Nuuskommentaar: SA se erfenis blote sonskyn, sokkie en sport

(Argieffoto)

Die afgelope Donderdag het ons land Erfenisdag gevier. Op hierdie dag is ons veronderstel om die kulturele eenheid van diversiteit van Suid-Afrika te vier. Die vraag is dan nou watter gedeelde kulturele erfenis ons elke jaar vier. Bestaan daar ooit ʼn gedeelde Suid-Afrikaanse kultuur waaronder al die uiteenlopende groepe in die land verenig staan?

Die vorige keer dat pres. Cyril Ramaphosa die land toegespreek het, het hy landsburgers gevra om op Erfenisdag aan die Jerusalema-dansuitdaging deel te neem. Hierdie dansuitdaging verteenwoordig vir Ramaphosa ons gedeelde Suid-Afrikanisme wat op hierdie dag gevier moet word.

Die dansuitdaging dien sekerlik as verligting om vir ʼn oomblik van vanjaar se uitdagende omstandighede te ontsnap. Ramaphosa het egter in sy uitdaging meer waarheid oor ons gedeelde erfenis saamgevat as wat oënskynlik bedoel is. Hy het in sy stelling die waarheid vervat dat ons gedeelde Suid-Afrikaanse kultuur waarskynlik gereduseer kan word tot ʼn blote dansuitdaging – niks meer nie en niks minder nie.

Die feit dat Erfenisdag in die volksmond bekend staan as Braaidag som hierdie feit eintlik perfek op. Ons gedeelde erfenis is ons natuurskoon, nasionale sportspanne en dansuitdagings terwyl ons braai.

Die standbeeld van oudpres. Nelson Mandela buite die provinsiale wetgewer in Mbombela (Nelspruit). (Foto:
Mpumalanga-tesourie/Facebook)

ʼn Kultuur en kultuurerfenis is die gedeelde bewussyn van ʼn groep. Dit is die tekste wat oorgedra en gekoester word. Kultuur is ʼn gedeelde lewenswyse en -beskouing. Kultuur is wát ons doen, hoe ons dit doen en waarom ons dit doen. ʼn Groter gedeelde kultuur van Suid-Afrikanisme met werklike gewigtigheid en deurslaggewendheid bestaan net nie. Ons het nie werklik gedeelde gebruike, tradisies en wêreldbeskouings nie.

In sy Erfenisdagtoespraak het Ramaphosa mooi geopen deur te noem dat al ons onderskeie kulture op hierdie dag gevier en gekoester word. Hy het tereg uitgewys dat ons erfenis ons vorm en vir ons ʼn  heenkome bied. Later in sy toespraak het hy egter stilgestaan by die blywende probleme wat ons land het, ondanks die vryheid wat ons met regime-verandering bekom het.

Ramaphosa het spesifiek stilgestaan by monumente en standbeelde wat Suid-Afrika se verlede verheerlik. Volgens Ramaphosa kom ons uit ʼn verdelende verlede en het Suid-Afrika sedert demokratisering in 1994 daaraan gewerk om ook ons erfenis te transformeer. Dit sluit in die hernoeming van stede en dorpe.

Geen simbool, monument of aktiwiteit wat rassisme verheerlik of wat ons lelike verlede verteenwoordig, het ʼn plek in Suid-Afrika nie. Hiermee het Ramaphosa die skuif van standbeelde en die hervestiging van monumente uit die apartheidsera verdedig. In dieselfde asem noem hy egter dat die regering nie daarin belangstel om enigiemand se erfenis uit te vee nie. Hy verduidelik eerder hoe die bou van ons nierassige samelewing hierdie tipe optrede vereis. Ons doel is immers om ʼn verenigde nasie te bou.

Die Burgermonument in Harrismith. (Argieffoto)

Die probleem hiermee is egter dat die regering mag besluit watter geskiedenis aanstootlik is en watter geskiedenis aanneemlik is. Die regering mag besluit watter beelde en monumente mág deel uitmaak van ons nuwe nierassige Suid-Afrika en watter nie. Verder hoef hulle nie eens noodwendig beperk te word tot die apartheidsera nie.

Oudpres. Jacob Zuma het eens in die debat ná ʼn staatsrede genoem dat al Suid-Afrika se probleme eintlik by Jan van Riebeeck begin het. Indien die regering sou besluit dat dit wel waar is, kan alle geskiedenis en erflatings van Van Riebeeck se afstammelinge ook by Ramaphosa se projek van nierassigheid ingesluit word. Dit is ook die kruks van die saak – die regering eien homself die reg en mag toe om te besluit watter geskiedenis gevier mag word en wat nie.

Sodoende mag die regering besluit dat sý vryheidsvegters gevier mag word, maar ander sʼn nie. Ongeag die opoffering wat ʼn vryheidsvegter gemaak het of watter skade ʼn ander groep sʼn in die stryd om vryheid veroorsaak het, mag hulle helde gevier word, maar ons s’n nie. Die regering is daarom nie op soek na ʼn nuwe nierassige en verenigde nasie met die oog op die toekoms nie – hy wil bloot besluit wat ons uit die verlede mag saamvat.

