Nuuskommentaar: SA hét standaarde – Dubbele standaarde

Argieffoto

Argieffoto

In die dae toe politieke korrektheid bepaal het hoe krities ’n mens op die ANC-regering kon wees, het ’n koerant in sy hoofartikel geskryf dat die ANC behep is met middelmatigheid. Heimlik het baie lesers seker gewonder: As dit wat ons waarneem middelmatigheid is, hoe lyk heeltemal sleg dan? Sal gemeenskappe werklik so gewelddadig oor dienslewering in opstand kom as daardie dienslewering dan “middelmatig” was?

Ons beleef hierdie dubbele standaarde daagliks in die vorm van rassekriteria vir bevordering, aanstelling, beurse, studielenings, keuring van vakrigtings, die verkryging van tenders, mediese parool (of sommer parool en volkome kwytskelding), moedertaal, geskiedenisverwringing en vele meer.

Hoewel die ANC steeds volhou dat hy hoë standaarde nastreef, word hy (steeds) volgens homself in die wiele gery deur faktore soos die nalatenskap van apartheid, en toenemend word kolonialisme geblameer, en nou selfs Jan van Riebeeck.

Die Van Riebeeck-sage herinner aan die stelling in die Vrystaatse Wetgewer enkele jare gelede dat die voorsate van die land se misdadigers die land per skip bereik het.

Oud-minister Tokyo Sexwale, toe minister belas met huisvesting, het met die opening van ’n nuwe HOP-skema die regering se onvermoë om voor te kom, aan die vinnige aanwas van die mense toegeskryf. Dat hy sedertdien ’n gewese politikus is, is seker maar daaraan te wyte dat hy sy rug vir pres. Jacob Zuma, ’n vader van vele, styf gemaak het.

Intussen het die Vryheidsfront Plus ’n brief aan die Menseregtekommissie, die Openbare Beskermer en die Onafhanklike Verkiesingskommissie gerig oor haatspraak en dubbele standaarde. In wese kom dit daarop neer dat die Menseregtekommissie teen Sunette Bridges optree, maar niks gekom het van klagtes van haatspraak wat die VF Plus by hierdie drie liggame ingedien het nie. Die klagtes was veral teen Julius Malema en die EFF gerig. Voorbeelde sluit in plakkate en oproepe met die woorde, “A revolutionary must become a cold killing machine motivated by pure hate” en  “Honeymoon is over for white people in South-Africa”.

Een van die Facebook-boodskappe op Julius Malema se blad is geplaas deur ene Thato Mbateti en bevat skokkende detail oor hoe wit vroue verkrag moet word, kinders verbrand moet word en mans gemartel moet word. Hy noem dat Malema sy volgelinge voorsê om wittes te vermoor.

Voorbeelde van dubbele standaarde is legio. Sommige word gepleeg onder die vaandel van kaderontplooiing, die amptelike beleid van die ANC. Dit beteken al te dikwels dat ʼn geskikte persoon of persone vir ’n pos beskikbaar is wat ʼn sleutelrol in munisipale dienslewering moet speel, maar dat teruggestaan moet word vir kaders waar die motiverings vir aanstelling bo ander kandidate na grepe uit die gebroeders Grimm se feëverhale klink. En dis ongrondwetlik. Die grondwet maak slegs voorsiening vir “in ’n mate” politieke aanstellings, en volgens internasionale konvensie is dit hoofsaaklik bedoel om departementshoofde aan te stel wat nie ideologies te ver verwyder van die minister is nie. Maar die grondwet vereis dat sekere standaarde gehandhaaf moet word, wat goed deur die woord “doeltreffendheid” beskryf word. Volop juridiese akrobasie is nodig om kaderontplooiing in pas met die grondwet te bring.

Vir ander dubbele standaarde word die woord transformasie ingespan. Die rasbenepe manier waarop dit ingespan word, maak dit al hoe moeiliker om ’n goeie woord hieroor te sê.  Net te veel gevalle kom voor waar persone met bewese vaardighede en internasionale erkenning nie vir bevordering in aanmerking kom nie, en sy ras as rede aangevoer word. Maar dit is nie al nie, by verskeie gevalle op universiteite is die onsuksesvolle kandidate daarvoor bekend dat hul eie politieke oortuigings effe wyd van dié van die regering lê, en lyk dit meer waarskynlik dat die ras-kwessie eintlik net ’n rookskerm was om die persoon se kandidatuur uit te skakel.

