Nuuskommentaar: SA se al-Basjir-handeling herskep Donker Afrika

Omar al-Bashir, president van Soedan

Omar al-Basjir, president van Soedan

Suid-Afrika kon seker nie ’n slegter tyd gekies het om vir die wêreld (buiten Afrika) die tong uit te steek deur ’n internasionaal gesoekte vermeende misdadiger, Omar al-Basjir, soos ’n staatshoof met immuniteit te ontvang nie. Nou, ongeag wat die regering doen, is dit ’n tameletjie. Trouens, met die skryf hiervan was dit nie duidelik of al-Basjir dalk reeds landuit is nie.

Die optrede val saam met:

–       ’n Geskarrel om bevredigend te antwoord op hoe dit gekom het dat $10 miljoen Fifa-geld wat vir Suid-Afrika bestem is, vir sokkerontwikkeling in die Karibiese See-gebied weggekanaliseer is en nou skynbaar soek is. Die FBI glo dit was omkoopgeld om te verseker dat SA die 2010-Sokkerwêreldbekertoernooi aanbied. Die regering ontken dit (asof hy geloofwaardigheid het en die publiek bloot sy woord moet aanvaar daarvoor) maar weier om enige dokumente wat die besluit verduidelik in die ope te plaas.

–       Die minister van polisie se Nkandla-verslag word ook aangebied asof die publiek en die buiteland dit eenvoudig moet glo, terwyl instansies, soos selfs die SA Raad van Kerke, tou staan om dit te veroordeel. Boonop gaan die ANC voort om die beeld van die Openbare Beskermer af te takel.

–       Die xenofobiese aanvalle is ook nog vlak in die geheue, en sedertdien was daar ook nog sporadies strooptogte op buitelanders se winkels.

–       Nog effe op die periferie, het ’n Nederlandse politikus ’n boek van meer as 500 bladsye met meer as 2 000 bronverwysings gepubliseer waarin erg onder die ANC ingeklim word. Die boek, Minderheid in eigen land deur Martin Bosma, is ver van volmaak, maar dit teer ook op sentimente wat geleidelik in Europa ontwaak – ’n onrustigheid oor hoe die instroming van migrante uiteindelik Nederlanders (en ander Europese volke) in hul eie lande kan verdring – eers hier en daar op munisipale vlak, maar later al meer. ’n Groot deel handel egter oor die groot aantal wandade wat die ANC gepleeg het.

–       Solidariteit se beplande klag by die VN teen die Suid-Afrikaanse regering se oorboordganery met rassediskriminasie. (Bosma skryf ook dat geen ander regering so baie rassewetgewing op die wetboek het as die ANC-regering nie.) Solidariteit se regsaksie teen die departement van korrektiewe dienste stel ook die regering se rasbenepenheid as iemand nie ’n “African African” is nie, aan die kaak.

–       Dit lyk of vanjaar se samesprekings tussen Afrikaanse en Afrikanergroepe, en die ANC, sommer by verstek dadels opgelewer het – anders as met die vorige waarin verskeie ooreenkomste bereik is, maar waarvan die ANC nie ’n enkele laat vergestalt het nie.

–       Aansluitend hierby laat die ANC al meer blyk dat die Grondwet eenkant geskuif word ten gunste van die inwerkingstelling van die Vryheidsmanifes. Selfs van die opstellers van die Vryheidsmanifes, soos prof. Ben Turok, het al aangedui dat die Vryheidsmanifes in ’n bepaalde milieu opgestel is, en lank nie meer die toets van die tyd kon oorleef nie. Die gevolg is onder meer beleidsonsekerheid – iets wat die Wêreldbank pas saam met die kragtekorte as redes aangevoer het oor waarom die land nie sy ekonomiese potensiaal kan bereik nie.

