Nuuskommentaar: SA hofsake doen maar min vir versoening

Regter Willie Seriti (regs) en regter Thekiso Musi oorhandig die kommissie se verslag aan oudpres. Zuma op 30 Desember 2015. Foto: GCIS

Op een dag was daar uitsprake in twee sake wat onderlinge gesindhede en die regsreputasie van die land sterk gaan beïnvloed, en ’n derde saak wat hiermee verband hou, is uitgestel. Die twee “afgehandelde” sake lui eerder ’n nuwe era in as wat dit een afsluit.

Om opeenvolgend te lees die hof het die bevindinge van die Seriti-kommissie tersyde gestel, regstreeks daarna die gelykheidshof het bevind die “gratuitous display” van die ou landsvlag is haatspraak, en dan nog te hoor die BLF-leier, Andile Mngxitama, het voor sy haatspraakverhoor dieselfde walglikhede kwytgeraak as waarvoor hy aangekla is, is soos om aan ’n heerlike pinotage te teug, dan die smaak eers met ’n goedkoop Oom Tas af te spoel, en daarna boonop nog ’n sluk of wat Bloutrein deur die smaakkliere te jaag.

Vir enigiemand met selfs die geringste rafeltjie trots op Suid-Afrika moet dit ’n yslike verligting wees dat die hooggeregshof die Seriti-kommissie se verslag oor die groot wapenskandaal tersyde gestel het. Hoe meer ’n mens oor dié skandaal van ’n “ondersoek” skryf, hoe minder is die kanse dat ’n mens vir minagting van die hof in die sop kan beland. Terselfdertyd, met die hof se bevinding in die hand, hoe skraler lyk die kanse dat ’n mens, selfs al probeer hy hard, hom aan enigiets behalwe die waarheid sal kan “skuldig” maak.

Selfs die grootste regsleek sou besef daar is ’n yslike slang in die gras toe die kommissie bevind daar was niks fout met die wapentransaksie nie, en dat niemand nog daaraan skuldig bevind is nie. Dít terwyl ’n voorste ANC-LP, Tony Yengeni, daarvoor tronkstraf uitgedien het, en Jacob Zuma se eertydse finansiële adviseur, Schabir Shaik, ook ’n vlugge draai agter die tronkdeure gaan maak het.

Die skandaal word groter as in ag geneem word dat Seriti ’n regter van die appèlhof was. Dit móés noodwendig die statuur van die land se regspraak skaad.

Niemand behalwe diegene wat skuldig was aan bedrog met die wapenskandaal kan ontevrede wees met die hofbevinding wat die Seriti-verslag van die tafel afvee nie.

Die reuse-albatros om die land se nek het losgekom en is vort – solank die Vervolgingsgesag nou ook sy staatskaping kan afskud en vervolging kan begin soos dit lankal gedoen moes wees. Met “No One” wat nou ook sommer Beskuldigde nr. Een sal wees.

Die een wat dit gaan geniet om hierdie proesel pinotage met ’n paar slukke Oom Tas af te sluk herinner aan die klas van ’n suiplap wat op ’n dag sy leë bottels gaan inruil, en met dié geld ’n splinternuwe Rolls Royce aangeskaf het. Dan haak hy sy flenter-karavaan, al jare lank sy gehawende blyplek, agter die Rolls en gaan hou by Seepunt vakansie.

Trouens, ’n gerespekteerde regsgeleerde, adv. Anton Alberts, voorsitter van die Vryheidsfront Plus, het in ’n verklaring die hoop uitgespreek dat Seriti vir moontlike vervolging ondersoek sal word: “Die hooggeregshof in Pretoria het bevind wat Suid-Afrikaners lank reeds weet, naamlik dat die Seriti-kommissie ná die omstrede wapentransaksie waarby oudpres. Jacob Zuma betrek word geen ware poging aangewend het om korrupsie oop te vlek en die skuldiges aan die man te bring nie.

“Die VF Plus dring daarop aan dat alle inligting en getuienis wat voor die Seriti-kommissie gelewer is aan die polisie se eenheid vir prioriteitsmisdaad oorhandig word vir ondersoek en vervolging. Die skuldiges kan nie toegelaat word om skotvry weg te kom nie.

“Regter Willie Seriti moet ook verantwoording doen en die ondersoek moet hom insluit om te bepaal of hy strafregtelik aanspreeklik gehou kan word vir die mislukte kommissie.”

Vir baie mense is dit ’n geval dat die herstel in ons regspraak wat hulle pas deur die wapenskandaal-uitspraak herwin het, nou weer verloor is met die bevinding dat die ou landsvlag se vertoon op haatspraak neerkom. Dié uitspraak is in ’n japtrap deur ’n rits Afrikaanse instellings gestriem – instansies met talle lede wat gerespekteerde regslui is.

Elkeen sal sy eie “gevoel” oor die uitspraak hê. Die uitspraak het, soos alle ander uitsprake van presedent-skeppende regspraak, ook regsgevolge. ’n Belangrike vraag is dus nou hoe die regter se definisie van haatspraak ander sake, “afgehandel” en komende, oor haatspraak gaan raak. Op die oog af lyk dit of die Malema-uitsprake waaraan hy reeds onskuldig bevind is (dit klink soos haatspraak, dit het dieselfde gevolge as haatspraak, maar is tegnies nie haatspraak nie) met groot gemak in die jongste uitspraak se definisie kan inpas – tensy volgehou word met die “siening” van onder meer swart bewussynsleiers dat swart mense per definisie nie rassiste kan wees nie, en daarom ook nie aan haatspraak teenoor ander rasse skuldig kan wees nie.

