Nuuskommentaar: SA as terreurstaat en plaasaanvalle

Argieffoto

Argieffoto

Die afgelope dae is die wêreld geskud deur die vyfde Westerling wat deur die IS-terreurorganisasie onthoof is, en ʼn terreuraanval voor ʼn sinagoge in Israel.

In 2013 is daar net minder as 18 000 mense wêreldwyd deur terroriste doodgemaak. Dit was 61% meer as die vorige jaar.

Dis egter nie altyd iets daar ver nie.

Daar is ʼn paar redes hoekom Suid-Afrika se terreursyfers nie op die jongste terreurindeks te sleg lyk nie, al het die land die 48ste hoogste getal aanvalle uit ’n moontlike 162 lande behaal.

Die vernaamste rede is dat 82% van alle sterftes aan die hand van terroriste in net vyf lande voorgekom het – Irak, Afganistan, Pakistan, Nigerië en Sirië. Hoewel beide Irak en Sirië op die lysie is, het bloedweinig mense verlede jaar nog van die IS – toe nog bekend as ISIS of ISIL – se bestaan geweet. Tog het honderde jong Moslems hul wonings in Westerse lande verlaat om as “jihadiste” na Sirië en Irak te reis om aan die terreurstryd te gaan deelneem.

Die tweede rede waarom Suid-Afrika nie ’n hoër posisie op die ranglys  beklee nie, is die definisie van terreur wat die opname-instelling gebruik. Hoewel die Instituut vir Ekonomie en Vrede nie spesifiek na “politieke terreur” verwys nie, maar bloot die terreur-indeks, word met terreur gewoonlik iets verstaan wat met politieke oogmerke, of ’n politieke agenda gepleeg word. Met die aanval voor die sinagoge in Jerusalem het Hamas dadelik die aanval as “heroïes” bestempel. Dis die ou storie dat die een se terroris die ander se vryheidsvegter is.

Die woord “terreur” dui egter op ’n begrip waarin die Engelse woord “terror” duidelik herkenbaar is – ’n daad wat so grusaam verskriklik is dat dit die slagoffers en ander met vrees en verskrikking laat. Daar is al boekdele geskryf oor die ondenkbare wreedheid waarmee plaasaanvalle gepaard gaan. Boonop kan selfs nie die regering stry dat die halsstarrige weiering om plaasaanvalle weer tot prioriteitsmisdade te verklaar soos wat dit in die Mandela-era was, suiwer politiek gemotiveer is nie.

Die weglating van hierdie vorm van terreur uit Suid-Afrika se terreursyfers laat die land se 2013-syfers inderdaad “goed” lyk. Daar was 12 aanvalle wat as terreuraanvalle “gekwalifiseer” het, twee mense het die lewe gelaat, vyf is beseer en vyf eiendomme is beskadig.

As AfriForum se syfers vir plaasaanvalle in 2013, 81, bygetel word by die 12, verander Suid-Afrika se posisie op die indeks heeltemal. Dit sou ’n totaal van 93 terreuraanvalle gee. Dit is een meer as die 92 terreuraanvalle in Libanon, tuiste van die verklaarde terreurorganisasie Hizbolla, wat die 14de plek beklee. Suid-Afrika se sterftesyfer van 37 sou egter veel minder wees as Libanon se 134.

Oor plaasmoorde en plaasaanvalle het Maroela Media al baie dikwels, en vanuit elke denkbare hoek geskryf. Pro rata is ’n boer in Suid-Afrika en sy gesinslede se kanse om vermoor te word waarskynlik die hoogste moordsyfer per 100 000 van alle identifiseerbare groepe in die wêreld – ook hoër as die syfer vir bruin mans in die Wes-Kaap wat tradisioneel as die hoogste in die wêreld aangebied word. Dis veel hoër as die moordkoers onder polisielede in die land.

As plaasaanvalle weens die skynbare afwesigheid van politieke oogmerke nie as dade van terreur gereken mag word nie, kan gevra word of die terreur wat uit die radikale, gewoonlik neo-Salafistiese dampkring van die Islam ontspruit, dan genoeg politieke motiewe bevat om as terreur gedefinieer te word. So ’n vraag sou as absurd beskou word.

Om klinies aan definisies oor die insluiting al dan nie van politieke motiewe te kibbel, neem nie in ag hoe sulke uitskietersyfers die polarisasie in die land tot onaanvaarbare vlakke help dryf nie. Daar is immers baie ander faktore wat die polarisasie dryf, en om politiek korrek in sentrums en institute die oorsake van polarisasie politiek-korrek steeds op die verlengstukke van die Waarheids- en Versoeningskommissie en sosio-ekonomiese dispariteit te beperk, is om viool te speel terwyl Rome brand.

As hierdie polarisasie nie aangespreek word nie, wys hierdie “ander syfers” dat die konflikpotensiaal in die land reeds aanwesig is om die land baie skielik, baie vinnig, sommer erg op die terreurindeks te laat klim.

En elkeen wat heimlik help stook hieraan – of dit nou die grootbekkigheid van ’n Julius Malema is, of die een wat erg omgesukkel is dat sy rassistiese haatspraak as “kômmintaar” op die internet verwyder word – terreur is erg, dit slaan diep-diep wonde, en die uitkomste bring nie geliefdes terug nie, of bring nie kits-kure vir die wat so erg getraumatiseer is dat die lyers viktimologie ervaar nie.