Beelde en monumente verteenwoordig geskiedenis, kultuur en erflating. Die oomblik dat die regering homself volmag oor die geskiedenis gee, gee hy homself ook volmag oor die toekoms. Die skrywer George Orwell het dit eens opgesom deur te sê: “Wie die verlede beheer, beheer die toekoms.”

(Foto: Cyril Ramaphosa/Twitter)

Ramaphosa het op Erfenisdag so meegevoer geraak met die Jerusalema-dansuitdaging dat sy ideologiese onderrok skoon uitgehang het. Die ANC wil nie werklik ʼn nierassige samelewing daarstel nie. Hy wil bloot kan sê watter kulture geoffer moet word op die altaar van ʼn Suid-Afrikaanse monokultuur. Die regering wil graag besluit watter kulture vervaag moet word ten einde die uiteindelike monokultuur tot sy eie voordeel te vestig.

Die beste teenvoeter teen die ANC se ideale van ʼn Suid-Afrikaanse monokultuur is vir verskillende kultuurgroepe om hulself onbeskaamd te vier. Die oomblik dat verskillende kultuurgroepe differensieer en selfstandigheid bekom, is die ANC se bewind in gedrang. Die regering kan dan nie meer staatmaak op kultuurlose massas wat hom aan bewind hou en van hom afhanklik is nie. Dit is tot die ANC se voordeel dat ons ons kulture vervlak tot blote sonskyn, sokkie en sport.

Ons kultuur verdien ook meer as om tot die ANC se monokultuur vervlak te word.

Afrikaners kan met trots ons Westerse kultuur in Afrika vier. Ons kan trots wees op die Protestantse Hervorming, die Renaissance, die Verligting en die Nywerheidsrewolusie. Ons kan trots wees op die feit dat Jan van Riebeeck die Westerse kultuur na Afrika gebring het en dat ons dit vandag nog hier onderhou. Ons kan met nuanse leer uit die foute wat ons in die verlede gemaak het en daarop voortbou.

Suid-Afrika bestaan uit minstens 11 kultuurgroepe, eerder as vier rasgroepe of een oorkoepelende monokultuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nie Verbaas ·

Wat Ramaphosa se en wat hy werklik en eerlik voel en bedoel is teenstrydig.

Vrijburger ·

Baie goeie stuk. Daar is beslis nie ‘n gedeelde Suid-Afrikaanse kultuur nie.

Ja, ek is in Suid-Afrika gebore. Ja, ek het Suid-Afrikaanse burgerskap. Ja het ‘n Suid-Afrikaanse paspoort, maar nee ek is nie ‘n Suid-Afrikaner nie. Ek aanvaar nie die identiteit nie. Meer as dit ek verwerp die identiteit.

Dirk Mostert ·

Stem 100% saam. My voorsate het kort na Jan van Riebeeck hierheen verhuis. Ek is nie skaam oor ons geskiedenis van ontwikkeling en beskawing nie. Ons grondwet van selektiewe, rasgebaseerde diskriminasie is ‘n klug (sies Roelf!). Ek beskou die pajamabroek-vlag en saamgeflansde volkslied as simbole van verdrukking.

Cherry ·

Jerusalem is my home
Guide me
Take me with You
Do not leave me here
Jerusalem is my home
Guide me
Take me with you
Do not leave me here
My place is not here
My kingdom is not here
Guide me
Take me with You
My place is not here
My kingdom is not here
Guide me
Take me with You
Guide me
Guide me
Guide me
Do not leave me here

wat probeer hy eintlik hier sing hoekom moet almal die liedjie dans? ek verstaan nie! Nie een keer word daar van God gepraat nie. Van wie sing hy as hy in die liedjie se TAKE ME WITH YOU?

Cherry ·

Om hier te lees breek my hart ek voel magteloos. Nou wil hulle standbelde ens. skyf wys my ‘n park, parkie, museum selfs ‘n stadsaal waar mens in vandag kan gaan sonder om vermoor of beroof te word. Orals le gemors op gemors SA is vuil en brand alewig waar vat ek my kind om ons Geskiedenis te sien daar waar hulle plunder?

Josef du Toit ·

Dis inderdaad so dat die dikterende regering se inkleding met benamings soos “Erfenisdag” en “Versoeningsdag”, en die verspotte ingevoerde danspassies, geen erfenis vier nie, en tot geen versoening dien nie. Slaafse aanvaarding hiervan deur artikels, toesprake en preke oor erfenis op Erfenisdag en oor versoening op Versoeningsdag, behoort eerder vermy te word.
24 September, Shakadag, behoort by uitstek aan Zulus ter plegtige herdenking van die verraderlike sluipmoord op hul grootste leier en volkstigter, Shaka, deur twee van sy halfbroers, o.a. die berugte Dingane.
So ook moet 16 Desember, Geloftedag, eerstens Boere-Afrikaners herinner aan hul ereplig tot voortgesette stigting/bou van ‘n huis/volk gewy aan die Drie-Enige God, in sy diens en gevestig waar dit Hom behaag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.