Nuuskommentaar: SA nie uniek met klowe wat groei

Tydens die wedstryd op Shimla-park op 22 Februarie 2016. Foto: Twitter via @UFS_SRC

Tydens die wedstryd op Shimla-park op 22 Februarie 2016. Foto: Twitter via @UFS_SRC

Suid-Afrikaners word gereeld daaraan herinner, bedoeld of onbedoeld, dat verskeie klowe in die land groter word. Maar Suid-Afrika is nie uniek of alleen nie.

Rassespanning is maar een van die dimensies. Dit is pas weer belig met die bekendwording van die verslag oor die oorsake van geweld op die Kovsiekampus, veral ná die Varsitybekerwedstryd wat eers deur betogers ontwrig is, en die aanval op die betogers deur toeskouers daarna.

Die reaksies op die verslag is, om die minste te sê, baie gemengd. Die twyfelagtige rol van Kovsies se Instituut vir Versoening en Maatskaplike Geregtigheid blyk ongelukkig ’n knelpunt te wees, en word onder meer in Volksblad in ’n hoofartikel uitgewys.

Onder die leemtes wat in die koerant se briewekolomme uitgewys word, is onewehandigheid. Terwyl die verslag hard is op die toeskouers, verswyg dit byvoorbeeld die enorme skade wat hierna aan ’n koshuis aangerig is.

Hoewel wyd in die media oor die verslag van 90 bladsye berig is, is dit nie deur Kovsies vrygestel nie en dit sou onverantwoordelik wees om te wyd menings hieroor uit te spreek.

Eensydig of nie, die verslag stap volgens die mediadekking ten minste af van die konsep dat rassespanning noodwendig te wyte is aan sosio-ekonomiese ongelykheid, of die regstreekse nalatenskap van apartheid. Dit word weliswaar lomp en weer eens onewehandig gedoen, maar kom nader aan die besef dat rasseverhoudinge ’n holistiese probleem is wat deur insette van letterlik elke lewensterrein gevoed word.

Om een voorbeeld te noem: In ’n stadium is wyd geglo die probleem sal vanself verdwyn as die land net ’n ander grondwet kry wat menseregte beskerm. Dié konsep het sterk posgevat, en het uiteindelik op Kodesa uitgeloop, en ’n meer omvattende ondersoek hieroor deur die Maatskaplike Komitee van die destydse Presidentsraad is opgeskort.

As dit waar sou wees dat ’n nuwe grondwet rassespanning sou wegneem, hoekom is dit dan nog teenwoordig en skynbaar groeiend? Hoekom is daar dan rassespanning in die VSA, Nederland en nou byna haas elke denkbare land?

Hoekom moes ’n sokkerklub van Moskou ’n ruk lank voor leë pawiljoene speel as straf vir rassistiese optrede deur sy ondersteuners?

Dit is daarom kommerwekkend dat Kovsies die probleem as deel van transformasie gaan aanpak. Selfs ’n transformasiekomitee word in die vooruitsig gestel, en die voorsitter van die raad, regter Ian van der Merwe, noem die skepping van ’n bloudruk vir transformasie.

Maar hoeveel van die ellende kan nie regstreeks na transformasie teruggevoer word nie? Kovsies is juis nou in ’n appèlsaak met AfriForum en ander instansies gewikkel oor die vertrapping van minderheidsregte deur Engels as byna uitsluitlike onderrigtaal in te voer.

Steeds moet ons kort-kort in ons koerante lees, of hoor ons oor die radionuus dat stellings gemaak word dat rassespanning in Suid-Afrika aan die toeneem is.

Trouens, as gevolg van hierdie opvatting het die regering verlede jaar ’n veldtog teen rassisme gehou, met ’n dag waar pres. Jacob Zuma selfs ’n openbare toespraak hieroor gehou het – maar ’n afskuwelike gemors daarvan gemaak het.

Daar is veral twee opvattings oor waarvandaan die skynbaar groter wordende kloof kom. Die een kant blameer die regerende ANC, en veral die optrede en uitsprake van Zuma. Die ander kant gebruik die apartheidsverlede as knooppunt van redes wat wissel van die natuurlike impak van die sosio-ekonomiese verskille, diep historiese persepsie wat onder meer die blaam op Jan van Riebeeck en kolonialisme plaas, die rol wat etniese selfbewustheid moet speel of nie speel nie, die rol van rasgedrewe geweldsfilosowe soos Franz Fanon en in hibridevorm plaaslik voortgesit deur Steve Biko se nalatenskap asook die inbinding van restourasie – ’n wydlopende en gelaaide term waarvoor ’n rasbewustheid ’n voorvereiste is.

Die wêreld het ’n neutedop geword, en daarom sal dit wat in een land voorkom, dikwels in die een of ander gedaante ook in ander lande manifesteer.

