Nuuskommentaar: SA draai dowe oor

Barack Obama tydens sy huldeblyk by die gedenkdiens. Die tolk staan regs van hom. Foto: Alon Skuy, SAPA

Barack Obama tydens sy huldeblyk by die gedenkdiens. Die tolk staan regs van hom. Foto: Alon Skuy, SAPA

Talle vrae hang in die lug na die gebaretaaltolk tydens oud-pres. Nelson Mandela se begrafnisdiens ‘n wêreldwye verleentheid vir die land veroorsaak het. DeafSA sê die man se onvermoë om gebaretaal te kan praat is tevore reeds na ‘n rampspoedige “vertoning” skriftelik onder die ANC se aandag gebring.

Maar hierdie was ‘n staatsgeleentheid, en die ANC pleit totale onkunde.

Maar die wêreld se dowes is nie al wat nie moes hoor nie. Die City Press beweer dat verskeie hoës opdrag gegee het dat die herhaalde uitjouery van pres. Jacob Zuma ook uit die nuus gesny moes word. Verslaggewers sonder Grense, wat nou die jongste persvryheidsindeks opstel, stel ondersoek in.

Bronne oor hoeveel mense in Suid-Afrika doof of hardhorend is, verskil baie – van net minder as ‘n half miljoen tot sowat vier miljoen. Die gehoorgestremde gemeenskap self dui die syfer aan as sowat een en ‘n half miljoen, aansienlik meer as die amptelike sensusgegewens. Na raming gebruik sowat 600 000 Suid-Afrikaners gebaretaal. Baie hiervan is ouers wat goed kan hoor, maar ‘n dowe kind het om die kind nie uit die gesinslewe te isoleer nie. Gebaretaal word ook toenemend by ander gestremdhede soos outisme en Downs ingespan.

Gebaretaal is ten spyte van openbare aandrang nie ‘n amptelike taal nie. Al is daar geringe streekverskille, kan mense wat gebaretaal onder die knie het, mekaar internasionaal redelik goed verstaan. ‘n Goeie gebaretaaltolk sou dus miljoene mense oor die hele wêreld kon bereik, maar toe maak hy droog.

Ten spyte van bepalings in die grondwet wat veronderstel is om regstellende aksie onder meer ook vir mense met gestremdhede in te hou, is die werkloosheidskoers onder die gehoorgestremde gemeenskap baie hoog – sowat 70 persent. Dit hou verband daarmee dat net sowat 40 persent van skoolgaande ouderdom skole bywoon, en 66 persent ongeletterd is.

Vir die dowe gemeenskap is dit wat gebeur het erger as Guptagate omdat hulle uit iets wat vir baie ‘n groot geleentheid was, effektief uitgesluit is. Daar sal wel iets positief uit die voorval kan spruit as dit daartoe bydra dat die fokus behoorlik op die posisie van mense met gestremdhede val. Elke tipe gestremdheid hou unieke uitdagings in, terwyl daar ook ‘n groot voorkoms van multi-gestremdheid is.

Uit hierdie geledere tree gereeld merkwaardige mense na vore wat as ambassadeurs vir hul gestremdhede kan optree, en dit doen. Die bekende Vicky Fourie, wat danksy ‘n onlangse inplanting geleidelik meer en meer toegang tot die horende wêreld verkry, tree al ‘n geruime tyd as motiveringspreker op. Die bekende Fanie du Toit bied radioprogramme aan. Daantjie (Dinamiet) Badenhorst, wat ‘n vorm van outisme het, het Noot vir Noot en Flinkdink gewen. Ander is uitstekende kunstenaars.

Ellelange waglyste by spesiale skole, en die hemelhoë koste van private instellings beperk dikwels die toeganklikheid van skoolopleiding vir ‘n gemeenskap wat reeds met groot uitdagings te kampe het.

Ouers en boeties en sussies van kinders met gestremdhede ervaar dikwels saam die geweldige uitdagings en maak enorme opofferings. Maar byna almal kan ook getuig van die engele wat oor hul en hul kinders se pad kom – daardie mense wat omgee en die ietsie ekstra en spesiaal doen om ‘n wêreld te help ontsluit, om talente te help ontwikkel. Of in gevalle van erge gestremdheid, passievol help versorg. Maar daar is sommer nog baie plek vir nog sulke engele, want elke persoon met ‘n gestremdheid is ook ‘n unieke individu met unieke behoeftes en opleidingsvereistes.

Daar is nie ‘n ander planeet vir persone met gestremdhede nie. Hulle woon onder ons, tussen ons. En tog ervaar baie dat hulle net sowel op ‘n ander planeet kon wees – soos wat die gehoorgestremde gemeenskap danksy ‘n onbeholpe “tolk” ervaar het. Maar dalk het hy onbedoeld aan die horende wêreld getolk dat die gelukkiges hul oë en ore moet oopmaak en kyk wat om ons aangaan.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Rudi ·

Hy’s net ‘n bullebak, hulle lyk dieselfde ongeag ras of familie.

Maar hy is blykbaar wel familie van een van Zuma se vrouens.

Gemsbok ·

As dit is wat die regering aanvang met iets waarvoor hulle omgee, dan wil ek nie weet hoe hierdie land oor 20 jaar gaan lyk nie…

Demokraat ·

Die ANC-regering het maar weereens net sy gebrek aan insig en oordeel bewys ongeag of hy daardeur verleentheid vir homself of die ganse Suid-Afrika skep.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.