–       Die ANC het Danny Jordaan, Suid-Afrika se (nou) omstrede sokkerbaas, as burgemeester van die Nelson Mandela-metropool ontplooi. Maar dit het nou ’n warm patat geblyk te wees. Nie alleen val die Fifa-soeklig nou op sy destydse bodkomitee nie, maar hy is reeds daarvan beskuldig dat hy lood swaai in sy nuwe hoedanigheid, en nou blyk dit dat hy sewe jaar lank nie vir elektrisiteit betaal het nie, danksy “tydelike aansluiting” na sy huis. Intussen moet hy faksiegevegte uitry wat blyk hewiger te wees as wat die ANC in sy regrukplan gemeen het. Wat aanvanklik na ’n meesterskuif gelyk het om te voorkom dat ’n DA-koalisie die metropool aanstaande jaar met die munisipale verkiesings oorneem, lyk nou al meer na ’n stukkie opportunisme wat geboemerang het.

Oor bogenoemde kwessies neem die buiteland in meerdere of mindere mate kennis. Daar is ander kwessies ook soos die plaasmoorde wat kort-kort iewers in die buiteland opslae maak, Suid-Afrika se status as verkragtingshoofsetel van die wêreld, die president se veelwywery wat maar eenvoudig sekere persepsies in die buiteland voed, en vele meer. Die al-Basjir-kwessie, ongeag die uitkoms, het egter reeds ’n donker wolk oor die land laat skuif – en getoon die land het geen respek vir sy eie wette en Grondwet nie, en nog minder vir die internasionale reg. Hoewel daar waarskynlik nog geen behoorlike momentum is om die ANC as inherent boos te beskou nie, is dit ook reeds duidelik dat pres. Jacob Zuma met sy herhaalde dwase uitlatings in buitelandse persepsies ’n diep wig tussen die ANC en die Mandela-euforie ingedryf het. Suid-Afrika het net nie meer die “vakansietyd” wat dit ná 1994 beleef het nie.

Gaan Suid-Afrika, soos nou verwag word en die ANC op aandring, al-Basjir toelaat om die land te verlaat, kan die land ernstige reperkussies verwag. Na verwagting sal Rusland en China hul vetoreg in die VN-veiligheidsraad gebruik (of eintlik misbruik) om te keer dat Suid-Afrika met ’n aantal sanksies gestraf word. Een van die eerstes wat gewoonlik ingestel word waar soortgelyke oortredings van die internasionale reg gepleeg word, is dat reisbeperkings teen leiers ingestel word. Suid-Afrika sal enorm baie spaar as Zuma en sy kornuite nie links en regs oor die wêreld kan vlieg nie, maar die kanse dat so iets afgedwing sal word, is ignoreerbaar skraal.

Wat meer waarskynlik is, is dat Suid-Afrika in bilaterale ooreenkomste, soos die Agoa-ooreenkoms tussen Afrika en die VSA, gestraf kan word. Die probleem met hierdie soort strafmaatreëls is dat dit veral daardie deel van die bevolking straf wat geen aandeel aan die regering se dwaasheid gehad het nie.

Suid-Afrika, en Afrika, se verweer dat die Internasionale Strafhof op Afrika “pik”, is doodgewone kluitjies-bakkery. Die rede waarom die hof op Afrika fokus, is omdat ander lande gewoonlik hul eie howe en tribunale inspan waar daar volksmoorde, misdade teen die mensdom en oorlogsmisdade was. Ná die Falklandoorlog het Argentinië ’n staatsgreep beleef en is erge menseregtevergrype gepleeg. Nadat die demokrasie herstel is, is ’n tribunaal ingestel, en talle leiers dien reeds lewenslange vonnisse uit vir van die vergrype. Ná die Pol Pot-era in Kambodja het ’n tribunaal tot stand gekom wat leiers vir die menseslagting verhoor het. So ook ná die uiteenval van Joego-Slawië en menseslagtings in onder meer Bosnië. Kort-kort word nog vermeende Nazi-oorlogsmisdadigers aangekeer en met vervolging teen hulle begin.

In Afrika het net Rwanda met sy tribunaal met eer uit die stryd getree. Kortom, Afrika gebruik sy eie versuim as rede om te beweer daar word op hom gepik.

