Nuuskommentaar: SA kan nie nog ‘n Marikana bekostig

Argieffoto

RSG berig vanoggend dat Lonmin sê hy het ooreengekom om arbitrasie met die mynwerkersvakbond Amcu te sluit, om die voortslepende erkenningsgeskil met die NUM-vakbond, uit te stel. Die maatskappy sê dit word gedoen om regering-ingryping toe te laat. Die berig lui voorts dat kommer bestaan dat ‘n herhaling van die Marikana geweld van verlede jaar weer kan voorkom vanweë toenemende spanning by die myn. Amcu het sowat 70% verteenwoordiging by die myn en het die NUM tot die einde van die maand gegee om sy kantore by die oostelike en westelike myne te ontruim. Die arbeidshof het egter beslis dat die 90-dae tydperk, volgens die NUM erkenningsooreenkoms met die maatskappy, eers teen 16 Julie verstryk.

Suid-Afrikaners is wel deeglik, deur hul eie sakke, bewus van die land se ekonomiese probleme. Met byna almal se oë op die siekte van oudpresident Nelson Mandela en berigte oor twiste in die familie onder meer oor waar Madiba ter ruste gelê gaan word, is baie mense egter kwalik bewus van die kruitvat wat weer in die mynbousektor aan die opbou is, ‘n kruitvat wat selfs in die beste scenario ‘n groot hoofpyn vir die land inhou.

Die land se mense kan egter, in hul eie belang, nie volstruispolitiek oor wat in die mynousektor aangaan, bekostig nie.

Die gebeure hou ook groot politieke implikasies vir die land in. Die NUM is Cosatu se ruggraat, maar het baie lede, en nog meer aansien aan Amcu afgestaan. Amcu is nie by Cosatu, en daarom die ANC geaffilieer nie, en die ANC soek dit net niks. Die ANC, en daarom die regering, se benaderings om Amcu min of meer te ignoreer deur dit as nietig af te maak, en dit te probeer boelie, het die land enorme skade berokken en onder meer tot die Marikana-slagting bygedra.

Nou word omsigtiger, en met ietwat meer respek te werk gegaan, maar Amcu en die NUM se pogings om aansien by mynwerkers te kry deur mekaar met looneise te oorbie, kon in terme van die slae wat die edelmetaalpryse nou kry, kwalik op ‘n slegter tyd kom. Die land se loon- en inkomstegapings dra ook nie daartoe by dat vakbonde met ‘n sterk streek sosialisme, hul looneise temper nie.

Ongelukkig is nie alle vakbonde so verantwoordelik en gebalanseerd soos Solidariteit nie.

Hoewel Suid-Afrika nie meer die wêreld se grootste goudprodusent is nie, bly goud ‘n belangrike deel van die land se welvaartsbarometer. Die slae wat die goudprys nou kry terwyl beide die NUM en Amcu met eise vir groot verhogings – in sommige gevalle tot 200% – kom, het die goudprys tot die laagste vlak sedert 2010 gedaal. Toe was die goudprys op pad boontoe, en nou is die neiging afwaarts. Die verlies van ongeveer ‘n kwart van sy waarde in een kwartaal is nog net in 1920 nagedoen.

Trouens, die goudprys was by tye hoër as die platinumprys.

Suid-Afrika is wel die wêreld se grootste platinumprodusent. Die platinumprys het nou ook tot die laagste vlak sedert die middel van 2009 gedaal. Omdat Suid-Afrika, veral saam met Zimbabwe, die wêreldmark vir die produseer van die meeste platinum-groep metale so oorheers, beïnvloed gebeure in Suid-Afrika die prys daarvan, en was daar bepaalde pieke in die prys tydens Amcu-stakings, soos ook tydens die Marikana-slagting.

Net om sout in die wonde te vryf, het die prys van silwer ook tot sy laagste vlak in 36 maande gedaal.

Die tipe formasies, en dikwels enorme dieptes waarin veral na goud gedelf word, maak die ontginning van goud en platinum in Suid-Afrika baie duur. Daar is sekere prysvlakke waarteen dit onmoontlik is om sekere skagte lewensvatbaar te hou, en dit word verder bemoeilik deur groot looneise en onder meer duurder elektrisiteit.

Business Day Live verwys in sy berig oor Amcu se looneise aan die goudbedryf na dié bedryf as die “ailing gold mining sector.” In nog ‘n berig word vermeld dat Amcu op ‘n toetree-slaris van R11 500 vir bogrondse, en R12 500 vir ondergrondse werkers, plus allerlei bonusse aandring.

Adjunk-president Kgalema Motlanthe, wat die regering se vredesgesant na die mynbousektor geword het, vra dat geweld as ‘n manier van uitdrukking uit die mynbousektor gehaal moet word. Die probleem is dat Cosatu die verkeerde boodskap uitstuur deur die regsverloop wat vakbonde aanspreeklik hou vir skade wat tydens sulke vakbonde se protesoptrede aangerig word, met hand en tand beveg.

Omdat goud as beleggingsverskansing geruik is, het dié edelmetaal hoër geneig as die wêreldekonomie ‘n sinkplaatpad tref, terwyl platinum, met sy grootliks nywerheidsaanwending geneig het om soortgelyke skommelings as ru-olie te ondergaan. Hoe sterker die wêreldekonomie, hoe sterker die platinumprys.

Deurgaans het verskeie ekonome – ook in die buiteland – vir goud ‘n, wel, goue toekoms voorspel. Platinum bly effens met die geweerloop teen die kop omdat die vervaardigers van motoruitslaatstelsels kliphard navorsing doen om goedkoper alternatiewe vir platinum as katalisators te vind. Die platinumbedryf het hard probeer diversifiseer, onder andere deur dit as ‘n baie geskikte, sterk metaal vir juweliersware te bemark.

Die vooruitsigte vir die goudprys hang baie af van hoe die Amerikaanse ekonomie vaar, en of die Fed sy stimuleringskrane gaan toedraai.

Die Amerikaners se persepsie van hoe hul land se ekonomie vaar is nog verwarrend. In ‘n Rasmussen-peiling in die VSA het 53% van die Amerikaners aangedui dat hulle vertroue in hul land se bankstelsel het, hoewel net 10% aangedui het dat hulle baie vertroue het. Maar in nog ‘n peiling deur dieselfde agentskap meen net 32% die ekonomie verbeter, terwyl 39% meen dit gaan die kreeftegang.

Uit Europa volg brokkies goeie nuus in sommige lande soms op slegte nuus uit ander lande, maar baie sentimente toon min vertroue in die eurosone om sake reg te ruk. Finland het pas aangedui dat hy self weer volle beheer oor sy eie monetêre sake wil neem.

Terwyl ‘n groot deel van Suid-Afrika se welvaart in die buiteland, en grootliks buite sy beheer bepaal word, is dit nodig dat die land plaaslik doen wat hy kan. En vir radikalisme en onverantwoordelikheid is daar nie plek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.