Nuuskommentaar: SA ‘n beter plek as die wêreld?

Argieffoto Foto: www.saccess-project.eu

Argieffoto Foto: www.saccess-project.eu

Maroela Media het onlangs ‘n artikel geplaas oor ‘n Romeinse pad in Engeland ontdek is wat tekens toon dat slaggate byna 2 000 jaar gelede herstel is, en dat die pad selfs herseël is. Byna voorspelbaar het van die lesers vergelykings met die toestand van Suid-Afrikaanse paaie vandag getref.

Tog het twee bekende joernaliste pas artikels geskryf waarin hulle ‘n argument voer dat Suid-Afrika (dikwels) ‘n beter plek is om te woon as die wêreld. In haar rubriek, wat in Die Burger opgeneem is, skryf Ranjeni Munusamy, onder meer die volgende: “Baie wêrelddele is nie so gelukkig soos ons nie. Daarom is daar daagliks lewensverlies in konflikgebiede. Soms, soos in die geval van die passasiers op vlug MH17, word mense wat absoluut niks met die konflik te doen het nie, die slagoffers.”

Adriaan Basson, redakteur van Beeld, het op 25 April 2014 in sy rubriek onder meer geskryf: “Noem dit transformasie, ontwikkeling of normalisering, maar hierdie syfers vertel ongetwyfeld ’n suksesverhaal. Môre (Vryheidsdag) is ’n dag om hierdie toewyding en suksesse te vier.”

Trouens, Israel se aanval op die Gazastrook en die vermeende neerskiet van die Maleisiese passasiersvliegtuig oor die rebellebeheerde ooste van Oekraïne het aan diegene wat ‘n (relatiewe) mooi beeld van Suid-Afrika (probeer) skets heelwat skietgoed gegee om hul saak te stel.

Dat die vermoedelik lelikste nuussake in die wêreld hiervoor ingespan word, is egter ook duidelik, en dit is eintlik skokkend dat juis sulke voorvalle gebruik moet word om deur die kuns van kontrasstelling ‘n positiewer beeld oor Suid-Afrika te probeer stel. ‘n Tweede manier is natuurlik om die donkerste beeld moontlik te skets oor hoe sake in Suid-Afrika sou verloop het as die vredesakkoord nie destyds voor die 1994-oorgang gesluit was nie.

Hierdie soort kontrasstelling is gevaarlik. Daar is altyd die gevaar dat iets, of heelwat ietse, in Suid-Afrika kan gebeur en nuuswaardig genoeg kan wees om hierdie tegniek met windpyle toe te rus. ‘n Vierjarige kleuter wat dood is nadat hy kilometers ver deur kapers buite die gekaapte motor gesleep is, is voorbladnuus. Intussen word daar nou al dae lank gesoek na ‘n vyfjarige kleuter wat in ‘n gekaapte motor ontvoer is.

Intussen was daar verskeie plaasaanvalle. In vandag se Volksblad word berig oor ‘n bejaarde vrou wat in haar opstal op ‘n plaas by Viljoenskroon oorval is. Daar is gereeld berigte oor plaasmoorde.

Suid-Afrika word as die wêreld se verkragtingshoofsetel beskou met babas, seuns, meisies, mans, vroue en oumatjies van meer as 100 jaar oud wat verkrag word. Suid-Afrika het nie heeltemal die hoogste pro rata moordsyfer in die wêreld nie, maar “net” die hoogste syfers vir identifiseerbare groepe ter wêreld – amptelik die bruin mans in die Wes-Kaap waar bendebedrywighede ‘n hoë tol eis, en Suid-Afrikaanse boere en hul gesinslede wat volgens die meeste berekenings ‘n selfs hoër moordkoers as die bruin mans beleef.

Die vernietigende Numsa-staking volg op die Amcu-staking wat byna elke landsburger se lewenstandaard effens afwaarts gedruk het. Trouens, om ‘n ellelange lys te maak van negatiewe sake wat depressie en die Prozac-verkope die hoogte in sal laat skiet, is so maklik soos van die bed afval.

Net so is dit maklik om nog erger dinge in die res van die wêreld te gaan identifiseer, soos ‘n tifoon wat pas dood en verwoesting in die Filippyne veroorsaak het en nou koers kies na China.

Suid-Afrika is nie al land waar die inwoners neig om ‘n beeld te vorm wat dalk negatiewer is as wat dit nodig is nie. Volgens die jongste Rasmussen-peiling meen 49% van die Amerikaners hul land verkeer in ‘n resessie.

Die groot gevaar is egter om mense deurlopend kunsmatig buite konteks met mooi stories tot ‘n vlak van euforie te voer. In enige samelewing gebeur daar maar iets wat hierdie ballon prik, soos nog ‘n plaasmoord, nog ‘n rentekoersverhoging, nog ‘n verslag van die Openbare Beskermer waarmee woer-woer gespeel word … en dan tree post-euforiese trauma in soos na die Fifa-toernooi wat in Suid-Afrika aangebied is.

