Nuuskommentaar: Rissiepit versus tierboskatwyfie, en die raaisel oor min vroulike onafhanklike kommentators

Afrikaanse lesers word deur ‘n groot spektrum onafhanklike kommentators bedien – baie goeies, redelikes en baie swakkes – maar byna almal mans. Onder die vroulike kommentators wat hul stuiwers uitdeel, staan een naam kop en skouers uit – Rhoda Kadalie. Kadalie, al skryf sy waarskynlik meer in Engels – Rhoda die rissiepit of die Afrikaanse weergawe van ‘n Karen Blikzem.

Heel dikwels slaan die bliksemstrale behoorlik uit Rhoda se pen en rammel die donderweer nog lank daarna uit haar pennevrug. Onafhanklik in die ware sin van die woord wat haar onderskei van die ander, meestal tweedeligadeelnemers, wat ook ander bekende vroulike deelnemers insluit. Maar selfs met hierdie spelers ook bygetel, is die somtotaal maar skraps vergeleke met die mans.

Dit beteken nie dat daar nie vroue is wat inhoudelik en gehaltegewys met Rhoda kan saamgesels nie – Alana Bailey van Afriforum, wat uitstekende bydraes vir Maroela Media se Groot Debat lewer, en Anne-Marie Joubert, een van Radio Pretoria se kommentaarskrywers wat werk lewer wat soms haas onverbeterlik is. Omdat die groot media in Suid-Afrika neig om liberale denke voorkeur te gee, word die ruimte waarbinne middelgrondskrywers skouers kan losmaak baie beperk, en bly baie vroue wat werklik goeie onafhanklike kommentators kon wees in die koue.

Die onafhanklike nuuskommentators moet nie met rubriekskrywers oor die algemeen verwar word nie. Hier hou die vroue loshande by die mans kers vas, en oortref heel moontlik die manneliga wat kwaliteit betref. Rhoda is ‘n byna unieke uitsondering – sy is ewe krities op liberale denke as op die verkrampte, en het politieke korrektheid al in ‘n rubriek die diktatuur van die liberalis genoem. Maar nou gaan Rhoda skynbaar in die afsienbare toekoms vir die land verlore wees, en die vraag ontstaan wie haar vroulike skoentjies gaan volstaan. Want, man of vrou, die Afrikaanse toneel van onafhanklike politieke kommentaar gaan veel armer sonder haar wees.

Op die oog af woed daar ‘n kietsiegeveg tussen Rhoda, en nog ‘n bekende kommentator, prof. Amanda Gouws van die US. Op die oomblik lyk dit of ‘n Stellenbosse filosofieprof nie al prof uit daardie geledere is wat ‘n drag slae op die lyf aan die loop is nie. Voor verder na die aard van die geveg gekyk word, is dit nodig dat net kortliks gekyk word hoe die geledere van ander min of meer vaste vroulike, Afrikaanse onafhanklike kommentators daaruit sien. Min of meer twee se name van die gedrukte media bied hulself aan: Ilse Bigalke en Zelda Jongbloed, beide uit Die Burgerstal.

Beide lewer periodiek meesterstukke op, maar Ilse se fokus op die mooie en goeie skep dalk in die ongenaakbare Suid-Afrikaanse konteks te dikwels die beeld van effense naïwiteit vir die harde speeloppervlak van onafhanklike kommentaar. Zelda is, wat deelnemer betref dalk net ‘n bietjie te nostalgies gister se soldaat, maar terwyl dit geskryf is, is haar jongste rubriek reeds in Die Burger geplaas waarin haar kop in Rhoda se rigting begin werk. Om die perspektief ten opsigte van net een saak te stel: In Die Burger se argief is daar net een verwysing van Zelda en plaasmoorde, en dis deur iemand anders in ‘n brief geskryf. Ilse vaar effens beter, met 13 trefslae sedert 1998, nie almal uit haar rubrieke nie. ‘n Minder bekende (manlike) onafhanklike kommentator lewer byna 9 000 trefslae elk op Google op vir plaasmoorde en plaasmoord.

Iemand kan doodeenvoudig nie ‘n onafhanklike kommentator wees, en selektief met die aktualiteitsnuus omgaan nie.
Dat die lys hier so kort is, is geen refleksie op die kwaliteit van onafhanklike denke onder die vrouegeslag nie. Verskeie vroulike deelnemers aan RSG se program, Kommentaar, het al gewys hulle is uitstekend, bv prof. Scarlette Johansen van die US, en Mari Harris, eintlik meer bekend as ontleder van peilings. Het die vroulike Kommentaardeelnemers ‘n groter Afrikaanse pennevrug gelewer, sou die verhouding van mans op hierdie veld, en vroue, ook nie skeefgetrek gewees het nie.

