Nuuskommentaar: Reënboog geknak – deur misdaad

nuwe SA-vlagVolgens die jongste misdaadstatistiek het die land se misdaad die afgelope jaar in die geheel afgeneem, maar selde indien ooit het die polisie so onder die uitslae en die betroubaarheid van die statistiek deurgeloop. Die Instituut vir Sekerheidstudies, wat in die verlede nog “betreklik” tevrede was met die gehalte van die statistiek vra nou dat dit deur Statistieke SA, as gevestigde statistiese instelling, oorgeneem moet word.

‘n Groot deel van die probleem is dat die statistiek vanjaar in ‘n ander formaat aangebied word, en dat baie gebruikers dit nou uiters verbruikersonvriendelik sal beskou. Vir baie gebruikers was die volledige tabelle eers baie lank na die bekendstelling op die webwerf beskikbaar, terwyl sommige gebruikers steeds nie toegang kan kry nie.

En toe dit uiteindelik wel vir sommige ontleders beskikbaar geword het, was dit verwarrend. Die minister het in sy mondelinge voorlegging, aldus News 24 gesê dronkbesuur is die afgelope jaar met 1,5% op, op die voordrag (presentation) wat eerste op die webwerf beskikbaar was, lui dat dit met een persent afgeneem het, en die volledige syfers toon ‘n toename van 2,5%. Weens die gebruikersonvriendelikheid sal dit lank neem om al die misdaadkategorieë na te gaan en te ontleed presies hoe die syfers inmekaar steek en die kloutjie by die oor te bring.

Statistiek oor misdaad is om verskeie redes baie noodsaaklik. ‘n Groot probleem waarmee Suid-Afrika opgesaal sit, is egter dat die publiek se gebrek aan vertroue in die polisie, tot ‘n lae aanmeldingsyfer lei. Dit handel nie net oor ‘n lae koers van aanmelding van verkragtings nie (bronne verskil maar die syfer van een uit dertig word dikwels gebruik) en mindere misdaad nie. Dit is egter kommerwekkend dat die Instituut vir Rasse-aangeleenthede sowat die helfte van die sowat 3,3 miljoene gevalle van misdaad per jaar word nie aangemeld nie. Dit sluit duisende gevalle van motorkapings en huisrooftogte in. Volgens die Instituut vir Sekerheidstudies word baie van hierdie misdade ook maar net aangemeld omdat die versekering dit vereis.

Dit is ook lank reeds bekend dat daar bykans geen verwantskap tussen die veediefstalsyfers van die polisiestatistiek en die syfers hiervoor in die landbousensusse is nie.

Sommige misdade, soos dronkbestuur, reflekteer nie noodwendig die aantal oortredings nie, maar die omvang van wetstoepassing. As die provinsiale syfers vergelyk word, is daar ‘n reuse verskil. Die aankeerkoers in die Wes-Kaap is 256,9 per 100 000 per jaar, en dit lyk of die Kapenaars nou minder dikwels met Oom Tas onder die blad agter die stuurwiel inklim, want dit was verlede jaar 331,6. Gautengers geniet skynbaar self hul leeuplesier, want die aankeerkoers is 174,7 per 100 000. Die Vrystaat se koers is 60,8, maar verlede jaar toe Cheetahs nog swakker gevaar het, was dit 55,2. In Limpopo is dit net 52 per 100 000, ‘n bietjie  meer wat dikwels ‘n sluk maroelamampoer neem teen verlede jaar se 47,5 per 100 000. Word die ratio van noodlottige ongelukke per provinsie bygereken, is dit duidelik dat dronkbestuur nie so seer ‘n provinsiale verskynsel is nie, maar een van wetstoepassing. Die minister van vervoer sal dus vrugteloos wees om die alkoholperk vir dronkbestuur te verminder om die padslagting te stuit so lank wetstoepassing so oneweredig is.

