Nuuskommentaar: SA op randjie van waterskeiding

Pres. Jacob Zuma. Foto: Themba Mtshali, KZN-premierskantoor

Het peperduur beeldpoetsers pres. Jacob Zuma geadviseer dat hy nou met die Zille-debakel ʼn “ideale” “window of opportunity” het om van Pravin Gordhan ontslae te raak, maar het Ahmed Kathrada se dood en die ongelukkige bevindings (vir hom) van die regter in die saak waarby hy hom in die Gupta-Gordhansaak as belanghebbende wou laat voeg, sy planne in die wiele gery?

Die dood van die struggle-veteraan, Ahmed Kathrada, het soos Maroela voorspel het, verhinder dat pres. Jacob Zuma sy beoogde planne, met veral minister Pravin Gordhan, gister al kon uitvoer. Sover is daar soveel onafhanklike bronne wat aandui dat Zuma hier en daar laat val het dat hy Gordhan gaan afdank, dat dit as feit aanvaar kan word. Van die bronne was egter duidelik ook draers van fopnuus.

Gister moes Zuma sien hoe die hooggeregshof sy aansoek, om as belanghebbende tot die saak tussen Gordhan en die Guptas toegelaat te word, in die stof byt. Daarteenoor het die Guptas se aansoek, dat Gorhan persoonlik ʼn party tot die saak moet wees en nie deur ʼn staatsadvokaat verteenwoordig moet word nie, ook in die stof gebyt.

Indien Zuma die feit wou gebruik dat hy en sy minister opponerende partye in die saak sou wees, wat onhoudbaar binne kabinetsverband sou wees en Gordhan daarom “vir eers” moet trustaan, het dus ook in die stof gebyt.

As Zuma, teen wil en dank, iets moes geleer het, is dat hy versigtig moet wees om sy presidensiële magte op ʼn minister van finansies uit te oefen, soos met Nenegate en die blote terugroep van Gordhan van ʼn oorsese beleggerstoer, is dat hy baie goeie rede moet hê om dit te kan doen.

Heel “toevallig” het die SA Inkomstediens gister in die parlement ontken dat die diens R30 miljard minder as sy teikenbedrag in die vorige boekjaar kon insamel, soos wat Gordhan in sy begrotingsrede te kenne gegee het. Die ontkenning kom van Tom Monyane, kommissaris van die Inkomstediens – ʼn Zuma-aanstelling wat gladnie met Gordhan oor die weg kom nie.

Monyane boesem egter veel minder openbare vertroue in as Gordhan. En die vraag staan steeds – wie moes die minister oor die juiste bedrag, wat tekort skiet, ingelig het? Is Gordhan nie in die proses “opgestel” nie? En Monyane het vir sy eie omstredenheid  gesorg, soos die buitensporige wyse waarop ʼn egpaar vergoed sou gewees het.

En net om sout in die wonde te vryf, het Kathrada se familie versoek dat Zuma nie vandag se begrafnis bywoon nie. Dit is immers bekend dat Kathrada nie ooghare vir Zuma gehad het nie.

Intussen het verskeie analiste tot die gevolgtrekking gekom dat Zuma besig is om sy gesag met verskerpte verbetenheid te laat geld. Die president het ingevolge die grondwet ongehoorde magte vergeleke met soortgelyke grondwette.

Daar is ook berig dat Zuma (weer) die dienste bekom het van ʼn beeldpoetser-firma. Dié peperduur firma van Londen word glo deur die Guptas gefinansier. Daar was inderdaad ʼn SAUK TV-insetsel waar Zuma besoek gebring het aan ʼn lyer van die oumenssiekte, progeria. Om die SAUK so in te span, vereis uiteraard dat die beeldpoetsers, via die president, ʼn stewige greep op die SAUK se besluitnemers  moet hê. Maar die stiksienigheid, om minister Faith Muthambi nie die trekpas te gee nie, doen waarskynlik meer skade aan Zuma se beeld as dit wat die beeldpoetsers positief kan vermag.

Zuma probeer ook nou om sy stukkie EFF-beleid, om grond sonder vergoeding te onteien, aan die ANC se leierskap te verkoop. Intussen het die minister van grondhervorming, Gugile Nkwinti, wat nog voor die president die saak begin bemark het, hieroor begin water trap. Trouens, dit skep die indruk dat Nkwinti hom by die anti-Zuma-groep in die ANC probeer skaar.

