Nuuskommentaar: SA keer rug op die Weste

Pres. Zuma en pres. Poetin tydens onlangse samesprekings. Foto: Elmond Jiyane

Pres. Zuma en pres. Poetin tydens onlangse samesprekings. Foto: Elmond Jiyane

Rusland het pas die 70ste herdenking van die einde van die Tweede Wêreldoorlog herdenk. Hierdie land het meer as 20 miljoen sterfgevalle tydens die oorlog opgelewer. Tog is die groot parades en ander feesvieringe deur slegs ’n handjievol leiers uit ander lande bygewoon, as protes teen Rusland se anneksasies van die Krim.

En dié lysie wat wel opgedaag het, het by sommige Westerse koerante ’n sweempie van leedvermaak opgelewer. Onder die teenwoordiges was die leiers van Noord-Korea, Indië, China, Mongolië, Venezuela, Kuba, Zimbabwe en … Suid-Afrika. Nie volledig ’n lys van muishondlande nie, maar nou ook nie juis die lande wat uitblink met demokrasie en persvryheid nie.

In Rusland self is die wegbly van die wêreldleiers aangebied as verraad teenoor die miljoene Russe wat gesterf het.

Pres. Jacob Zuma het behoorlik ontpop as Russiese handpop. Pres. Wladimir Poetin hoef maar net sy bediendeklokkie te lui, en woerts warts is Zuma daar. Soms oorskadu die Russiese ekskursies selfs die uitreiking na China.

Hoewel Rusland nie meer ’n kommunistiese staat is nie, het die Oekraïne-konflik die Koue Oorlog-lyne weer diep ingeslaan.

Suid-Afrika betaal plaaslik ’n swaar prys vir Zuma se beheptheid met die kommuniste, van wie hy ’n oorvloed in die kabinet het. Veral die ekonomiese portefeuljes word deur kommuniste oorheers. Die gevolge is duidelik te bespeur. In  Politicsweb spel Frans Cronjé, hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge, die situasie in kliniese syfers uit.

Volgens Cronjé beklee kommuniste vier uit elke tien setels in die kabinet. Hy meen hulle het die koers gekaap om eerstens van Suid-Afrika ’n sosialistiese land te maak, en daarna in ’n volledige kommunistiese gemeenskap te omskep.

Die nuwe werklikheid staan ligjare verwyder van die absolute verbetenheid van die vorige regering om kommunisme as boos te beskou, en in die woorde van die kritici, om ’n kommunis agter elke bos te wil uitskop.

Die prys wat Suid-Afrika vir hierdie kommunistiese beheptheid betaal, is groot. Die volgende aanhaling uit Cronjé se stuk, wat as lesing by die Transatlantic Dialogue Program of the Friedrich Naumann Foundation for Freedom gelewer is, skets ’n belangrike deel van die prentjie: “Half of the country’s young people do not have jobs. Only half of South Africa’s children are likely to complete their schooling, while only 5% will pass mathematics with 50% in their last year of high school. Weak economic performance is putting pressure on government revenues, which means that policies based on state-driven socio-economic advancement are ever less likely to succeed as the fiscal deficit becomes one of the most powerful forces acting on the Government. Debt levels (that have doubled in a decade) exclude the possibility of aggressive borrowing. Rising and unmet expectations are now driving violent protest levels that have grown by more than 100% over the past decade.”

By tye, so lyk dit, hang Suid-Afrika se voortgesette voordeeltrekkery uit die AGOA-ooreenkoms met die VSA aan ’n dun draadjie. Toe pres. Barack Obama Afrikaleiers gespreek het oor elemente vir die voortsetting daarvan, het Zuma skaars in Suid-Afrika grondgevat, of hy was weer in Rusland. Kort hierna het die aankondiging gekom oor die beplande kernkrag-samewerking, waaroor steeds nie volledige duidelikheid is nie.

