Nuuskommentaar: SA en indekse

Die Mo Ibrahimstigting het pas sy jaarlikse indeks bekend gestel waarin Suid-Afrika se regeervermoë oor ‘n wye spektrum van kategorieë teen ander Afrikalande gemeet word.

Opsommend gestel, Suid-Afrika vaar beter as die kontinent se gemiddeld. Trouens, algeheel oor al die kategorieë gemeet is Suid-Afrika met 71 punte uit ‘n moontlike 100 in die vyfde plek uit ‘n moontlike 53 plekke. Die eilandstaatjies van Mauritius, die Seychelle en die Kaap Verde, asook ons buurland, Botswana, vaar beter.

Dié stigting se beoordeling word gewoonlik hoog aangeslaan en is die produk van ‘n gekombineerde intellektuele poging. Die hoofkantoor is in Londen, terwyl die stigter, Mo Ibrahim ‘n Soedannees – Britse kommunikasiemiljardêr is.

In die kategorie vir openbare bestuur het Suid-Afrika die eerste plek behaal. Die mees onlangse kommentare deur meningsvormers in Suid-Afrika sal die wenkbroue oor hierdie plasing op die indeks laat lig, en vrae oor die stigting se objektiwiteit laat ontstaan. Van die gesaghebbende politieke analiste gebruik immers terme soos dat Suid-Afrika in die afgrond in bestuur word, die regering is ‘n vrot regering, korrupsie het endemies geword, die president is ‘n flou makou en vele meer.

Of anders om beskou, Afrika moet besig wees om homself ten gronde te bestuur as Suid-Afrika se vertoning die beste op die kontinent is.

Die stigting is egter bekend daarvoor dat dit baie konserwatief is wanneer lande se posisie op van sy indekse aangepas word.

Oor ander aspekte waarin Suid-Afrika goed vaar kan daar min gekibbel word. Suid-Afrika het danksy die howe steeds ‘n regstelsel wat oor die algemeen ten opsigte van menseregte respek afdwing. Dat manifestasies hiervan, soos die haatspraak-uitspraak van Julius Malema ten spyte van, eerder as danksy die ANC kom, is pikant. Trouens, kritiek op die regstelsel vanuit regeringsgeledere neem toe en is al selfs as die regering se werklike opposisie beskryf.

Op die indeks het Suid-Afrika se posisie vir soverre algemene regeervermoë betref die afgelope vier jaar agteruit geboer.

Dat Suid-Afrika in die Afrika-konteks 44ste vir persoonlike veiligheid kry, terwyl gesondheid die 21ste plek, en landelike ontwikkeling die 14de plek inneem, is verontrustend. Baie potensiële beleggers sal bekommerd wees dat Suid-Afrika nie meer die top-Afrikaland vir die voorsiening en instandhouding van infrastruktuur is nie, maar die elfde plek beklee.

Dit is goed en wel om goed te presteer vergeleke met ander Afrikalande, maar in die wêreld maak dit saak hoe ‘n land op internasionale indekse vaar, en daar is die nuus minder goed. Om maar een voorbeeld te noem: Die Ibrahimstigting plaas Suid-Afrika se onderwys in die vyfde plek op die kontinent, maar terselfdertyd is daar in die land self onder opvoedkundiges groot kommer oor die baie gevalle van funksioneel ongeletterdes wat deur die skoolstelsel beweeg het en op universiteite en ander instellings van hoër onderwys aanland.

Verslaggewers Sonder Grense jongste jaarlikse persvryheidsindeks word nou enige oomblik verwag. ‘n Jaar gelede het Suid-Afrika op hierdie indeks met 5 plekke tot die 38ste plek teruggesak. In 2003 het Suid-Afrika nog die 22ste plek ingeneem, en was dit die mees persvrye land op die kontinent. Namibië beklee nou die 21ste plek met lande soos Ghana, die Kaap Verde en Mali wat bykans deurgaans beter as Suid-Afrika vaar.

Die persvryheidsindeks is dikwels ook ‘n goeie aanduider van waar ‘n land hom op die ander internasionale indekse sal bevind. Met die jongste korrupsie-persepsie-indeks het Suid-Afrika byvoorbeeld na die 54de posisie teruggesak. In 2009 was dit nog die 45ste posisie. Dit het ‘n impak op byvoorbeeld die beleggersvertroue-indekse, en ander indekse wat in die handel en wandel as die piesangrepubliek-indekse bekend staan.

Uit 92 lande wat deur die Heritage Foundation gemeet is, beklee Suid-Afrika die 74ste plek op die 2011 indeks vir vrye ekonomieë. Namibië (73), Kaap Verde (65) en Botswana (40ste) is van die Afrikalande wat beter as Suid-Afrika vaar.

Op die jongste Insead-innovasie-indeks het Suid-Afrika die 59ste plek ingeneem. Insead meet aspekte soos ekonomiese ingesteldheid, intellektuele inspanning en sosio-maatskaplike faktore om die indeks op te stel, en beskou dit as die vernaamste dryfvere wat vooruitgang moontlik maak. ‘n Troosprys is dat Suid-Afrika op hierdie indeks net deur Mauritius as Afrikaland getroef word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.