Nuuskommentaar: Regeer deur die howe?

Word die howe nie nou te veel ingespan om die uitdrukking van demokrasie in Suid-Afrika te beïnvloed nie?

Gister het die Noord-Gautengse hooggeregshof uitspraak in die Tlokwe-dispuut onbepaald uitgestel, vandag sit die DA sy regstryd voort om die sogenaamde Zuma-bande, wat tot die terugtrekking van klagtes teen pres. Jacob Zuma bygedra het ingevolge ‘n ander hofbevel aan hom beskikbaar gestel te kry, en op 29 Junie hervat die arbeidshofsaak tussen Solidariteit en die departement van korrektiewe dienste.

Al drie hierdie sake is weens die groot impak wat dit op die demokrasie uitoefen van besondere belang.

Voeg hierby die regter se opmerkings dat die partye in die Tlokwe-saak nie belastingbetalersgeld vir die saak behoort in te span nie.

Die ANC het in die verlede al sy ongelukkigheid daarmee uitgespreek dat die howe ingespan word om, soos dit gestel word, meerderheidswil te frustreer. Dié frustrasie dui egter op ‘n reuse onkunde oor wat die term demokrasie beteken, en wat alles deel van hierdie begrip uitmaak. Die skeiding van magte is veral in ‘n grondwetlike demokrasie van groot belang. Daar word die grondwet as die hoogste reg beskou, en kan ‘n meerderheid nie maar maak en breek oos hulle wil nie.
Verder, selfs in ‘n nie-grondwetlike demokrasie, het ander lewensinstellings soos kerke, gesinne en klubs sekere bevoegdhede tot uitsluiting van die staat.

Internasionale sportliggame soos Fifa en die IOK waak baie streng teen regeringsinmenging in sportsoorte wat hulle beheer, en lande soos Iran, Kenia en Griekeland is hieroor al geskors. Selfs Brasilië is al met skorsing gedreig hieroor, en die Nigeriese regering moes ‘n knieval doen na dit sy sokkerspan na die wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika wou straf deur hom ‘n paar jaar lank internasionale deelname te ontsê.

Die grondwetlike hof het onlangs ook uitspraak gelewer oor die reg van skoolhoofde en die beheerliggame se gesag teenoor dié van die hoofde van die onderwysdepartement.

Wêreldwyd is ‘n veldtog om die impak van howe op die demokrasie te verminder ten koste van meer magte van die parlemente. Die argument is dat regters nie demokraties verkies word nie, en dus in wese toegelaat word om die demokratiese wil soos deur die bevolking uitgedruk, te beperk. Dié beweging is veral sterk in Australië, maar is periodiek ook in die VSA baie verbaal.

Dié argumente oor die inperking van die gesag van howe hou egter net water in demokrasieë waar die demokrasie as konvensie baie goed gevestig is. Voorts is dit ook eintlik net van toepassing op sterk homogene gemeenskappe, waar minderheidsregte nie van soveel belang is nie.

In die VSA is daar ‘n voortdurende toutrekkery, soos nou weer oor die kwessie van aborsies op aanvraag. Christengroepe probeer ‘n speelruimte oopskop waarbinne hulle, deur die demokrasie, maar ook bestaande hofuitsprake, aborsies na twintig weke swangerskap kan verbied. Dit is die sogenaamde “gevoel-perk” waarna die ongebore baba volgens toetse oor gevorderde gevoelsensasie beskik. Eintlik wil die groepe aborsies op aanvraag heeltemal verbied, maar kan weens ‘n bestaande hofuitspraak dit nie doen voor ook ‘n hele span regters van die hoogste hof vervang is nie. Liberale groepe probeer dit met alle mag omkeer.

In Suid-Afrika is daar boonop ‘n verdere dimensie. Die Suid-Afrikaanse grondwet is die produk van ‘n nasionale vredesakkoord, en die daarstelling van ‘n reeks grondwetlike beginsels. Dit kan vergelyk word met twee lande wat oorlog gevoer, en toe ingevolge ooreengekome vredesvoorwaardes vrede gesluit het. Dit verskil van wanneer ‘n verslane land onvoorwaardelik moet oorgee, soos die geval met Japan aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog.