Suid-Afrika kan hom ook nie verweer dat hy ’n onwillige ondertekenaar van die statute vir die Internasionale Strafhof is omdat dit van die “apartheidsregering geërf is” nie. Suid-Afrika het die statuut in die jaar 2000 onderteken.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

anet ·

Ek dink dat die ANC regering hulle self gehang het in die Basjir handeling. Soos die spreek woord se gee ‘n man genoeg tou en hy hang homself.

Braam ·

As ons nog ‘n westerse land was sou dit skadelik vir die land gewees het.

Vir my persoonlik,ek hoop hulle vang nog meer sulke ”openbaringe” aan.

Dit is tyd dat die wêreld sien wie die ANC werklik is en wat hulle doen.

Daarvoor sal ons gestraf word deur sanksies wat ons tref i.p.v. hulle maar dit sal ook help dat ons eie mense wat tans nog so siende blind is hulle sig mag herwin.

Dis nie ‘n westerse sienswyse,maar die geskiedenis bewys dat jy nie ‘n weghol soustrein met miljoene kiesers daarop kan stop nie…al wat oorbly is ….gooi die sinjale oop en laat hy homself te pletter loop.Hoe vinnigger hy loop hoe korter die tydsduur hoe minder die skade op die lang termyn.

Wat pra ek?

Bruno Stef ·

Idi Dada Amin se moses net n moeder kan so n gevreetjie liefhe. Dit is net jammer dit is nie n vollengte foto nie dan sou die Coke/ Fanta en Sparletta doppies as medaljes duidelik gesien kon word op sy uniform.

Grotman ·

Dis hoog tyd dat die wereld se oe oop gaan en sien wat werklik in die land gebeur. Suid Afrika is onder beheer van n duiwelse regering en die Afrikaner het geen party wat sy taal praat en hom verteenwoordig nie.

Armando Pellencin ·

Grotman, ek hoop die “duiwelse” in jou kommentaar dui op “sleg, korrup, boos, en alles wat verfoeilik” is en nie dat dit “van die spreekwoordelike duiwel” is nie.

Gerhard Bezuidenhout ·

Indien Zuma en sy ANC hierdie massamoordenaar die land laat verlaat moet hulle maar vat wat kom en dit gaan nie aangenaam weers nie.

Gys ·

Gerhard, die ironie is dat daar nou weer (soos met die Guptha saak) een of twee lugmag-offisiere vervolg en afgedank gaan word omdat hulle “plig versuim het” deur Basjir toe te laat om by die Waterkloof-lugmagbasis in sy straler te klim en land uit te vlieg. Hul pleidooie dat hulle opdrag van die geheimsinnige “Nommer Een” ontvang het sal op dowe ore val. En ons ANC-regering sal natuurlik hul aandadigheid ontken (soos in die Fifa debakel.) Klink vir my alte veel soos in Piet Retief en Dingaan se se geval dat enige ooreenkoms met Zuma en die ANC-regering bloot eenvoudig nie nagekom sal word nie; behalwe waar dit hulle pas.

Lyn ·

Mens se lewe is niks werd nie, wat sou gebeur het as dit ou mense of klein kinders was.

Ouman ·

Die ANC is nou aandadig aan al die vergrype waarvan al- Basjir beskuldig word. Dit is duidelik dat die ANC sulke misdade teen hulle mede”Africans” as aanvaarbaar beskou. al-Basjir kan nou met ‘n geruste hart voortgaan met sy bewind. Die Westerse lande moet maar die rug op Afrika keer.

Sebastiaan ·

Ek stem heelhartig saam met die skrywer. Net ‘n regstelling op ‘n feitefout: die Argentynse staatsgreep wat die talle moorde as deel van die guerra suica (vuil oorlog) ingelui het, was nie na die Falklandoorlog van 1982 nie, maar voor dit, naamlik 1976 (junta onder leiding van general Jorge Videla). Trouens, die Argentynse diktatorskap het as gevolg van die Falklandoorlog tot ‘n val gekom (in 1983).

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.