Nuuskommentaar: Rommelstatus

Argieffoto

Elke burger en elke instansie moet nou saamstaan om pres. Jacob Zuma as faktor in die land te isoleer, sodat die omstandighede só verander dat die land so gou as moontlik werk daarvan kan begin maak om rommelstatus om te keer.

Ons ken almal die grappie van die aangeklamde man wat kort-kort van sy bier in sy hempsak afgooi. Toe ’n ander klant gaan hoor waaroor dit gaan, is die gekoringde net erg skoorsoekerig. En toe loer daar nog ’n gekoringde muis by die sak uit en beledig sommer die ander man se kat.

Dit is seker die naaste vergelyking waarmee ’n voortvarende Malusi Gigaba se optrede teenoor die graderingsagentskappe sedert hy as minister van finansies aangestel is, beskryf kan word. Terwyl die land se kredietwaardigheid ’n liederlike knou weg het sedert pres. Zuma sy hand heeltemal oorspeel het deur van Pravin Gordhan ontslae te raak, en Gigaba met sy rits struikelslae as minister in ander portefeuljes, as nuwe minister van fnansies aan te stel, was Gigaba se optrede net te veel kapokhaantjie-agtig.

Hy het, soos van hom verwag sou word, met (van) die kredietgraderingsagentskappe in gesprek getree, en die gesprekke het volgens sy lofprysers “robuus” verloop! Miskien sou die agentskappe hulle nie veel aan die kaartmannetjie se “robuustheid” steur nie, maar as ’n nuwe minister van finansies sulke taal gebruik soos “radikale” en selfs “verandering” terwyl sy land se ekonomiese lewe aan ’n draadjie hang, is in geen geselskap juis baie intelligent nie.

Ná Gordhan gepos is het sommige ekonome gemeen dat minstens sommige kredietgraderingsagentskappe uit hul hersieningskedule kan tree, en die land reeds die afgelope naweek sou afgradeer. So iets gebeur nie sommer nie, omdat talle prosesse wat oor lang tydperke fyn ontleed word, as’t ware gekortsluit word. So ’n ongeskeduleerde afgradering is ’n drastiese stap en dui in effek daarop dat ’n soort noodtoestand ontstaan het waarteen beleggers beskerm moet word.

Suid-Afrika is toe die naweek uitgespaar, maar reeds die Maandag het Standard & Poor’s die land tot rommelstatus afgegradeer. Volgens die ekonoom Dawie Roodt sal dit lank neem om die skade te herstel. Moodys kan dalk Vrydag volg, maar Fitch kan enige tyd toeslaan.

Die ironie is dat daar belowende tekens was dat die Suid-Afrikaanse ekonomie begin verbeter. Die rand het belowend teen die dollar verstewig. Sedert Zuma se onverantwoordelike stap het die rand weer aanhoudend bly tuimel.

Die rommelstatus het, wat minstens een graderingsagentskap betref, nou ’n werklikheid geword. Die vraag is nou hoe om daaruit te ontsnap?

  • Al het pres. Jacob Zuma nog onlangs in ’n toespraak daarop aanspraak gemaak dat die “span” onder sy (Zuma se) leiding kon sorg dat die land afgradering vryspring, staan daar net een naam baie breed oor die afgradering geskryf. Ironies het sy woordvoerder kort voor die afgradering nog Suid-Afrikaners gewaarsku dat hul protes teen Zuma se jongste skuiwe die land ekonomies kan benadeel. Hy het deels ’n punt beet, maar Suid-Afrika se beeld sou nog veel erger geknou gewees het as daar nie ’n breë verset teen Zuma, die slagter van die ekonomie, se voortgesette presidentskap sou wees nie. Daar is eenvoudig geen medisyne meer wat sal help voor Zuma nie as president die amp ontruim nie.
  • Tog, op ’n veel kleiner skaal moet gekyk word of die Zille-kwessie nie in der minne geskik kan word nie. ’n Groot deel van die beleggerswêreld sal nie verstaan hoekom sy in ’n skynbaar boendoe-proses getakel word oor ’n “onbenullige waarheid” nie. Dit is wel ’n netelige kwessie in die ontwikkelende wêreld, soos blyk uit ’n Indiese deelstaat wat onlangs besluit het om van alle spore van kolonialisme ontslae te raak. Maar om nou die indruk van verdere onstabiliteit in die land te skep deur afvalligheid in die grootste opposisieparty as’t ware te forseer, is ook erg skadelik. Die opposisie word deur die wêreld as ’n soort teenpool vir die ANC met sy streke beskou, en onstabiliteit, werklik of deur persepsie, ruk nog ’n fondament van stabiliteit onder die land uit.
  • Die wyse waarop protes teen Zuma aangeteken word, mag nie die karakter aanneem van byvoorbeeld die #FeesMustFall-veldtog, die vandalisme en intimidasie tydens optogte ter ondersteuning van stakings, en vandalisme as ’n sokkerwedstryd anders afgeloop het as wat die een span se toeskouers dit wou gehad het nie. Zuma verstaan sulke soort proteste waarskynlik beter as protes deur wetsgehoorsame patriotte, en dit sal daarom dalk gouer doeltreffend wees. Maar dit dompel ook die land dieper in die put in. Nou moet instansies wat so lief is om Zuma as eregas na uithanggeleenthede te nooi, net deeglik besef hulle skiet die land in die voet as hulle dit weer doen. En as dit wel gedoen is, moet die gaste eenvoudig wegbly. Hoe minder afvalligheid daar in die isolasiepoging van Zuma is, hoe gouer gaan die “presidensiële gevoel” verdamp en die amp bitter eensaam word.

