Nuuskommentaar: SA se diplomatieke skandes

Sbu Ndebele. Foto: Flickr/GovernmentZA

Sbu Ndebele. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die bedanking van oud-minister Sbu Ndebele as hoë kommissaris in Australië nadat hy in die hof verskyn het op aanklagte van onder meer bedrog, is nie die enigste aanduiding dat dit nie altyd baie gesond in die Suid-Afrikaanse diplomatieke diens gaan nie. Beginnende by die minister is dit noodsaaklik dat hier in die post-Zuma-era goed skoongemaak moet word.

Ndebele het met uitgang September vanjaar bedank. Hy staan tereg op aanklagte van onder meer bedrog en geldwassery waarby ’n bedrag van R10 miljoen glo betrokke is, terwyl hy ook betrek is by ’n konstitusionele hofsaak oor die toeken van die eNaTIS-lisensiestelsel aan ­Tasima.

Die bedrogsaak spruit voort uit die aanbied van die Wêreldbeker-sokkereindtoernooi in 2010. In die ses jaar voor hy uiteindelik besluit het om die regte ding te doen, het hy as minister van vervoer en as hoë kommissaris gedien.

Maar Ndebele se geval is nie die enigste bisarre saak wat Rapport in sy berig hieroor onder die loep neem nie. Die oud-Vrystaatse LUR Playfair Marule is byvoorbeeld as ambassadeur in Indië aangestel nadat hy aan strafbare manslag skuldig bevind is toe hy onder die invloed van drank in ’n ongeluk betrokke was.

Die destydse ambassadeur in Japan, “dr.” Mohau Pheko is uitgevang dat sy geen doktorsgraad het nie.

Sedert die berig het dit aan die lig gekom dat Suid-Afrika se hoë kommissaris in Singapoer, Hazel Francis Ngubeni (55), glo voorheen tien jaar weens dwelmverwante aanklagte in ’n Amerikaanse tronk deurgebring het. So ver bekend het sy nie bedank nie, of is ook nie teruggeroep hangende ’n ondersoek nie. Daar is veral vrae hoe sy ’n klaring van uiters geheim kon kry as die Suid-Afrikaanse veiligheidsdienste haar verlede enigsins nagegaan het.

In 2003 is berig dat die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Indonesië, Norman Mashabane, vir die tweede keer aan seksuele teistering skuldig bevind is. Daar is luid om sy kop geroep. Mashabane was die eggenoot van die huidige minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Maite Nkoana-Mashabane. Mashabane is later in ’n motorongeluk dood. Maite Nkoana-Mashabane was self onlangs in die nuus toe sy in ’n onderhoud met Al Jazeera hopeloos onbevoeg voorgekom het. Sy het onder meer erg vir pres. Jacob Zuma in die bresse probeer tree.

In 2014 het ’n Suid-Afrikaanse diplomaat erg skande gemaak toe sy verskeie Suid-Afrikaanse groepe, waaronder die Vryheidsfront Plus, AfriForum en die TLU-SA wou verhinder om hul voorleggings (oor plaasaanvalle) by die VN se forum vir minderheidsaangeleenthede in Genève te doen. Sy het die organisasies as rassisties beskryf. Veral die VSA het sterk voorspraak gedoen dat die Suid-Afrikaners hul voorleggings maak.

Verlede jaar het Noorweë Suid-Afrika gevra om die diplomatieke immuniteit van ’n diplomaat in dié land op te hef, sodat die diplomaat aangekla kan word. Die diplomaat het glo dronk bestuur toe hy deur die polisie agternagesit is. Hy het vir die polisie probeer wegjaag, maar was in ’n trompopbotsing betrokke. Hy het geweier om in ʼn toestel te blaas om vas te stel of hy inderdaad dronk was. Volgens ander berigte was hierdie diplomaat by verskeie ander voorvalle betrokke, maar het telkemale weens sy diplomatieke immuniteit daarmee weggekom.

Hierdie, en ander voorvalle waar kaders tot verleentheid van die land ontplooi is, is ongelukkig in terme van ’n verleentheid vir die land slegs die oortjies van die seekoei. Suid-Afrika het al sy stem op die mees bisarre wyse in stemmings uitgebring, soos om ten gunste van die destydse despotiese regering van Mianmar te stem, en selfs by geleentheid nie vir ’n mosie van veroordeling van Isis se geweld wou stem nie. Soms lyk dit of Suid-Afrika ’n duidelike pro-muishondbeleid voer.

