Nuuskommentaar: Rusland en VSA gryp mekaar aan diplomatieke kele

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Alex Brandon

Die diplomatieke relletjie met Rusland wat pres. Donald Trump van oudpres. Barack Obama geërf het, het nou ’n vorm aangeneem wat goed sou pas by die dae van die Koue Oorlog. Dit vervaag darem die beeld van hegte (en ongerymde) bande tussen die Trump-administrasie en die Russe. Maar daar is ook ander tekens dat Trump gevoelig begin raak oor wat die media skryf, en waaroor die publiek sterk voel.

Te oordeel na die diplomatieke rel wat tussen die VSA en Rusland losgebars het, is die Koue Oorlog nog lank nie iets van die vergetelheid nie. Die jongste koppestamp word egter taamlik deur woelinge in die Withuis, wat deur die media die “revolving doors” gedoop is, oorskadu. Dit beteken so vinnig soos iemand op pres. Donald Trump se diensstaat aangestel word, kry ’n ander pas aangestelde al weer die trekpas. In plaas van om, soos in die Luyt-dae van SA rugby, “gefaks” te word om diens te verlaat, word die afgedanktes van die Withuis in tipiese Trump-tradisie weggetwiet.

Op ’n ander front speel ’n veel ernstiger saak hom af. Die sage het momentum gekry nadat die Obama-administrasie gelas het dat 35 Russiese diplomate die VSA moet verlaat. Twee eenhede in die VSA wat vir intelligensiedoeleindes ingespan is, moes ook gesluit word.

Formeel hou die uitskoppery van die Russiese diplomate verband met beweerde Russiese inmenging in die Amerikaanse verkiesing wat Trump sou bevoordeel het.

AFP, soos via die Daily Maverick gerapporteer, berig die Withuis het erken dat Trump gehelp het om ’n misleidende verklaring te dikteer oor sy seun se ontmoeting met ’n Russiese prokureur met hegte bande met die Kremlin.

Intussen het die Russe met mening teruggeslaan en aangedui dat 745 van die 1 200 Amerikaanse werknemers by Amerikaanse diplomatieke sendings in Rusland die land moet verlaat. Daar word ook op twee Amerikaanse eiendomme beslag gelê en die Amerikaners word die gebruik van twee huise op die platteland (bekend as “dachas”) asook ’n pakhuis in Moskou ontsê. Nadat die diplomatieke korps in Rusland met 745 verminder is, sal die VSA net soveel personeel in Rusland oorhê as wat Rusland in die VSA het.

Rusland het voorts laat blyk dat enige optrede in dié land met ’n spieëlbeeld-aksie opgevolg sal word.

Terwyl Trump se gewildheid volgens peilings in die VSA bly daal (dit staan nou volgens Rasmussen op minus-24 nadat dit nog op 3 Maart op plus-1 gestaan het), is sy optrede teen Rusland (al is die huidige aksie deur Obama begin) nie ongewild nie. In nog ’n peiling toon dit dat 52% van die Amerikaanse kiesers meen sanksies teen Rusland is ’n doeltreffende manier om die VSA veiliger te maak. Net 22% stem nie saam nie, met die res wat onseker is.

In die kongres is die verteenwoordigers se motief ook volkome afgestem daarop om die VSA veiliger te maak.

In nog ’n peiling blyk dit dat die Amerikaners die beweerde bande tussen Trump en die Russe as die grootste knelpunt uit ’n lys van ses bedreigings vir Amerikaanse veiligheid beskou. Altesaam 26% het die Trump-administrasie se beweerde bande met Rusland as die grootste kopkrapper beskou. Dit is gevolg deur 18% wat meen die ekonomie is hul grootste kommer, 16% breek hul koppe die meeste oor Obamacare, 15% se grootste kommer is belasting en uitgawes deur die staat, altesaam 14% se vernaamste kopsorg is nasionale sekuriteit, en 7% beskou onwettige immigrasie as die grootste probleem.

