Nuuskommentaar: SA ’n muishondland of land met muishondpresident?

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Terwyl Suid-Afrika se pas na muishondstatus versnel, meen pres. Jacob Zuma dat die land juis van die muishondstatus wegbeweeg. Wie werk met feite en wie se “goeie storie” is op fabels gebou?

Kommentators het al Suid-Afrika om ’n wye verskeidenheid redes ’n muishondland genoem. Die hantering van die Omar al Basjir-saak, verskuilde steun vir die IS deur sy stem in ’n mosie teen die IS se wreedhede te weerhou, Mianmar en vele meer.

Die voorbeelde raak net al hoe meer. Pas het SA geweier om ’n VN-mosie oor menseregte te steun, en die “verskoning” hiervoor wil maar nie vlerke kry nie. Omtrent dieselfde tyd het die Suid-Afrikaanse missie in Genève hom aan die opperste diplomatieke varkerigheid skuldig gemaak deur nie net die Vryheidsfront Plus se voorlegging te probeer keer nie, maar almal wat hierdie voorlegging, asook die TLU SA en AfriForum se voorleggings steun, as rassiste en hunkerend na apartheid af te maak.

Die aanvanklike aanklank by muishondlande het reeds tydens die bewind van Nelson Mandela begin, met seker die omhelsing van Ghaddafi die beste voorbeeld. Onder die ander wat so omhels is, was Robert Mugabe, maar ook ander wie se menseregterekord en verbintenis tot demokrasie gestink het.

Dit is egter deur die ANC buite debat geplaas. Dis mense en lande wat Suid-Afrika deur die stryd teen die vorige bedeling gehelp het.

Sedertdien, en veral die afgelope jaar of so, duik sake wat Suid-Afrika se muishondbeeld bevestig al hoe vinniger op, en die “redes” wat Suid-Afrika vir die optredes en uitsprake verskaf, raak al hoe meer bisar.

Vroeër vanjaar het Zuma ook buitelandse diplomate wat in SA gesetel is, voor stok gekry, onder meer oor die Siriese vlugtelingkrisis.

Presies hoe ver Zuma en sy kornuite die bal misslaan, blyk uit ’n stelling in Junie vanjaar. Toe het Zuma gesê die ANC het sy belofte gehou deur vir almal ’n beter lewe te skep. Hy het onder meer daarop aanspraak gemaak dat sy regering indiensneming verbeter en werkloosheid laat verminder het.

En toe die juweeltjie: “Binne 19 jaar het ons gevorder van ’n muishondland tot ’n wonderlike nasie met ’n visioenêre buitelandse beleid wat ons verhoudinge met ander lande bevorder.”

Adv. Anton Alberts van die VF Plus het pas ’n ander perspektief gegee deur te meld hierdie skip van Zuma neem nou vinnig water in, en dit is onbetwisbaar dat die mees ontwikkelde land in Afrika binne twee dekades onder ANC-bestuur dermate verval het dat die land talle “eerstes” in sy geskiedenis beleef. Van hierdie bedenklike “prestasies” is:

  • Vir die eerste keer staan die land voor ’n fiskale afgrond;
  • Vir die eerste keer huiwer die land op die rand van rommelstatus;
  • Vir die eerste keer word korrupsie as sistemies geag;
  • Vir die eerste keer stel ’n regering sanksies teen homself in weens beleid en wette wat beleggers wegstoot, byvoorbeeld die Wet op Beleggingsbeskerming;
  • Vir die eerste keer word boere en plaaswerkers sodanig in groot getalle vermoor dat voedselsekerheid nadelig beïnvloed word;
  • Vir die eerste keer het die land nie die grootste ekonomie in Afrika nie;
  • Vir die eerste keer het die regering nagelaat om te sorg dat die land se infrastruktuur (soos kragverskaffing) voldoende is vir sy mense se behoeftes;
  • Vir die eerste keer is nagelaat om waterstelsels in stand te hou en om voorsiening te maak vir droogte;
  • Vir die eerste keer in hedendaagse geskiedenis is die groeikoers onder 2% per jaar;
  • Vir die eerste keer is rekord-laagtepunte teenoor ander geldeenhede bereik;
  • Vir die eerste keer skep die staat meer werk as die private sektor;
  • Vir die eerste keer kan gesê word fiskale beplanning is niks anders nie as ’n Ponzi-skema weens ’n krimpende ekonomie en groeiende staatsuitgawes.

Die jaarlikse rapport wat die amptelike opposisie, die DA, aan Zuma en sy kabinet toegeken het, kon beswaarlik swakker wees. Zuma en verskeie van sy ministers kry ’n F-minus-toekenning vir hoe hulle hul portefeuljes hanteer. Selfs daar waar die DA goeie punte toegeken het, soos aan min. Naledi Pandor, moet vraagtekens hang, onder meer oor haar rol dat haar departement en agentskappe Afrikaans as amptelike taal uit hul werksaamhede wil verwyder.

