Nuuskommentaar: Resep vir struggle-uitsaaiwese en kluitjies

Argieffoto

Argieffoto

Die begrip, struggle-boekhouding, is baie goed bekend. Maar nou leer die SAUK vir Suid-Afrikaners presies hoe die resep vir ‘n uitsaai-heksebrousel lyk.

Die bestanddele vir struggle-uitsaaiwese en kluitjies is:
– struggle-CV’s met gefabriseerde kwalifikasies;
– ‘n minister as “chef” wat skynbaar haar kookkuns by die bosskool aangeleer het;
– ‘n string kluitjiebakkers wat die een wolhaarstorie na die ander opdis oor wat van die Afrikaanse nuusbulletin word;
– ‘n resepteboek wat herskryf word soos wat die bestanddele in die pot gegooi word; en
– ‘n goed-ontwikkelde middelvinger vir diegene, soos die Openbare Beskermer, wat verwag dat die resepteboek nougeset gevolg word, dat opgeleide chefs in beheer moet wees, en waar die middelvinger ook ingespan word vir veral sommige maaltydgangers, soos Afrikaanse kykers.

En siedaar: Almal “struggle!”

Die uitgangspunt is blykbaar dat alle Afrikaanssprekendes ryk is, en daarom satelliet-TV moet kan bekostig. Veral bruin kykers wat in die Wes-Kaap gemarginaliseerd ge-SEB word, sal wonder oor daai ene. Doen dan jou bes om hierdie segment uit te dryf, en met hierdie kykers wat “lastig” is met hul aansprake op gelykberegtiging en gehalte vort, kan daar na hartelus gebrou word om ‘n uitsaaidiens daar te stel wat ‘n piesangrepubliek waardig is.

Dit moet bitter swaar wees vir die talle professionele en kundige werknemers wat regtig hard werk om ‘n gehalte diens te lewer, wat ongelukkig al meer en meer na die radiodienste gerangeer word. Ook Afrikaans kom daar meer tot sy reg, hoewel die “nuutskeppings” vir bekende Afrikaanse woorde soms taalmense na vlugsout laat gryp.

Maar lig die hoed hoog vir diegene wat werklik hard probeer en binne die kader-beperkings wat aan hulle gestel word ‘n professionele diens met integriteit lewer.

Sondag het Rapport reeds in sy redaksionele standpunt vrae gevra oor die regverdiging dat TV-lisensies betaal moet word voor die SAUK nie sy sake in orde kry nie. Soos sake nou staan weet die kliënt werklik nie waarvoor hy sy lisensiegelde gaan opdok nie. Sal hy nog die Afrikaanse nuus kan opvang? Die SABC 3-kanaal waarheen dit verskuif word, word in groot dele van die land, hoofsaaklik Afrikaanssprekende dele, glad nie opgevang nie.

Gaan die TV-nuus sy bestaande kwota vir berigte oor plaasmoorde darem bietjie opskuif? Of gaan daar steeds ‘n skewe beeld hieroor voorgehou word? Hoe suksesvol gaan al die aksies om die vreemdhede reg te ruk nou wees?

Die Media Workers Association of South Africa (Mwasa) het ‘n dispuut met die SAUK verklaar, die DA is op pad hof toe, en die Openbare Beskermer het met ‘n nuwe ondersoek begin. Voorts blyk dit dat die SAUK nou in effek ‘n interdik wat Mvuzo Mbebe in 2008 teen die SAUK verkry het, verbreek het. Mbebe se regsverteenwoordiger gaan nou ook antwoorde van die minister eis.

En selfs al word alles nou reggeruk, hoe lank voor die kaderbeleid weer sake onder ‘n Goebels-generaal die afgrond instuur?

Dit, voor dit nog bekend geword het dat die SAUK sy belofte verbreek om die Afrikaanse nuusbulletin na sy ou uitsaaigleuf en kanaal terug te skuif na die sokker verby is. Tussenin is kykers met kluitjies gevoer oor wat aan die gang is.

Baie vrae bestaan oor die politieke dampkring waarbinne die aanstellings gemaak word. Ná ‘n woordvoerder van die SAKP sy tevredenheid met Hlaudi Motsoeneng se vaste aanstelling as operasionele hoof te kenne gegee het, het die SAKP by monde van dr. Blade Nzimande erg omgekrap reageer. Binne die ANC is klaarblyklik groot verdeeldheid oor die aanstelling en wil niemand werklik pa staan vir die minister se optrede nie, ook nie die kantoor van die president nie. Maar die woordvoerder van die minister het gesê die president is geken.

In die proses lyk die minister se posisie al slegter. As sy as nuwe minister ‘n nuwe besem na haar portefeulje gebring het, moet sy hom dringend terugneem na waar sy hom aangeskaf het, haar geld terugeis, en ‘n ander nuwe besem by ‘n ander leweransier gaan aanskaf. Anders staan sy binnekort alleen, en moet die stortvloed alleen trotseer.

Dit sal waarskynlik net die minister verbaas as daar nou weer ‘n lisensieboikot-veldtog begin word, of ‘n instansie dalk kyk of die SAUK nie in terme van die verbruikerswet opgedreun kan word nie.

Want soos sake nou staan, weet die kliënt omtrent net dat hy met sy lisensiegeld ‘n verrassingspakkie aanskaf. Hy weet wat hy nié op TV gaan kry nie – byna geen regstreekse sport nie, bitter min Afrikaans, bitter min kykbare programme waarvan die grootste gros wat daar wel is, in elk geval eers na gewone mense se slaaptyd uitgesaai word.

Wat hy wel in oordaad gaan kry is Zuma en nogmaals Zuma. Daar is juis pas aangekondig dat Zuma nou uitgerus is en weer volstoom aan die gang gaan kom. En verwag maar dat Afrikaanse kultuurinstellings en burgerlike instellings vandag die mond goed gaan uitspoel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Natasha ·

Dis waar dat daar niks meer goeds op tv is nie ek skakel my tv deesdae maar min aan. Ek kan nie dstv beskostig nie so ek kyk so hier en daar iets op Sabc 2 en 3 maar daarna is dit af. Wens hulle wil iets nuuts op sit al die programme wat mens kyk het mens al oor en oor gesien. Waarvoor betaal ons tv lisensies net om na herhalings te kyk. Ai ai ai

Andries Vermeulen ·

Ek dink min besef dat ongeveer 47% van TV lisensie betalers afrikaans sprekende kykers is. As die 47% besluit om nie meer te betaal nie is SABC binne 3 maande bankrot, probleem is ons staan nooit saam nie en kies eerder die weg om te kla. Ons het die mag in ons hande, maar is te bang om dit te gebruik. Die grootste meerderheid TV kykers wat nie hul lisensies betaal nie is hoofsaaklik die swart kykers wat deur die Afrikaans sprekende kykers gesubsideer word sodat hul taal meer kyktyd kan geniet.

PJ ·

Andries ek sekondeer. Wanneer wil die mense vir ‘n slag saamstaan en weier om lisensies te betaal. Staak ‘n slag ook en wys daar is krag in die earlike lisensie betaler se hande. Dalk skrik die SABC hoof wakker vir ‘n slag en bedank oor sy onbevoegdheid.

PJ ·

Andries ek sekondeer jou. Wanneer wil die mense besluit om saam te staan? Indien die earlike tv lisensie betaler besluit om te staak is SABC bankrot. Dalk is ons so gelukkig en besluit huidige bestuurshoof om te bedank en te gaan leer vir sy matriek.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.