Volgens die jongste berigte het Amerikaanse diplomate reeds die twee “dachas” begin ontruim, hoewel die keerdatum eers 1 September is.

Rusland is egter nie al wat swaar op die Amerikaanse gemoed lê nie. Die Noord-Koreane se lansering van ’n tweede interkontinentale ballistiese missiel – dié keer een wat vermoedelik verskeie Amerikaanse teikens kan bereik, het die VSA genoop om ook sy eie wapenarsenaal uit te brei. Vandag word ’n onbewapende interkontinentale ballistiese missiel getoets wat vanaf die Vanderburg-lugmagbasis gelanseer word.

In ’n interessante verwikkeling vra die konserwatiewe Amerikaanse skrywer, Patric J. Buchanan, in ’n nuwe artikel harde vrae oor of die VSA se oorloë moreel en geregverdig is. Hy verskaf skokkende syfers oor ongevalle en skade in verskeie lande, maar veral ook Sirië. Hy sluit af: “Meanwhile, the Americans, $20 trillion in debt, running $800 billion trade deficits, unable to fix their health care system, reform their tax code, or fund an infrastructure program, prepare to fight a new Middle East war.”

Trump het inderdaad ’n gedugte taak om kop bo water te hou. Volgens peilings glo die meeste Amerikaanse kiesers die Kongreslede laat hulle eerder deur die media lei as deur die kiesers se behoeftes. En ’n groot deel van die media is nie besonder lief vir Trump nie. Betreklik onlangs nog het die hoofredakteur van die Los Angeles Times na Trump as ’n “train wreck” verwys, en hom in baie soortgelyke taal beskryf as wat Suid-Afrikaners dikwels na pres. Jacob Zuma verwys.

Dit is dus nie so verrassend nie dat dit lyk of Trump sy doelwitte meer in ooreenstemming begin bring met wat die kiesers en die media vra.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JC ·

Watter peilings? Het die skrywer al ooit daaraan gedink dat die “peilings” oorweldigend geswaai is in die guns van die liberaliste se sienings, of dat die liberale/progs peilingdeelnemers disproporsioneel in getalle die van die konserwatiewe peilingdeelnemers oorskadu nie?
In daardie geval beteken die “peilings” niks nie.
Trump het sy seun gehelp met sy verklaring en verduidelikings NADAT dit aan die lig gekom het dat hy gaan luister het of iemand “dirt” het op sy politieke teenstander.
AFP en die skrywer het die beskrywing of beskrywende woord “misleidend” bygesit EN NOU IS DIT WET!!
Ek weier om my so aan die neus te laat rondlei!
Wat op dees aarde maak dit misleidend, OF IS DIT MISLEIDEND NET OMDAT DIE HOOFSTROOM MEDIA SO SE????
Antwoord my net asseblief op die een vraag: is dit “misleidend” omdat die HSM so se?
Daar is nie meer hoop nie…

Herman Toerien ·

Hallo JC. Ek gebruik gewoonlik Rasmussen se peilings omdat ek hulle daagliks ontvang. Hulle word dikwels deur die ander agentskappe as “regs” beskryf, maar lewer tog meestal meer akkurate peilings op as die ander. Dit raak al moeiliker om betroubare info oorsee te kry, omdat die meer betroubare koerante soos die Christian Science Monitor, De Stabndaard en Trouw byna voor die voet betaalplatvorms kry. Gewoonlik sien ‘n mens die eerste paragraaf, en dan kos dit Google om die volledige inligting uit ‘n ander bron(ne) te kry (ek kan gewoon nie bekostig om premies aan ‘n rits platvorms te betaal nie). Dit is tydrowend, en soos dit is staan ek reeds soggens vyfuur op (vanoggend half vier), om die inligting so betroubaar as moontlik te bekom.