Omdat moordsyfers in beginsel baie akkuraat behoort te wees omdat dit nie van die aanmelding daarvan, soos met verkragting, of van wetstoepassing soos met dronkbestuur afhang nie, is dit baie belangrik dat hierdie syfer goed dopgehou word.

Juis daarom is dit kommerwekkend dat moorde met 0,6% die afgelope jaar toegeneem het. Dit beteken dat Suid-Afrika steeds een van die hoogste moordkoerse ter wêreld het. Die polisiehoof se verduideliking dat dit deur pieke in sekere areas veroorsaak word, verklaar kwalik hoekom Suid-Afrika se koers ongeveer vyf keer hoër as die wêreldgemiddeld is.

Soos verwag sou kon word, het die minister sy kommer uitgespreek oor die baie polisielede wat vermoor word. Hulle word teen ‘n koers van ongeveer dubbel die land se gemiddelde moordsyfer vermoor. Ook soos verwag kon word, het die minister nie na plaasmoorde verwys nie, waarvan die koers ongeveer drie keer die land se gemiddeld is.

Terwyl die Instituut vir Sekerheidstudies sê die jongste misdaadstatistieke is die slegstes wat die land in tien jaar beleef het na daar ‘n lang periode van afname in die ernstige misdaad was, sê die polisiehoof, Riah Phiyega dat die misdaadsituasie onder beheer is.  Met dié opmerking het sy waarskynlik self haar beeld net verder geknou.

Die minister het sy aankondiging ingelui deur te meld dat misdaad in die geheel afgeneem het, hoewel die bevolking toegeneem het. Hy het ook opgemerk dat die baie diensleweringsbetogings druk op die polisie se hulpbronne plaas.

Benewens toenames in moord en poging tot moord, het kontakmisdaad soos kapings, huisrooftogte en huisbrake toegeneem. Ook roof met verswarende omstandighede het toegeneem.

Dit lyk ook of misdade verskuif van terreine waar dit vir misdadigers moeiliker gemaak word, soos motordiefstal en oor die afgelope nege jaar van ander eiendomme, outobanke en ander teikens, die verskuif na misdaad waar die mens die swak skakel in die ketting is. In plaas van om by ‘n huis in te breek wat soos Fort Knox beveilig is, stap gewoon saam met die eienaar in sy huis in en beroof hom dan.

Ongelukkig is die afname in misdade teen vroue en kinders juis misdade wat internasionaal baie swak aangemeld word, en daar kan ander redes vir afnames wees as werklike afnames. Teen die agtergrond van die jongste vlaag berigte oor jong kinders wat wegraak en die talle berigte van bloedskande, sal dit verstaanbaar wees as baie lede van die publiek skepties is dat daar werklik ‘n afname sou wees.

AfriForum wys voorts daarop dat spesialiseenhede suksesse behaal, maar pas nie die beginsel konsekwent toe nie deur byvoorbeeld ‘n dowe oor te draai na die pleidooie om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdade te verklaar.  “Dit is tyd dat hy self luister na wat hy sê en dit regoor die spektrum toepas.”

Die Vryheidsfront Plus wys daarop dat van die 1 833 775 ernstige misdade wat aangemeld is, daar slegs 352 513 suksesvolle vervolgings was. Dit is slegs 19% suksesvolle vervolgings.

Die Christen-Demokratiese Party bevraagteken ook die juistheid van tendense, teen die agtergrond van die lae aanmeldingskoers, en dat baie van dit wat aangemeld word, bloot aangemeld word omdat versekeringsmaatskappye dit vereis.

Die feit dat misdaadstatistiek net een keer per jaar bekend gemaak word, en dan ook wanneer die syfers reeds ses maande verouder is, plaas ‘n verdere vraagteken oor die waarde hiervan. Of Statistiek SA se metodologie toelaat dat die syfers meer gereeld en gouer beskikbaar gestel kan word – sou die funksie daarheen verskuif – is nog nie duidelik nie. Maar dat dit nie so kan aangaan nie, is ook baie duidelik.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae