiese regerende party vir wie hul nie stem nie ondersteun die “kill” lied en sing dit self. Blankes betaal 90% van die belasting wat uitgemors word en waarmee polisie se salarisse betaal word wanneer daar bevooroordeeld teenoor hul opgetree word in meeste sake wat… Lees meer »

Takkie Takuuza

Dit bestaan regoor die wêreld en sal nooit verdwyn nie. Ek dink almal het dit maar in hulle. Mense moet hulleself maar inhou, maar sodra een groep bo ‘n ander bevoordeel word gaan dit oorloop.

helizna

Maroela, baie dankie dat julle nog kommentaar toelaat op julle nuusbrokkies.