Nuuskommentaar: Regering áltyd getrou aan sy eie

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het aangekondig dat die regering die mediese brigade van Kubaanse gesondheidsorgwerkers vir die 2021 Nobelprys vir vrede wil benoem. Van die 3 700 Kubaanse gesondheidsorgwerkers wat tydens die Covid-19-pandemie verskeie lande bygestaan het, is 217 ook verlede jaar in Suid-Afrika ontplooi.

Sedertdien heers daar groot omstredenheid oor die groep.

Verskeie partye het verlede jaar gekla oor die feit dat die regering hierdie gesondheidswerkers (ten duurste) gekry het as ondersteuning terwyl ons werklose Suid-Afrikaanse gesondheidswerkers het wat sou kon help.

Meer as 1 000 verpleegsters was verlede jaar werkloos omdat hulle nie registrasie by die Suid-Afrikaanse Verpleegstersraad kon kry nie. Dié raad se kantore het egter in Maart 2020 gesluit en eers weer in Junie geopen. Sodoende kon hulle nie eerder registreer nie en ook nie help om die tekort te verlig nie.

Verder skep sowat 40 000 mediese poste wat gevries is ʼn permanente tekort aan gesondheidswerkers in die land. Volgens Herman Mashaba, leier van ActionSA, is daar tans meer as 500 hoogs gekwalifiseerde dokters wat werkloos is.

Ons regering se oplossing was nie om aandag te gee aan administratiewe uitdagings en sodoende ons eie gesondheidswerkers ʼn kans te gee om te help nie. Dit was eerder om Kubaanse gesondheidswerkers in te voer.

Een van die groot omstrede punte rondom dié Kubaanse gesondheidswerkers was ook die begroting vir die projek. Volgens Daily Maverick is 187 Kubaanse gesondheidswerkers vir ʼn jaar teen byna R300 miljoen aangestel – oftewel R130 000 per gesondheidswerker per maand. Dit terwyl Kubaanse dokters in Kuba self op die heel meeste R1 300 per maand verdien.

Verskeie koerante het al aangevoer dat Kubaanse gesondheidswerkers wat in ander lande ontplooi is ʼn baie klein gedeelte van hul betaling kry – die res is na bewering die Kubaanse regering sʼn. Daar word berig dat die Kubaanse regering iewers tussen 25% en 90% van hulle “uitgevoerde” dokters se salarisse kry.

Time het ook aangeduit dat gesondheidswerkers Kuba se grootste uitvoerproduk is: Hulle bring sowat $11 miljard per jaar na die land, selfs meer as dié land se toerismebedryf. Sedert hulle uitvoerdokters ʼn instrument geword het waarmee politieke isolasie tydens die Koue Oorlog oorkom is, het dié dokters net soveel ʼn politieke instrument as ekonomiese instrument gebly.

In die lig hiervan lyk die Kubaanse gesondheidswerkers wat ons regering verwelkom het nie meer na ʼn blote daad van welwillendheid nie. Ons regering het heel moontlik in praktyk die Kubaanse regering via hul uitvoerdokters gefinansier, eerder as om ons eie gesondheidswerkers teen ʼn billike betaling aan te stel.

Eweso is die ANC wat Kubaanse gesondheidswerkers benoem vir die vredesprys ʼn belediging vir ons eie gesondheidswerkers. Óns gesondheidswerkers wat presies dieselfde risiko’s geloop het, wat ewe hard gewerk het en onder presies dieselfde druk verkeer het. Tog verdien hulle nie ʼn Nobelprys nie.

Dit gaan hier nie daaroor om afbreuk te doen aan die Kubaanse gesondheidswerkers se harde werk nie. Dit gaan eerder oor die regering se krasse onsensitiwiteit teenoor ons eie gesondheidswerkers.

Hierdie verloop van omstandighede is net nog ʼn verskynsel van ons regering wat meer omgee oor sy eie ideologie en kamerade as oor die werklikhede en gewone mense op grondvlak.

ʼn Mens sien dit ook in beleid soos Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB). SEB moet eintlik arm swart mense ekonomies ophef. Ons het egter lank reeds geleer dat SEB in praktyk net ʼn ryk swart elite skep en die ekonomie só verlam dat arm swart mense amper geen kans staan nie.