Om ‘n meerderheidswil ten koste van die grondwet te wil afdwing, kom in wese neer op die opsegging van die vredesooreenkoms. In Suid-Afrika is die posisie nog meer uniek deurdat die een hoofparty tot die vredesooreenkoms, die ou Nasionale Party, by die ANC aangesluit het.

Dit beteken egter nie dat die regte en belange van die mense wat eens deelgeneem het, ook verdwyn het nie, en van die howe, as bewaker van die grondwet, word steeds verwag om dit serk te ondersteun.

Die posisie hét egter, weens ‘n sameloop van omstandighede, so ontwikkel dat burgerlike instellings se rol baie groter geword het. Burgerlik instellings, soos ander manifestasies van ware demokrasie soos persvryheid en menseregte wat individuele en minderheidsregte insluit, word as integrale deel van grondwetlike demokrasie beskou.

Wanneer die meerderheidsparty gefrustreerd raak met die howe wat hom kort-kort in sy magsmisbruik stuit, word die onderlinge mutualisme van burgerlike instellings, die howe en die vrye media al groter, want op hul eie kan hulle nie teen ‘n meerderheidsparty, of selfs ‘n bepaalde populistiese ideologie staande bly nie. Die kiesers se rol met die trek van kruisies word nie minder belangrik nie, maar hulle kan ook nie dan agteroorsit nie. Dit bly steeds nodig om burgerlike instellings soos Outa, AfriForum en ander te versterk om die grondwet intak te hou, dit behels steeds dat koerante wat ideologies of partypolitiek so gebonde word dat mediavryheid eintlik so skade lei, met die weerhouding van koopkrag te straf en die wat politieke diversiteit bevorder, gesteun word. Dan word groot stappe geneem om grondwetlike demokrasie te rugsteun.

Solank, natuurlik, die grondwet self deeglik genoeg geskryf is om rug teen magsmisbruik e kan styf maak. Baie skade kan aangerig word as die grondwet leemtes het wat ‘n diktator van die meerderheid in staat stel om die howe met politieke lakeie te vul.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Zondra Hoffmann ·

Hierdie kommentaar is duidelik en op die punt af. Ek hou veral van : “Solank, natuurlik, die grondwet self deeglik genoeg geskryf is om rug teen magsmisbruik te kan styf maak. Baie skade kan aangerig word as die grondwet leemtes het wat ‘n diktator van die meerderheid in staat stel om die howe met politieke lakeie te vul”.
Dit is presies wat besig is om met ons (dikwels teenstrydige) Grondwet te gebeur. Die walle wat dit moes beskerm, word openlik toegelaat om weggekalwe te word, totdat net die moeras oorbly. Die nuwe “aanslag” op Thumi Madonsela gaan hierdie regeringsgedrewe inmenging verder aan die kaak stel, want die persoon wat met nommer 1 sukkel, is KAPOET!!! Sy was immers ook betrek in die samestelling van juis hierdie Grondwet. Ek hou verwikkelinge fyn dop want ek sê: Hier kom ‘n ding en ek verstout my om te voorspel dat ons in groter moeilikheid gaan wees omdat daar nou dringend beweeg word na ‘n diktatorskap. Ek hoop ek is verkeerd.

JJEls ·

Politieke stelsels is en kan nogal n uitdaging vir enige politikus wees. Vra maar enige tans dienende of oudpolitikus. Die geheim le daarin om darem die bekendste politieke stelsels soos liberalisme, konserwatisme, kommunisme en demokrasie (en die ou heel bekendste: Diktatorskap) te bestudeer of te verstaan voordat jy jou uitgee as n politikus in enige bestel. Ons leiers in Suid-Afrika ken beslis glad nie politieke-stelsels nie, daarom ken hulle nie die verskil tussen politiekemag en die magte vervat in die grondwet nie. So eenvoudig soos dit. Ek wens tog dat alle politieke leiers eers net by enige Opvoedkundige Instelling net een jaar Politieke Wetenskap as vak wil neem. Dankie tog vir Outa, Afriforum en Solidariteit wat Regering nou en dan in die bek ruk…hierdeur gee julle die politieke outas gas!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.