Nuuskommentaar: Robo sapiens en Homo horribilis

Atlas. Foto: Boston Dynamics

Swart Vrydag was net agter die blad toe lê Kuber Maandag die arme verbruiker voor. Kuber Maandag is in 2005 deur sakelui geskep om aanlynaankope na afloop van Swart Vrydag aan te moedig. Soos met Swart Vrydag is afslag op talle aanlyn-produkte aangebied. Hoewel die term nie so bekend is nie en selfs dalk in die vergetelheid verdwyn het, was dit op Swart Vrydag reeds duidelik dat aanlynkope iets alledaags geraak het, en talle aanlynkoop-webwerwe weens oorbelading nie bereik kon word nie.

’n Interessante verskynsel is dat hoewel gedrukte koerante al swaarder trek soos lesers na die kuberruim migreer, adverteerders nog minder entoesiasties is. The Guardian het dié feit onlangs nog onder aan sy kuberberigte onder lesers se aandag gebring, en vir geldelike hulp gevra. (The Times het volgens ’n berig dié week oor die afgelope tien jaar ’n verlies van meer as ’n miljard rand gely.)

Die eerste keer wat ’n gemeente se nuusbrief op papier beland is dikwels na die rou materiaal, foto’s ingesluit, per e-pos na iemand gestuur is wat die bladuitleg doen, dit proeflees en dan eers druk. Sommige gemeentes stuur ook ’n elektroniese weergawe eers vooraf na gemeentelede wat oor e-pos beskik. En dit raak ’n al groter wordende persentasie.

Is die wonderwêreld, wat al wonderliker word, veral vir diegene wat belangstel en byhou, nie besig om ’n soort gevaar vir die kroon van die skepping, die mens, in te hou nie?

Die bekende fisikus Stephen Hawkins het reeds gewaarsku oor gevare vir die mensdom sou kunsmatige intelligensie tot by ’n kritieke punt gevoer word. Hawkins is veral in die jongste verlede bekend vir vreemde uitsprake, maar het hy nie dalk ’n punt beet nie? Al hoe meer boeke en artikels verskyn immers waarin op die een of ander wyse teen robotte gewaarsku word wat deur hul gevorderde mensgemaakte intelligensie op die een of ander manier ’n gevaar vir die mensdom inhou. Die term, Robo sapiens, word sedert 2007 al hoe meer ingespan. Selfs “subspesies” sien die lig, soos Robo sapiens japanicus.

Die beskrywende opskrif van ’n nuwe artikel in Trouw lui: “Robo sapiens maakt ons slim, sterk en slachtoffer.”

Die hele kwessie oor die voordele en nadele, en die beskouing van bekendes soos Elon Musk en Mark Zuckerberg, word baie mooi in ’n artikel hier saamgevat. Musk neig om die toekomstige gevaar van AI as groot te beskou, terwyl Zuckerberg die gevare as gering beskou en vele voordele daarin sien. Ander meen die werklikheid lê iewers tussenin. Die werklike gevare volgens ander is minder kompleks – dit is eenvoudig iets soos dat dit ’n gevaar inhou vir werksgeleenthede vir mense.

Dit is wel duidelik dat in die ontwikkelingsproses nou reeds voorsiening gemaak moet word om die toekomstige AI so te programmeer dat robotte hul bestaan wy tot die voordeel van die mensdom.

AI is verder gevorder as wat baie mense besef. Atlas is ’n robot wat reeds van AI gebruik maak om soek-en-reddingsaksies uit te voer.

Wat egter lank reeds “tussen die mens woon” is Homo horribilis. Wêreldoorloë is al deur hul toedoen gevoer, en miljoene mense is al deur hulle om die lewe gebring, byvoorbeeld in die Uganda van Idi Amin. ’n Besoek aan ’n diereskuiling en die aanhoor van die geskiedenis van die diere wat uit hul omstandighede gered is, bring veral tuis hoe wreed Homo horribilis is. Ook die verhale van sommige van die kinders in kinderhuise laat die hare regop staan, en ’n mens is so dankbaar vir die talle engele wat daagliks onbaatsugtig uitreik.

Daar is natuurlik ’n ander weergawe van Homo horribilis, die elitis, ’n subspesie wat die politieke wetenskaplike besig hou. Dit is hulle wat hul land se ekonomie onder die gewone burgery uit plunder; leiers, of gewese leiers soos Robert Mugabe (flink gerugsteun deur sy vrou Grace). Hier te lande staan die subspesie geil, met staatskaping en korrupsie wat die land se ekonomie feitlik op die knieë gedwing het.

Beskik die gewone burgery in Suid-Afrika oor genoeg intelligensie om hierdie bloedsuiers te herken en van hulle ontslae te raak?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

WL ·

Ek het so ‘n paar weke gelede ‘n konferensie bygewoon waar kundiges oor AI gesels het. Hulle meen dat 95% van vandag se beroepe in die volgende 20 jaar deur AI vervang sal word. Nie noodwendig dat mense sonder werk sal sit nie, ons beroepe sal net drasties verander. Die een kundige het ook genoem dat dit eendag moontlik sal wees om jou neocortex na die “cloud” te kan oplaai. Dit klink eintlik belaglik, maar dit staaf jou punt dat AI al baie gevorderd is, en net eksponensieël sal vorder in die nabye toekoms.

Eish ·

Die antwoord op u vraag moet seker n hoofletter NEE, wees.
Dit is geoordeel aan die getuienis wat gelewer word in die parlement insake die Eskom kaping, asook die Life Ensidemi ondersoek, die Gupta eposse ensovoorts.
Sou daar n revolusie op nasionale vlak uitbreek oor spesifiek die korrupsie, sou die antwoord ja wees.
Tans, egter, is ons in n situasie waar die regerende meerderheid bepaal wie is die vyand. In n revolusie, bepaal die burgery self wie is die vyand.

Eish ·

Ek verkies tans om deur I, Robot, regeer te word as deur die kapasiteits en waarde gestremde Aaa en see.

WL ·

Met verwysing na my kommentaar hierbo, party mense redeneer dat mense nogsteeds sal nodig wees om die robotte te bou, maar AI sal later so gevorderd wees dat robotte op ‘n stadium hulself sal begin bou en herstel. En meeste mense redeneer dat kreatiwiteit, oorspronklikheid, idees, vindingrykheid, ens. nooit deur robotte vervang sal kan word nie. Maar selfs dit sal mettertyd deur AI gedoen kan word.
So of dit ‘n gevaar vir mensdom sal wees is ‘n baie goeie vraag.

Een ding is wel seker. hoe meer AI vorder, hoe minder sal die mensdom afhanklik van God (of ‘n god) voel, en hoe minder sal geloof ‘n rol in ons lewe speel.

En DIT is die grootste gevaar.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.