Nuuskommentaar: Reg of weg met geskiedenis?

anglo-boereoorlog-begraafplaas

Een van die talle Anglo-Boereoorlog-begraafplase landswyd

’n Nederlandse hoogleraar in geskiedenis belig in ’n artikel onbedoeld die problematiek waarmee Suid-Afrika met sy verskillende persepsies oor die geskiedenis te kampe het. ’n Objektiewe, gedeelde geskiedenis waaruit die goeie geput kan word, is waardevol om brûe te bou, maar dit ontneem niks van die harde werk wat nodig is om versoening te laat werk nie; dit benadruk wel die noodsaak om alle sake ewehandig te beskou.

Gesindhede in Suid-Afrika word gereeld hard gebyt deur historiese wanvoorstellings deur politici wat goedkoop politieke munt wil slaan. Maar daar steek veel meer in die gesegde dat die oorwinnaar die geskiedenis skryf, en dit is ’n universele verskynsel.

“As daar een vak is waardeur kennis deur mistieke beeldvorming misbruik kan word, is dit geskiedenis.” Aan die woord is prof. Maria Grever in ’n artikel in Trouw.

Sy reageer op die bevindinge van die Schnabel-kommissie oor hoe leerplanne in die toekoms daar moet uitsien. Hoewel die kommissie bevind dat onderwys behoort te handel oor “kennis van die wêreld” bly geskiedenis in die slag, in elk geval as verpligte, outonome vak.

Grever wys op verskeie voorbeelde waar die verdraaiing van die geskiedenis (gemanipuleerde waarheid) terugkom om die plegers en hul nageslagte aan die hakskene te byt. Sy verwys onder meer na Turkye se voortgesette ontkennings van die Armeense volksmoord, en ook, volgens haar, die Russe se geskiedenismanipulasie om die anneksasie van die Krim te regverdig.

In Suid-Afrika het pres. Jacob Zuma hom gedurende sy presidentskap verskeie kere in die stormwaters bevind deur hoogs omstrede stellings te maak, soos dat Afrika die grootste kontinent is en die ander kontinente saam in Afrika kan inpas. Hy het voorts nogal ’n uitleg vir dié “toedrag” gegee wat moontlik net vir hom sin gemaak het. ’n Groot persentasie van sy mistastings het op persepsies van die geskiedenis betrekking. Dink maar aan sy stelling dat swart mense veel pret gehad het tot Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het, en dat die land se moeilikheid toe begin het. (Tjsaka en Dingaan se uitdelgingsoorloë is skynbaar heeltemal vergete.)

Hoewel daar periodiek erkenning is dat die Khoi-San die oorspronklike bewoners van die land was (gewoonlik wanneer vir bruin stemme gevis word), is die algemene retoriek dat swart mense die werklike inheemse bevolking is en daarom allerlei (historiese) aansprake het. Navorsing oor plekname deur die wêreld-gerekende kenner, prof. Peter Raper, bied egter ’n heel ander beeld.

’n Boerseun se bloed wil behoorlik kook as hy in ’n ou Engelse ensiklopedie lees wat die oorsake en verloop van die Anglo-Boere-oorlog was.

Maar ook in die Afrikaanse opgetekende geskiedenis kom daar kort-kort nuwe navorsing wat sekere gevestigde opvattings oor historiese gebeure uitdaag. Terwyl ouer Afrikaanse geskiedenisbronne byvoorbeeld openlik oor swart konsentrasiekampe in die Anglo-Boere-oorlog geskryf het, het die herbekendmaking van hierdie inligting rondom die oorlog se eeufeesherdenking vir baie soos ’n bitter pil gekom, en baie aanvaar dit waarskynlik steeds nie.

Seker een van die interessantste stukkies “verlore geskiedenis” is die Noormanne se Amerikaanse kolonies sowat 1 000 jaar gelede, ongeveer 500 jaar voor Columbus die Amerikas “ontdek” het. Hierdie Noormanne het vroeë Christene ingesluit, en soms eerste generasie Christene onder wie een van die eerstes om ’n kolonie in Vinland, soos dit genoem is, te stig, Leif Erikson. As deel van die Rooms-Katolieke Kerk het die inligting ook in Rome bekend geword, sodat die pous in ’n stadium ’n kardinaal vir Groenland en Vinland aangestel het. Dokumentasie is in die argiewe opgeneem, en dis byna seker dat Columbus, wat lank in die argiewe gedelf het, so geweet het van land anderkant die Atlantiese Oseaan.

Die waarde van akkurate geskiedenis is dat dit aan die hedendaagse mens die geleentheid bied om daaruit te leer en die goeie te behou en daarop uit te bou.