Dit is byvoorbeeld ontstellend opvallend hoeveel ideologiese en retoriese raakvlakke daar tussen die studente-onluste in Suid-Afrika en die VSA gevind kan word.

Wanneer die twee verskynsels naas mekaar bestudeer word, is dit amper of ’n mens van een geheel praat – asof die opgestapelde woede van die Amerikaanse Black lives matter-veldtog die opstande in Suid-Afrika daagliks telefonies voed. Ironies sien verskeie Amerikaanse universiteite die oplossing in die skep van etniese koshuise of gange in koshuise, ’n konsep wat byvoorbeeld aan Kovsies se eertydse kultuurkoshuise herinner wat op versoek van swart studente ingerig is, maar later, ná ’n kantelpunt in getalle bereik is, as boos verwerp is. ʼn Bisarre uitgangspunt wat in die VSA uitgebroei het, is dat ’n mens eerstens rasbewus moet wees voor ’n mens nierassig kan wees. Dit is om eers konsepte of skuldgevoelens te kan vorm van hoeveel restitusie verskuldig is. Die een groep moet ontvang en die ander opdok. ’n Natuurlike, spontane nierassigheid se bestaansreg word dus ontken. En sien ons nie maar ook die manifestasie hiervan in Suid-Afrika nie?

In Nederland het dié kwessie pas weer publisiteit gekry. Anders as in die Joop den Uyl-era, is dit nie weer Suid-Afrika wat onder die vergrootglas geplaas word en swartgesmeer word nie, maar Nederland self. Die koerant Trouw plaas ’n onderhoud met Will Tiemeijer van die Wetenschappelijke Raad voor het Regeringsbeleid oor die verskynsel van kloofvorming in die Nederlandse samelewing.

Die verskynsel van kloofvorming word erken, maar daar bly ’n skugterheid om die baba by die naam te noem. Die argument is dat hoe meer die media en ander instellings hieroor kwytraak, hoe meer beïnvloed dit die mense se denke, en word die persepsie van die probleem groter as die probleem self.

Is dit goed of sleg dat iets na die ope kom? Met fopnuus wat daagliks deur onder meer die sosiale media mense die war instuur, soms as deel van regerings se slim propaganda, is dit noodsaaklik dat sover moontlik nie doekies met ware feite omgedraai word nie, want as wanpersepsies eers posgevat het, is almal in tamatiestraat.

Teen dié tyd sou Zuma se adviseurs en ander hom lank reeds ingelig het hoe sy godsdiensuitsprake diep klowe slaan. Dat hy volhou daarmee toon dit pas hom goed.

Maar as jy tegelykertyd ’n donkie en ’n tier ry, kom daar ’n breekspul – ’n uitgerekte breekspul in Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Deon Roux

Rassisme sal nooit einde kry so lank as wat al die blaam voor een deur gegooi word nie. Rassisme is ‘n reaksie. Dit is die simptoom van ‘n onderliggende probleem.
Sorteer die probleem uit en rassisme sal niks meer hê om op te teer nie.
Tans word rassisme grootliks kunsmatig aan die lewe gehou ter wille van politieke gewin.

Jan

Dit pas die ANC, en hulle ryyyy daai perd. Hulle voel dus ‘n veer, ook raak dit dan net vir hulle nog makliker om die sambok in te lê, later sommer ‘n alledaagse gewoonte.

Jo

Sou graag wou sien die verslag jukstaposisioneer die geweld in die koshuise na die wedstryd ook. Prof Jansen so se n gerekende SC oor hom “Hy dink die audi alterem partem is n luukse Duitse motor.” Hy is nie bekend daarvoor dat hy eers n standpunt wat van hom verskil aanhoor nie. Sy hardvogtigheid het verseker ook n rol gespeel . Hy was soos sommige onderwysers wat ek ken, n grootmens tussen kinders en n kind tussen grootmense.

Ou Vlakvark

Wys my asseblief die ware nie-rasis in die wêreld. Ek sal met graagte daardie nie-rasis wil ontmoet en lekker gesels oor ‘n koppie koffie.

callie

Eenvoudigste resep wat op aarde is. As almal dieselfde moes wees sal almal dieselfde gelyk het. Daar is veskillende kleure en dus verskillende kulture. Daar sal altyd rassisme wees. Daar sal altyd base en klase wees, altyd wittes en nie wittes wees. Nie eers tussen wittes van verskillende volke en kulture sal daar geen rassisme wees. Aanvaar dit nou net. Kry almal net opgehef tot op n beskaafde standaard en met die wete jy moet werk vir wat jy wli he en jy kan nie vernietig as jy nie tevrede is nie, dan sal daar klaar vrede wees maar rassisme… Lees meer »