Nuuskommentaar: Rollende staatsgreep teen Zuptakrasie

Pres. Jacob Zuma. Foto: Siyabulela Duda, departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma. Foto: Siyabulela Duda, departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma het hom in die verlede as opperste politieke Houdini bewys. Of hy die jongste onthullings oor die beweerde bestaan van ’n Zuptakrasie gaan oorleef, is egter ’n heel ander saak.

Terwyl die bestaan van die Zuptakrasie nog in sekere kringe ontken word, waaronder deur die Guptas en pres. Jacob Zuma (wie is hy nou weer?), is daar duidelike tekens dat die wiel vir die twee families begin draai. ’n Koue suidewindjie waai reeds oor sneeubedekte vlaktes en sny deur murg en been.

In die Nuuskommentaar van 9 Maart, “Is beweerde Zuptrakrasie afgeweer?”, het Maroela Media reeds die kwessie aan die bod gebring. Toe is in wese van die standpunt uitgegaan dat die Zuptakrasie glo aan die ontwikkel was voordat dit op die lappe gekom het.

Maar dit was vóór die Jonas-onthullings. Die aansprake wat Vytjie Mentor nou maak, is dat dit eintlik al lankal ’n geval van ’n Zuptakrasie was. Vytjie was in die dae toe Zuma haar nog geken het, vir baie ’n wilde turksvytjie met lang dorings. Dit lyk of die dorings terug is, en dat Zuma haar baie gou pynlik gaan onthou.

Sou die aangeleentheid met die aanduidings en aansprake wat nou bestaan voor ’n hof beland, sal die getuienis moontlik genoegsaam wees om ’n bevinding op ’n oorwig van waarskynlikhede te bewys. Dis genoeg bewyslas vir onder meer skadevergoedingseise, maar vir kriminele vervolging word ’n bewyslas van bo redelike twyfel vereis.

Maar… die ANC kan nie die uitspraak van ’n hof vooruit loop nie, en ook nie nou meer wag vir ’n hof om bevindinge te maak nie. Trouens, ná die laaste ANC-kongres is die ou standpunt dat ’n gekoesterde kameraad (soos byvoorbeeld ’n LUR), onskuldig is tot deur ’n hof skuldig bevind, streng gesproke deur etiese oorwegings vervang om die ANC se beeld as korrupte organisasie te probeer vervang. So het John Block en ander as LUR’e bly dien lank nadat hulle aangekla is. Block het ná ’n skuldigbevinding druk ervaar om te bedank, maar in die Vrystaat word daar nog geklou en die etiese oorwegings lê grootliks in die asblik.

Maar hoe nou met ’n president terwyl aanduidings oploop dat daar minstens ’n prima facie (met die eerste oogopslag)-saak is dat alles nie pluis is nie. Gaan die ANC vroeg toeslaan en die skade beperk, of gaan die wilde perd enduit gery word? En die geleentheid kom reeds hierdie naweek wanneer die liggaam met die gesag om Zuma “terug te roep” of te herontplooi, die ANC se nasionale uitvoerende komitee, vergadering hou.

Netwerk24 haal Zizi Kodwa, ANC woordvoerder aan na aanleiding van ’n stelling op SAfm: “Die ANC beskou dié bewerings in ’n baie ernstige lig. Die ANC kan dit nie langer ignoreer of net sê dit is waninligting nie. Ons moet optree, want dit gaan in ’n groot mate oor die gesag van die ANC en die regering en laat die vraag ontstaan of die mense wat in die regering ontplooi is steeds optree in die beste belang van die mense wat hulle verkies het (of nie).”

Vandag se vraetyd aan Zuma in die parlement gaan ook vir vele vuurwerk sorg. Dit sal interessant wees om te sien tot watter mate die speaker, nog as Zuma se gesant in die parlement, sake so sal probeer plooi om die president te beskerm. Dit is baie moeilik om te sien hoe Zuma hom geloofwaardig uit hierdie een losgepraat gaan kry.

Gister het die jongste gelukkigheidsindeks die lig gesien. Suid-Afrikaners het op dié indeks van ’n baie swak 113de posisie verlede jaar tot 116de vanjaar teruggesak. Een van die aspekte wat gemeet is, is die land se korrupsie-persepsie.

Gaan die ANC op die vooraand van landswye verkiesings volhard met ’n president wat stellig ’n groot rol speel om bitter baie Suid-Afrikaners ongelukkig te maak?

