Nuuskommentaar: SA-resep vir 2014 aan mekaar geslaan

Pres. Jacob Zuma

Pres. Jacob Zuma

Die spreekwoord lui dat as Amerika nies, kry die wêreld verkoue. Dié werklikheid het Suid-Afrika ook die afgelope klompie jare hard geslaan.

Daarom, in beginsel, sou dit goeie nuus wees dat die Amerikaanse ekonomie tekens van herstel toon. In die derde kwartaal van 2013 het die Amerikaanse ekonomie met meer as vier persent gegroei, die meeste sedert die resessie aangebreek het. Vir die vierde kwartaal word wel weens die gedeeltelike “shut down” ‘n kleiner groei verwag, maar die momentum is aan die herstel.

Ook ander ekonomieë, soos dié van Wes-Europa, toon tekens van lewe. In sommige kringe word Frankryk egter as die uitsondering beskryf, en selfs as Europa se nuwe siek man beskryf, omdat die sosialistiese eksperiment nou sy voorspelde effek begin toon.

Vir Suid-Afrika lyk sake egter minder rooskleurig. Ironies is dit minstens deels te wyte aan die sterker Amerikaanse ekonomie wat die goudprys laat tuimel wat ‘n demper plaas. Suid-Afrika se ekonomie moet in die orde van 5 persent per jaar groei om sekere ingeboude swakhede, soos die inkomstegaping te kan aanspreek. The Economist, wat verskeie sosio-politieke faktore in Suid-Afrika verreken het, meen Suid-Afrika se groeipotensiaal in 2014 is tussen twee en vier persent. Die meeste Suid-Afrikaanse ekonome verwag ‘n groeikoers van nie meer as 2,5 persent nie, aldus André le Roux van Media 24.

Die vraag of die land pres. Jacob Zuma kan bekostig is al dikwels gevra, en die “antwoord” soos hard en duidelik in die sosiale media verskaf, is ‘n helder en duidelike “nee.” Tog het die ANC besluit Zuma sal die ANC se “gesig” vir die 2014-verkiesing wees. Die rede is eenvoudig dat Zuma groot steun onder daardie deel van die bevolking geniet wat waarskynlik die meeste deur sy presidentskap benadeel word. Tog is daar tekens dat van die ANC se breintrust al so spyt is oor die Zuma-besluit soos ‘n baber wat ‘n “spark plug” ingesluk het, om uit Ouboet se woordrykheid te put. Maar dié besluit kan nie sonder ernstige gevolge omgekeer word nie.

Hiervoor is net te veel eendjies in ‘n ry reeds opgestel. Kort-kort is daar bv berigte wat dit wil hê dat die SABC-TV uitjouery en kritiek op Zuma sensor, en voortgaan om Zuma as presidensieel voor te stel. Die SABC ontken dit, of minstens sommiges daarvan.

Dit verhinder egter nie dat die destabliseringsproses nie voortgaan nie. Daar is net te veel alternatiewe kommunikasiemiddele wat alternatiewe boodskappe aan veral sekere gemeenskappe bring.

Daar is wel sekere ingebedde opvattings waarop Zuma nog flink kan teer. Te midde van die ergste droogte sedert 1933 is steeds hoog opgegee oor die welvaart wat die grondhervormingsprogram kan bring. Met die voorsiening van droogtehulp deur die staat, is dit dikwels te min, te laat.

Onmoontlike verkiesingsbeloftes in die verlede byt nou reeds, met die uitval met Numsa, en voor dit die opkoms van Amcu, as duidelike tekens. Sommige ekonome wys reeds daarop dat Suid-Afrika se groeipotensiaal gestrem word deur faktore soos ‘n te groot begrotingstekort en ‘n te groot negatiewe handelsbalans. Maar ‘n algemene verkiesing is onderweg, en beloftes oor ‘n oop hand deur die regering het reeds begin, soos ook deur Zuma self tydens oud-pres. Nelson Mandela se begrafnisdiens by Qunu.

In baie opsigte het die Gautengse e-tol die simbool geword van tot by watter punt daar nog bloed uit ‘n klip getap kan word.

‘n Deel van die gemeenskap besef dat verkiesingsbeloftes sonder ekonomiese groei teen ‘n prys kom. Die hennetjie wat die goue eiers lê kan net een keer geslag word, maar die mentaliteit om dit te wil doen klou hardnekkig. Gemeenskappe wat daarin slaag om ten spyte van die uitdagings uit te presteer, word weer en weer geslag – en nou het die e-tol ook hiervoor die streep in die grond getrek.

Die effek van onhaalbare verkiesingsbeloftes word goed in die politieke sosiologie beskryf in die teorie van relatiewe deprivasie. Wanneer die gaping tussen verwagtinge en die werklikheid te groot word, word ‘n rewolusionêre klimaat geskep. Dit is duidelik te lees in die woordeskat wat Numsa gebruik.

Die probleem is dat die verkiesing te naby is om sinvol die ekonomie reg te ruk. Om die kiesers “reg” te laat stem is dit baie vinniger en makliker om bloot weer verkiesingsbeloftes in te span. Dit kry wiele op sterkte van stereotipes soos dat daar nog heelwat hennetjies is wat geslag kan word. Die rekenings vir hierdie beloftes kom na die verkiesing. Oudergewoonte sal die blaam weer verskuif word na die onwillige hennetjies.

Maar met stemme van rede soos uit Agang, is daar ook ‘n groeiende besef dat hierdie bogpraatjies is. In ‘n land wat erg gebuk gaan onder armoede klink die R200 miljoen wat aan Nkandla gespandeer is na ‘n onbeskryflike fortuin. Boonop het Zuma se Zoeloefikasie nie by ander volke ongesiens verbygegaan nie. Die skanse wat hy om hom opgerig het, word al hoe meer ‘n ivoortoring. Boonop versterk die hamer daarop dat die kostes aan “veiligheidsopgraderings” spandeer is nie juis die persepsie van ‘n dapper Zoeloe nie.

Uiteindelik is dit dalk nie so seer die hennetjies wat pot toe sal gaan nie, maar heel moontlik Zuma se eie kierankies.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae