Nuuskommentaar: Rode Duivels en nasionalisme

Ondersteuners van België vier hul span se 1-0 oorwinning oor Engeland tydens die Groep G-kragmeting tussen Engeland en België by die Wêreldbekersokker-toernooi in die Kaliningrad-stadion in Kaliningrad in Rusland (28 Junie 2018). Foto: Hassan Ammar/AP

Heel anders as ’n baie aktiewe beeld van selfversekerdheid wat die Nederlanders in vorige wêreldbeker-eindtoernooie uitgestraal het, fokus die Belgiese span nou op ’n gees van beskeie selfversekerdheid. Maar volgens die Belgiese pers het die span se huidige suksesse ook ’n gees van nasionalisme laat posvat.

 Die wêreldbekersokker-eindtoernooi is besig om op sy einde af te stuur. Daar was reeds verskeie verrassings, maar die grootste verrassing van die toernooi is stellig hoe goed die Belgiese Rode Duivels so ver vaar.

So ’n verrassing moes dit eintlik nie gewees het nie. Die Belge is immers vyfde vir die toernooi geloot, en het waarskynlik ook die maklikste groepfase gehad.

Wat wel by die Belge van die vroeëre deelname van die Nederlanders verskil, is die styl. Met die toernooi in Suid-Afrika moes elke toeskouer eenvoudig weet wie die Nederlandse sterre is, soos Arjen Robben. Hierdie sterre sou die onmoontlike vir Nederland vermag.

Toe nou nie. Ja, maklik het hulle dit nie gehad nie, want kort voor lank was die meeste sterre gedaan, en het hulle roemloos na hul klubspanne teruggekeer.  Nou ontbreek Nederland en sy sterre by die toernooi.  Verder het die verskriklike lawaai van die vuvuzelas in SA dit byna onmoontlik gemaak om boodskappe aan ’n spesifieke speler oor te dra.

Sokkerspelers van België waai vir hul ondersteuners tydens die Groep G-kragmeting tussen Engeland en België by die Wêreldbekersokker-toernooi in die Kaliningrad-stadion in Kaliningrad in Rusland (28 Junie 2018). Foto: Michael Sohn/AP

Intussen laat die sukses die Belge met ’n oplewing van nasionalisme. In België is dit kompleks deurdat die Belge uit hoofsaaklik drie bevolkingsgroepe bestaan. Die grootste groep is die Nederlandssprekende Vlaminge. Voorts is daar die Franssprekende Wallone, en ’n kleiner groepie Duitssprekendes. Ingevolge die grondwet het elkeen ’n soort outonomie. Vreeslik baie onderlinge liefde is daar nie vir mekaar nie.

Afrikaanssprekendes wat na wedstryde van die Rode Duivels geluister het, sou sekerlik ’n glimlaggie kry oor van die vanne van die spelers. As die lys van die afgelope paar dekades deurgewerk word, is dit duidelik in hoe ’n mate die Vlaamssprekendes die spanne begin oorheers het. In 2008 het ene Eden Hazard die ding vir die Rode Duivels gedoen. Nog ’n opvallende naam is Bart Goor (1999 – 2008), Danny Boffin (1994 – 2002) en vele meer.

Die meer verantwoordelike media het gou die konflikpotensiaal hierin gesnap, en daarteen begin waarsku.

Woorde soos nasionalisme is diskreet gebruik, maar namate dit geblyk het die Rode Duivels maak hul stem dik, het die bekendstelling van nasionalisme al duideliker in verskillende formate die publiek begin bereik. Oproepe om nie met die Wallone die draak te steek nie, was later min of meer tydmors.

Vandag speel België en Frankryk in St. Petersburg in die een halfeindstryd. Die Duivels fokus op die bou van selfvertroue, maar nie om in die wolke te leef nie.  Vir beide spanne is dit nou reg of weg.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

FB ·

Wil MM nie maar n sportskrywer/kenner kry nie, as jy dink die grootste verrassing is dat die Belge so goed speel, is jy blind en het geen idee nie. Net vinnig, Rusland, die laagste rated span in die FWC18, Germany, Portugal, Argintina, Brazil wat uit is. Engeland se seges is meer verbasend as die Belge. Dis soos om te se die grootste verrassing is dat SA nie kon deelneem nie.

JMC ·

My voorspelling: België en Kroasië gaan uitspeel en België gaan wen.

Paul ·

Hehehe, skuus man, dit moes wees die Franse teen Engeland, met Engeland die wenner.

Albaster ·

Ons en die Flaminge moet baie meer saamwerk op kulturele en ander gebiede.

Verrrassing ·

Eish was jy al in Brussels? Hoeveel Flaamse mense is nog daar? Jy sal in die klein dorpies moet gaan saamwerk.

Henry ·

Brussel is inderwaarheid ‘n ‘neutrale’ gebied wat bestaan uit beide Walloonse en Vlaamse gebiede en is dus nie in ‘n unieke Vlaamse of Walloonse deel van België nie.

Die Vlaminge is op heelwat gebiede baie nader aan ons Afrikaners as wat die Nederlanders is. Alhoewel hulle ook ABN sprekers is, is hul Nederlandse uitspraak veel nader aan Afrikaans as wat die Kase ten Noorde van hulle is. As voorbeeld – die uitspraak van hul ‘g’ is veel sagter en dus nader aan ons uitspraak, as wat die Hollanders se harde ‘g’ is.
Talle van ons voorouers is uit Wes Vlaandere afkomstig – Brugge, Oostende, Nieuwpoort ens.

Albaster ·

Dis interessant Henry, ek het nie geweet dat baie van on voorouers uit wes Flandere is nie.

Henry ·

Albaster, ek vermoed dat talle van ons Afrikaners verras sal wees wanneer hulle nadere ondersoek na die heimat van hul voor-vaders of -moeders instel. Talle van ons deel inderwaarheid veel meer ooreenkomste met Belgiese Vlaminge, as wat ons met Hollanders/Nederlanders deel.

Ons Afrikaners is ook geneig om verkeerdelik alle Nederlandstaliges as Hollanders te beskryf. Die ge-oefende oor sal egter heel gou die verskil tussen die uitspraak/aksent van ‘n Belgiese Vlaming en die van ‘n Nederlander herken.

Familiename soos Swanepoel/Zwanepoel, is volop in Oostende. Weliswaar met meer ABN verbuigings, terwyl vanne soos Kemp volop in Brugge en Zeebrugge is.

Terloops, Vlaminge word nie alleen in klein dorpies aangetref soos Verrassing boontoe op impliseer nie. Groot stede soos Antwerpen, Gent, Leuven ens is oorwegend – minstens 80% – Vlaamssprekend.

John ·

Hoe het Engeland daar gekom? By die agterdeur in. Kyk na die slinkse spel. So word mens nie ‘n kampioen of ‘n gentleman of ‘n ware sir nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.