Nuuskommentaar: Regspraak kan byt, maar Zuma kan klou

Pres. Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Hofsake het nou al telkemale pres. Jacob Zuma en die ANC se diaboliese planne gefnuik. Pas is Zuma verneder deur ’n uitspraak waar hy ’n presidensiële plig ontneem word omdat hy nie daarmee vertrou kan word nie. Die komende kongres kan hom ook in ’n rits hofsake vasloop as nie streng by die ANC se grondwet gehou word nie.

Selfs al byt die uitspraak van die Noord-Gautengse hooggeregshof in die stof onder appèl, sal pres. Jacob Zuma intussen aan die kortste ent trek. Dit lyk of die meeste regsgeleerdes meen die appèl sal nie slaag nie, en die DA, ondermeer, meen Zuma speel gebruiklikerwys vir tyd.

Die uitspraak is gelees deur regterpresident Dunstan Mlambo. In baie breë trekke kom dit daarop neer dat Zuma sy presidensiële magte soos deur die grondwet verleen, misbruik en so ander regsbeginsels dwarsboom. Die opvallendste is dat niemand regter in sy eie saak kan wees nie, en dat Zuma dit in effek doen deur mense aan te stel wat sy vervolging in die wiele ry.

Hiermee het ook die direkteur van nasionale openbare vervolging, Shaun Abrahams, se reputasie ’n dwarsklap soos min gekry. Sy aanstelling was ook onwettig.

Die aansoek is deur van die voorste nieregeringsorganisasies wat hulle vir die beskerming van die grondwet beywer, gebring. Hierdeur word die lys van sake, en veral saakmakende sake, waar Zuma die kous oor die kop kry, net al langer.

In alle billikheid moet die vraag gevra word of Zuma se vriende nie ’n punt beet het dat die howe in Suid-Afrika hul gesag “over reach” nie?  Weer eens, in alle billikheid, die howe het ook al gemaan dat partye nie met allerlei partypolitieke sake na die howe moet hardloop nie. Die howe het dus geen wens of behoefte om by regeringsake in te meng nie, maar is wel bereid om hul plig as waghond oor die grondwet na te kom. En wat oortreding van die grondwet betref, lyk dit of Zuma ’n gewoonte oortreder is.

Die uitspraak bied in ’n mate gerusstelling nadat verskeie van die grondwetskrywers erken het hulle het verbrou deur soveel grondwetlike magte aan die president toe te ken. Hul “verweer” is dat hul rolmodel destyds pres. Nelson Mandela was, wat hulle verwag het by die gees van die grondwet en met beste praktyke sou volhard in die gebruik van presidensiële magte. Hulle het beslis nie voorsien dat iemand soos Zuma president sou kon word nie.

Ook die nasionale openbare vervolgingsgesag het besluit om te appelleer – op grond van aansprake binne die NVG se topbestuur dat Abrahams besonder knap vaar. Die hofsaak het egter oor die wettigheid van sy aanstelling gehandel, met ’n bevinding dat sy aanstelling Zuma in staat stel om die reg te ondermyn. Om hierdie rede het die hof opdrag gegee dat adj.pres. Cyril Ramaphosa binne 60 dae ’n nuwe direkteur van openbare vervolging aanstel.

Intussen is die oë op Nasrec gerig waar die ANC die naweek sy leierskap-en-beleidskonferensie hou. Die ellelange registrasieproses by die Vrystaatse kongres gister, toon egter hoe ontwrigtend die registrasieproses kan wees as dit volgens die letter van die ANC-grondwet uitgevoer word. En volgens aanduidings gaan genoeg mense en instansies die proses met ’n valkoog dophou om hof toe te hardloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sê net ·

Zuma se leermeester was Mugabe ..al sy skills ge-erf..wat verwag jul hy gaan dieselfde pad loop en nooit uitgelig word tot SA is waar Zim vandag is nie. Maak oë oop.SA.

Hendrik ·

Ons oe is lankal oop en wat nou? Wat stel jy voor van hiervandaan?

Eish ·

Ja, ons oë is lankal oop. Dit is hoekom Jooste sopas wit monopoliekapitaal gehalveer het.

zoom zoom ·

Zuma beheer die land en al die howe so hy gaan nerens en is untouchable . So ons is terug met al Sy gemors.

HPV ·

Ons neem aan, onder die grondwetskrywers wat erken hulle het verbrou, is FW en Roelf Meyer. Hoe gaan hulle hul brouwerk regmaak? Vandag ly die hele land onder hul onbevoegdheid en kortsigtigheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.