Die wêreld se aandag kan egter nie te solied gekonsentreer wees op wat Poetin aanvang nie. Ander aspekte, soos die opkoms van die radikale Islam, verg nou groot fokus om nie (al weer) strategiese blapse te maak nie. Daar is kwessies soos klimaatsverandering en voedselsekerheid. Terwyl veral die lande om die Oossee, soos Finland, Swede en die Baltiese state Estland, Letland en Litaue ’n bekommerde oog op die Russiese bedrywighede werp soos vegvliegtuie wat die lugruim skend en duikbote wat diep in gebiedswater … wel, opduik, kan ander Europese lande nie anders as om bekommerd te wees oor die instroming van vlugtelinge veral via Libië nie.

’n Interessante verskynsel is dat daar onder ’n groot deel van die Afrikanergeledere ’n bykans blinde lojaliteit teenoor Poetin ontwikkel het. Sommiges het bloot ’n afkeer van die Amerikaanse manier van doen, ander beskryf openlik vir Poetin as ’n engeltjie en held. Op die periferie is daar ook diegene wat die “bose Amerikaners” se motiewe met buite-ruimtelike “aliens” verweef wat tussen ons sou woon en geen goeie bedoelings het nie.

Dié verskynsel is egter ’n besprekingspunt op sy eie.

Die vraag is nou eerder in watter omgewing Afrikaanssprekendes die gemaklikste voel – ’n omgewing waar hoofsaaklik Westerse standaarde rondom aspekte soos suiwer demokrasie geld (wat minderheidsregte insluit), waar korrupsie nie as ’n “Westerse konsep” afgemaak word nie, waar persvryheid hoog geag word …

Of is die Afrikaner nog te gewoond aan ʼn tyd toe sy wêreldvisie deur strategieë van die staatsveiligheidsraad bepaal is?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nicolene

As die “puppet” tog net ons EIE land sou bystaan maar nee, hy hoor nie eens die “klokkies” lui nie!!!!

jacques

Putin sal n goeie invloed op Zuma he ek is bly daaroor dat hy so baie daar is. Europa en die USA is kinderagtig om nie die 70 ste vieringe by te gewoon het nie,meskien was hulle bang dat hulle soldate nie so netjies kom march soos die ander lande wat deelgeneem het nie.Die weste se sansies teen Rusland gaan in hulle gesig nog bacfire.

Rudi

En wat het die Weste se bystand ons gehelp? Ten spyte van die ideale wat hulle voorgee om te ondersteun, het hulle ons ewe lekker aan die Kommuniste oorhandig. Hulle regerings is ewe ondeursigtig en korrup; hulle gee net graag voor dat dit anders is.

Nee wat. Rusland is dalk ewe erg, net minder skynheilig. Ek gaan nou regtig nie slaap verloor oor watter spesie van buitelander die land besit nie. Dis sedert 1902 af al nie meer ons s’n nie. Te laat vir trane!

Ampie

Die artikel is maar erg verwarrend. Zuma se vriendskap met Poetin word aangebied as bewys met sy fasinasie met kommunisme, maar andersyds word die bedreiging van die Russiese beer en ‘n klomp Afrikaners se ondersteuning van Poetin uitgelig. Myns insiens is die Weste se huigelagtige optrede teenoor gebeure internasionaal ons wėreld erg onstabiel gelaat. Soos in SA het die Weste “regime change” in die Midde Ooste en Noord-Afrika nagejaag met rampspoedige gevolge. Onstabiliteit en infrastruktuur vernietiging was die gevolg net soos in SA. Die krisis rondom vlugtelinge na Italië is die regstreekte uitvloeisel van Westerse behepdheid. Dieselfde gevolg staan Poetin… Lees meer »

Pretorius

Wel ek weet nie so baie van Rusland en Poeten nie. Min word maar werklik gese oor hulle en partykeer hoor ons van konflik tussen die Ukraine en Rusland. Wat ons wel baie van weet is die Amerikaners hulle druk alles in ons kele af en geld maak is hulle passie. DSTV, Cell fone en computers en allles wat daarmee saam kom soos bv facebook en Utube en nog n ander klomp drek wat niks meer as geldmaak foefies is nie. Behalwe dat hulle n klomp geld maak daaruit is dit niks meer as geldmaak foefies nie. O en dan… Lees meer »