Dit is in elkeen van ons se hande om omstandighede so gou as moontlik só te verander dat die rommelstatus sou gou as moontlik omgekeer kan word. Die teenwoordigheid van Zuma is egter nie hierby ingesluit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Dirk ·

My pensioen is op die rand van rommel status,gelukkig lê rommel orals in ons dorp,kort net vier wiele dan is ek op die pad met trollie vol 2 liter plastiek bottels

Leendert ·

Jip, ek weet nie of iemand hierdie artikel vir Maimane kan stuur nie, want lyk my sy kop is nou heel deurmekaar, hy wil nou eers sy eie kolonie op die rommelhoop uitsorteer terwyl Rome brand.

AL ·

Sy fokus is nou op die DA se noconfidence petisie om zuma uit te lig. Mense ons het jul hulp nodig. Stem daarop en baklei later met Mmaine

AL ·

Die DA speel vir tyd met Zille. Heel moontlik kom sy lig daarvan af

Loeis ·

Herman, dit is nie die burgers wie die president aanwys nie, dit is die parlement. Wat deur die ANC, waarvan Zuma ‘n simptoom is, oorheers word. Tot nou het hulle agter hom gestaan, en ons sal maar sien of dit enigsins gaan verander.

As die wereld die opposisie as teenpool vir die ANC sien, moet hulle weer dink, want met 62% ANC setels in die parlement is dit nie opposisie partye wie tussen die ANC en absolute mag staan nie, maar die grondwet en oppergesag van die reg. Die ANC wil terloops die regbank verder transformeer (lees oorneem).

Helen Zille is maar ‘n klein faktor wanneer die ekonomie begin tuimel, maar dit is interessant dat jy haar noem: sy en haar Black Sash het tot die ANC se oorname bygedra, en ons almal pluk nou die vrugte daarvan.

Beyers ·

Z se mede kaders sal nooit teen homstem nie want hulle is te korrup. Hulle sondes sal dan uitkom. Ent van daai prent.

Nel ·

Dis só. Hulle weet te veel van mekaar se ‘geraamtes’ af.

Pietie ·

Mmusi se tydsberekening met Helen Zille is katastrofies. As jy lid van DA is moet jy asb nie dink nie en beslis nie sê wat jy dink nie. Beste nog, sluit aan by VF+.

LOUIS BRITZ ·

DIT LYK MY NIE DIT SIT IN DIE BROEK VAN DIE ANC OM VAN ZUMA EN SY GESPUIS ONTSLAE TE RAAK NIE. MET DIE VOLGENDE VERKIESING KAN HULLE DALK DIE GEVOLGE HIERVAN DRA. NET JAMMER DIE VERKIESING IS NOG SO VER WEG. TEEN DAAI TYD GAAN DAAR DALK NIKS MEER VAN OOR WEES VAN LAND NIE.

Katje ·

So waar!! Hoera uit die rommel verskyn n trein…SA se eerste eie ondwerpte trein….hier kom die soustrein nòù. Volgens ANN7 NEWS.LIVE

Grassie ·

Zuma se tydsberekening met sy optrede teen Gordhan, net so vlak voor die graderingsproses, spreek boekdele. Hy het laas dieselfde gedoen met die Nene- debakel en die rand het kort duskant rommelstatus gedraai. Hierdie keer was hy suksesvol. Ek glo hy word deur sy geldskieters aangepor om die rand te laat tuimel. Ek weet te min van die ekonomie af om te verstaan waarom hulle dit doen maar Zuma se tydsberekening, by die twee gevalle, is te opsigtelik om toevallig te wees. Ek dink hy gaan nog opsetlik ‘n paar dom dinge doen om die rand verder te laat tuimel.
Nog iets wat ontstellend is, is menings dat Gigaba die kernooreenkoms met Rusland, wat ons nie kan bekostig nie, gaan deurvoer en in die proses die staatsdienspensioenfonds gaan plunder vir finansiering.

Johann ·

Geen simpatie met die ANC nie, hulle glo hul eie rommelstorietjies oor kollektiewe besluitneming en hoe die ‘executive’ besluit en die president bring dit dan ten uitvoer, hy kan nie alleen besluit nie, ens, ens. Een van die groot ses, Mkhize, was selfs ongelukkig daaroor dat Zuma hulle nie geraadpleeg het nie, maar Mbete en Duarte storm blindelings agter Zuma aan, en So mokkel hulle met hul eie koppe en pomp wolhaar stories in almal se koppe. Waar staan die in hul handves, of is dit deel van hul kutuur dat dit nie op papier ooreengekom hoef te word nie.

Rubber ·

Dis nou die hoeveelste keer dat zol ons land geld kos omdat hy dit bly doen om Gordan wil weg he, hoe stupid moet jy wees om dit nie te sien en voel nie z. Jy het al hoeveel geld vir jou gesteel, en jy voel n veer vir die ander Suid Afrikaners. Kyk net die vet kontrak wat jy jou seun gee. Hulle dink hul doen uitstekend met wat en hoe hulle die land run……maar sien nie als gaan afdraende nie. Ai wonder of n std 3 kind so sal optree, eerder n graad 1 wat dinge so sal doen en nie besef dis verkeerd wat hy doen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.