Nuuskommentaar: SA boer agteruit, sê indekse

suid afrikaSommer op een dag het twee nuwe, uiteenlopende indekse aangetoon dat Suid-Afrika steeds agteruitboer. Volgens AT Kearney se vertrouensindeks het Suid-Afrika van die 13de plek as beleggingsbestemming vir die topbestuurders van groot maatskappye tot onder die 25ste plek teruggesak. Net die eerste 25 plekke word gemeet.

In die tweede indeks van die dag het Suid-Afrika sy swakste posisie in vyf jaar op Freedom House se persvryheidsindeks ingeneem. Suid-Afrika kry nou 37 uit 100 punte vir persvryheid, waar 30 die skeiding tussen persvry en gedeeltelik persvry is. Die afgelope vyf jaar haal Suid-Afrika nie die kategorie vir persvry nie, maar darem beter as in die beoordeling vir 2014.

In die algemene bespreking lys Freedom House Suid-Afrika as een van 18 lande waar persvryheid in 2014 agteruitgeboer het.

As iemand gedink het Freedom House het bietjie rof met Suid-Afrika omgegaan, dan moet hy die volledige verslag oor Suid-Afrika lees. Sommer die inleidende paragraaf dui daarop dat min dinge Freedom House se skerp waarneming van die land ontglip:

“South Africa is home to a vibrant media environment, and press freedom advocacy organizations regularly push back against government encroachments on the rights that journalists enjoy. However, such encroachments became more frequent in 2014, as President Jacob Zuma and the governing African National Congress (ANC) party stepped up the use of laws such as the apartheid-era National Key Points Act. The year also featured an increase in political and economic pressure by the ANC on both private outlets and the public broadcaster – the South African Broadcasting Corporation (SABC) – as well as an uptick in violence, including the first work-related killing of a journalist in two decades.”

Freedom House is onder meer bekommerd oor tot watter mate die regering wetgewing uit die apartheidsera aanwend om joernaliste te beheer.

Die toegang en gebruik van die internet kom ook onder die loep. Dit brei vinnig uit, en meer Suid-Afrikaners het via mobiele toestelle toegang tot die internet as deur tuisrekenaars. In totaal het 49 persent van Suid-Afrikaners toegang tot die internet, hoewel dit duur is, en die meerderheid van die inhoud in Engels is. Die hoeveelheid inligting in die ander tien amptelike tale neem egter toe.

As ’n mens na die sowat ses bladsye fynste detail kyk oor waar persvryheid in Suid-Afrika gerysmier word, sidder ’n mens oor die uitwerking wat die minister van kommunikasie, Faith Muthanbi, se onlangse mededeling oor mediabeheer op Suid-Afrika se prestasie op die 2015-indeks sal wees. Die seinblokkering in die parlement sal ook séér byt.

Hierdie deeglike verslag werp egter ook lig op ’n ander probleem waarmee Suid-Afrika en Afrika internasionaal opgesaal sit, en dit is die bekwaamheid en bevooroordeeldheid van mense wat inligting oor die kontinent versprei.

Die duidelikste demonstrasie is Verslaggewers Sonder Grense se jongste persvryheidsindeks wat vroeër vanjaar bekend gemaak is. Hiervolgens het Suid-Afrika se posisie die afgelope twee jaar van die 52ste plek tot die 42ste plek verbeter.

Verslaggewers Sonder Grense (VSG) het presies dieselfde data tot sy beskikking gehad as Freedom House, maar verkies om ietwat wild met die waarheid om te gaan. So het Suid-Afrika in die vorige verslagjaar sy posisie volgens VSG aansienlik verbeter omdat pres. Jacob Zuma “geweier” het om die snoerwet te teken. VSG was vooraf wel deeglik bewus daarvan dat Zuma die wetsontwerp terug parlement toe gestuur het vir sekere tegniese regstellings, en dat die ANC behoorlik gekeer het dat van die beginselbesware uit die weg geruim word. Maar VSG het nagelaat dat feite ’n voorafpersepsie versteur.

Oor die redes hoekom VSG skielik so blind vir SA se foute geword het, kan maar net bespiegel word. Dit is moontlik dat die aftrede van die hoof van die Afrikalessenaar iets daarmee te make het. Dit is natuurlik ook moontlik dat Suid-Afrikaanse diplomate VSG se hoofkantoor in Parys gaan besoek het, en die land se posisie met die heuningkwas verbeter het. ’n Mens aarsel om ’n derde opsie te noem – VSG was twee jaar gelede kniediep in finansiële tamatiestraat, en nadat Suid-Afrika weer sy posisie begin verbeter het, word nie meer so knaend geld gebedel nie.

Feit bly dat die media in Suid-Afrika ’n dekade of wat gelede omtrent alles wat VSG uitgereik het gretig opgeslurp het. Nou verkies die meeste Suid-Afrikaanse media om VSG en sy verslae te ignoreer.

Feit bly egter ook dat hierdie halfwas-“argumente” en “ontledings” oor Afrika en Suid-Afrika oor die algemeen erg subjektief is. Daar is byvoorbeeld ’n enorme verskil in die gehalte van die Christian Science Monitor se beriggewing oor die algemeen, en indiepteverslae oor ander wêreldlande, maar as dit by Suid-Afrika kom, word nog grootliks in geykte “feite” en argumente van die afgelope kwarteeu vasgedraai.

Hierdie tendens maak dit natuurlik baie, baie moeilik vir die Afrikaner om sy beeld en sy saak oorsee te verkoop.

Hierdie neiging om die ANC-regering met sagte handjies en in watte toegedraai te hanteer, word nou in die verslag van Freedom House netjies aan die kaak gestel, deurdat alles wat gestel word met harde feite gestaaf word. Freedom House dra ook kennis daarvan dat die snoerwet nog nie geteken is nie, en noem die feit, maar desondanks boer Suid-Afrika agteruit. ’n Mens sidder wat sou gebeur as Zuma die dag wel die wet onderteken.

Teenspoed op een indeks steek maklik ’n ander indeks aan, en Suid-Afrika se kreeftegang op soveel indekse doen die land se beeld as beleggingsbestemming baie skade.

Thabi Leoka, ekonoom by Renais­sance Capital, stel dit só: “Die skerp daling in beleggersvertroue is kommerwekkend vir ’n land wat afhanklik is van buitelandse kapitaalinvloei om te groei.”

Die regering verbrou gereeld, en soos die gesegde lui: “Met sulke vriende het jy nie nog vyande ook nodig nie.”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Debbie ·

daar is net EEN manier om dit weer reg te stel………..

Peet Schabort ·

My Duitse onderwyser het die volgende uitdrukking gebruik as jy nie so waffers vaar:
“Jy swem soos ‘n klip en duik soos ‘n kurkprop”.
Daar is nog baie om af te breek. “Doet zoo voort”.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.