Nuuskommentaar: Regering se Chroniese Terminale Boere-siekte (CTBS)

Argieffoto

Argieffoto

Die spreekwoord lui dat die boer ’n plan kan maak, maar een plan bly die landbougemeenskap ontwyk – om ’n plan te maak met ’n regering wat aan Chroniese Terminale Boere-siekte (CTBS) ly. Die vernaamste simptome van CTBS is dat dit selektiewe geheueverlies tot gevolg het, dit veroorsaak ’n bontpratery oor landbousake, maak die lyer wantrouig, put uit wanpersepsie en maak die lyer blind vir die werklikheid en feite.

Of soos die sieke wat by die kliniek moes kom medisyne haal vir die suster aan diens sê, die dokter sê hy het dubbele longontsteking in albei longe. Die boere word met dubbele hamers gemoker – met ’n minister van landbou maar ook ’n minister wat vir “grondhervorming” verantwoordelik is.

Dis histories behoorlik ’n geval dat as die een die klok iewers hoor lui (en dit dan skynbaar dikwels met ’n uitvalklok verwar), die ander soos ’n blinde voortstrompel en mens, dier en grond vertrap.

En dan is daar nog die lastige gebruik om vir verskillende gehore verskillende weergawes te gaan opdis.

Tydens gisteraand se uitsending van RSG se Kommentaar het prof. Amanda Gouws van die Universiteit Stellenbosch (US) ’n interessante opmerking gemaak. Sy meen die regering se dinge-uit-die-lug-grypery oor grondhervorming is ’n teenreaksie op elke ding wat Julius Malema oor die onderwerp sê. Dit mag nou die geval wees, maar die siekte is al veel ouer as dit. Haar kollega, dr. Charl Swart, het immers voorheen in sy meestersverhandeling tabelle geplaas waarin aangetoon word dat sowat 80 persent van swart mense glo wit mense het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel.

Wie onthou nog die omvattende Landbou-ontwikkelingsplan geskoei op deeglike navorsing wat Agri SA in deurlopende oorleg met die regering opgestel het, en uiteindelik deur die destydse pres. Thabo Mbeki onderteken is? Dit was duidelik dat Mbeki die plan deeglik bestudeer het, soos geblyk het oor die indringende vrae wat hy gevra het voordat hy sy handtekening daarop geplaas het.

Dit was egter gou duidelik dat dit sou lol om dié dokumente in werking gestel te kry. Die protokol vir plaastoegang is byvoorbeeld nooit aan staatsamptenare gekommunikeer nie, wat beteken het dat al wat staatsamptenaar is lustig plase bly betree het sonder die nodige afsprake. Enkele jare later het die minister van arbeid sover gegaan om te ontken dat daar so ’n protokol bestaan.

By geleentheid, tydens ’n beraad deur die regering op Somerset-Wes aangebied, het Agri SA se afgevaardigdes ná behoorlike boere-bashing uitgestap.

Intussen het ’n horde NRO’s in die Wes-Kaap, van wie minstens een deur Cosatu gefinansier word, volgehou met ’n storie dat die boere in hierdie provinsie hul werkers aanrand en mishandel. Uiteindelik het Agri Wes-Kaap, in samewerking met die provinsiale departement van landbou, ’n omvattende ondersoek van stapel gestuur. Meer as 80 gevalle, waarvan drie in die howe gaan draai het, is ondersoek, en nie een het werklik iets om die lyf gehad nie. Maar dit het die NRO’s nie verhinder om steeds met die stories vol te hou tydens ’n nasionale beraad wat net hierna plaasgevind het nie.

En wie sal min. Lulu Xinwana se Kerkplein-toespraak vergeet – toe sy uiters bitterbek die boere ook van mishandeling en verkragting beskuldig het? Dit het geblyk dat sy na ’n enkele geval in die Wes-Kaap verwys het om rof te veralgemeen. Dit het ook geblyk dat die polisie se Onafhanklike Klagtedirektoraat die geval ondersoek het, en dit as vals bevind het. Die verslag is om die een of ander rede net aan die ANC se verteenwoordigers in die Wes-Kaapse parlement (wat toe daar aan bewind was) versprei, wat dit skynbaar onder die tafel ingevee het. ’n Afskrif het egter in die DA se hande beland en die saak kon in die reine gebring word. Die feit bly egter, Lawwe Lulu het tydens haar tirade geweet die voorval was vals.

Boonop het die klaagster, in haar eie woorde, tot bekering gekom en die boer om vergifnis gevra vir die vals aantygings.