Verwag dat die wiele om van Zuma ontslae te raak binnekort gaan begin draai. Of die wiele weer voortydig gaan loskom en Zuma ’n nuwe Houdini op die land gaan trek, sal die tyd leer.

Maar intussen het daardie yskoue suidewindjie opgesteek.

So tussenin het Suid-Afrika ook ’n baie harde hou weg met Fifa se standpuntinname oor beweerde korrupte Suid-Afrikaanse betrokkenheid by die aanbied van die Sokkerwêreldbekertoernooi in Suid-Afrika. Met ’n graderingsagentskap wat sake deurkyk met die oog op ’n moontlike afgradering, is dit alles baie slegte nuus vir die land.

Die lakmoestoets vir die ANC oor die Zuma-sage gaan nou wees om nie die indruk te skep dat teen Zuma opgetree word omdat hy uitgevang is nie, maar dat dit gedoen word omdat die organisasie werklik ernstig teen korrupsie gekant is. Hiervoor, teen die agtergrond van onder meer die Nkandla-sage, gaan dit ’n dramatiese ommekeer behels en dit gaan moeilik wees om denkende mense te oortuig dat die ANC inderdaad ’n nuwe gees adem.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Karma ·

#ZUPTAMUSTFALL!!! #ZUPTAMUSTFALL!!! #ZUPTAMUSTFALL …. of anders VAL SUID-AFRIKA een van die dae!!!

Soo gesê ·

SA het klaar geval dis nou ons wat hom van vooraf weer moet op bou soos dit was voor 94

mona peach ·

Dit is ‘n skande – en wie lei daaronder – ons witmense en ons kinders – waar gaan dit ein
dig!!!

susan ·

Almal lei daaronder, nie net witmense en hulle kinders nie.

Wat-ek-lees ·

Onse eie Gupta-pion . . . ai jai jai . . . sal ook hier loskom. ‘n Regte SA-Houdini oftewel Zumdini.

mona peach ·

Sy tweede termyn is verby en ons grondwet se hy kan nie weer herkies word as president nie?
wat voer hy in die mou? wat is sy plan van aksie om dan weer herkies te word/ hy weet wat gaan gebeur as hy nie herkies word nie – Robben Eiland?

Dr P E van der Dussen ·

Dit is kommerwekkend dat gevoelens oor Zuma bo-oor die werklike aanslag skuif. Let op NZimande se stilte en Davies en Hogan se aanprysing van Jonas. Hulle is albei voorste Kommuniste. Ghordan het met sy eerste aanstelling destyds strategies uit die SAKP getree. Jonas is waarskynlik ;n Kommunis. Cosatu het onlangs die SAKP aangemoedig om eie kandidate te stel en sy steun aan die SAKP toegese. Of Mentoor Kommunis is weet ek nie. maar beef dat die geregverdigde wegjaag van Zuma niks sal verbeter nie, inteendeel die ANC so sal laat uiteenval dat die SAKP-COSATU die oorhand sal kry. Onlangse wetgewing en straatgebeure het ver gevorder in die rigting van ‘n Kommunistiese diktatuur. Kommunisme soek nie in die eerste plek welvaart vir almal nie. Dan verloor hy sy houvas op die bevolking.Wees nugter oor die werklike gevaar wat op ons afstorm!

Karma ·

Dr. Van der Dussen, ek dink ons is “between a rock and a hard place” en ons weet wat ons het (‘n slapgat, skelm, korrupte president wat nie kan of wil regeer nie en ‘n ‘puppet-on-a-string vir die Guptas is), maar ons weet nie wat ons gaan kry nie!

Rupert Ashford ·

Hierdie gemors kom van 2007 af toe die ANC besluit het om Zuma as leier te kies. Die organisasie het karakter selfmoord gepleeg (as hulle ooit een gehad het) en ‘n vakuum vir die SAKP en COSATU gelaat. Die kring voltooi nou en die ouens met verstand is uitgewerk uir die NUK. Groot sports as dit nie so gevaarlik was nie.

F ·

Wat my nou so bietjie laat kopkrap is die feit dat die OVK nou erken het dat 62% van die kiesers eintlik onwettig gestem het deur al die jare. Dan is die ANC mos nie die wenner van die verkiesings nie.

