Nuuskommentaar: ‘Realisme moet terugkeer na die parlement van narrestreke’

LP’s tydens ‘n parlementsitting. (Foto: GCIS)

Hoekom is daar kort-kort ’n bekende politieke analis wat meen die demokrasie is ernstig in die moeilikheid? Is die mensdom bloot net nog nie behoorlik polities ver genoeg ontwikkel om behoorlik daarmee om te gaan nie? Of is die mens bloot te geneig om foute te maak om met demokrasie om te gaan? Of is die mens van nature net te subjektief om met iets wat volkome realisme vereis om te gaan?

Die sin in die opskrif is ’n doelbewuste korruptering wat van die Belgiese vise-premier pas aangehaal is: “Realisme moet terugkeer in de keet.”

Veral twee woorde vang die oog, naamlik “realisme” en “keet”.

Realisme spreek in wese vir homself, maar die woord “keet” word maar skraps in Afrikaanse woordeboeke aangetref. Simbolies, in die omgewing van realiteitspolitiek, is dit tog belangrik genoeg dat daar ’n oomblik by stilgestaan word.

“Keet” het sy ontstaan in Vlaams en kan ’n baie wye spektrum betekenisse hê, wat wissel van barakke tot stasies, en spesifiek “stasies” vir skepe en bote op riviere of kanale. Meer suiwer het dit egter die betekenis van ’n betreklik gehawende skuur. Wat vise-premier Coen Geens van die Belgiese federale regering in gedagte het, is dat in die noodwendige chaos van die saamgeflanste Belgiese regering dit nodig is dat almal wat realisties is, onder een dak moet saamstaan. Oor hoekom hy blykbaar na die parlement as “keet” verwys en dus impliseer dis ’n gehawende gebou, kan maar net bespiegel word.

Raaiwerk oor die Suid-Afrikaanse parlement as “keet”, veral onder die bewind van “pres.” Jacob Zuma, sou verspot maklik wees om te ontrafel. Die wyse waarop die destydse speaker vir Zuma rondom kwessies soos Nkandla probeer beskerm het, die optrede van die EFF wat ’n paar keer uitgegooi moes word, die reusefanfare by parlementsopenings met Zuma se kavalkade wat soos ’n privaat weermag vertoon het, en vroeër ’n minister wat ’n ander LP wat eerste probeer slaan het met ’n netjiese haakhou op sy blaker op die parlementsvloer laat beland het, ’n vroue-LP wat vernuftig vingertaal in die parlement ingespan het om haar &^%$ sê te sê … ja, sulke edeles verdien ’n lendelam keet as plek om narrestreke as “waardige” regering te gaan opdis.

Oordrewe aanhangers van realiteitspolitiek sal in byna elke geval van onstabiele politiek die oorsake vir die gevolglike chaos in subjektiwiteit kan vind. Die huidige gebeure in die DA kan baie mooi hieraan gemeet word, soos om te glo die party het die tuiste geword van te veel uiteenlopende ideologieë. Solank almal glo die party maak vir almal se ideologie saakmakend genoeg voorsiening, is ’n eenheid (met krake) moontlik.

Dié siening het skouspelagtig ingeplof.

Realiteitspolitiek verskil ongeveer net soveel van Realpolitik as wat geopolitiek van politieke geografie verskil. Realpolitik word beskou as ’n politieke stelsel wat op die werklikheid gebaseer is, eerder as beginsels en ideologie. Demokrasie speel geen belangrike rol nie.

Hoewel daar deesdae gereeld akademiese en kwasi-akademiese studies verskyn wat argumenteer dat demokrasie vinnig besig is om iets van die verlede te word, is dit in breë trekke so diep in Wes-Europa ingesetel dat nog heelwat water in die see moet loop voordat dit ’n werklikheid sal word. Die Spaanse regering en regstelsel se hantering van die minderheidsregte van die Kataloniërs en die Baske herinner egter meer aan die diktatuur van die meerderheid as aan ’n volwaardige demokrasie, terwyl premier Boris Johnson van Brittanje se hantering van veral Skotse verwagtinge te midde van die Brexit-chaos ook gevaarlik in daardie rigting oorhel.

Met die krieket-Proteas se rampspoedige besoek aan Indië het krieketkwotas opnuut onder die loep gekom. Swart spelers ding om al 11 plekke in die span mee, waarvan drie vir etniese swart spelers gewaarborg is. Bruin spelers kan om agt vakatures meeding, met wit spelers wat net om vyf plekke kan meeding, en niks gewaarborg nie. Dis naakte rassisme, wat die regering demokrasie noem, en werk hoegenaamd nie sportontwikkeling in die hand nie omdat al die Proteas se gekleurde spelers op goeie en selfs prestige private skole was.

Daar is geen sprake van realiteit nie.

Die spanning binne die ANC wat faksies as’t ware in slagordes teen mekaar opstel, hou ook weinig verband met realiteitspolitiek, om nie van staatskaping te praat nie.