Dis nie lekker om op ’n blou Maandag ’n skoot sulke negatiewe inligting in die gesig te kry nie. Die skryf van elke nuuskommentaar word egter voorafgegaan deur ’n soektog, ook deur buitelandse media, na temas wat ’n positiewe klank het. Maar so iets, veral waarby Suid-Afrika betrokke is, is bedroewend min.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

ANDRÉ ·

En die grootste muishond is Jacob Zuma! Die man is heeltemaal waan!

alida ·

Kan ook nie begryp hoekom iemand Zuma nog nie weggejaag het nie. Die hele land het verrot onder sy heerskappy. Sien niemand dit dan raak nie?

Eddie ·

Ek kan sien waarheen ons opad is. Zimbabwe hier kom ons. !!!!!!!!!!!!

HEVW ·

En wie se oordeelsvermoe is nog swakker as z s,n . Die libs en die bleek pienkes wat met hul lewe die regering terwille is. n Mens moet darem nag blind wees as jy nie n besef van hierdie werklikheid het nie.

Andre ·

Ek weet nie hoe kan hy en sy parlament nog in beheer wees nie want hy het lankal beheer oor alles verloor almal maak soos hulle wil my vraag is as daar elke dag drie van sy mense deur blankes vermoor word sal dit ook net so ongesiens verby gaan of sal dit rasisties wees.

rietrot ·

Ek sal nie ʼn muishond so beledig nie. Wat hier geskied is eenvoudige vingerwys van groepe wat geen verantwoordelikheid sin het nie. Alles is almal se fout behalwe hulle sin. Maar die wêreld is besig om by te pik… of dit te-laat gaan wees, of nie… sal ons moet sien.

Jan maak n Plan ·

Nee eerder ‘n bontpoot bosluis met ‘n gradering baie laer as ‘n F- .

kookwater ·

Hartverskeurend….so n mooi land. Die Here skenk genade

Winston ·

Muishond? Ek het nog nooit n muishond so beledig nie. Onvergelykbaar met Zuma. Selfs n miskruier weet waarheen hy sy bol rol. Zuma het nie n idee wat om hom aan die gebeur is nie en die land se bewoners wat hom ingestem het, nog minder. Dan probeer hy nog met enige storie alles regverdig wat hy doen, sonder verantwoording? Skandalige bestuur van n land wat mooi was….

Saamstaan ·

Hy is net agter geld & rykdom aan…nie ‘n saak met regeer nie. Iemand moet sy toordokters in die gees teestaan met waarheid en hul krag oor SA breek.

Loeis ·

Voeg by Adv Alberts se lysie dat daar nooit tevore 4 biljoen liter riool daagliks in Suid-Afrika se damme en riviere beland het wat mense se gesondheid kan bedreig, soos nou nie.

Volgens ‘n artikel )http://fourwaysreview.co.za/214050/water-shortage-also-stems-from-loss-of-skills-to-transformationorwater-shortage-also-stems-from-loss-of-skillsor4-billion-litres-of-sewage-spews-into-water-system-daily/), asook ‘n onlangse artikel op Praag lei die riool tot bakterie in water wat nie deur konvensionele suiwerings maniere gedood word nie.

Wanneer dit by minuspaliteite kom is ‘n politieke oplossing ongelukkig nodig.

Om die vraag hierbo te antwoord: defnitief ja. Vryheidsfront Plus is reg dat die agteruitgang onder Zuma versnel, en elke stem is nodig om te red wat daar te redde is: ons gesondheid is hier op die spel.

Volgende jaar is dit weer tyd om minuspale verkiesing kruisies te trek. Dit hang van elke kiesser af hoeveel gesonde verteenwoordiging ons in die rade gaan plaas. Elke verteenwoordiger tel.

Intussen moet almal maar water filters in hul huise he.

Muller ·

Dinge raak net erger en erger . . . Hoekom? Want 80% van ons nasie het die uitkyk van “hear no evil, see no evil”. Dis hulle president en hy “kom op” vir hulle, in hulle oe natuurlik. En regtig mense gaan 50% van die nasie iemand uitstem wat hulle in hulle poste hou, van onnatuurlike hoe salarisse, na omkoopgeld, korrupsie, geen werk doen en net voort ploeter en die hele wereld rond vlieg. Natuurlik nie! DIS hoekom hulle hom daar hou, sonder hom is hulle dae getel, die einde van hulle broodjie gesmeer, so ja intussen tyd moet ons normale mense wat dinge aan die gang hou en nie blind of doof is nie, maar net toekyk hoe die wonderlike land van ons verval in algehele wanorde en korrupsie

david ras ·

Muishondland of Muishondpresident? As mens in Madibeng woon is die antwoord eevoudig—BEIDE !!

Piet ·

Waar’s Madibeng?
Jy’s gelukkig dat jy nie in Suid Afrika woon nie.

vermeende ·

Net na 94 het Mandela en sy Azania mos gese, “‘n persoon moet net oor die vermoee beskik om te kan leer dan kwalifiseer hy”
Duidelik het die ANC vir Zuma mis gekyk!

Johannes Meintjes ·

Die feit dat staatspresidente en regerings faal, is ongelukkig so. Maar … dat die landsburgers en veral die belastingbetaalers dit maar apties aanvaar en bloot vanuit die kerkbanke, leunstoele, sypaadjies en paweljoene net daarop kommentaar lewer, is die grootste skadeberokkende tragedie ooit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.