Nuuskommentaar: Renate Barnard, Adriaan Basson en persvryheid

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit.

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit.

Later dié maand vind ‘n uiters belangrike saak plaas – die grondwetlike hof wat oor die saak van Renate Barnard moet beslis nadat die staat teen die appèlhof se uitspraak ten gunste van Barnard en haar vakbond, Solidariteit, geappelleer het.

In vereenvoudigde terme sal die grondwetlike hof uitspraak lewer oor die grondwetlikheid van die regering se skerp rassefokus op regstellende aksie.

‘n Klein Facebook-inskrywing deur die adjunkhoof van Solidariteit, Dirk Hermann, laat rooi ligte oor ‘n breë spektrum helder flits:  “Dirk Hermann skryf: #stopras  Byna klaar met TV-advertensie oor Renate Barnard-saak. Klaar betaal en bespreek en nou wil DStv nie advertensie uitsaai. Hier kom lekker geveg.”

Tot tyd en wyl die grondwetlike hof anders sou besluit, is die appèlhof se uitspraak die geldende reg. Die departement van korrektiewe dienste het onlangs weer bloedneus gekry toe dit voortgegaan het om ‘n rassediskriminerende beleid toe te pas “omdat die uitspraak teen die DKD op appèl is.”

Op die oog af lyk dit asof DStv nou dieselfde houding inneem, en in die proses téén die geldende reg inneem.

Talle van diegene wat kommentaar op die Facebook-inskrywing lewer, meen die rede vir DStv se optrede moet in die bande met Nasionale Pers gesoek word. Formeel ondersteun Naspers en sy filiaal, Media 24, die beriggewing van Beeld se redakteur, Adriaan Basson, oor die PUK-kwessie, iets waaroor lesers tot ‘n lesersverbod opgeroep word. Hierin staan Solidariteit ook sentraal.

En hiervoor kom Solidariteit uit talle oorde, meestal bekende liberale kringe, onder skoot.

Dit sou waarskynlik ‘n te groot sprong wees om ‘n regstreekse verband tussen die PUK-veldtog en die DStv-besluit oor die Renate Barnard-kwessie te trek.

Tog bly dit pikant dat die aandrang op persvryheid (selfs al is daar wanvoorstellings) so sterk gedryf kan word, terwyl uit dieselfde dampkring ‘n besliste teenkanting teen persvryheid is, as die skoen aan die ander voet verkeer.

By geleentheid het die menseregte-aktivis, Rhoda Kadalie, in haar rubriek in Die Burger geskryf politieke korrektheid is die diktatuur van die liberalis. Die liberalis kan die grootste voorstander van persvryheid wees, solank die boodskap wat oorgedra word die liberale denke ondersteun.

Daar is meriete daarin om te argumenteer dat die liberalisme morele kapitaal verwerf het deur in die eerste plek die beginsel van persvryheid te vestig. Daarsonder sou die stryd teen magsmisbruik, korrupsie en talle ander euwels kwalik gevoer kon word.

Dit is egter ook so dat die liberalisme lank nie meer die alleen-eienaarskap het van talle eienskappe van die demokrasie nie, soos onder meer persvryheid. Dit word deur bykans alle ideologiese groeperings soos ook die Christen-demokrasie omarm. Trouens, dit is juis uit hierdie geledere waar die meeste besware kom dat die liberalis dikwels ‘n skyn persvryheid bedryf deur die nuus so te plooi dat dit ‘n liberale agenda dien, maar in die praktyk dikwels uiters onverdraagsaam teenoor ander denke staan. Die opkoms van veral die internet plaas hierdie “skyn-persvryheid” onder erge druk omdat dit die nuusmonopolie omseil.

Verkoopsyfers dui inderdaad daarop dat koerante, ook in Suid-Afrika, se verkope daal. Die afgelope drie jaar het Beeld se verkope met ongeveer 30% gedaal, teenoor Die Burger waarvan die daling minder as 20% was. Sensussyfers toon dat die migrasie na Gauteng eerder tot ‘n styging in Beeld se verkope moes lei.

Die gedrukte koerante, en in die besonder Afrikaanse koerante, is onder groot druk. Een van die “verskonings” wat soms aangebied word vir die afname in lesersgetalle is die “swak gehalte van joernalistiek” wat nou ervaar word. Die feit is egter dat daar in die media ook talle baie knap en eerbare joernaliste is. Joernaliste met ‘n passie en lojaliteit vir die joernalistiek, wat wyd trap as dit by persoonlike en politieke agendas kom. Dit is die kaliber mense wat in beheer van die media moet staan.

Die Afrikaanse media is belangrik vir die volwaardige bestaan van Afrikaans. Maar dan moet die Afrikaanse media ook toon dat dit nie afsydig staan teenoor die regte van sy teikenmark nie. Meningsvorming het grense.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

henk ·

Absoluut weens die verbintenis tussen Basson en Bekker in hulle broederbond of wat die gespuis hulle self ookal wil noem! Dieselfde gespuis wat ‘n belangrike rol gespeel het in die spontane oorgawe van ‘n eens suksesvolle en gerespekteerde land aan terroriste

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.