In die Vrystaat het die destydse premier, Winkie Direko, ’n peperduur ondersoek laat doen oor plaastoestande, en plaaswerkers en ander belangstellendes is van oor die hele provinsie aangery om te kom getuig. Die verslag het die toestande skynbaar nie gestaaf nie, want dit is onder die mat ingevee.

En wie sal ooit vir Dirk du Toit vergeet, die adjunkminister wat lank wesenlik in beheer van die grondhervorming gestaan het, ook in die tyd toe landbou en grondsake ’n portefeulje gedeel het? Wat by ’n drie-in-een-beraad wat deur die georganiseerde landbou gereël is, een stel inligting voorhou en onder meer die boere aanmoedig om te vra dat ’n klagtedirektoraat in sy departement geskep word (omdat Grondsake eenvoudig nie korrespondensie beantwoord het nie), maar toe hy na buite geroep word vir ’n TV-onderhoud, heel ander stories te vertelle gehad het.

Die siekte slaan ook in ander opsigte uit. Suid-Afrika word, soos ander dele van die wêreld, deur klimaatsverandering geraak. Dit is van die uiterste belang dat by die beplanning van landbou-aktiwiteite, insluitende grondhervorming, asook die toekomstige beplanning oor stedelike uitbreidings, hiervan kennis gedra word. So ’n verslag is deur die Vrystaatse departement van omgewingsbewaring opgestel en oorhandig … en skynbaar gerak.

Dit sal werklik verbasend wees as die werklikheidsvervreemde amptenare hoegenaamd kennis dra van sulke verslae, en indien wel, hulle enigsins daaraan sal steur. Deur sulke verslae te ignoreer word beginnerboere met hul min hulpbronne eenvoudig vir die leeus gegooi.

Allerlei boheemse projekte word beplan, soos visboerderye waar die vreemdste oorsese vennote ingetrek word, en die lewensvatbaarheidstudies op visse gedoen word wat ingevolge provinsiale wetgewing verbode indringervisse is. Terwyl belastingbetalersgeld eenkant ingepomp word, slaan die Groen Skerpioene anderkant toe en duisende verbode visse word vernietig, en daar is ligjare se probleme met die gereg. Maar die Groen Skerpioene is skynbaar nie baie begerig om munisipaliteite wat rou riool in riviere en ander waterbronne stort voor die gereg te bring nie.

Agri SA se destydse landbou-ontwikkelingsplan was lank nie die eerste proaktiewe aksie vanuit georganiseerde landbougeledere nie. Vrystaat-landbou kom al jare met sy mentorskapprojek, waarvoor die regering lank die ore bottoe gedruk het, en toe in ’n stadium skynbaar omhels het – maar die volgende oggend weer aan geheueverlies gely het. So het Oos-Kaapse boere gesien dat die eens bekende Katrivier-lemoenboerdery ná “grondhervorming” tot niet gaan en mentorskappe aangebied – wat verwerp is. Vandag is daar nie meer Katrivier-lemoene nie.

So het die TLU SA sy planne op die tafel geplaas, en die verskillende rolspelers, wat swart landbou-organisasies insluit, het saam planne beraam.

Net om die volgende dag met ’n absurde “plan” gekonfronteer te word wat ’n amptenaar (lees politieke kommissaris) agter sy lessenaar uitgebroei het.

Kort-kort is daar skynbaar hoop. By geleentheid spreek Tina Joemat-Pettersson, toe minister van landbou, ’n landboukongres van Agri SA toe en vertel die boere dat die regering die boere altyd as die vyand beskou het, maar dat dit nou nie meer die geval is nie. Tina sal stellig as een van die swakste ministers van landbou (en ander portefeuljes) onthou word, maar die koerantargiewe vertel ’n verhaal van hoe opgewonde die leiers van die georganiseerde landbou was toe sy aanvanklik in die portefeulje aangestel is. Die opgewondenheid was geskoei op haar vertoning as Noord-Kaapse LUR vir landbou. Maar die argiewe vertel ook ’n verhaal van hoe vinnig die opgewondenheid verdamp en in wese in afkeer omgesit het.

Daar was ook belangrike hofsake, soos die bekende Modderklipsaak, waar die regering die hele roete deur tot in die grondwetlike hof pak gekry het. In die appèlhof het die regters die saak ’n ruk laat afstaan om die regering kans te gee om te skik, maar met die hervatting het die advokaat vir die staat laat blyk hy kon glad nie met sy prinsipale in verbinding kom nie.

Daar was dikwels mooi woorde van ministers van landbou, asook premiers en LUR’e. ’n Dag of wat later het die groot geheueverlies toegeslaan.