Oor baie gevalle kan maar net gewonder word. Is daar nie vraagtekens as die groen Skerpioene die media nooi om deel te neem aan ’n klopjag op ’n boer of stedelike entrepreneur, maar daar was nog geen skuldigbevinding of selfs formele aanklag in die hof nie? Terwyl munisipaliteite wat dieselfde doen soos om rou riool in riviere te stort, versuim om verstopte rioolpype oop te maak, versuim om hul rioolplase behoorlik te bedryf, waar gaggie-water uit die krane kom (as daar ooit water uitkom), maar skynbaar jare lank skotvry daarvan afkom ongeag hoeveel kriminele en ander klagtes gelê is.

Terwyl een sy aandeel in die Guptagate-skandaal erken het en toe as ambassadeur in Nederland aangestel is, en die aanklagte teen ander “verdagtes” laat vaar is, moes twee beamptes maande land met die swaard van vervolging oor hul koppe loop – tot die aanklagte teruggetrek is na hul vakbond die weermag op terme geplaas het. Toevallig is die twee “uitverkorenes” om as vermoedelike sondebokke te dien, beide wit.

Twee Kovsiestudente is weens ʼn “ernstige rassevoorval” summier geskors en die banvloek opgelê. Tydens die verhoor het dit al te veel gelyk of die klaer die eintlike rassis in die verhaal is. Die twee studente is eers deur die Menseregtekommissie, en toe die hof, onskuldig bevind. Hulle het ’n jaar se studie verloor. Wanneer daar soortgelyke bewerings teen swart studente gemaak is, is dit skynbaar baie gou onder die mat ingevee.

Let wel, die bedoeling hier is nie om die gevalle se meriete te beoordeel nie. Dit gaan oor die persepsies wat ontstaan wanneer inligting so selektief bestuur is dat die universiteit deur die Persombudsman, by wie die universiteit gaan kla het, berispe word omdat saakmakende inligting aan die media weerhou is.

In ’n heterogene samelewing moet met baie groot omsigtigheid omgegaan word oor hoe optredes raspolariserende persepsies laat ontstaan en voed.

Iemand, wat heel duidelik self agter die deur staan, kan nie maar sommer net ’n ander met wie hy haaks is ’n rassis noem, en dan meen die saak is daarmee afgehandel nie. Daardie stelling kan die slagoffer op verskeie maniere seermaak, en by herhaling later in sy loopbaan stilletjies tot sy nadeel teen hom ingespan word. Sonder dat hy ooit die geleentheid gehad het om homself te verweer.

Om met volstruispolitiek te reageer is nie reg nie. Volgens die regering het die huidige xenofobiese aanvalle niks met xenofobie te make nie, en speel ras geen rol by plaasaanvalle nie. As die gebroeders Grimm vandag geleef het sou hulle sonder werk sit, soos die regering hulle met die skryf van feëverhale voorspring.

Miskien is dit tyd dat ons almal, van Zuma tot sy kabinet tot die geringste onder ons ’n slag die Opdrag ter harte neem: Doen aan ander wat ons graag wil hê ander aan ons moet doen. En nee, hiermee word nie bedoel dat hofaanklagte teen vriende aanhou “verdwyn” nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hanno Visagie ·

Dit is nie die ANC-kaders wat Afrikaner-Christene die meeste skade aandoen nie, maar die mammondienende verlooptes.

Kabous ·

Ek dink Toerien slaan die spyker telkemale op die kop.
Ek stem veral saam dat iemand, wat heel duidelik self agter die deur staan, sommer net ’n ander met wie hy haaks is ’n rassis noem nie, en dan meen die saak is daarmee afgehandel nie.

Jy kan bykans nie met die ANC verskil of met ‘n swart kollega (veral ‘n ranggelyke of ondergeskikte) verskil sonder om gevaar te loop om ‘n rassis genoem te word nie.

Werkgewers beskerm werknemers wat van rassisme beskuldig word bitter selde en dit is ‘n onding.

Ek stel voor dat elke persoon wat valslik van rassisme beskuldig word dagvaar vir naamskending of ten minste net ‘n prokureursbrief aan die lasteraar laat skryf om hom te waarsku om homself daarvan te weerhou om mense links en regs rassiste te noem.

Grassie ·

Hanno is reg – ‘n persoon wat teen sy eie soort draai rig tien maal meer skade aan as ‘n gewone, tradisionele vyand.
Ek ly deesdae ook aan dubbele standaarde. Ek is eintlik ‘n baie vreedsame ou maar as sekere persone se gesigte op tv verskyn begin my bloeddruk styg en die wysvinger van my regterhand begin onwillekeurige trekbewegings maak.

David ·

Uitstekende berig! Dit is vir my net verstommend dat sommige van ons beroemde Afrikaanse kunstenaars oor die kole gehaal word wanneer dit op sosiale media gepubliseer word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.