Hierdie is ook wat nou gebeur met die regering se hantering van Kubaanse gesondheidswerkers teenoor Suid-Afrikaanse gesondheidswerkers. Ideologie geniet voorkeur bo die werklikheid. Dit is vir die regering belangriker om lojaliteit jeens Kuba te toon as om die opofferings van Suid-Afrikaanse gesondheidswerkers te vereer.

Die ANC is heimlik jaloers op Kuba – net soos dié party jaloers is op Zimbabwe en Venezuela. Die ANC beny eintlik dié lande omdat hulle die kommunistiese koorsdrome wat die ANC ook het in hulle eie lande uitgeleef het. Iemand soos Robert Mugabe sal altyd ʼn ikoon bly vir die ANC – ongeag dit wat hy aan Zimbabwe gedoen het. Ramaphosa self het al Mugabe geprys en gesê dat die ANC die Zanu-PF bewonder en navolg.

Siende dat hierdie lande die ANC se ideologiese kamerade en rolmodelle is, is dit belangrik om broederskap met hulle te betoon – ongeag hoe hul idees hul lande verwoes het. So ook is die ANC se lojaliteit jeens Kubaanse gesondheidswerkers eintlik lojaliteit aan Kuba se geskiedenis en leiers soos Fidel Castro.

(Argieffoto: Luca Sola/AFP)

ʼn Verering van net Kubaanse gesondheidswerkers, eerder as Kubaanse gesondheidswerkers én ons gesondheidswerkers, is ʼn stille erkentenis van Kuba se kommunistiese “sukses”. Die regering verag nie noodwendig ons eie gesondheidswerkers soveel as wat hy versot is op die ideologie wat Kuba verteenwoordig nie.

Sodoende word die feite op grondvlak bloot oorskadu deur die ANC se ideologiese bande en lojaliteite.

Weer is dit nie vreemd vir die ANC nie. Vir 27 jaar lank klou dié party vas aan dieselfde idees sonder enige daadwerklike agtig vir die werklikheid. Hulle hang steeds SEB, kwotas, die Nasionale Demokratiese Rewolusie en sentrale staatsmag aan. Hulle het bloot nie die vermoë om hul idees aan te pas wanneer dit misluk nie.

Hierdie benadering sal ook die ANC se ondergang beteken. Mense wat vir die onthalwe van ideologiese lojaliteit verbete vasklou aan slegte idees sal op die ou einde saam met daardie idees ondergaan. Lojaliteit is nie meer prysenswaardig as dit blind is vir die werklike feite wat dit omring nie. Lojaliteit aan idees en ideologieë is nie meer prysenswaardig wanneer dit jou optrede in die regte wêreld immoreel maak nie – goeie bedoelings is dan net nie meer goed genoeg nie.

Die ANC gaan op die ou einde weens sy ideologiese blindheid homself irrelevant verklaar. Die party gaan dalk nog tegnies gesproke die regering wees, maar gaan al minder invloed oor mense se doen en late hê. Sodoende gaan die ANC net nog ʼn regering word wat op sy mislukkings terugkyk en sê: “Dit was nie regte kommunisme nie. Volgende keer gaan dit werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mariana

Hoe gouer hierdie regering val hoe beter sal SA word. Niks wat hulle doen is in belang van hierdie land se mense nie. Hulle daar vir eie gewin en om hul maatjies te verryk. Maar die wiel draai, stadig maar hy draai…….

Nie Verbaas

Ramaphosa bewonder Mugabe en wil hom navolg? Wel hulle is goed op dreef om alles te verwoes, net soos Mugabe.

JohanR

Net die Kubane? Nie die egte regte Suid Afrikaners verpleegsters, dokters en gesonheidwerkers wat sedert Maart 2020 op die voorste linnie werk, huil en sterf nie. Dit is soos Boris Johnson aankondig dat net die Franse in Engeland wat gehulp het met Covid-19 gaan vir die NobelPrys vir vrede gaan nommineer word. Cyril moet begin dink voor dat hy sy bek oop maak. En laaste vraag. Wat is SA se behepteid met die Kubane?

Danie

Die ANC het die land reeds so vernietig dat dit talle geslagte gaan neem om te oorleef!

Dup

SA en Kuba is boesemvriende…..albei het sterk kommunistiese neigings en bestuurstyle.Ek is net nie seker waar Kuba op die korrupsie barometer staan nie……seker ook na aan SA.