Kenners van diplomatieke sake kan geen spoor van ’n sinmakende buitelandse beleid by die departement van internasionale betrekkinge waarneem nie. Dit lyk eerder of die departement beslag probeer gee aan die ANC se buitelandse standpunte, wat dikwels ewe verdwaal, weersprekend en misplaas voorkom – in so ’n mate dat die land al skade gely het, of daar erg wal gegooi moes word nadat veral die VSA en ander Westerse lande in toesprake dwarsklappe gekry het – terwyl ander ministers hard aan die werk was om voordelige handels- en ander ooreenkomste met daardie einste lande te probeer beredder. [Daar was al pogings om Suid-Afrika se buitelandse beleid ook akademies te ontleed, soos in die South African Foreign Policy Review (Volume 1) uit 2012, opgestel deur die Afrika-instituut en die Institute for Global Dialogue. Die verslag fokus in ’n groot mate op skenkings en hoe dit buitelandse beleid beïnvloed, maar moet tog onderskei tussen pragmatiese en “morele” oorwegings.]

Wanneer die post-Zuma-skoonmaak (hopelik) plaasvind, kan maar net gehoop word dat die wyse waarop Suid-Afrika sy saak in die buiteland stel, en deur wie, ook deeglik aan die beurt sal kom. Die “parkeer” van onbevoegde kaders in die buiteland is egter nie iets wat eers in die Zuma-era begin het nie, en die skoonmaak (as dit plaasvind) sal tot diep in die ANC se hart ruk.

Dit is egter verregaande as ’n groot deel van die Suid-Afrikaanse bevolking alles in die stryd werp om te verseker dat die land nie tot rommelstatus afgegradeer te word nie, en ’n groep van hulle wat juis Suid-Afrika se beste voetjie oorsee moet voorsit, hulle soos diplomatieke boewe gedra en die goeie werk ongedaan maak.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

aiai ·

Ai, stadsrade onbevoeg om werk te doen, nou doen vrywilliges dit, en hul kry nogsteeds hul m….rse salarisse. En nou gaan hul wag vir elke Oktober sodat iets gedoen moet word, solank dit net nie hulle is nie!!!!!!!

Hennie Theart ·

Ons kan maar net hoop dat die “Zuma must fall” vir ons sal help om “ANC must fall” mee te begin.
Feit is dat “Operasie skoonmaak” voort gesit moet word. Herman en Solly het daarmee begin en ons hoop die DA sal so voortgaan. Met Jordan se bedanking is die volgende “Slime Hlaudi”

Mamparra ·

Die ANC is n geweldige groot grap, al wie groter grappe as hulle is is die Wat nog vir hulle stem.

Theuns ·

Dankie Herman dat jy ons inlig! Dit word al hoe moeiliker om in die buiteland te se jy is ‘n Suid Afrikaner! Definitief het die ouens nie polisie klarings nie en tenminste een is ‘n Zimbabwier nl. Playfair Marule! Sy mentor, die minister van Energy en die Guptas se “Pel” is ook van die Vrystaat af en virseker ook ‘n Zimbabwier! Wanneer die manne en vroue ID dokumente, Paspoorte ens kry kry hulle ook sommer by dit ‘n inkrywing in Openbare Dokumente (soos Wikipedia) wat hom ‘n geskiedenis gee van waar hy gebore is, sy kraal en sy Kwalifikasies wat ook natuurlik “gekroek” is! Groete

Grietjie ·

Hulle is almal n klomp vrot appels. Van ons sogenaamde nr1. Skandelik, wat moet die wereld van SA dink. Ek kry skaam!!!!

abba ·

Die werled daarbuite weet maar al te goed waarmee ons sit – veral noudat hulle met dieselfde gemors sit as ons – hulle s’n is immigrante wat ook geen standaarde handhaaf nie en net wil “demand’ – kom veral in Duitsland voor . Indien oortree word hulle nou nie eintlik vreeslik gestraf nie,. Die wereld weet.

Jordaan ·

‘n Kriminele agtergrond is skynbaar nie meer ‘n skande nie, dit is eerder ‘n aanbeveling om ‘n senior staatsdienspos te kry!

Jannie Truter ·

Ons moet aanvaar dat ons nou in n Afrika land bly. Niks wat vir ons voor 1994 heilig was ten opsigte van kultuur, trots of verantwoordbaarheid is meer geldig nie. In Afrika geld die reël van die fikste sal oorleef en die wat aan bewind is sal ten alle koste daaraan vasklou. Maak vas jou sitplekgordel, hier gaan dit nog rof raak vir die met intregriteit!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.