Daar is ander maniere, wat soms meer geduld en beslis heelwat beter strategiese beplanning vereis om veranderinge teweeg te bring. Soms moet ’n olifant ook maar stukkie vir stukkie opgeëet word.

Daar kan geen romantiek in terreur wees nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Alda ·

Waarom word dit nie so voorgelê aan die mense wat die terreurindekse opstel nie – immers (as een nasie ’n ander een aanval is dit oorlog). En ja ons is nie een nasie in Suid Afrika nie, dis bog ek wil definatief nie geklasifiseer word as suid afrikaner nie ek is afrikaner, 362jaar in die land, deur bloed en sweet en vrek harde werk deur my voorouers – niks op skinkbord gekry nie en alles voor gewerk nooit gemoor of gesteel selfs in armste armoede en depressie jare deur nie. ek het geen voordele uit die verlede gekry waarvoor ek nou kwansuis moet terugstaan en vir ‘n ander nasie die deur moet oophou om al die geleenthede en nog meer te gaan gryp nie. Watse nonsens is dit – ek sê NEE! genoeg is genoeg!

Ons is afrikaners, trots waar ons vandaan kom, trots op ons geskiedenis, trots op ons liedere, ja die stem ook, selfs trots op ons vierkleur en vorige landsvlag. Julle weet, nie Engeland/Amerika grootste slawehandelaars en vaders van segregasie hoef van hul landslied of vlag afstand gedoen het nie. Net ons Afrikaners wat nie kan saamstaan en als in die water gooi – geen wonder ons is so verlore nie?

As ons saamstaan is ons magtig, sê nee vir grondhervorming, sê nee vir regstellende aksie, bewapen julself en stel eie sekuriteitemaatskappy aan met opleiding om plase regoor die land van boere te beskerm. Boerdery is in die Afrikaner se Bloed – waarom mag os nie in vrede doen waarmee ons goed is nie? Moet ons dan nou in ’n hoek sit en jammer sê omdat ons hardwerkend en talentvol wil wees??

En as een persoon nog gaan sê as jy nie van die manier hou hoe dinge hier werk nie loop, gaan ek iets oorkom, dis my land!!!! ek het ’n sê.

Ek is ook gatvol dat om iets klaarblyklik rassisties te sê erger is as om oumense op ’n plaas te vermoor – dit word belaglik.

Dit is net ’n swakker nasie wat altyd agter sogenaamde rassisme skuil – as jy ’n opregte harwerkende eerlike nasie is oor die algemeen, hoekom sal mense rassisties wees?

Cathy Kotze ·

Suid-Afrikaners het baie ondervinding van terreuraanvalle, alhoewel dit nie tans as sulks erken word nie.

Wat is die huidige arbeidsonrus, geweldadige intimidasie en die vernietiging van eiendom anders as naakte terrorisme?

Ek weet my opmerking kan dalk nie in dieselfde asem as hierdie artikel genoem word nie, maar baie Suid-Afrikaners vrees al hoe meer vir hulle veiligheid. Dit help ook nie juis as statistieke van polisie misdaad bygereken word nie. Dis nag wanneer mense te bang is om die hulp van die sogenaamde beskermers van wet in orde in te roep.

Suid-Afrikaners stroom steeds teen groot aanvanklike finansiële/- en beroeps verliese na die buiteland. Mense luister ook na die waarskuwings van Magnus Heysteck, die bekende beleggings strateeg van Brenthurst Wealth. In sy nuutste artikel op Moneyweb: “The death of the Rainbow nation” beveel hy aan dat Suid-Afrikaners al hulle beleggings aan Suid-Afrika onttrek en oorplaas na die buiteland.. Hy het nie meer enige vertroue in die regering en reserwe bank nie.

Drieks ·

Alda en Cathy, ek wens ons leiers kon verstaan wat jul sé. Ons skree vir hulp…

Ant ·

Drieks, “ons leiers” is te besig om politiek te speel en aan hofsake deel te neem, selfs die wat blykbaar buite die politiek staan. Maar ongelukkig speel ons ordentlik terwyl die oormag vuil speel. Die algemene boodskap is dat ons tog nie moet vuil speel en daal tot daai standaarde nie. Maar ons almal weet wat die sukses van hierdie aanslag was die afgelope 20 jaar.

Ek kom gereeld in die buiteland en ek kan jou waarborg niemand stel belang in hoe swaar die Afrikaner kry nie. Ons het mos uitgedeel nou kan ons vir ons kry is die algemene siening.

Die enigste oplossing is om ‘n eie grondgebied af te steek met die geld wat nog tot ons beskikking is. Skuif al die Afrikaner besighede soontoe en siedaar skielik het ons ‘n grondgebied en ekonomiese momentum om aanspraak te maak op afsonderlike bestaan. Ja ek weet dit klink baie soos apartheid. Maar hoe anders? Dink enigiemand werklik die huidige koers van die land gaan verander, of dat ‘n ander president die gevoel van die massas gaan verander?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.