Nuuskommentaar: Regstellende aksie of rampstellende aksie?

anc-vlagVir diegene wat dit nog nie agtergekom het nie: om apartheid te blameer vir dinge wat haper blyk heel duidelik deel van die ANC se verkiesing-“strategie” te wees. Die jongste was toe die premier van Limpopo die probleme in sy provinsie aan apartheid toegeskryf het.

Selfs al sou dit waar wees, is die vraag of dit wys om nog die oorlede tsaar se lyk op te grawe en agter perde deur die strate te sleep? Behalwe om ondersteuners van die tsaar te ontstel, watter sin maak dit anders as om eie mislukkings te verbloem?

As iemand ‘n hond wil slaan, sal hy wel ‘n stok kry. Soos die Oos-Kaapse munisipale raadslid wat tydens ‘n droogte die waterskaarste op apartheid se brood gesmeer het. Die vorige regering het groot damme gebou, wat lank neem om vol te loop. Het die vorige regering liewer kleiner damme gebou het hulle gou volgeloop, en sou daar nie waterprobleme wees nie! En siedaar, die droë krane is apartheid se skuld.

Ras bly ‘n potensieel erg polariserende saak. Toe twee wit studente ‘n swart student na bewering op die Kovsiekampus omry en na bewering aanrand, is nie gewag vir enige ondersoek om te bepaal of dit werklike rassevoorval was nie. Dit is summier tot rassevoorval verklaar, en dit lyk of die Reitz-vier se spook opgerakel word sonder om, soos destyds, veel te bodder oor feite. Hulle is reeds geskors, terwyl die SAUK se bedryfshoof, wat volens ‘n verslag deur die Openbare Beskermer, met ‘n matrieksertifikaat gekierang het en hom aan verskeie erge vergrype skuldig gemaak het, nog ongeskors in sy pos sit.

Pres. Jacob Zuma se reaksie op die kritiek op sy staatsrede is dat “regstellende aksie” verskerp gaan word. Dit kan slegs gemotiveer word deur aan te voer dat olie apartheid nog te blameer is. En natuurlik word verswyg dat dit nie die ANC is wat apartheid afgeskaf het nie, maar die vorige regering wat reeds ‘n paar jaar voor 1994 die laaste apartheidswet uit die wetboek verwyder het.

Waar lê die probleem dat die ANC dit nodig vind om erg polariserende maatreëls en wette wat as niks anders as neo-apartheid beskryf kan word nie, so vasbeslote te bly dryf? Is dit alles die sleureffek van ‘n stelsel? Of moet die probleme meer onlangs gesoek word soos die ANC se beleid van kaderontplooiing (wat duidelik ongrondwetlik is omdat die grondwet so iets net “in ‘n mate” aanvaarbaar maak), die vorming van ‘n eietydse adel wat oor en oor bevoordeel word, of is dit eerder verbandhoudend met verskynsels wat internasionaal voorkom? Hoekom het 50% van jong swart Amerikaanse mans ‘n arrestasierekord, en “net” 38% van die blanke jong mans, en 48% van die jong “Latino’s” ?

Hoekom reageer die Departement van Waterwese so dreigend op AfriForum se eie “groen- en bloudruppelprojek” om munisipaliteite te help?

Internasionaal is die momentum om dit wat as regstellende aksie bekend staan te ontras. Soos ons grondwet dit duidelik stel, veel meer faktore as ras bepaal sosio-ekonomiese agterstande. Mense met gestremdhede wat ‘n belangrike bydrae tot die ekonomie kan maak, trek nog op groot skaal die kort lootjie. Pres. Barack Obama wys daarop dat sy dogters nie vir regstellende aksie behoort te kwalifiseer nie, want hulle het in hul lewe nog nooit ‘n dag se agterstand weens rassediskriminasie ervaar nie.

Daarteenoor is daar kinders van ander  rasse wat onder erbarmlike omstandighede en grootliks gestroop van geleenthede grootword.

In Suid-Afrika is die momentum egter om ras as norm te verabsoluteer, ongeag die skade wat dit aan die ekonomie en dienslewering aanrig, en dan soos ‘n kanker wegvreet aan dit wat bereik wil word.

Solidariteit en ander instellings veg die een saak in die howe na die ander.