Vir die ANC se Groot Ses moet dit so duidelik soos daglig wees dat Zuma besig is om nie net die ANC te verswak nie, maar die land skade berokken. Daarom is die nuus wat deur Gupta-TV gedra is, dat Zuma sy voorneme om Gordhan af te dank in die groot ses bespreek en hul steun daarvoor gekry het, waarskynlik ook fopnuus. Die media kon immers geen bevestiging hiervoor by die Groot Ses kry nie.

Die kaartehuis wat gebou is om Gordhan so gou as moontlik “met goeie rede” af te dank, het skouspelagtig ineen getuimel. Die feit dat hy skynbaar onwelkom is as rolspeler by die Kathrada-begrafnis, stel hom ook as nog verder verwyder van die Mandela-nalatenskap as wat reeds die geval was. Kathrada was vir ʼn groot deel van sy lewe ʼn hegte vriend en adviseur van Mandela. Hy was voorts ʼn groot gees in die #ZumaMustFall-veldtog.

Dit sal ook nie verbasend wees as die beeldpoetsers Zuma geadviseer het om juis nou op te tree terwyl die kollig so sterk op Helen Zille, die Wes-Kaapse premier, val nie. Die ANC probeer hierdie yster smee solank dit warm is, wat onder meer behels dat minder swart mense van die ANC na die DA sal oorloop wanneer Zuma omstredenhede aanvang. Die saak het egter uitgerek geraak en dis moontlik dat Zuma die “window of opportunity” verpas het.

Geoordeel aan mediaberigte, is die appèlsaak waarin die Kovsies die taalstryd teen AfriForum en Solidariteit gewen het, ʼn bevestiging dat veel dieper as die grondwet alleen gedelf sal moet word om minderheidsregte in Suid-Afrika sinvol gevestig te kry.

Op die berigte se inhoud geoordeel, is ʼn oproerige groep se weiering om ʼn minderheid se grondwetlike regte te erken en daarom moeilikheid gaan maak, genoeg rede om die grondwetlike regte te laat sneuwel. So klink dit asof dit ʼn suiwer politieke uitspraak was.

ʼn Deeglike bestudering van die uitspraak sal egter aan die lig bring of dit wel so sou wees. Intussen dra die uitspraak by tot die gevoel van vervreemding van ʼn land met ʼn vreemder as die werklikheid president, wat nou skynbaar ook sy hakke inslaan en sy gesag behoorlik wil laat geld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Piet Pompies ·

Uitstekende kommentaar by monde van ‘n man met ervaring, wel gedaan Herman Toerien

André ·

Well Done and Said … Let us just PRAY for Stabilization in South Africa without any Left or Right Wing influence but to Unite as South Africans for a Better Life for all (without any discrimination)!
*_GOD BE WITH US! AMEN!_*

Ada ·

Mooi uiteengesit Herman, dit was soos ‘n legkaart wat inmekaar pas te lees.
Hou ons op hoogte met jou pen!!

Kofsie ·

Ek dra my alumni ondersteuning oor na Akademia. UFS moet maar nou staat maak op die bankrot staatskas maarsis hulle probleem.

andrea van vuren ·

Briljante besluit Kofsie! Wens meer alumni wil jou voorbeeld volg. Dit sluit Tuks ook in!

Rynhardt ·

n Beeldpoetser gaan Zuma en Anc nie red nie! Implementering van Vryheidsmanifes het SA veenietig.Die natte het goed geweet wat hul destyds met onderhandelings gedoen het! NP was indiens van nuwe wereldorde, vandag is dit weer Anc.Die London Times se aanhaling van die week is soos volg:”Interesting point of view of affirmative action:SA is the only country in the world where affirmative action is in the favour of the majority who has complete political control.The fact that the political majority requires affirmative action to protect them against a 9% minoritygroup is testament to a complete failure on their oart to build their own wealth making structures, such that their only solution is to take it from others.” Voeg ook die volgende by.Gistraand op SABC2 nuus het die Anc dit duidelik gemaak dat buitelanders geen grond mag besit nie! Die wat wel grond het in SA, sal die regering koop.Al hoe meer wette sal kom om grondonteiening te bespoedig! Nou kan jul sien dat Zuma en Anc lok nie beleggers na SA nie.SA word n Afrika-land waar die regering hom met rykdom in die kussings hou.Afrikaners kan jul sien hoe jul vir 23jaar gespeel word??Die bal is met mening aan die rol teen jul! Dinge gaan in 2017/2018 liederlik raak.Die wereld weet wat aangaan, maar hulle het al hierdie ellende geskep vir Suid-Afrika!