Terug by Rhoda en Amanda … in die artikels oor die katgeveg word gemeld van Rhoda se baie vyande. Heel waarskynlik word dit te veel vermeld, en dat sy baie ondersteuning geniet, te min. ‘n Onafhanklike kommentator is immers nie daar om te skryf waarmee mense noodwendig saamstem nie – hy, of sy, moet die lesers se gedagtes prikkel, die demokrasie en demokratiese denke verryk, en terselfdertyd nootvas by die feite bly. Amanda is as kampvegter vir vroueregte baie bekend, maar in die katgeveg probeer sy haar identifiseer met ‘n groep waarvan sy nie deel is of was nie – die sogenaamde voorheen-benadeeldes. Rhoda se kritiek hierop is kernagtig dat Amanda van gewese slagoffers huidige slagoffers wil maak, en in die proses juis die mense vir wie sy so kop uitsteek, van selfrespek stroop. Hierin pas Rhoda naatloos by moderne Europese denke in – dat iemand wat bakhand aalmoese vra eintlik deur aalmoese beledig word – hulp wat selfrespek bou en volhoubare broodverdiening stimuleer, is nou in. Lees meer hier en hier.

Dat die geveg sy oorsprong het in ‘n samekoms wat Amanda met ‘n paar enersdenkende kommentators soos Jan-Jan Joubert en Christi van der Westhuizen gehad het, beteken Rhoda se kritiek is dus nie in die eerste plek op Amanda gefokus nie. Amanda het egter terugbaklei, met waarskynlik die geldigste argument dat Rhoda té onkrities oor Israel is. Lees meer hier.

Met die fokus op geslagsgelykheid is dit te wagte dat die media die skaarsheid aan vroulike onafhanklike kommentators op ‘n manier sal probeer regtrek. ‘n Uiters ongelukkige gevolg is dat platforms verskaf word vir onhebbelike swak “onafhanklike” vroulike kommentators, en so die taak vir ander vroue om deur te breek nog verder bemoeilik. Omdat die mededinging onder mans sterker is, is die swakkes gou tot ‘n eensame geteem tot hul eie blogs uitgerangeer. Veral in die digitale era is dit nie maklik om ‘n onafhanklike kommentator te wees nie. Verskuil agter skuilname sal enige kuberterroris sy mond oor ‘n kommentator se harde werk kan uitspoel.

Selfs georkestreerde aanslae kom voor waarin besonder skraps met die waarheid omgegaan word, en vitrioel mildelik ingespan word. Leopold Scholtz, waarskynlik Media 24 se beste eksponent van ‘n onafhanklike kommentator, loop van links, wat hom as neo-konserwatief uitskel, en van regs wat hom as liberalis probeer brandmerk, deur. Geldige kritiek op onafhanklike kommentators is nie net aanvaarbaar nie maar wenslik. Dis ‘n belangrike klankbord vir verbetering. Die ongeldige smerighede is egter moeilik te verteer, en ja, die vraag bestaan of daar baie vroue is wat onder dié vitrioel die smaak vir onafhanklike kommentaarwerk sal behou.

Maar dan, vroue is in beheer van ‘n paar van Suid-Afrika se belangrikste politieke partye, en hulle gedy. Hulle skroom ook nie om hul sê te sê nie, al besorg ‘n onparlementêre woord ‘n tydelik skorsing, en al sou die vingertaal wat ‘n ander op die Kovsiekampus ingespan het net blindes nie ontstel nie. En die vitrioel wat teen hulle ingespan word, is ook maar rof. Sonder ‘n behoorlike vroue-aandeel is onafhanklike kommentaar in Suid-Afrika armer. Maar, in die idioom van Rhoda, sou ‘n spesiale poging om die vroulike talent raak te boor as ‘n belediging deur vroue ervaar word – dat spesiale maatreëls getref moet word om in gelyke verteenwoordiging toe te tree? Miskien eerder ‘n uitdaging?

In die mededingende wêreld vandag waar gedrukte koerante oor die algemeen agteruit boer, is dit byna ondenkbaar dat ‘n redakteur of senior redaksielede nie ook ‘n profiel as onafhanklike kommentator sal hê nie. Nie alle redakteurs kan sulke vaardige kommentators as ‘n Tim du Plessis of Ferial Hafferjee wees nie, maar algehele onsigbaarheid isoleer die koerant as meningsvormer van sy gemeenskap. Die opkomende geslag vroueredakteurs het dus nie ‘n keuse nie – beskroomdheid is nie ‘n luukse wat bekostig kan word nie. Hoofartikels, gewoonlik spanpogings en naamloos, of selfs duidelik gesindikateer en aktueel verouderd doen nie meer die ding nie. Die Volksblad hét nie eens meer Saterdae ‘n hoofartikel nie. ‘n Groot koerant waar die persepsie posvat dat ‘n redakteur se grootste belangstelling nuwe resepte is, is in groot moeilikheid

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae