Nuuskommentaar: SA se Goebels-generaal?

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

Het Suid-Afrika pas weer ‘n konstitusionele staatsgreep beleef? Dit wil sê waar die regerende party sy wil afdwing ongeag wat die grondwet bepaal? Terwyl die Openbare Beskermer wag om te hoor of die SAUK sy waarnemende bedryfshoof dissiplinêr gaan aankla na ‘n verdoemende verslag, beveel die meerderheid van die SAUK-raad aan dat hy permanent aangestel word en die minister maak so. Die Openbare Beskermer beklee ‘n pos wat ingevolge die grondwet ingestel is om as waghond oor die grondwet te dien, maar word hard in die tande geskop.

Die permanente aanstelling van Hlaudi Motsoeneng as bedryfshoof van die SAUK is kommerwekkend.

Die vorige SAUK-raad het reeds op sy verwydering – toe hy nog net waarnemend aangestel was – aangedring. Ook die ANC-lede van die raad het saamgestem dat hy verwyder moes word. Die enigste uitsondering was die voorsitter, dr. Ben Ngubane, wat na hy van die IVP na die ANC oorgeloop het, ‘n voorste politieke kommissaris geword het maar wie se omstredenheid selfs vir die ANC ‘n te groot las geword het.

‘n Nuwe raad is saamgestel, en dié keer het Luthuli-huis, na berig word, verseker dat die raad oor genoeg politieke lojaliste sou beskik dat Luthuli-huis se agenda nie gestuit sou kon word nie.

En terwyl die land wag op die SAUK-raad om te reageer op ‘n verdoemende verslag van die OP waarin Motsoeneng behoorlik gewiks word – onder meer omdat hy gejok het dat hy nie oor die vereiste matrieksertifikaat vir die pos beskik nie, beveel die raad met vyf teenstemme aan dat hy permanent aangestel word, en die minister maak so, en verduidelik in bedenklike terme.

Ook die SAUK meen in ‘n verklaring die aanstelling en die Openbare Beskermer se verslae is twee verskillende dinge.

In haar verslag het die OB onsagkens met Motsoeneng omgegaan. Behalwe sy matriek-kluitjie, het hy aan homself ‘n stewige salarisverhoging onregmatig toegeken, en as waarnemende bedryfshoof meer as R2 miljoen per jaar verdien. Hy is ook van magsmisbruik beskuldig.

Motsoeneng het intussen ook sy uiterste bes probeer om die joernalistieke professie wat hy moet dien, in die skande te steek. Hy wil hê die SAUK moet 70% van sy nuustyd aan goeie nuus spandeer, en toe kom hy met die juweeltjie dat hy meen joernaliste moet gelisensieer word.

Nou, sonder dat die pos geadverteer is, het die minister besluit hy is die beste persoon vir die werk.

Die Openbare Beskermer is verbaas, en sy gaan ‘n vergadering met belanghebbendes reël. Die aanstelling strook immers nie met haar aanbeveling dat Motsoeneng aan ‘n tugverhoor onderwerp word nie.

Die vakbond, Bemawu, het ‘n arbeidsdispuut verklaar, en die EFF wil hof toe.

Media-analiste het selfs voor sy permanente aanstelling aangekondig is, Motsoeneng as slegte nuus vir mediavryheid beskryf, en dus die demokrasie waarvan mediavryheid ‘n integrale deel uitmaak.

Klaarblyklik maak sy aanstelling ‘n integrale deel van die ANC-regering se vestiging van ‘n propaganda-ministerie uit. Die skrif was duidelik reeds aan die muur toe Motsoeneng, terwyl hy tydens ‘n sitting van die parlementêre portefeuljekomitee erg onder opposisiesprekers deurgeloop het, glo ongesteurd bly glimlag het terwyl die aanvalle geloods is. Al afleiding wat gemaak kan word is dat hy reeds geweet het dit is soos water op die ANC se rug – hy sou buig of bars aangestel word.

Sy voorstel oor die lisensiëring van joernaliste is slegs deur die SAKP toegejuig – ‘n praktyk wat eintlik net in sekere kommunistiese lande en ander diktature in gebruik is. Dit is deur verskeie instansies, waaronder die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum afgewys.

Die minister, Faith Muthambi, het ná aanvanklike tekens dat sy die OB-verslag ernstig gaan opneem, haar eie beeld en daardeur die beeld van die kabinet met ‘n plank gemoker. Haar stelling dat Motsoeneng die enigste persoon is wat die SAUK kan bestuur, en dat hy as waarnemende hoof goed in die pos gevaar het, is gegewe die OB-verslag, ‘n klap in die gesig van baie geskikte mense, met onkreukbare reputasies en toepaslike kwalifikasies.

Dit plaas opnuut vraagtekens oor die ANC se beloftes om sy kaderontplooiingsbeleid met die nodige kwalifikasies en vermoë om die werk te doen, te laat rugsteun.

Dit eis opnuut groot waaksaamheid van alle rolspelers – politieke partye en burgerlike instellings, om wawyd wakker te loop om te voorkom dat die SAUK ‘n volwaardige ANC-verlengstuk word. As die OB so blatant in die tande geskop word is die skrif so goed as van die rolpers gestroop.

Dit plaas ook die onus baie swaar op die ander media om in hul aanstellingsbeleide seker te maak dat die bedryf gestroop word van diegene wat dit vir eie politieke agendas inspan.

‘n Demokrasie sonder ongeplooide inligting is soos ‘n vryemarkstelsel wat met uiters gebrekkige inligting moet probeer funksioneer. In ‘n heterogene samelewing is dit nog meer ongesond, en in ‘n gepolariseerde samelewing gevaarlik. En die afgelope paar dae het in geen onduidelike taal nie getoon hoe gepolariseerd die samelewing reeds is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

david ras ·

Ek hou veral van die GOEBBELS GENERAAL benaming. As mense net bietjie verder in geskiedenis van Nazi Duitsland wil delf, gaan daar nog ‘n hele paar SA weergawes van ou Adolf en sielsgenote hier uitslaan. Begin maar gerus met Regstellende Aksie–die breinkind van Herr Hitler.

Henrietta Klaasing ·

Hier is ironieë wat ten hemele skreeu: Hierdie man wat ‘n vervalste matrieksertifikaat het, en wie se hoogste papiere ( een of ander teologiese diploma oorsee ) nie in SA erken word nie, wil joernaliste dwing om hul lisensies te toon /dra. Die Goebels-verwysing is baie gepas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.