Nuuskommentaar: Regering wat deur ideologie bloed uit ’n klip wil tap

Argieffoto.

Argieffoto.

Is dit nou die tyd vir die finale breekspul? Dit is nou reeds bekend dat die land enorme werksverliese in die gesig staar, terwyl radikale vakbonde die proses versnel deur salarisverhogings in (onder meer) die mynsektor te eis wat net nie met die huidige ekonomiese werklikheid strook nie. En die regering se reaksie? Die minister van mynwese, Ngoako Ramatlhodi, ontbied die mynhuise om saam met ander rolspelers ’n beraad te hou om te kyk of die werksverliese voorkom kan word. Dis op die oog af ’n lofwaardige poging, maar ongelukkig bitter laat in die dag aangepak, en met min styl. Die mynbase is voor die vakbonde uitgetrap.

Die probleem is kompleks, en in baie opsigte iets waaraan min gedoen kan word. China se verlangsaming in sy groeikoers het die pryse van talle mynbou- en vervaardigde produkte onder druk geplaas. Terwyl die goud- en platinumpryse die kreeftegang gaan, eis die radikale vakbonde verhogings wat sou aandui dat daar nie ’n probleem in die wêreld is nie. En verwyt dan kapitalisme vir die somme wat nie wil klop nie.

Intussen stort China sy surplusse van staal- en ander produkte op die wêreldmark – surplusse wat juis weens die verlangsaamde ekonomie ontstaan het – en plaas ook vervaardigingsnywerhede in Suid-Afrika onder druk om personeel te verminder.

Suid-Afrika kan min doen om China se ekonomie weer op dreef te kry.

Voorts het Suid-Afrika se arbeidsmark ook nog nie van die uitgerekte platinumstaking van 2014 herstel nie, aldus navorsing van Solidariteit se Navorsingsinstituut. Solidariteit is ook krities oor die rol van die Kamer van Mynwese in loononderhandelinge met vakbonde.

Boonop moet die regering nou hard werk om Suid-Afrika se voortgesette insluiting in Agoa te verseker. ’n Deel van die probleem, so lyk dit op die oog af, is dat voorbehoude wat die VSA het in Suid-Afrika in ’n burokratiese proses verslons geraak het waar voete gesleep is.

By ’n groot deel van die publiek (kiesers) bestaan die geloof steeds dat “die regering moet sorg”. Daar is min aanduidings van teenprestasies soos om huise te kry, of ’n verantwoordelikheid teenoor die sektore wat die inkomste vir die staat genereer om sulke dienste te lewer. Maar ook hier draai die wiele op die oog af vas. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteitbeweging, verwys na navorsing van 2014 deur prof. Jannie Rossouw van die Universiteit van die Witwatersrand dat net twee begrotingsitems oor net 11 jaar van nou af die ganse begroting sal verteer – die begrotingsposte vir maatskaplike toelaes en die staat se eie salarisrekening. Die sogenaamde onproduktiewe sektor is nie die beste plek om beskikbare kapitaal te belê om ekonomiese groei te bewerkstellig nie.

Geen wonder Beeld en Die Burger kom vandag in ’n gedeelde hoofartikel tot die slotsom dat die regering nie die omvang van die krisis verstaan nie.

Die verhaaltjie van die gans wat die goue eiers lê, is baie goed bekend, maar dis op fiksie geskoei. En hoewel die regering nou met die aanbied van die land se geskiedenis ook bitter na aan fiksie kom, is die ekonomie leeuwêreld om met fiksie, ideologiese stramheid en populisme skade aan te rig. Ook Dan Kriek, president van Vrystaat Landbou, het tydens dié unie se jaarkongres na die gevare van ekonomiese populisme verwys. Hy het die net egter wyer uitgegooi en ook gewys op die gevare wat ideologie vir die land se grondwetlike vryhede inhou.

So lyk dit, sektor vir sektor is daar ’n groot klomp hindernisse waar die regering allesbehalwe sy veronderstelde rol speel om ’n klimaat te skep bevorderlik vir die groei van die ekonomie. Die rassebeheptheid wat beleidsgewys oral uitslaan, is nie die minste van hierdie kopsorge nie. In die proses is reeds agtergeraak met die doelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan – maar met die huidige gevry na die Vryheidsmanifes is dit nie onverwags nie.

Ekonome is bekend vir hul vindingrykheid. Suid-Afrika het baie knap ekonome, en baie antwoorde is in hierdie geledere opgesluit. Maar dan moet rolle effe verander – die regering moet meer luister en inskakel by werkbare oplossings. En daar sal nie plek wees vir ideologiese benepenheid nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Winston ·

Puik samevatting van die realiteit. Ons is egter oor die afgrond omdat ideologië belangriker is as feite. Die regering? Kleef nog vas aan apartheid en nie bereid om gewig in te gooi by die idees van ingeligte bekwame mense nie. Stel eerder kubane aan. Wat het geword van ons bekwame mense? Wat n gemors en op die rand van anargie. Tipiese Afrika regering en kan nie verander word nie. Good morning Zimbabwe. Tensy iets gebeur wat ons nie verwag nie.

Coenraad ·

Vir jare is die wat krities teenoor die bestel staan bespot en stil gemaak. Nou word ons vertel dat die situasie ernstig is. Die gemors het ‘n lang aanloop en met die beste wil in die wêreld sal nie oornag opgelos word nie – indien ooit. Ekonomiese groei is een van die vernaamste vereistes maar die sosialistiese denkrigtings fokus eerder bv op verdeling en gay- en vroue- regte as dit wat regtig saakmaak. Dit is oënskylik belangriker dat ‘n toekomste president vroulik moet wees as iemand wat bekwaam is.

Dr Pieter van der Dussen ·

‘n Deeglike maar meer as verontrustende uiteensetting.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.