Beide die omstrede Hlaudi Motsoeneg en pres. Jacob Zuma het aangedui dat hulle glo die media moet meer klem plaas op positiewe nuus. Nie eens die SAUK self kan daarin slaag nie – as ‘n mens veral oor naweke uitgepluis kry waarheen die Afrikaanse TV-nuus verkas het.

En nee, geen joernalis wil negatiewe storie op negatiewe storie publiseer nie. Inteendeel, positiewe stories word opgeraap en gedra. Maar die oplossing lê omvattender. Die geneigdheid in media om weens beperkte plasingsruimte die buiteland “af te skaf” lei noodwendig daartoe dat Suid-Afrikaners se blootstelling aan die buiteland uit toerismewedwerwe, reisjoernale en ander mooi voorstellings kom. Dan lyk die kontras met Suid-Afrika groter as wat dit werklik is.

Die grootste uitdaging is natuurlik dat elkeen sy bydrae, hoe gering ook al, moet lewer om van Suid-Afrika ‘n beter plek te maak. Een van die kragtigste meganismes is om te sorg dat burgerlike instellings soos Solidariteit en AfriForum so sterk as moontlik word om ‘n optimale voetspoor te kan afdruk – deur die howe en andersins – om van die land ‘n beter plek te maak.

As die burgerlike instellings kragtig genoeg was, sou die SAUK lank reeds sy verskuiwing van die TV-nuus na SABC3 met sy klein voetspoor in Afrikaanssprekende gebiede, moes omkeer. Dan het die regering lank reeds moes herbesin oor e-tol. En het die slaggate ook gouer en meer gereeld aandag gekry, was dit nie nodig dat ‘n vrou in ‘n slaggat moes gaan “bad” om deur die sosiale media ‘n provinsiale regering tot aksie te skok nie.

Suid-Afrika hoef regtig nie ‘n negatiwiteit by elkeen te ontlok nie, maar om mense wat gemarginaliseer voel te gaan slaan om gelukkig te voel, soos om hulle Inniebos-Afrikaners te noem, of met gedistorteerde perspektiewe dat sake elders erger is, te gaan probeer ore aansit, boemerang. Baie Suid-Afrikaners is nou gereeld per Skype met familie en vriende in diaspora in verbinding, en baie van daardie mense kan nie uitgepraat raak oor hoe veilig hulle daar voel, of hoe lekker dit is om werk te kry sonder om deur ‘n muur van rassediskriminasie te breek nie. Terwyl ons hier ons eie “Chinese muur” gebou het – duisende kilometer duiwelsvurk om huise, kleuterskole, kerke en skole.

Dan kry mooi broodjies hier te maklik die karakter van donkievye.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Frans ·

Die tyd het gekom om van hierdie gemors in ons Land ontslae te raak.Ons moet die AfriForum,Soldariteit en die VF+ se hande sterk maak om ons sake te besleg in die howe.Die mense wat kapitaal sterk is moet asb groot skenkings maak aan hulle ons weldoeners om ons sake te beveg.

Jessica ·

Dis maar die gewone sonskyn-joernalistiek van agteroorbuig-en-juig-lefties wat elke moontlike wanpersepsie sal afstof en ophemel om die aangroeiende krisis wat die land – en veral die wittes – toenemend in die gesig staar, weg te steek.

Maar dis ook simptomaties van hul aangroeiende paniek, want hulle weet alte goed dat whitey nie meer so maklik met die mite van die Rainbow Nation om die bos gelei kan word nie.

Ant ·

Wat my pla is dat meeste van ons net praat. Niemand is werklik bereid om sy huisie in Johannesburg of die mooi voorstede met die gowie skole te verkoop en op die platteland te gaan bly sodat ‘n nuwe heenkome vir hul kinders gebou kan word nie. Niemand wil regtig saam groepeer buite die nuwe SA nie. Ons is +/- 3 of 4 miljoen in ‘n land van 50+ miljoen en ons dink steeds ons kan die natuur van hulle wat nou regeer veranderdeur politieke spel. Ons moet ons eie tuisland kry en van voor af begin, dis die enigste oplossing. Om hulle spel te speel en druk te probeer uitoefen het nie gewerk die afgelope 20 jaar nie, hoekom sal dit nou begin werk?

Ant ·

Wat my pla is dat meeste van ons net praat. Niemand is werklik bereid om sy huisie in Johannesburg of die mooi voorstede met die goeie skole te verkoop en op die platteland te gaan bly sodat ‘n nuwe heenkome vir hul kinders gebou kan word nie. Niemand wil regtig saam groepeer buite die nuwe SA nie. Ons is +/- 3 of 4 miljoen in ‘n land van 50+ miljoen en ons dink steeds ons kan die natuur van hulle wat nou regeer verander deur politieke spel. Ons moet ons eie tuisland kry en van voor af begin, dis die enigste oplossing. Om hulle spel te speel en druk te probeer uitoefen het nie gewerk die afgelope 20 jaar nie, hoekom sal dit nou begin werk?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.