Ester ·

Jy is so reg JC. Ai kan die pers hulle self so aan die neus laat rondlei??? Verbreed julle kennis en gaan kyk op YouTube na Alex Jones of Gary Franchi vir die ware feite. Een van die hoofredes hoekom Pres Donald Trump so deur “fake news” en die “regime” aangeval word, is omdat hy ñ belydende Christen is!!! Sy gewildheid neem inteendeel toe!!! Hoekom vergeet almal ewe skielik van die Clintons en Barack Obama se misdade?? Gee my antwoord hierop.

JC ·

Dankie Ester.
Ons MOET NOOIT opgee, en ophou om die goeie geveg te veg nie. Ons is in die midde van die grootste Oorlog(kultuur) in menseheugenis; en die Westerse Wereld is die teiken.
Ironies genoeg speel BAIE westerlinge saam om die gepoogde uitkoms ‘n sekerheid te maak, dit maak mens amper naar.

Nico K ·

Ons almal weet dat Trump met ‘n minderheidsstem verkies is. Al bly die Amerikaanse publiek se mening dus dieselfde, dan is die meerderheidsmening teen hom gekant. En dit het niks met liberale meningsopnames te doen soos JC beweer nie. En ek glo dat die mening beslis teen hom gedraai het en dat minder Amerikaners hom tans steun as tydens die verkiesing. Ek glo hy gaan in die toekoms as nog ‘n Jimmy Carter beskou word.

JC ·

NicoK, dankie vir daai regstelling. Dit is waar dat hy gewen het by wyse van die Verkiesings Kollege- wat ‘n skans is teen meerderheids oorheersing en Agenda/ rigtinggewende oorheersing deur een of ‘n paar dominante state; veral die van die Ooskus en Weskus.(Kalifornie,Nieu York,Oregon,Washington).
Dit is miskien waar dat hy die populere stem nie gewen het, maar deur daarop te roem en kapsie te maak teen die Kollege bevind mens jouself juis in ‘n paradoks omrede die resultaat/uitkoms van die verkiesing juis die gevolg was van die spesifieke ontwerp en doel van die Kollege. Dit is logies indien inag geneem word die meerderheid in getalle van Kaliforniestemmers wat byna deur die bank liberaal is, en Nieu Yorkse stemmers en die moontlike onwettige stemmers dan ooknog daarby ingereken, dat Trump nie die meerderheidsstem sou wen nie. Dit is egter irrelevant.
Indien die Liberaliste OOIT daarin sou slaag(lees: nooit) om van Trump ontslae te raak, sal hulle volgende teiken Vise-President Pence wees. Hul aksies openbaar hul ongelooflike nydigheid jeens die hele administrasie. Mens moet dus nie naief wees en dink dat dit daar sal eindig nie.
In my nederige opinie is dit niks anders as ‘n gepoogde staatsgreep deur ondemokratiese maneuvers nie.
Ek stem egter nie saam dat sy basis hom verlaat het nie, hulle is nog volstoom met hom in hierdie “geveg”.
Ek stem saam oor die vergelyking met President Jimmy Carter.
God seen Trump en sy familie en die Verenigde State van Amerika

John ·

Wel, wie kan na Obama se lekker la-la-land-styl oorneem sonder om teenstand te kry. Hillary se gewildheid was/is ook bloot gebou op Obama ‘Care’. Wat sou sy anders wou doen? Die Demokrate wil verder regeer en Biden, met sy wortels reeds ingewurm in die Ukraine, is vas van plan om so gou doenlik by Trump oor te neem. Liberale-ultra-regte en bom Rusland, klink nou oulik vir CNN ea, maar as Trump val, gaan die VSA inplof. Geen wit leier sal weer geduld word nie… soos wat geen wit pous weer verkies (dit is glo voorspel) sal word nie. Die huidige duistere onderstrominge is baie erger as of Trump Putin se hand te kort of lank skud en wie wat of waar gedit of gedat het. ‘n Nuwe paradigma is op hande en dis warmer as ‘n warm patat…

JC ·

Gelukkig word die paradigma hand-en-tand beveg John, anders was daar werklik geen hoop meer nie, soos wat die afsluiting van jou kommentaar suggereer:)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.