Nuuskommentaar: SA fragmenteer op grondvlak ten spyte van regering  

Argieffoto.

Suid-Afrika het ʼn uiters komplekse geskiedenis om die republiek te wees wat dit vandag is. Honderde jare gelede het die gebied bestaan uit talle stamgebiede. Daarna is dit in vier lande verdeel – Transvaal, Oranje-Vrystaat, Natal en die Kaapprovinsie. Die lande het uiteindelik saam die Unie van Suid-Afrika gevorm. Nou is dieselfde grondgebied die Republiek van Suid-Afrika.

Dié Republiek neem die vorm van ʼn unitêre staat met federale elemente aan. Die meerderheid mag is gesetel by die sentrale regering. Die federale elemente – dit is die provinsiale en munisipale verdeling – het in praktyk uiters min mag. Sodoende bly verreweg die meeste mag in sentrale beheer.

Vir alle praktiese doeleindes het ons die komplekse geskiedenis van ons grondgebied gereduseer tot ʼn meerderheidsregering in ʼn unitêre staat. Dit pas die ANC ook goed – dit is slegs deur hierdie sentrale meerderheidsregering wat die party sy breedvoerige mag sal kan behou.

Die ANC se droom van sentrale beheer oor ʼn homogene staat strook egter nie met die werklikhede nie. Suid-Afrika is eerder ʼn land wat homself nog altyd op grondvlak federaal en gefragmenteer georganiseer het.

Die regering het tydens hierdie krisis een oorkoepelende en eenvormige aanslag tot die hantering daarvan geneem.

Suid-Afrika is ʼn uiters diverse land – in terme van kultuur en selfs klas. Verskillende groepe in die land het uiteenlopende behoeftes, beperkinge en vermoëns. Eerder as om dié groepe toe te laat om hulself doeltreffend en gesond te bestuur, het die regering met sy eenvormige sentrale aanslag dié groepe op verskillende maniere in die steek gelaat.

ʼn Onlangse peiling deur die Universiteit van Johannesburg (UJ) se Sentrum vir Maatskaplike Verandering en die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) het juis dit aangetoon.

Algehele steun vir pres. Cyril Ramaphosa het natuurlik sedert die begin van die inperking afgeneem. In informele nedersettings steun sewe uit tien mense steeds die president. Onder minderheidsgroepe het Ramaphosa se steun egter drasties gedaal sedert die begin van die grendelstaat. Wit mense se steun het meer as halveer tot sowat vier uit tien. Indiërs se steun het ook tot sowat drie uit tien halveer.

Hoewel groepe in Suid-Afrika in veel meer komplekse kategorieë as ras verdeel kan word, kan ras ʼn redelike goeie aanduider van kultuur wees – veral wanneer dit kom by minderheidsgroepe. Meer as die helfte van wit mense in Suid-Afrika is Afrikaans. Afrikaners het dus in hierdie tyd saam met Indiërs oorweldigende steun vir die president verloor.

Diegene wat oorweldigend vertroue in Ramaphosa het, is daarmee saam ook meer gewillig om hul regte prys te gee in die geveg teen Covid-19. Byna 8agt uit tien ANC-ondersteuners is bereid om hul regte hiervoor prys te gee en is ook meer bereid om hul reg tot werk prys te gee.

Die ANC se politieke steun is grootliks in informele nedersettings gesetel. Hierdie gebiede is duidelik nie net meer bereid om hul werk prys te gee onder hierdie omstandighede nie, maar het daarmee saam ook vertroue in die regering om die krisis te hanteer. Dit spreek van ʼn groep mense wat oorweldigend afhanklik van die regering is en ook gemaklik met die afhanklikheid is.

Hierdie afhanklikheid maak ook sin. Die uiters swak ekonomiese omstandighede in ons land dompel miljoene mense in armoede. Ekonomiese mobiliteit is vir hierdie groepe byna niebestaande en daarom is dit byna onmoontlik om armoede te ontsnap. Sodoende is die regering die enigste hoop op ʼn beter bestaan. Die regering se deurgaanse vergroting van die welsynstaat onderhou ook dié kultuur deur dit toenemend lonend te maak om van die regering afhanklik te wees.

Die peiling het bevind dat wit Suid-Afrikaanse burgers en meer gegoede burgers die onwilligste is om enige regte prys te gee. Minderheidsgroepe soos Indiërs, Afrikaners en wit mense oor die algemeen deel daarom hierdie sentiment.