Suid-Afrika se kommersiële boere word as van die beste ter wêreld beskou, wat daarin slaag om onder grootliks rand-landboutoestande, ernstige droogtes, veediefstal van enorme omvang, skade deur roofdiere, veldbrande wat dikwels doelbewus gestig is, en les bes van die mees ondenkbaar wrede plaasaanvalle suksesvol te boer. Nie almal haal dit enduit nie, soos blyk uit die talle plase wat weekliks in Landbouweekblad geadverteer word.

Terwyl die werklikheid die boere dwing om hul plase te vergroot, kondig pres. Jacob Zuma in sy staatsrede ’n bo-perk van 12 000 hektaar aan. Later kom die vertroosting – slegs dit wat meer as die bo-perk is en nie benut word nie, sal vir herverdeling onteien word. Kort hierna val die minister behoorlik uit die lug met ander bo-perke, skynbaar sonder om ’n woord oor benutting te uiter.

Dit nogal van dieselfde minister wat met ’n onbekookte gedagte van 50-50-verdeling gekom het.

Min bedrywe is akademies en prakties so goed toegerus soos die kommersiële landbou in Suid-Afrika. Jaarliks word heelwat doktorsgrade in landbou toegeken, en nog meer magistergrade. Landbougrade staan vir geen ander graad terug wat die akademiese inhoud betref nie, en word deurlopend aan die praktyk blootgestel. Daar is landboudiplomas, en ’n deurlopende stroom kortkursusse wat oor aspekte van die boerdery aangebied word.

Maar uit hierdie ruim poel kundigheid kry die regering nie die nodige mense in gesagsposisies om so ’n belangrike bedryf te bestendig nie.

Landbou is van nature ’n strategiese bedryf wat aan talle wisselvallige faktore soos die klimaat en ander rampe uitgelewer is. Dit kos elke greintjie kundigheid, welvaart, innovering en strategiese denke om te kan oorleef, en nie net voedselsekerheid te bied nie. Dis soos ’n lewende organisme wat huisvesting, water en ander dienste, duisende plaasskole, talle klinieke en kerke en ander voorsien. Volgens die Nasionale Ontwikkelingsplan moet dit nog talle bykomende werksgeleenthede skep.

Maar om mee woer-woer gespeel te word en die ekonomiese wette wat dit onderlê met lugkastele te vervang, gaan beslis nie bydra daartoe dat landbou daardie werksgeleenthede geskep kry nie. Inteendeel.

’n Teenmiddel vir CTBS bestaan ongelukkig nog nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

zahn ·

More Herman, baie dankie vir die artikel. Ek verskil net op een punt, die heel laaste opmerking, daar is jare al ‘n teenmiddel op die mark, ons noem dit intellegensie. Maar sodra jy op jou verstand sit, bleik jy immuun te wees daarteen.

Lindie Lourens ·

Herman, weereens slaan jy die spykers so op hulle koppe!

Grassie ·

Die werklike redes vir die ANC se aanslag teen blanke grondbesit word meestal verswyg. Ons voorsate in Europa was dikwels in oorloë betrokke. Wanneer een party sien dat hulle gaan verloor het hulle oorgegee. Die gevegte is dan gestaak, die oorwinnaars het as helde na hul land teruggekeer. Die verloorders moes miskien belasting aan die oorwinnaars betaal, maar het verder na hul huise teruggekeer en met hul lewens voortgegaan. In Afrika het oorloë anders verloop. Niemand kon oorgee nie. Die verloorders is uitgewis en hul land geplunder. Hul vee en jong vroue is gebuit en die res doodgemaak. In Afrika- tradisie was dit reg.
In die denke van die Afrika-mens het hulle in 1994 die oorlog – die “struggle”- teen die witmens gewen, maar die witmens besit nog hul plase, hul vee, hul bakkies, hul Mecedese, en hul leef voorspoedig. Dis mos verkeerd. Hulle sal daarom nie ophou met hul aanslae teen die blanke boer totdat blankes geen grond meer besit nie. Mugabe is hulle held, want dit is wat hy gedoen het.
Instansies soos Agri-SA en Solidariteit neem mooi-klinkende besluite en spreek hul bekommernisse uit, maar wanneer hulle oor die kernoorsake van die ANC se aanslag moet praat loop hulle op eiers.
Ons het hier te doen met ‘n Afrika- kultuur teenoor ‘n eerste-wêreld kultuur en die twee is nie vereenselwigbaar nie.

J.Z ·

Die ANC se agenda vir landbou word nog verswyg sal nog na voore kom ,is nog in die sagmaak staduim.hou maar dop hoe dit verloop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.