Nuuskommentaar: Ruk ‘apartheid’ op in Nederland?

Skokgranate is Woensdagoggend buite Hoërskool Overvaal in Vereeniging afgevuur nadat betogers en polisiebeamptes slaags geraak het (17 Januarie 2018). Foto: ANA.

Diversiteit of heterogeniteit – ervarings en beskuldigings van rassisme en haatspraak gaan nooit baie ver wees nie en die voorvalle kom al meer wêreldwyd voor. Daarom is dit so gebiedend noodsaaklik dat Hoërskool Overvaal se huidige onvrede sinvol en sensitief aandag kry. Verbale opstokery en minagting van die grondwet, soos die Gautengse LUR vir onderwys hom skynbaar nou skuldig aan maak, stook die vure net verder.

“In onze steden rukt de apartheid op, niet van kleur maar van klasse en afkomst” (In ons stede ruk apartheid op – nie weens kleur nie, maar weens klas en afkoms). So skryf die bekende Nederlandse rubriekskrywer Lex Oomkes pas in Trouw.

Word na die definisies en omskrywings van verzuiling (versuiling) gekyk, kom Oomkes eintlik baie na daaraan om ’n verskynsel wat veral in die 20ste eeu ’n groot impak op die Nederlandse samelewing gehad het, te beskryf. Verzuiling beteken dat verskillende sosiale dele van ’n gemeenskap eintlik self afsonderlik van mekaar subgemeenskappe vorm.

Sonder om in detail daarop in te gaan oorvereenvoudig Oomkes in die artikel ook die konsepte wat met apartheid verband hou. Hy stel byvoorbeeld in sy parkbankie-voorbeeld apartheid en klein-apartheid gelyk.

Ander skrywers skroom ook nie om daarop te wys dat Nederland, en veral Rotterdam, besig is om langs rasselyne gepolariseerd te raak nie.

Dit moet in gedagte gehou word dat Nederlandse skrywers nog in hul kinderskoene staan om veel sin te maak uit hul eie relatief nuwe diversiteitsprobleem.

Op die oomblik verskil Amerikaners skerp daaroor of pres. Donald Trump ’n rassis sou wees al dan nie. Volgens die jongste Rasmussen-peiling meen 50% van die Amerikaners dat Trump ’n rassis is, en 43% dat hy nie is nie. Republikeine en Demokrate se sienings hieroor verskil skerp.

In nog ’n peiling is bevind dat 72% van die respondente meen dat politici slegs oor rasse-aangeleenthede begaan is om te sorg dat hulle verkies word, en net 13% meen politici is werklik begaan.

Iets wat Suid-Afrikaanse rassisme-jagters in hul pyp kan stop, is dat 80% van die Amerikaners glo rassisme is iets waaraan mense hulle teenoor ander minderhede skuldig maak. Net 11% meen rassisme is uitsluitlik die werk van wit mense.

Met die internasionalisering van moderne kommunikasie sal daar waarskynlik toenemende druk op diegene, soos die Menseregtekommissie en regering, neerkom wat meen rassisme kan onewehandig aangespreek word.

Op die oomblik is daar kommer oor waartoe die betogings by Hoërskool Overvaal kan lei. In essensie, ná ’n hofsaak, word regte opgeëis wat nie bestaan nie.

Terselfdertyd word diegene wat hul grondwetlike regte wil uitoefen, se regte nog meer verskraal deur ’n aanslag op hul veiligheid, hul reg op waardigheid en nog vele meer.

Die boodskap dat Suid-Afrika ’n grondwetlike demokrasie is, en nie ’n anargistiese staat nie, moet nou gou tuisgebring word. Maar dit gaan misluk as rassisme en haatspraak steeds onewehandig hanteer gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jacques venter ·

Hallo Herman
Haat en haatspraak kom uit die hart en is moeilik om met wetgewing te beheer.

Die ou fisiese wet is van toepassing. Die reaksie is direk eweredig aan die aksie.

Regdenkende mense moet hulle eie mense aanspreek oor hierdie praktyk.

In die meeste gevalle kom dit in n verbloemde vorm voor

Daan ·

Dit is n skande dat afrikaans sprekende kinders deur n groep swart volwasse rassiste getraumatiseer en gedryg word in n plek waar hulle veilig moet voel terwyl hulle leër ek kan net dink hoe die kinders moet voel terwyl die rassiste sing “the white man must die” buite die skool.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.