Slegs drie uit tien mense is bereid om die reg om skool en universiteit by te woon, prys te gee. Diegene in hoër inkomste groepe is weereens meer geneig om ten gunste van die heropening van skole vanjaar te wees.

Hierdie onbereidwilligheid om regte prys te gee, spreek van groepe wat nie dieselfde afhanklikheidsverhouding met die regering het nie. Weens ʼn kleiner afhanklikheid is hierdie groepe minder geneig om die regering se optrede gelate te aanvaar. Groepe wat meer selfstandig is, het die vermoë om afstand van die regering te doen as hulle wil.

Afrikaners en Indiërs is van die suksesvolste minderheidsgroepe in die land. Dit is in terme van vlakke van opvoeding en inkomste. Die groepe se sukses maak ʼn kleiner afhanklikheid van die regering moontlik. Die groepe het volledig die vermoë om hul eie behoeftes te bepaal en suksesvol daarna om te sien.

Die kulturele neigings van verskillende groepe is in hierdie opsig ook deurslaggewend. Sommige groepe het bloot ʼn kleiner wil vir onafhanklikheid as ander. Afrikaners het eerder die onbekendheid van die res van Suider-Afrika aangepak as om onder die onderdrukkende beheer van die Britte te bly. Daarenteen bestaan daar Afrika-stamme wat vir honderde jare ontevrede, dog met gelatenheid onder hoofmanne bly leef het. Die een kultuur is nie beter as die ander nie – dit is bloot ánders. Hierdie verskil speel ʼn belangrike rol in die neigings om onafhanklikheid van groepe in ons land.

Groepe met die vermoëns én wil om onafhanklik te wees, is toenemend besig om vir hulself ʼn ander werklikheid op grondvlak te vestig. Diegene wat hulself kan en wil bestuur, begin dit toenemend ten spyte van die regering se sentrale neigings doen. Die regering se daadwerklike sentrale mag is aan die kwyn. Sodoende gaan die ruimte vergroot waarin groepe na hulself op grondvlak kan omsien – en ongelukkig ook die noodsaak daarvoor.

Groepe wat reeds na hulself op grondvlak omsien, kan daarom as bloudruk vir ander groepe begin dien. Namate groepe na hulself begin omsien, gaan die Suid-Afrika wat ons eintlik is stelselmatig op grondvlak gestalte begin kry. ʼn Suid-Afrika wat federaal saamgestel is uit uiteenlopende kultuurgroepe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Werner ·

Maar net weer n bewys dat n reenboognasie wensdenkery is.Soos die land nou fragmenteer en aanvalle op blankes by die minuut eskaleer sou ek se ons staar n rewolusie in die gesig

Maria ·

Interessante peilings. Dit vertel mens nogal baie. Die regering se beursie is egter leeg, mens wonder hoe hulle die welsynstaat gaan onderhou.

Kanjynoumeer ·

Lees gerus “Die pad na SELFBESTUUR Anderkant die mislukking van staatsbestuur geskryf deur Flip Buys. Verkrygbaar by Kraal Uitgewers.
Hierdie boek gee vir jou n goeie insig rakende Suid Afrika en Afrikaners (wit mense).

Jaco ·

My plan sal  binne 5 jaar ‘n reuse verskil maak:
vra die ANC om dadelik onteiening sonder vergoeding te begin in 8 van die 9 provinsies, om wit mense se stemreg weg te vat en ons tot 2de klas burgers te verklaar. Verskuif al die wit mense Wes-Kaap toe; gedwonge verskuiwings soos wat die vorige wit regering met swart mense gedoen het. Maak die Wes-Kaap ‘n wit tuisland met selfregering vir hulle eie sake. Laat buitelandse beleggings daar toe. Maak belastings ook hoër om steeds inkomste vir die sentrale regering in Pretoria te verseker. Kortom, bring apartheid terug en “mik” dit teen die wit mense. Verskuiwings sal maksimum 3 jaar vat. Die Wes-Kaap Jan binne 5 jaar soos Hong Kong lyk, maar so ‘n proses kan dadelik begin. 90% van die infrastruktuur daarvoor bestaan reeds. En belastings op daardie “Hong Kong” kan die ANC in die res van SA dan weer laat incash. Uiteindelik wen almal.
Almal moet net leer “buite die box”, buite die “comfort zone” dink en doen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.