Maar kan die mens werklik realisties wees? Meer nog, realisties en moreel en ideologies gerig?

’n Besinning hieroor word as ’n filosofiese teerput beskryf.

Vocabulary.com beskryf subjektiwiteit soos volg: “Subjectivity refers to how someone’s judgment is shaped by personal opinions and feelings instead of outside influences. Subjectivity is partially responsible for why one person loves an abstract painting while another person hates it.

“Since a subject is a person, subjectivity refers to how a person’s own uniqueness influences their perceptions. For example, if you have six sisters, that might influence how you view women or families — it’s part of your subjectivity. Subjectivity is a form of bias and also individuality. Subjectivity is the opposite of objectivity, which is based purely on the facts and isn’t personal. We expect judges to put aside their subjectivity and make decisions based on objectivity.”

Sou dit dan beteken as demokrasie die som is van ’n meerderheid subjektiewe mense se denke en ideale, dat demokrasie nie ’n gawe veld is om wyd van te hou nie? Of anders gestel, dat demokrasie ’n euwel is, maar darem die beste euwel wat ons oor beskik.

Die Engelse digter Alexander Pope (1688-1744) het onder meer in sy pennevrug dit so bewoord: “To err is to be human, to forgive is divine.”

Maar “divine” is in die regeerkunde nog net ’n droom. Want ons is mos mense. Dit wil lyk of Aristoteles sy, en ons tyd, ʼn bietjie ver vooruit was om die mens as rasionale (en politieke) dier te beskryf.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sal nie jammer ·

Realisme gaan gepaard met MENSE wat die volgende standaarde het:

1. Selfrespek
2. Normes en waardes
3. Verstand
4. Waardering van LEWE, en orde…

Daar is GEEN MENSE in die parlement met die hierbo nie….
Sal nie werk nie..

Te realisties ·

Na verlede week se onderhoud met die voormalige speaker weet ons presies waar die parlement is.
Die sirkus tent het nou n permanente gebou ingeneem in Kaapstad.

Feite ·

Dit gaan oor parlementere onderrig, opvoeding en die toepassing van dissiplinere prosesse wat strawwe soos skorsing, verbeuring van salaris/voordele en stewige boetes behels. Alle ideologiese realiteite kan binne die parlementere raamwerk geakkommodeer word indien prosesse in plek is en gehandhaaf word, wat duidelik blyk, nie die geval is by die SA parlement nie, behalwe wanneer dit diegene pas wie die prosesse bestuur. Enige demokratiese bestel werk wanneer die beginsels van demokrasie streng nagekom word en toegepas word deur alle rolspelers. Indien dit nie nagekom word nie, soos in die groter prentjie van Suid Afrika, dan is die demokrasie een groot aaklige klugspul waar die wil van die meerderheid, deur parlementere wetgewing en n staats afhanklike regbank afgedwing word. Dan kry jy dit dat realisme in die parlement nie meer moontlik is nie, tensy dit die magshebbers pas. Dit is dan wanneer politieke opposisie partye in die parlement gyselaar geneem en gehou word en ekonomiese losprys na losprys moet betaal om die vrede en politieke stabiliteit te bewaar terwyl transformasie vir verandering ongesteurd voort duur!

Leon ·

Ek dink dit is omdat ons ‘n regerende party het wat ‘n politieke sisteeem wat gefaal het probeer aan die lewe hou. Hulle probeer dieselfde stelsel wat in die ou USSR en Kuba en die ou Rooi Sjina bedryf was aan die lewe hou in Suid Afrika. Die ander partye gee hulle net nie kans om hulle diktatuur te vestig nie.

JohanR ·

Sal gou sien dat decorum terugkeer parliament toe as die in rooi oorpakke en myners hoede, begin om die regte klere vir parliament aan te trek. Daar moet seker ‘n klere gedrag kode vir parliament wees, en sekerlik kan dit nie rooi oorpakke en myners hoede wees nie???

Schalk ·

Realime is buite politikiste se verwysings raamwerk.Hulle sit op wolkies en word beskerm deur opgeleide gewapendes.Maar nie kriminele belasting betalende publiek moet ontwapen word dat kriminele kan heers.Ou hoedjie het soveel kriminele in sy mag dat hy nie meer weet wie hy moet toe sluit nie.staatskriminele of buite kriminele.As n land se preident en die hoof van sy polisie mag en verskeie ander praat nie eers van Sal en en ander instansies voor die reg staan dan sien jy wat korrupsie is.

Vlakvark ·

“Demokrasie” is ‘n drogbeeld want dit leen homself tot oneindig vele verskillende interpretasies. Ek het nog nêrens ‘n eenduidige definisie van demokrasie teë gekom nie. Dit is net ‘n onhaalbare utopia reënboogdroom.

Ek sien vooruit na die dag wanneer ‘n politieke Einstein sal opstaan en ‘n nuwe werkbare regeringstelsel voorstel waar geen groep oor ‘n minderheidsgroep kan stoomroller nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.