Nuuskommentaar: Reformasie 500 jaar later

Pres. Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Is daar dalk iets van die reformasie van 500 jaar gelede van toepassing oor hoe ons die ongeregtighede van die Zuma-regime probeer uitskakel? Die Reformasie het immers net soveel sekulêre as kerklike en teologiese manifestasies gehad.

Die fokus van kerke in die dampkring van die Protestantisme is vanjaar op die Reformasie wat 500 jaar gelede nie net momentum gekry het nie, maar kon deurdruk. Die hervorming was immers nie ’n gebeurtenis uit die niet nie, met Johannes Huis en John Wycliff wat al ’n eeu tevore ’n omvattende hervorming gelei het, maar uiteindelik onderdruk is.

Die hervorming het ook nie sonder interne twiste verloop nie, en sonder die ingryping van die Sweedse koning wat in ’n langdurige Europese oorlog betrokke geraak het, sou ook die Luther-geïnspireerde hervorming dalk ondergegaan het.

Intern was Luther en een van sy eerste groot aanhangers, die teoloog Andres Bodenstein, ook gou haaks omdat Bodenstein en sy aanhangers tydens die “beeldenstorm” nie net beelde uit kerke verwyder het nie, maar kunswerke. Vir die Duitsers was dit te veel en Bodenstein het geïsoleerd geraak.

Die slagting van Protestante in Parys 445 jaar gelede verklap hoe lank die Protestantse stryd geduur het. Talle van die oorlewendes het dan ook hul weg as Hugenote na die Kaap gevind.

Is die reformasie iets wat streng binne kerkverband herdenk en gevier moet word? Of het dit vandag, soos destyds, ’n baie breër politiek-maatskaplike neerslag?

Of is dit in die lig van godsdiensvryheid en onder meer ook die behoud van talle animistiese gebruike soos die rituele slag van diere tydens begrafnisse en ander geleenthede, die rol van die voorvaders en vele meer, te animisties, te sensitief en politiek-inkorrek om nog na ’n vorm van suiwer geloofsbeoefening te streef?

Die vinnig-ontwikkelende wêreld met wydlopende los bande stimuleer immers baie mense om selfs binne die geledere van gevestigde konvensionele kerke ’n groter rugsteun te kry, en stroom na fundamentalistiese kerke. Baie kombineer dit met ’n charismatiese belewenis.

Binne die gereformeerde of reformatoriese bande is daar immers ook nie oor alles eenstemmigheid nie. “Gereformeerd” beteken immers ’n onvoltooide proses waar die Bybelse waarhede deurlopend deur Bybelstudie en verwante studies soos die opdiep van ou geskrifte en Bybels-argeologiese wonders verryk word. Vir ander is gereformeerdheid ’n streng ortodokse omgewing wat veranderings sal teenstaan.

Tog verskyn die een artikel na die ander uit verskillende genootskappe oor hoe Christene saam vroeë herdenkingsgeleenthede, veral in Duitsland en op die spoor van Luther, geniet het en dit geestelik oneindig baie vir hulle beteken het. Maar… dit word binne kerkverband gevier.

In Suid-Afrika het die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, waarvan onder meer die NG Kerk en die Hervormde Kerk nou lid is, hom verskeie kere met misnoeë oor die misbruike van die Jacob Zuma-regime uitgespreek. Korrupsie, magsug, leuens, patronaatskap, staatskaping… niks hiervan is immers versoenbaar met die Christelike leer nie. Trouens, dit herinner aan die streng sekulêre oogmerke van die pous destyds met die aflaatstelsel en ander misbruike.

Is dit vergesog om te vra dat die proses om van Zuma ontslae te raak ook afgestem sal wees daarop om ’n aardse bestel met minder misdaad en misbruike in die plek van dit wat ons nou het te stel? Volmaak sou die nuwe nie wees nie, want ons is feilbare mense.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish ·

Dit sal ideaal wees, maar ek betwyfel ernstig of dit moontlik is. My vertroue in diè klompie hier, skiet heeltemal tekort. Dit bly maar n situasie waar sekulêre mag dikteer wat aanvaarbaar is en wat nie. Ons kan maar net let op die omgekeerde diskriminasie wat nou geld as toeligting. Die aardskuddende reformasies trek weg met n spoed maar langsamerhand begin die wiele een vir een afval. Die kerk ingesluit. Ons sit wêreldwyd seker met maklik 400 denominasies van die Christelike kerk, as die reformasie se nageslag. Ons eie demokrasie is met groot verwagting gebore maar het in n monster ontaard. Alhoewel die Afrikaanse kerke soos genoem nou lid van die SARK is, het ek tog my bedenkinge insake die ware eenheid. Byvoorbeeld. Persverklarings van die SARK wat kontroversieël is, myns insiens, word op die NG Kerk se webwerf ten toon gestel. Sodra jy egter die moderatuur daaroor pols, is die antwoord dat die kerk nog nie standpunt daaroor ingeneem het nie. Mens kan maar net hoop en bid dat daar vorentoe meer van n nasionale morele karakter sal ontwikkel. Dit is egter duidelik uit ons situasie dat die kerk bittermin invloed het op rou mag. Vir die stelsel wat u meld, wat in n mate seker in van die Europese lande te vind is, is ons bevolking heeltemal te heterogeen. Ongelukkig myns insiens, is dit nie moontlik om al dié bestanddele te gebruik om n koek te bak wat almal wil eet nie.

Johannes Meintjes ·

Lank leef die voortgesette Hervorming – tot ons weer by die Gemeente van Handelinge kan uitkom!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.