Andile Mngxitama, leier van die BLF, buite die hof.

Dit bring ons by die derde saak wat gister in hierdie konteks in die nuus was, al is die saak toe bloot uitgestel – die saak teen Andile Mngxitama van die BLF.

Vir enige regdenkende mens is die BLF (intussen deur OVK as party gederegistreer) rassisties onder meer omdat dit geen wit lidmaatskap toelaat nie. Tog deel die BLF lustig die lakens uit en word organisasies soos AfriForum van rassisme beskuldig.

Waar hersieningsaansoeke opduik, soos die een oor die Seriti-kommissie hierbo, en waarvan die huidige Openbare Beskermer ’n “slagoffer” geword het met nege OB-verslae wat reeds deur die howe hersien en tersyde gestel is, kan die jongste uitspraak kardinaal word in die land waar selfs die Menseregtekommissie blatant onewehandig optree, en dit sterk en aggressief in die openbare domein verdedig.

In hierdie geval is dit tog ondenkbaar dat die volgende woorde, “We’ll kill their children. We’ll kill their women. We’ll kill anything that we find on our way. We’ll kill their dogs. We’ll kill their cats. We’ll kill anything that comes before us”, nié op haatspraak neerkom nie.

Kortom, indien hierdie uitspraak kan bydra tot die wegdoen met die wanpraktyk van onewehandigheid, dan dien dit reeds ’n doel.

Of dit die skade kan neutraliseer wat die uitspraak aan die bedoelings van die Nasionale Vredesakkoord aangerig het, sal nog gesien moet word. Die EFF het immers reeds aangedui dat die uitspraak gebruik gaan word om ook die ou Volkslied (waarvan ’n deel nou deel van die nuwe Volkslied is), tot haatspraak te laat verklaar.

Die EFF het reeds met sy stigting gesê dit stel minder in versoening belang, en meer in revolusie. Sedertdien is die spoor van verwoesting wat hierdie soort houding tot gevolg het, keer op keer gesien.

Internasionale voorbeelde dui daarop dat dinge wat gesindhede tussen groepe vertroebel, moeilik opgelos kan word deur simptome aan te raak. Mense kan nie deur wetgewing gedwing word om versoen te wees nie, soos waar een groep glo die ander het sy grond gesteel, maar die “diewe” het die geskiedenis aan hul kant wat op die teendeel dui.

Die afgelope paar jaar was daar byvoorbeeld in die VSA skerp reaksies vanuit die swart gemeenskap oor simbole van die Suide tydens die burgeroorlog wat gewild geword het, soos die aanbring daarvan op nommerplate.

Wanneer ’n Vredesakkoord op oorwinning eerder as op vrede en versoening gefokus is, is daar immers geen vrede nie. As die vrot appels aan weerskante boonop die toon aangee, word die vuur van vertering gestook.

En dit is dalk nou belangriker as tegniese en veral tegnies bekookte uitsprake wat bloot die vlamme aanblaas.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jaco ·

Na aanleiding van wat met die uitspraak oor die landvlag plaasgevind het is dit duidelik dat daar nooit versoening kan of sal plaasvind nie. BLF saak gaan ook op niks uitloop nie oor dieselfde rede. Die reenboognasie en moontlikhede van versoening is , myns insiens , gister maan toe gestuur

Johan ·

As Apartheid dan so ‘n goeie verskoning is om weg te kom met haatspraak, kan hulle mos dieselfde verskoning gebruik om kwytgeskeld te word van roof en selfs moord! Want dan kan hulle mos nie rassiste, diewe of moordenaars wees nie!

JR ·

Nou waar is Gerrie Nel het ons land nie meer n regverdige regstelsel nie want al die regters is in runste van die beskuldiges

koos ·

JR, ek het dieselde gedink. Gerrie en Afriforum spandeer baie geld op hofsake wat eintlik (met respek getik) “klein” sake is. Kan hulle nie die tyd, geld en energie gebruik om hierdie staatkapers aan die pen te laat ry nie?
Moenie my verkeerd verstaan nie asb, ek bedoel dit as opbouend en nie afbrekend nie. Vat die groot visse aan en die klein visse sal nie oorleef nie.

Arak ·

Met hierdie onewehandige uitsprake in die howe, hoeveel van ons gewone mense het nog enige vertroue in ons regstelsel? Ek het nie.

Koos de Meyer. ·

Die Blf moet sy woorde mooi tel. Die omgekeerde kan hulle tref. Hulle moet pasop die wiel draai.

Werner ·

Wonder wie is nog naief om in versoening te glo seker dieselfde ou wat CR se stories glo

George in Bloem ·

Ek is van mening dat almal goed weet waarheen dinge nou spoedig op pad is en wat die ioteinde gaan wees. En dis tog duidelik dat dit is wat die ANC/EFF/BLF alliansie juis wil he. Nerens kom daar swart stemme eintlik op wat roep om kalmte en regverdigheid nie en vir hoe lank dink hierdie mense gaan die blanke aanhou die ander wang draai voordat hier GROOT moeilikheid kom? Probleem is as dit eers begin sal dit nie gestop kan word nie…..

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.