Terwyl die Renate Barnard-saak volgende maand deur die Grondwetlike Hof aangehoor word, en die DKD-saak se appèlproses ook in werking gestel is, word die land deur die een berig na die ander daaraan herinner dat die beleid wat al soveel keer in die howe bloedneus gekry het, steeds toegepas word. ‘n Wit kaptein in die SAPD kan nie ‘n oorplasing Wes-Kaap toe kry nie, want dit sou die rassedemografie versteur. Anders as die DKD wat ‘n nasionale departement is en bloedneus gekry het met sy beleid van nasionale rassedemografie, is die polisie nié ‘n nasionale departement nie. Dit is volgens die grondwet ‘n gedeelde nasionale en provinsiale funksie.

Die Tshwane-metroraad het nie die mees verdienstelike aansoeker vir ‘n pos aangestel nie, al was hy daarvoor aanbeveel, omdat hy weens sy ras nie veronderstel was om vir die pos te kon aansoek doen nie.

Die SAL wil sy vereiste vliegure drasties verminder om ‘n meer verteenwoordige rassesamestelling in die stuurkajuit te hê. Heel ironies kry die burgerlugvaartowerheid terselfdertyd by die Parlementêre komitee opdrag om veiligheidsmaatreëls te verskerp na verskeie noodlottige ligte vliegtuigongelukke, waar die onervarendheid van die vlieëniers as een van die hoofoorsake beskryf is.

Die destydse spitsvondige minister van Vervoer, Hendrik Schoeman het oor die baie klagtes oor die SAL se kos, gevra: “Wil julle vreet of wil julle vlieg?” Nou, so lyk dit op die oog af, sal die passasiers darem lekker kan eet…

Dit is duidelik dat die ANC van die verkiesing ‘n rassesensus probeer maak. Die prys is ongelukkig rassepolarisasie.

Die probleme wat die DA nou ervaar is heel waarskynlik die gevolg van die instandhouding van persepsies oor sake soos die sleureffek van rasse-benadeling en grondbesit deur die ANC. Solank verskillende rasse grootliks verskillende persepsies oor sekere kwessies koester, sal partye dit moeilik vind om werklik tot nie-rassigheid te ontwikkel. Die ANC was ‘n vroeë slagoffer hiervan toe ‘n onlangse Ipsos-Markinorpeiling aangedui het die ANC het nou so min wit ondersteuning dat dit nie meer as ‘n persentasie uitgedruk kan word nie. Daarteenoor het Julius Malema se EFF een persent blanke steun. Die ANC se steun onder bruin mense en Indiërs is ook volgens die peiling effektief onbeduidend.

Die aanduidings is dat die land hom die volgende twee maande tot die verkiesing moet staal vir ‘n aanslag soos min van ‘n “verkiesingstrategie”

om te verseker dat die verkiesing weer ‘n rassesensus sal wees. Olie apartheid gaan gereeld opgegraaf word, gegesel word en deur die strate gesleep word. Beloftes dat mense beloon gaan word vir die feit dat hulle swart is, gaan verskerp word.  Burgerlike instansies wat wal gooi – ook in die howe – gaan erg verkwalik word weens die dwarsboming van “legitieme verwagtinge” en die “rysmier” van “demokrasie” (wat al hoe meer die kodewoord word vir wat niks anders is as ‘n diktatuur van die meerderheid nie).

Terwyl die ware demokrasie vereis dat die regerende party in algemene belang regeer. Nie in kaderbelang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

alet ·

Laat hulle ophou met aparrtyd en plan sien om sy stat(stad) reg te kry met al die drugdeelers en sy vuil straate die plek was net skoon met die wereld sokker

Slim Daan ·

Hoekom vermoed ek jy is n Afrikaanse onderwyseres in die nuwe SA ? ( As jy nie ween nie, gaan ek. )

JOHAN ·

Iets wat die swartman en A N C nie graag sal wil hoor nie,bring die witman weer terug om die infrastruktuur in die land reg te ruk, ons het immers dit ontwerp gebou en voor betaal, ons kan dit regmaak en bedryf soos dit moet wees.

Johan Brits ·

Die Suid-Afrikaanse politiek gaan nog lank deur ras en rassehaat oorheers word.

Dan ·

Ek weet nie hoekom SAL en die ANC so sukkel om BEE loodse in die SAL aan te stel nie – dit is nou al twintig jaar en geen vordering is gemaak nie. Dit terwyl die blanke oral uitgewerk is, maar hy bly goed genoeg om die blinkvet “menere” oral rond te vlieg op die belastingbetaler se koste. Ek “demand” dat alle blanke loodse onmiddelik die trekpas kry, dat swart loodse in hul plek aangestel word, en dat laasgemelde die spekvet, blink amptenare orals rondvlieg. Laat ons sien hoeveel vliegtuie en spekvet “menere” en “ladies” sulke regstellende aksie oorleef. Kom wys ons, ons wag in spanning.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.