Wat ons egter nou met onder meer studente-onluste sien waarin veral die EFF ’n vinger het, is ’n totaal ander benadering. “Verkeerde” historiese “artefakte” is nie net nutteloos nie, dit is boos en moet vernietig word. So word ’n nuwe kulturele imperialisme geskep, wat heeltyd by kookpunt onverdraagsaam is teenoor ander historiese perspektiewe en herkomste.

Oral in die wêreld moet argeoloë moeisaam gebiede se geskiedenis deur opgrawings en intensiewe navorsing rekonstrueer omdat die geskrewe bronne daaroor weens ’n verskeidenheid redes verbrand is. In China het opeenvolgende dinastieë gereeld die geskiedenis van voorgangers totaal probeer uitwis. Die Spaanse veroweraars in Latyns-Amerika het Asteekse en Maya-dokumente as “onchristelik” verwoes.

’n Mens sou dink dat die beskawing intussen so ver gevorder sou wees dat die fokus eerder op behoud en bewaring sou val, maar verskeie voorbeelde van boekverbranding het steeds voorgekom. Terreurgroepe in die Salafistiese dampkring van Al-Kaïda en die IS is steeds kort-kort in die nuus oor die vernietiging van artefakte en antieke geskiedenis. Selfs Moslem-praalgrafte, kenmerkend van ’n ander Islamitiese vertakking, word vernietig.

Die Schnabel-kommissie meen daar moet minder fokus op die verlede geplaas word, en meer fokus op die toekoms. Of dit ’n lomp poging is om verdelende faktore van die verlede uit sirkulasie te haal is nie duidelik nie. Suid-Afrika het egter nié hierdie “luukse” nie. Die regering het by verskeie geleenthede laat blyk dat geskiedenis juis meer aandag moet geniet. Die probleem is dat dit duidelik is dat hierdie weergawe van die geskiedenis erg in dispuut staan, sodat gerekende geskiedskrywers saamgestaan het in die opteken van Suid-Afrika se ware geskiedenis.

In ’n artikel op AfriForum se blog, waarvan ’n verkorte deel in City Press verskyn het, word die problematiek soos volg gestel: “Die probleem met Suid-Afrika se geskiedenis is ongelukkig dat dit effektief gevorm word volgens die voorkeure van die regerende ANC. Enigiemand wat ons geskiedenis objektief bestudeer, sal geskok wees oor die dele daarvan wat in kinders se geskiedenisboeke te vinde is, oor die dele waaraan ons gedurig herinner word deur die ANC-leiers wat dit vanaf podiums verkondig met elke geleentheid wat hulle kry, en oor die dele wat gerieflikheidshalwe vergeet word.”

In die voorwoord van Geskiedenis van Suid-Afrika van voortye tot vandag, 2012, word die volgende verheldering verskaf: “By ’n simposium van die Akademie (vir Wetenskap en Kuns) se Geskiedeniskommissie in 2006 is kommer daaroor uitgespreek dat, veral op skoolvlak, die klem in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gelê word op die versetgeskiedenis van die land. Soos in die inleiding verklaar word, was daar vroeër ’n Afrikanersentriese benadering, waarin ‘helde- en lydensoomblikke in die Afrikaner se geskiedenis as die enigste ware geskiedenis’ van die land voorgestel is, maar nou het die pendulum te veel na die ander kant geswaai. Dit het die behoefte laat ontstaan na ’n omvattende geskiedenis ‘wat sou probeer om die pendulum na die middel te stuur ter wille van versoening en wedersydse begrip onder die verskillende kulturele en politieke groepe’.”

Sonder ’n behoorlike, gedeelde historiese perspektief, is talle aksies om spanning te ontlont soos vandeesweek se “week teen rassisme” onder verstek-druk.

’n Gedeelde geskiedenisopvatting is ’n belangrike vertrekpunt, maar los nie alles op nie. Om standhoudende brûe oor klowe te span is harde werk, en die instandhouding van daardie brûe is ’n volgehoue proses.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

wynand ·

Geen mens kan geskiedenis verander nie.Nie in die buiteland of in land nie.Elke dag is more se geskiedenis.In SA sal daar verskillend geskiedenisse moet wees om elke groep te verteenwoordig.Dan sal dit tog sin maak.Daar sal dan ook geleer word deur wie het vooruitgang uitgespruit.

m ·

Die geskiedenis het gebeur en dis dit of dit nou goed was of sleg was ons kan dit nie verander nie. Moet ons nou al ons geskiedenis herskryf om die swarte gelukkig te maak want hulle erken mos net hulle eie goed, die res tel nie.

m ·

Moet al die geskiedenis verander om sekere groepe te pas of wat? Dit het gebeur en niemand kan dit verander nie. Werk eerder aan die toekoms om te verhoed dat van hierdie goed weer gebeur.

