Nuuskommentaar: SA ’n geval van “Hoe verklaar jy dit?”

Argieffoto

Argieffoto

RSG het Sondae drie gewilde programme: die wetenskapprogram Hoe verklaar jy dit, Sterre en planete en Kommentaar. Die afgelope Sondag, op Kommentaar, meen een van die panneellede, prof. Erwin Schwella, dat ook daardie program se naam na “Hoe verklaar jy dit” verander kan word.

Aan die bod was onder meer ontplooide kaders wat nadat hulle ontplooi is, skynbaar iewers in onguns verval het. Werk moet nou gemaak word om van die persoon ontslae te raak. Dis ’n proses wat nou momentum opbou – met die nasionale vervolgingsgesag, Eskom, die Valke, die polisie, Opod en andere wat om dié rede minstens gedeeltelik lamgelê word.

Ook vir die openbare beskermer is die ANC al langlippie, en op die oog af om dieselfde rede.

Dit is moeilik om op ’n verantwoordbare wyse verklarings hiervoor te vind, maar een wat genoem word is dat iemand wat toelaat dat ondersoek ingestel word na die toestaan van tenders aan politiek-ge-“konnekteerde” mense – ook diegene wat voorheen al peperduur getender het en ’n gemors daarvan gemaak het – se rakleeftyd sommer skielik verval.

Binne die ANC-alliansie lyk dit of Cosatu – ten spyte van ANC-pogings – van sy sekretaris-generaal, Zwelinzima Vavi, ontslae raak. Dit is egter net die oortjies van die seekoei nadat daar ook reeds ’n Zumafikasie- en selfs Zoeloefikasie-aksie deur Cosatu geloop het – nie met ewe veel sukses deur al die lidvakbonde nie.

Soms slaan die arrogansie die asem weg. In die geval van Anwa Dramat van die Valke het die hof bevind dat sy skorsing onwettig en ongeldig was. Die proses om Berning Ntlemeza as waarnemende hoof aan te wys,  is ook deur die hof ook as onwettig en ongeldig bevind. In ’n bykomende saak het die Pretoriase hooggeregshof bevind dat ’n vroeëre uitspraak van regter Bill Prinsloo sal geld tot die appèlproses afgehandel is.

Tog, terwyl die hofbevinding nog staan, gaan Ntlemeza voort om op te tree asof sy aanstelling geldig is, en nader selfs die hof met belastingbetalersgeld oor ander sake, terwyl hy eintlik onwettig in die pos is.

Volgens Solidariteit gaan die departement van korrektiewe dienste gewoon voort om nasionale kwotas op alle provinsies af te dwing, nadat die departement ’n hofsaak hieroor verloor het en die appèl nog sy verloop moet neem.

Onlangs, in verskillende sake, is ’n Vrystaatse munisipale bestuurder (met ’n regsgraad) en ’n LUR weens minagting van die hof tronkstraf opgelê, maar dis opgeskort.

In minstens sommige van hierdie sake duik pres. Jacob Zuma se skadu ook op. Nou en dan ontken die presidensie die president se inmenging in sake met andersins onverklaarbare uitkomste.

Al dié sake laat dit lyk of die nepokrasie sterker inslag het as die demokratiese regstaat.

Dit is trouens vir die gemiddelde ontleder baie maklik om te gaan sit en ’n ellelange lys te maak oor dinge wat verkeerd is. Sommiges kan regstreeks na ’n onbeholpe regering terugherlei word, ander, soos die loskruitpatrone wat Julius Malema en Kie. afvuur, lyk meer na ’n geval van kinders van die revolusie wat niks anders as sloping ken nie. Pas het hulle by Rhoda Kadalie die titel van kulturele terroriste gekry.

Die beste “goeie boodskappe” wat liberale ontleders kan opdis, is dat wit mense hulle of die Afrikaner hom moet skaam: hy hou steeds met die witbrood onder die arm gereeld braaivleis. Asof dit almal beskore is. En asof diegene wat braai nie om daardie einste braaivleisvuur diep besin oor wat die land se toekoms vir hul kinders inhou nie (waaroor hulle ook raas kry).

Oor die hele politieke spektrum word op die een of ander wyse ontleed wat verkeerd gaan, en hoe daarop reageer behoort te word sodat daar vir almal ’n beter toekoms sal wees. Terwyl ontleders hard probeer om die breë bevolking te verseker dat daar ’n toekoms is mits a, b en/of c gedoen word, reageer die breë gemeenskap nie voor die voet soos “voorgesê” nie. Sommiges weier volstrek om na versoening te streef (al is dit ook ’n Bybelse opdrag teenoor die naaste, die vreemdelinge in jou poorte, en ja, selfs jou vyande). Vir dié wat wel ’n bereidheid het, word dit nie maklik gemaak nie, want daar word voorwaardes gestel soos ’n vereiste geweeklaag oor mense se betrokkenheid by apartheid – al is hulle ruim daarna eers gebore.

Ander, soos die Solidariteit Beweging, span omvattende strategieë in om ’n toekoms deur harde werk en selfhelp uit te kerf. Die suksesse bly ook nie uit nie, soos die byna stil-stil ooreenkoms oor plaasveiligheid wat tussen AfriForum en die minister bereik is.

Daar is natuurlik ook diegene wat meen niks is verkeerd nie, en dat die Grondwet sal keer dat dinge sal ontspoor.

Binne hierdie smeltkroes van uitgangspunte woed ’n “burgeroorlog” waarin die woordkoeëls rondvlieg en verwond. Terselfdertyd word daar af en toe ’n skoot op die verbrouende regering afgevuur, maar die oog word net so deeglik op die derdekolonners gehou.

Wat nodig is, is dat positiewe energie gepoel word om aan bekwame leiers die kapitaal te bied wat nodig is om die Zuma-era te oorleef en slaggereed te wees om met gesag die volgende administrasie omvattend te kan oortuig die Afrikaner is nie ’n kanker in die land nie … inteendeel.  Die Afrikaner staan nie alleen nie – ook ander minderhede word uitgestoot en vervreem. Dit gebeur te midde van ’n waardestelsel wat vir minderhede (en dalk heelwat van die meerderheid) baie vreemd is.

Maar dit kan nie pogings verhinder dat in die rigting van die silwer randjie gewerk word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.