Adriaan Venter: ·

Wees gerus maar bly op jul hoede want Siener Van Rensburg se voorspellings is baie naby om te realiseer……..dis reeds besig om te realiseer!!!! bewapen julself en sorg vir veilige skuilplek en voedsel vir vrouens, oues-van-dae en kinders….en dit geld vir wit,swart en bruin!!

andrea van vuren ·

Rynardt jy is reg. Ek wil net nog een vraag vra: Waar is die heersers se breinkrag en bewese kwalifikasies om sulke omstrede besluite te neem?

Kree ·

Jip dis waar en raai wie was die verraaier? De Klerk en sy meeloper/handlanger.

andrea van vuren ·

Kree, ek salueer jou! Ek probeer al hoe lank die FW-faktor onder die media se aandag bring, maar nee, my skrywes word bloot net geïgnoreer!

Jaco ·

Ek glo een van die hoofredes vir Zuma se taktiek om ons ekonomie seer te maak is die feit dat daar miljoene vir hom en sy maats is om daaruit te maak! Dink so daaraan… Zuma weet hy het uiterste mag oor die rand se waarde, hy hou sy mond vir n paar maande en die rand versterk, hy maak sy mond weer oop en raak iets kwyt en die rand verswak. Rand is sterk en hy koop miljoene dollars, dan maak hy sy mond oop en verkoop weer al die dollars en maak so n paar miljoen rand wins! Is ek dalk verkeerd??

Greg ·

Stem 100% met jou, Jaco. Rand manipilasie op die hoogste vlak en niemand praat daaroor nie.
Gaan kyk wie het almal miljoene dollars gekoop net voor Zuma sy mond oopgemaak het.
Veryking van 1 persoon ten koste van die land en niemand kan enige iets doen nie.

andrea van vuren ·

Jaco, Zuma maak nie sy mond oop nie daarvoor is hy te dom. Die Guptas doen dit vir hom!

Henry ·

Dankie vir ‘n baie goeie samevatting van wat in hierdie land aan’t gebeur is.

Moeilike tye wat voorlê vir ons as toeskouers in ‘n sirkus waar die hoofnar en sy maters hard aan die werk is om die plaaslike sirkusbedryf oor die afgrond na bankrotskap te stoot.

WONDER MAAR NET ·

Herman hoekom doen julle joernaliste nie ‘n beroep op die openbare beskermer om alle valuta aankope en verkope voor / en na die populistiese uitsprake die afgelope 10 jaar te onder soek nie, asook selfoonrekords van die persone wat die uitsprake maak en kenisse

andrea van vuren ·

Liewe hemel Wonder maar net, is jy bewus daarvan dat die nuwe openbare beskermer deur Zuma ‘gehandpick’ is? Net soos Faith, Jiba, Peterson, Dlamini ens. Die kabinet wemel van hulle. Swak kaders! Vergeet van die OB. Sy sal nooit haar voorganger se skoene kan volstaan nie. Dis verby met ons.

John ·

Interessant of eerder vreemd skokkend is dat sekere vername geskiedenisboeke nie beskikbaar is in sekere biblioteke nie en glo reeds vir jare nie terugbesorg is nie… en skynbaar is die biblioteke ook nie besorg nie. Lees spoke ook oor hul verlede… en beraam planne om volgende keer nie weer… of dalk andersom… om volgende keer… ?

andrea van vuren ·

John, ek het my kleindogter in gr. 5 gehelp met haar geskiedenisles. Ek het daardie aand nie ‘n oog toegemaak nie. Kon nie glo watter gemors aan ons onskuldige kinders voorgehou word nie. Wié keur die geskiedenisboeke wat aan laerskole voorgeskryf word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.