Gideon Roos ·

Wat die geskiedkundiges bedoel met ‘n gedeelde geskiedenis, is nie die herskryf van die vyte nie, maar die inagnome van die verskye perspektiewe van die verskillende groepe mense betrokke. Voorheen is die geskiedenis boeke geskryf uit slegs die perspektief van die dominante groep, waar die geskiedenis en/of ervarings van die minderhede irrelevant was en nie inaggeneem is nie.

Ek ondersteun die beweging wat hedendaagse geskiedkundiges volg ten volle. Al is geskiedenis ongemaklik, as dit die realiteit was/is, is dit so. Onthou, ek praat nie van die herskryf van geskiedenis om mense gelukkig te maak nie, maar die herskryf van ons geskiedenis om beter die realiteite van die verlede te reflekteer en op te neem.

Bruno Stef ·

Op die voorgrond van die foto is die ysterkruise binne in die sirkel soldate van Queen Victoria wat daar begrawe is tydens die ABO terwyl die offisiere n behoorlike grafsteen op hulle grafte gekry het.Daar is in ons dorpsbegraafplaas tot n graf van n britse soldaat wat eenkant en nie tussen sy makkers begrawe is nie omrede hy op n Afrikaner meisie verlief geraak het en nie aan die oorlog wou deelgeneem nie en toe deur die Engelse as n verraaier tereggestel is n tragiese verhaal en dit is werklike Geskiedenis.

Sarie ·

‘n Engelse dame merk nou die dag op dat haar kleinkind vir haar gevra het waarom wit mense swart mense so gehaat het, met verwysing na Apartheid wat soos die Engelse hate uitgespreek word. Westerse slawerny is ‘n ander onderwerp wat in geskiedenislesse holrug gery word , maar nooit word daar verwys na die Arabiese slawehandelaars en al hulle misdade teen die mensdom nie. Karl van Bart se boek oor slawerny in Suid-Afrika sal jy tevergeefs in ‘n biblioteek soek. Nou word Whiteness soos melaatsheid by universiteite ondersoek sonder om na Blackness wat soos entitlement by groepe kop uit steek te be vraag teken. Dis ook makliker om geskiedenisfeite wat uit mondelinge oorlewering verkry word te verdraai as die geskiedenis wat gedokumenteer is. Daarom is daar ‘n deel van mondelinge oorlewering in die geskiedenis kurrikulum va SA

Hendrik ·

Wel volgens my kan jy maar onderhandel tot jy blou is in die gesig. Die huidige heesers sal glad nie toegee of verander nie. Ons moet net sorg dat ons eie kinders ons geskiedenis ken. Deur betrokke te bly by ons kultuur is die antwoord.

Basson ·

Het julle al gesien wat leer die kinders op skool? Doen bietjie moeite en vra julle kinders uit oor die vakinhoud. Dis nie net in Geskiedenis as vak waar ‘brein programmering’ plaasvind, maar dit word deurgetrek na taal (letterkunde / gedigte) ens. Vra bv oor die stuk wat handel oor die miere wat die krap oorwin het en sy dop uitgeeet het ens? (Om maar een voorbeeld van vele te noem – uit matriek werk.)

andries ·

Dit gebeur ook op Universiteit – gelukkig het die studente breins sodat hulle weet wat reg en wat verkeerd is. Behalwe nou die lot wat verkies om altyd moelik en halstarrig te wees. Gewoonlik die Engelssprekendes want hulle sal enige-iets doen om Afrikaans te laat verdwyn.

Jordaan ·

Wensdenkery, die regering van die dag sal die geskiedenis deur propaganda herskryf soos dit sy ideologie pas

Pieter ·

Zuma se foutiewelike uitsprake oor die geskiedenis is gevaarlik want dit word vir soet koek deur die onopvoedbare gepeupel geglo. Dit lei tot die haat teenoor die wit man. Geskiedkundiges kan ons ‘n groot guns bewys deur die wanopvattings deurentyd aan te val en die ware feite te publiseer.

Otter ·

Ons het die ding omgedraai met ons kinders se skooltake. As die opdrag is: doen ‘n taak oor kampvegter vir menseregte, dan doen ons seun taak oor Adam Tas. As skool wil hoor van onderdrukking, dan skryf my dogter oor konsentrasiekampe.

Wat-ek-lees ·

Die Bloedrivier-slag is ook ‘n klompie jare gelede herskryf om ‘nader aan die waarheid’ te wees. Ek gaan die brosjure probeer vind en dan verder hier kommentaar lewer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.