TTh ·

HKGG-moeilikheid, nog anc leuens, nog mense hul werk verloor, swakker ekonomie, duurder skuld, duurder kos, duurder energie = meer misdaad = anargie en gaos

Lucas ·

Nou net gekyk na deel van sy antwoordsessie in die Parlement. Hy het weer met vlieënde vaandels geslaag met die hulp van sy Mbete die Speaker. Sy gesorg laat DA uitloop ! Kommerwekkend vir my as VF ondersteuner is die gatkruipery en gedienstigheid van Corné Mulder aan die ANC. Siestog!!Nee wat vir julle stem ek nooit weer nie!! Ek ek stem ok nie DA nie so wat nou!?

Carel ·

As ‘n ou hofhond gee dit my heelwat plesier om el prezedente se verweer op die vyandige vytjie te sien. “Wie is vytjie” is seker die swakste reaksie en die maklikste om as onwaar uit te wys…. Hoe ken jy dan nie jou eie vooraanstaande parlementslede en strydmakkers met wie jy saam oorsee was nie….. hierdie vliegtuig gaan nie vlieg nie…… en die krake in die party word al hoe groter..

Boffin ·

Zuma het weereens vandag in die parlement gewys dat hy n gesoute politikus is en nie sommer gaan loop lê nie.
Daar moet meer substansiele bewyse wees (hoop daar kom nog kaders na vore )voor hy gaan kapituleer of ANC hom gaan her ontplooi.

Hannes marais ·

Die Hnp het die dinge voorspel..die volk wou nie luister nie

Joann ·

Zuma gee kos en huise en ons betaal. Kyk waar daar geeet en drink word is hul. Dus stem hul ANC. Te dig om verder te dink

JK ·

Dis een groot gemors sedert 1994. Waar is De Klerk en sy maaitjies nou?
Wie gaan die gemors probeer skoonmaak?

Theuns ·

Dit behoort nie so moeilik te wees om te bepaal wie op die vliegtuig saam met vytjie was nie? Daar moet seker n pasasiers lys wees, privaat of militer ! Daar kan nie gese word daar was nie n pasasiers lys nie! As die vliegtuig val wat dan? Of gaan daar net gese word dit was maar net n” Smash” met kommentaar ” Kan nie se wie was aan boord nie. Of was dit ‘n Gupta vliegtuig? Wat het die Gupta’s in elk geval saam op die vlug gemaak?
Boere Groete.
Theuns

Theuns ·

More Herman,
Ek hou van jou Hoof Opskrif maar ek dink dit moes gelees het
“Zupta Krasie voer Rollende Staatsgreep uit”
Zuma en sy vriende het alreeds seker gemaak dat hy en sy vriende al die belangrikste Staat poste gereserveer en oorgeneem het om so n Diktator- skap en Een Party Staat te vestig! Ek noem maar net ‘n paar. SARS, DIE WEERMAG, SAPD, DEPT. VAN ENERGIE, DEPT. VAN FINANSIES, GRONDSAKE Ens! Zuma gebruik situasies om die Zupta Krasie te vestig. Veranderinge vind so sagkens plaas dat gewone kommentators en die publiek nie eintlik agterkom wat is besig om te gebeur nie! Soos die stem briewe wat al die jare bekook was en wat nou baie jare gaan neem om reg te maak, spreek woordelik op”the slow train to China”. Wat gebeur dan? Verkiesings word uitgestel. Betogings vererger as die verkiesings uitgestel word. Die verkiesings word weer uitgestel want die “klimaat in die land” is nie reg om verkiesing te hou nie . Mense word geskiet. Zuma bly in beheer. Opstande word onderdruk. Zuma bly in beheer. Chaos in die land. Die AU kom help Zuma soldate en swaar geskut. Zuma word n Diktator. Politieke Partye word verban.
Ons moet wakker loop hier kom groot probleme.
Boere Groete
Theuns

SUSAN ·

Zuma lag nie verniet so nie. Hy weet hier kom ‘n diktatorskap. Dis nou as die kommuniste hom nie uitoorlê nie. Of dalk word hy self ‘n kommunis.

Attie Snyman ·

Al die ANC ministers en senior amptenare wat “droogmaak” word ambassadeurs. Zuma kan as ambassadeur herontplooi word is in Zimbabwe.

Anny ·

Hoe swaar ookal dink ek JZ moet maar voortploeter tot sy einde en meerderheid denkende ANC sien wat hy aangevang het en die ANC dan in duie stort. Dan begin alle opregte suid afrikaners van alle rasse die land maar weer opbou. Dis net baie sleg vir al ons kinders en kleinkinders wat hierdéúr moet worstel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.